Jesus het Sy lesse interessant gemaak toe Hy die volk onderrig het, en Hy het Sy gehoor se belangstelling gaande gehou deur dikwels die natuurtonele rondom hulle as illustrasies te gebruik. Dit was nog oggend toe die skare bymekaargekom het. Die luisterryke son het al hoër in die blou hemel geklim en die skaduwees wat in die valleie en in die nou bergklofies geskuil het, verdryf. Die gloed van die oosterlig het nog nie verbleek nie. Die hele landskap is in luisterryke sonlig gebaai; die spieëlgladde oppervlak van die meer het die goue glans oggendwolke in sy diepte weerkaats. MOR 47.1
Elke blom en knoppie en tak het geglinster van die dou. Die natuur het geglimlag onder die weldadigheid van 'n nuwe dag, en voëls het vrolik in die bome gekwetter. Die Heiland het na die groepie voor Hom gekyk, toe na die opkomende son; en toe sê Hy vir Sy dissipels: “Julle is die lig van die wêreld.” Soos die son uitgaan op sy boodskap van liefde, die nagskaduwees verdryf en die wêreld tot lewe opwek, so moet die volgelinge van Christus op hul sending vertrek en die lig van die hemel laat skyn oor diegene wat in die duisternis van sonde en dwaling verkeer. MOR 47.2
In die helder oggendlig het die dorpe en gehuggies op die omliggende heuwels helder afgeteken gestaan en die landskap nog skilderagtige gemaak. Jesus het na hulle gewys en gesê: “'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie.” Toe voeg Hy by: “En 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.” Die meeste van die mense wat daar geluister het, was plaasarbeiders en visserslui wat in eenkamerhuisies gewoon het waarin 'n enkele lamp op 'n staander almal in die huis verlig het. “Laat julle lig so skyn voor die mense,” het Jesus gesê, “dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” MOR 47.3
Geen ander lig het nog ooit op die gevalle mens geskyn of sal ooit op hom skyn nie, behalwe dié wat van Christus af kom. Jesus, die Verlosser, is al lig wat die duisternis van 'n wêreld in sonde kan verlig. Van Christus staan geskrywe: “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.” Johannes 1:4. Net deur Sy lewe te ontvang kan Sy dissipels ligdraers word. Die lewe van Christus in die siel, Sy liefde in die karakter geopenbaar, sal hulle die lig van die wêreld maak. MOR 49.1
Die mens het geen lig in homself nie. Sonder Christus is ons soos 'n lamp wat nie aangesteek is nie, soos die maan wanneer sy aangesig van die son af afgewend is; ons het nie 'n enkele helder straal om die duisternis van die wêreld mee te verlig nie. Maar wend ons ons na die Son van Geregtigheid, kom ons in aanraking met Christus, word die hele siel verlig met die helderheid van die Goddelike teenwoordigheid. MOR 49.2
Die volgelinge van Christus moet meer as 'n lig tussen die mense wees. Hulle moet die lig van die wêreld wees. Jesus sê aan almal wat Sy Naam aanroep: Julle het julself aan My oorgegee, en Ek het julle aan die wêreld gegee as My verteen-woordigers. Soos die Vader Hom in die wêreld gestuur het, so, sê Hy, “het Ek ook hulle in die wêreld gestuur” (Johannes 17:18). Soos Christus die kanaal vir die openbaring van die Vader is, so moet ons die kanaal wees vir die openbaring van Christus. Hoewel ons Heiland die groot ligbron is, vergeet dit nooit, o Christen, dat Hy deur die mens geopenbaar word nie. Die seëninge van Bo word deur die mens as werktuig gegee. Christus het self na die wêreld gekom as die Seun van die mens. Die mens, met die Goddelike natuur verenig, moet die mensheid aanraak. Die kerk van Christus, elke afsonderlike dissipel van die Meester, is die hemel se aangewese kanaal vir die openbaring van God aan die mense. Engele in heerlikheid wag om die hemelse lig en krag deur u te bring aan siele wat gereed is om te vergaan. Sal die mens versuim om sy aangewese taak te verrig? O, in daardie mate word die wêreld beroof van die beloofde invloed van die Heilige Gees! MOR 49.3
Maar Jesus het nie vir die dissipels gesê: “Streef om jul lig te laat skyn nie,” Hy het gesê: “Laat dit skyn.” As Christus in die hart woon, is dit onmoontlik om die lig van Sy teenwoordigheid te verberg. As diegene wat voorgee dat hulle volgelinge van Christus is, nie die lig van die wêreld is nie, is dit omdat die lewenskrag hulle verlaat het; as hulle geen lig te gee het nie, is dit omdat hulle geen verbinding met die Bron van die lig het nie. MOR 50.1
Die Heiland se woorde: “Julle is die lig van die wêreld.” dui op die feit dat Hy aan Sy volgelinge 'n wêreldomvattende sending opgedra het. In Christus se dae het selfsug en hoogmoed en vooroordeel 'n sterk en hoë skeidsmuur tussen die aangestelde voogde van die heilige Godspraak en elke ander volk op die aarde gevorm. Maar die Heiland het gekom om dit te verander. Die woorde wat die volk uit Sy mond gehoor het, was anders as enigiets wat hulle nog ooit van priester of rabbi verneem het. Christus breek die skeidsmuur af, die selfsug, die vooroordeel wat nasies verdeel, en leer ons om die hele mensdom lief te hê. Hy verhef die mens uit die enge kring van sy selfsug; Hy skaf alle landsgrense en kunsmatige maatskaplike afskortings af. Hy maak geen verskil tussen naaste en vreemdeling, vriend en vyand nie. Hy leer ons om elke behoeftige siel as 'n naaste te beskou, en die wêreld as ons akker. MOR 50.2
Soos die strale van die son tot die verste uithoeke van die aardbol deurdring, so wil die Here hê dat die lig van die evangelie tot by elke siel op aarde moet strek. As die kerk van Christus die doel van onse Here sou uitvoer, sou almal verlig word wat in duisternis en in die gebied van die doodskaduwee sit. Pleks van in groepies saam te trek en die verantwoordelikheid van die dra van die kruis te ontduik, moet die lede van die kerk hulle na alle lande versprei en die lig van Christus laat uitstraal, en arbei soos Hy gearbei het vir die redding van siele, en die “evangelie van die koninkryk” sal snel oor die hele wêreld verkondig word. MOR 50.3
Ons moet nie net die heerlikheid van Christus oorpeins nie; ons moet ook vertel van Sy uitnemendheid. Jesaja het nie net die heerlikheid van Christus aanskou nie; hy het ook van Hom gepraat. Terwyl Dawid gepeins het, het die vuur gebrand; toe het hy sy mond oopgemaak en getuig. Terwyl hy nagedink het oor die wonderbare liefde van God, kon hy nie anders as om te vertel van wat hy gesien en gevoel het nie. Wie kan die wonderbare verlossingsplan, die heerlikheid van die eniggebore Seun van God in die geloof aanskou en nie daarvan praat nie? Wie kan aan die onpeilbare liefde dink wat die dood van Christus aan die kruis van Golgota toegelaat het sodat ons nie verlore hoef te gaan nie maar die ewige lewe kan hê - wie kan dit aanskou en geen woorde hê om die heerlikheid van die Heiland te loof nie? MOR 51.1
“In sy paleis sê elkeen: Heerlikheid!” Psalm 29:9. Die sanger van Israel het Hom op die harp geloof en gesê: “Ek wil spreek van die glans van u heerlike majesteit en van u wonderbare dade. En hulle sal spreek van die krag van u vreeslike dade, en u grootheid wil ek vertel” (Psalm 145:5, 6). MOR 51.2
Die kruis van Golgota moet hoog bo die volk verhef word, hulle aandag trek en hul gedagtes in beslag neem. Dan sal al die geestelike vermoëns met Goddelike krag gelaai word. Dan sal die kragte saamgespan word in eerlike arbeid vir die Meester. Die arbeiders sal lig na die wêreld laat uitstraal en sal lewende werktuie wees om die aarde te verlig. MOR 52.1
Christus is so gretig om elke menslike werktuig wat aan Hom oorgelewer word, aan te neem. Hy verenig die menslike met die Goddelike, sodat Hy die verborgenhede van die vleesgeworde liefde aan die wêreld bekend kan maak. Praat daaroor, bid daarvoor, sing daarvan; verkondig die boodskap van Sy heerlikheid wyd en syd, en dring steeds verder deur tot in die verste streke. MOR 52.2
Beproewinge wat geduldig verduur word, seëninge wat dankbaar ontvang word, versoek-ings wat manmoedig weerstaan word, sagmoedigheid, vriendelikheid, barmhartigheid en liefde wat as gewoonte geopenbaar word, is die ligte wat uit die karakter straal, in teenstelling met die duisternis van die selfsugtige hart waarin die lig van die lewe nog nooit geskyn het nie. MOR 52.3