Die mensehart is van nature koud, donker en liefdeloos; enigeen wat 'n gees van ontferming en vergewensgesindheid openbaar, doen dit nie uit homself nie, maar deur die invloed van die Gees van God op sy hart. “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” 1 Johannes 4:19. MOR 28.3
God is self die bron van alle genade. Sy Naam is “barmhartige en genadige God” (Exodus 34:6). Hy behandel ons nie na verdienste nie. Hy vra nie of ons Sy liefde waardig is nie, maar Hy stort die rykdom van Sy liefde uit om ons waardig te maak. Hy is nie wraaksugtig nie. Hy wil nie straf nie, maar verlos. Selfs die strengheid wat Hy deur Sy voorsienigheid openbaar, is vir die redding van die weerspannige. Hy verlang met 'n innige verlange om die ellende van die mens te verlig en om Sy balsem op hul wonde te sit. Dit is waar dat die Here die ongeregtigheid “nooit ongestraf laat bly nie” (Exodus 34:7), maar Hy sal die skuld wegneem. MOR 29.1
Die barmhartiges is “deelgenote... van die goddelike natuur,” en in hulle word die ontfermende liefde van God uitgedruk. Almal wie se harte in voeling klop met die hart van die Oneindige Liefde, sal probeer om te red en nie om te veroordeel nie. As Christus in die siel woon, is Hy 'n fontein wat nooit opdroog nie. Waar Hy woon, daar sal weldadigheid oorloop. MOR 29.2
Op die geroep van die weerstrewige, die versoekte, die ellendige slagoffers van gebrek en sonde, vra die Christen nie: Is hulle dit waardig nie? maar: Hoe kan ek hulle help? In die ellendigste en mees verdorwene sien hy siele vir wie Christus gesterf het om hulle te red en vir wie God die bediening van versoening aan Sy kinders gegee het. MOR 29.3
Die barmhartiges is hulle wat medelye met die arme, die lydende en die verdrukte het. MOR 29.4
Vir baie is die lewe 'n pynlike stryd; hulle is bewus van hul tekortkominge en voel ellendig en ongelowig; hulle dink hulle het niks om voor dankbaar te wees nie. Vriendelike woorde, 'n simpatieke blik, woorde van waardering sal vir baie eensames en sukkelende soos 'n beker koue water vir 'n dorstige siel wees. 'n Simpatieke woord, 'n liefdesdaad, sal laste wat swaar op moeë skouers druk, ligter maak. En elke onselfsugtige, vriendelike woord of daad is 'n uitdrukking van die liefde van Christus vir die verlore mensdom. MOR 29.5
Aan die barmhartiges “sal barmhartigheid bewys word.” “Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf.” Spreuke 11:25. Daar is soete vrede vir die medelydende gees, en 'n salige genoeglikheid in 'n lewe van selfopofferende diens vir die welsyn van andere. Die Heilige Gees wat in die siel woon en in die lewe geopenbaar word, sal harte week maak en meegevoel en tederheid opwek. Jy sal maai wat jy saai. “Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme;... Die Here sal hom bewaar en hom in die lewe hou; hy sal gelukkig gemaak word op die aarde. Ja, U kan hom nie oorgee aan die begeerte van sy vyande nie. Die Here sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is.” Psalm 41:2-4. MOR 30.1
Hy wat sy lewe aan God oorgegee het om Sy kinders te dien, is aangeskakel by Hom wat oor al die hulpbronne van die heelal beskik. Sy lewe is met die lewe van God verbind met die goue ketting van Sy onfeilbare beloftes. Die Here sal hom nie in die uur van lyding en nood verlaat nie. “My God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.” Filippense 4:19. En in die uur van die laaste nood sal die barmhartiges skuiling vind in die genade van die medelydende Verlosser en sal hulle in die ewige woninge ontvang word. MOR 30.2