Om te probeer om jou saligheid deur jou eie werke te verdien, lei noodwendig tot die opstapeling van 'n muur van menslike voorskrifte teen die sonde. Sodra die mens besef dat hy die wet nie kan onderhou nie, bedink hy allerhande reëls en vereistes om hom tot gehoorsaamheid te dwing. Dit trek die aandag van God af na jouself. Liefde vir God sterf in die hart, en daarmee ook die liefde vir jou medemens. 'n Stelsel wat deur die mens bedink is, met sy eindelose reeks voorskrifte, beweeg die voorstanders daarvan om almal wat nie aan hierdie voorskrifte voldoen nie, te veroordeel. Hierdie selfsug-tige, eng kritiese houding smoor talle edelmoediger en groothart-ige gewaarwordings en maak van die mens eiegeregtige regters en kleinlike spioene. MOR 135.1
Jesus het gesê: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.” Dit wil sê, moenie jouself as standaard voorhou nie. Moenie jou menings, jou idees van plig, jou vertolkings van die Skrifte, 'n standaard vir ander maak en hulle veroordeel as hulle nie aan jou ideaal beantwoord nie. Moenie ander mense kritiseer, probeer raai wat hul motiewe is, en oordeel oor hulle uitspreek nie. MOR 135.2
“Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat nie verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die hart openbaar sal maak.” 1 Korinthiërs 4:5. Ons kan die hart nie beoordeel nie. Ons is self feilbaar en onbevoeg om te oordeel. Sterflinge kan net volgens die uiterlike oordeel. Net aan Hom, wat die verborge oorsprong van ons dade ken, en wat teer en medelydend optree, is dit gegee om oor die lot van elke siel te beslis. MOR 136.1
“Daarom is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy 'n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge.” Romeine 2:1. Mense wat ander dus kritiseer of veroordeel, verklaar dat hulle self skuldig is, want hulle doen dieselfde dinge. Deur ander te veroordeel, vel hulle vonnis oor hulself, en die Here verklaar dat hierdie vonnis regverdig is. Hy aanvaar hul eie uitspraak teen hulself. MOR 136.2
“Met lompe voete, nog vol klei,
trap ons die tenger blomme plat;
met growwe hande sal ons aan
'n vriend se fyn hartsnare vat” MOR 136.3