Sedert hy in sonde geval het, gaan die Satan nog altyd met bedrog te werk. Net soos hy God verdraaid voorgestel het, gee hy ook 'n skewe beeld van die kinders van God. Die Heiland sê: “Die smaadhede van die wat U smaad, het op my geval.” Psalm 69:10. So het hulle ook op Sy dissipels geval. MOR 40.1
Niemand op aarde is ooit wreder belaster as die Seun van die mens nie. Hy is bespot en uitgelag omdat Hy onwrikbaar aan die beginsels van die wet van God vasgehou het. Hulle het Hom sonder oorsaak gehaat. Tog het Hy kalm voor Sy vyande gestaan, en verklaar dat verwyt deel van die Christen se erfenis is. Hy het Sy volgelinge geleer hoe om die pyle van haat af te weer en hulle beveel om nie onder vervolging moedeloos te word nie. MOR 40.2
Laster kan wel die naam beswadder, maar dit kan nie die karakter bevlek nie. Dit word deur die Here in bewaring gehou. Solank ons nie aan die sonde toegee nie, kan geen menslike of sataniese mag die siel bevlek nie. Die mens wie se hart op God vertrou, is in die uur van sy grootste beproewinge en ontmoedigendste omstandighede presies dieselfde as toe die guns van God hom bestraal het. Sy woorde, sy motiewe, sy dade, kan wel skeef voorgestel en vervals word, maar hy gee nie om nie, want vir hom is daar groter belange op die spel. Soos Moses het hy “volgehou soos een wat die onsienlike sien” (Hebreërs 11:27) en nie “op die sigbare dinge” gelet nie, “maar op die onsigbare” (2 Korinthiërs 4:18). MOR 40.3
Christus is bekend met alles wat mense misverstaan of verdraaid voorstel. Sy kinders kan dit bekostig om bedaard en geduldig te wag en te vertrou, al word hulle ook hoe beswadder en verag; want niks is geheim wat nie geopenbaar sal word nie, en hulle wat God eer, sal in die teenwoordigheid van mense en engele deur Hom vereer word. MOR 41.1
“Wanneer die mense julle beledig en vervolg,” het Jesus gesê, “verbly en verheug julle.” En Hy het sy toehoorders verwys na die profete wat in die Naam van die Here gespreek het, as “voorbeeld van lyding... en van geduld” (Jakobus 5:10). Abel, die heel eerste Christen onder Adam se kinders, het as martelaar gesterf. Henog het met die Here gewandel, en die wêreld het hom nie geken nie. Noag is bespot as fanatikus en alarmmaker. “Ander weer het die proef van bespottinge en géselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis.” “Ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om 'n beter opstanding te kan verkry.” Hebreërs 11:36, 35. MOR 41.2
In elke eeu is God se uitverkore boodskappers beledig en vervolg, en tog is die kennis van God deur hul beproewing versprei. Elke dissipel van Christus moet hom by die geledere voeg en dieselfde werk voortsit, wetende dat sy vyande die waarheid nie kan benadeel nie, maar net kan bevorder. Die Here wil hê dat die waarheid op die voorgrond gebring en as onderwerp ondersoek en bespreek moet word, selfs al word dit aan smaad onderwerp. Die mense se gedagtes moet geprikkel word; elke strydpunt, elke verwyt, elke poging om die vryheid van die gewete aan bande te lê, is die Here se middel om gedagtes wat andersins sou gesluimer het, wakker te skud. MOR 42.1
Groot is die beloning in die hemel vir hulle wat ondanks vervolging en verwyte vir Christus getuig. Die mense soek na aardse gewin, maar Jesus wys hulle op die hemelse beloning. Hy gee dit egter nie alles in die toekomstige lewe nie; Hy begin hier. Die Here het van ouds aan Abraham verskyn en gesê: “Ek is vir jou 'n skild en jou loon is baie groot” (Genesis 15:1). Dit is die loon van almal wat Christus volg. Jehova Emmanuel - Hy “in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is” in wie “al die volheid van die Godheid liggaamlik” woon (Kolossense 2:3, 9) - om met Hom in voeling te wees, om Hom te ken, om Hom te besit, namate die hart al hoe meer oopgaan om Hom en Sy karaktertrekke te ontvang; om Sy liefde en krag te ken, om die ondeurgrondelike rykdom van Christus te besit, om al hoe meer te begryp “wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God” (Efesiërs 3:18, 19), “dit is die erfdeel van die knegte van die Here en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die Here” (Jesaja 54:17). MOR 42.2
Dit was die vreugde wat in Paulus en Silas se harte was toe hulle in die gevangenis in Filippi lofliedere tot God gesing het. Christus was daar by hulle, en die lig van Sy teenwoordigheid het die duisternis van die kerker met die heerlikheid van die hemelse howe verlig. Uit Rome het Paulus, sonder om aan sy boeie te dink, geskryf oor die verspreiding van die evangelie: “Hierin verbly ek my en sal ek my ook verbly” (Filippense 1:18). En die einste woorde van Christus op die berg vind weerklank in Paulus se boodskap aan die gemeente te Filippi, te midde van hul vervolginge: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle” (Filippense 4:4). MOR 43.1