“Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is.” MOR 79.1
God is begaan oor elke verlore siel. “Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees.” Psalm 103:13. So 'n begrip van God is nog nooit deur enige ander geloof as dié van die Bybel aan die wêreld gegee nie. Die heidense gelowe leer die mense om die Opperwese te beskou as een wat gevrees moet word eerder as om lief te hê - 'n kwaad-willige godheid wat met offerandes gepaai moet word, eerder as 'n Vader wat die gawe van Sy liefde oor Sy kinders uitstort. Selfs die volk van Israel het so verblind geraak vir die kosbare dinge wat die profete aangaande God geleer het, dat hierdie openbaring van Sy vaderliefde na iets oorspronkliks geklink het, 'n nuwe gawe aan die wêreld. MOR 79.2
Die Jode het geglo dat die Here dié liefhet wat Hom dien - na hul mening, diegene wat voldoen het aan die vereistes van die rabbi’s - en dat die res van die wêreld onder Sy kwaadwil en vloek verkeer het. Nee, het Jesus gesê, die hele wêreld, goed en kwaad, geniet die sonskyn van Sy liefde. Hierdie waarheid moes julle uit die natuur self geleer het; want “Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.” MOR 80.1
Dit is nie 'n inherente krag wat die aarde jaar vir jaar sy oorvloed laat gee of hom klokslag om die son laat draai nie. Die hand van God rig die planete en hou hulle in hul bane in 'n ordelike optog deur die hemele. Dit is Sy mag wat somer en winter, saaityd en oestyd, dag en nag mekaar onfeilbaar laat opvolg. Dit is deur Sy woord dat plante groei, dat die blare uitkom en die blomme oopgaan. Elke goeie gawe wat ons geniet, elke sonstraal en reënbui, elke brokkie kos, elke lewensoomblik, is 'n gawe van die liefde. MOR 80.2
Terwyl ons nog onminsaam en onbeminlik van aard was “haatlik [was] en mekaar gehaat het,” het ons hemelse Vader ons genade betoon. “Toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het - nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered” (Titus 3:3-5). Ontvang ons Sy liefde, maak dit ons ook vriendelik en teer, nie net teenoor diegene wat ons behaag nie, maar teenoor die gebrekkigste, mees dwalende en sondigste. MOR 81.1
Die kinders van God is hulle wat deelgenote is aan Sy natuur. Dit is nie aardse rang, geboorte, nasionaliteit of godsdienstige voorreg wat bewys dat ons lede van die gesin van God is nie; dit is liefde, 'n liefde wat die hele mensdom omhels. Selfs sondaars wie se harte nog nie heeltemal vir die Gees van God gesluit is nie, sal reageer op vriendelikheid; hoewel hulle haat met haat sal beantwoord, sal hulle ook liefde met liefde beantwoord. Maar net die Gees van God gee liefde vir haat. Om vriendelik teenoor die ondankbare en die bose te wees, om goed te doen sonder om iets terug te verwag, is die kenteken van die hemelse vorstehuis, die gewisse teken waardeur die kinders van die Allerhoogste hul hoë roeping kan openbaar. MOR 81.2