Meer as veertien eeue voor Jesus in Bethlehem gebore is, het die kinders van Israel in die pragtige dal van Sigem byeengekom, en van die berge aan alkante af het die priesters die seëninge en vervloekinge afgekondig — “die seën as julle luister na die gebooie van die Here julle God... en die vloek as julle nie luister na die gebooie van die Here julle God nie” (Deuteronomium 11:27, 28). En so het die berg van waar die seën afgekondig is, bekend geword as die berg van seëning. Maar die woorde wat ‘n seën vir die sondige en bedroefde ou wêreld sou word, is nie van Gerisim af uitgeroep nie. Israel het nie aan die hoë ideaal voldoen wat vir hom voorge-hou is nie. Lemand anders as Josua moet Sy volk na die ware rus van die geloof lei. Dit is nie meer Gerisim wat bekend staan as die berg van die Saligsprekinge nie, maar 'n naamlose berg langs die Meer van Gennesaret, waar Jesus seëninge oor Sy dissipels en die skare uitgespreek het. MOR 8.1
Laat ons ons in die gees na daardie toneel begewe en, terwyl ons saam met die dissipels teen die berghang sit, ons met die gedagtes en gevoelens vereenselwig wat hulle harte vervul het. As ons verstaan wat die woorde van Jesus vir hulle beteken het wat dit gehoor het, sal hulle vir ons 'n nuwe helderheid en skoonheid kry, en kan ons ook hul diepere lesse ter harte neem. MOR 8.2
Alleen op 'n berg naby die See van Galilea het Jesus die hele nag vir hierdie uitverkorenes gebid. Teen dagbreek het Hy hulle na Hom geroep, oor hulle gebid en hulle onderrig, en toe het Hy Sy hande op hulle gelê en hulle geseën en vir evangeliewerk afgesonder. Toe is hulle saam na die strand, waar 'n groot skare al vroeg in die oggend begin saamkom het. MOR 9.1
Afgesien van die gebruiklike skares uit die Galilese dorpe, het groot getalle van Judea en selfs Jerusalem gekom; ja, van Perea en van die halfheidense bevolking van Dekapolis; van Idumea, suide van Judea, en van Tirus en Sidon, die Feniciese stede aan die kus van die Middellandse See. “Toe hulle hoor wat Hy alles doen,” het hulle gekom “om Hom te hoor en van hulle kwale genees te word... omdat krag van Hom uitgegaan het, en Hy het almal gesond gemaak” (Markus 3:8; Lukas 6:17-19). MOR 9.2
Omdat die nou strandjie nie eers staanplek binne hoorafstand gebied het vir almal wat Hom wou hoor nie, het Jesus hulle na die berghang terug gelei. By 'n gelykte wat 'n aangename vergaderplek gebied het vir die reusagtige skare, het Hy op die gras gaan sit, en Sy dissipels en die menigte het Sy voorbeeld gevolg. MOR 9.3
Die dissipels, wat aangevoel het dat iets buitengewoons ophande is, het tot teenaan hul Meester gedring. Die gebeure van die oggend het hulle oortuig dat 'n aankondiging verwag kon word in verband met die koninkryk wat Hy, soos hulle innig gehoop het, weldra tot stand sou bring. Ook onder die skare was daar 'n gevoel van afwagting en verlangende gesigte het van hul diepe belangstelling getuig. MOR 9.4
Daar teen die groen heuwel, waar hulle gesit en wag het op die woorde van die Goddelike Leraar, was hul gedagtes vol heerlike toekomsdrome. Daar was skrifgeleerdes en Fariseërs wat uitgesien het na die dag wanneer hulle oor die gehate Romeine sou heers en die rykdom en luister van die groot wêreldryk sou inpalm. Die arm plaasarbeiders en vissers het verlang om die versekering te hoor dat hul ellendige krotte, hul karige voedsel, hul harde arbeid en vrees vir hongersnood verruil sou word vir weelde, oorvloed en gemak. Pleks van die een growwe kleed wat hulle bedags moes dra en waaronder hulle snags moes slaap, het hulle gehoop dat Christus die duur en weelderige klere van hul oorwinnaars aan hulle sou gee. MOR 9.5
'n Trotse hoop het alle harte aangegryp dat Israel weldra voor die volke vereer sou word as die uitverkorene van die Here, en dat Jerusalem verhef sou word tot hoofstad van 'n wêreldryk. MOR 10.1