Die rede vir hierdie opdrag word verstrek: Ons moet nie sweer “by die hemel nie, omdat dit die troon van God is; ook nie by die aarde nie, omdat dit die voetbank van sy voete is; ook nie by Jerusalem nie, omdat dit die stad is van die groot Koning; ook by jou hoof mag jy nie sweer nie, omdat jy nie een haar wit of swart kan maak nie.” MOR 72.3
Alle dinge kom van God. Ons het niks wat ons nie ontvang het nie; en, wat meer is, ons het niks wat nie vir ons gekoop is deur die bloed van Christus nie. Alles wat ons besit, kom na ons met die stempel van die kruis daarop, gekoop met die bloed wat on-berekenbaar duur is, omdat dit die lewe van God is. Daarom het ons niks wat ons die reg het om as pand te gee, asof dit ons eie is, vir die vervulling van ons woord nie. MOR 73.1
Ons Heiland het egter nie die gebruik van die geregtelike eed verbied waarin God plegtig geroep word om te getuig dat wat gesê word die waarheid en niks anders as die waarheid is nie. Jesus het self, toe Hy voor die Joodse Raad verhoor is, nie geweier om onder eed te getuig nie. Die hoëpriester het vir Hom gesê: “Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God is.” Jesus het geantwoord: “U het dit gesê” (Mattheüs 26:63, 64). As Christus die geregtelike eed in Sy Bergpredikasie veroordeel het, sou Hy die hoëpriester tydens Sy verhoor tereggewys het en sodoende ter wille van Sy volgelinge uitvoering aan Sy eie leer gegee het. MOR 73.2
Daar is baie wat nie aarsel om hul medemens te bedrieg nie, maar hulle is geleer, en word deur die Gees van God beïndruk, dat dit 'n vreeslike ding is om vir hul Maker te lieg. Wanneer hulle onder eed gestel word, voel hulle dat hulle nie sommer net voor mense getuig nie, maar voor God; dat as hulle valse getuienis lewer, dit aan Hom is wat die hart kan lees en die waarheid ken. Die wete van die verskriklike oordele wat al op hierdie sonde gevolg het, het 'n beteuelende invloed op hulle. MOR 73.3
Maar as daar iemand is wat konsekwent onder eed kan getuig, is dit die Christen. Hy verkeer voortdurend in die teenwoordigheid van God, wetende dat elke gedagte oop en bloot is voor die oë van Hom met wie ons te doen het; en wanneer van hom wettiglik verwag word om dit te doen, is dit reg dat hy God roep om te getuig dat wat hy sê die waarheid is en niks anders as die waarheid nie. MOR 73.4
Hierna het Jesus 'n beginsel neergelê wat die neem van ede onnodig maak. Hy leer dat die reine waarheid die beginsel van spraak moet wees. “Laat julle woorde wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose.” MOR 74.1
Hierdie woorde veroordeel al die onbeduidende sinne en kragterme wat aan vloektaal grens. Hulle veroordeel onbedoelde pluimpies, die ontwyking van die waarheid, vleitaal, oordrywings, wanvoorstellings in die handel wat so alledaags in die samele-wing en sakewêreld voorkom. Hulle leer dat niemand wat probeer voorgee om te wees wat hy nie is nie, of wie se woord nie die werklike bedoeling van sy hart weergee nie, as opreg kan deurgaan nie. MOR 74.2
As ag op hierdie woorde van Christus geslaan sou word, sou hulle as remskoen dien op die uitspreek van bose vermoedens en onvriendelike kritiek; want wie kan seker wees dat hy die reine waarheid praat as hy kommentaar lewer op die dade en motiewe van ander? Hoe dikwels gee hoogmoed, hartstog, persoonlike afkeur kleur aan die indruk wat geskep word! 'n Sydelingse blik, 'n woord, selfs 'n stembuiging kan vol valsheid wees. Selfs feite kan so gestel word dat hulle 'n wanindruk skep. En alles “wat meer as” die waarheid is, “is uit die Bose.” MOR 74.3
Alles wat Christene doen, behoort so deursigtig soos die daglig te wees. Die waarheid is van God; bedrog in al sy tallose vorms is van die Satan; en wie ook al in enige opsig afwyk van die waarheid se reguit pad, lewer homself uit aan die mag van die Bose. Maar dit is nie 'n maklike ding om die reine waarheid te praat nie. Ons kan die waarheid nie praat tensy ons die waarheid ken nie; en hoe dikwels belet vooropgesette menings, vooroor-deel, gebrekkige kennis, oordeelsfoute, 'n behoorlike begrip van die dinge waarmee ons te doen het! Ons kan nie die waarheid praat tensy ons gedagtes gedurig deur Hom gelei word wat die waarheid is nie. MOR 74.4
Deur die apostel Paulus sê Christus vir ons: “Laat julle woord altyd aangenaam wees.” “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net 'n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.” Kolossense 4:6; Efesiërs 4:29. In die lig van hierdie Skriftuurplase blyk dit dat Christus se woorde op die berg ook grappe, ligsin-nigheid en onkuise gesprekke veroordeel. Hulle vereis dat ons woorde nie net waar moet wees nie, maar rein. MOR 75.1
Wie van Christus geleer het, sal “nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis” hou nie (Efesiërs 5:11). In hul spraak, soos in hul lewe, sal hulle eenvoudig, reguit en opreg wees; want hulle berei hulle voor vir die geselskap van die heiliges in wie se monde “geen bedrog gevind is nie” (Openbaring 14; 5). MOR 75.2