Om alle moontlikhede van ongeloof, misverstand of wanvertolk-ing van Sy woorde uit die weg te ruim, herhaal die Here die drievoudige belofte. Hy wil graag hê dat almal wat na God soek, in Hom moet glo wat tot alle dinge in staat is. Daarom voeg Hy by: “Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” MOR 141.1
Die Here stel geen voorwaardes nie - behalwe dat u honger moet wees vir Sy genade, Sy raad moet begeer en na Sy liefde moet verlang. “Bid.” Deur te vra, bewys u dat u u behoefte besef; en as u glo wat u vra, sal u dit ontvang. Die Here het Sy woord gegee, en dit staan vas. As u met ware berou na Hom toe kom, hoef u nie te voel dis voorbarig om te vra wat die Here belowe het nie. As u om die nodige seëninge vra sodat u 'n karakter soos dié van Christus kan ontwikkel, gee die Here u die versekering dat u volgens 'n belofte bid wat bekragtig sal word. Om te voel en te weet dat u 'n sondaar is, is genoeg rede om Hom om Sy genade en barmhartigheid te vra. Die voorwaarde waarvolgens u na die Here kan kom, is nie dat u heilig moet wees nie, maar dat u verlang dat Hy u van alle ongeregtigheid moet reinig. Die pleidooi wat ons nou en altyd kan aanvoer, is ons groot behoefte, ons algehele hulpeloosheid wat Hom en Sy reddende krag so uiters noodsaaklik maak. MOR 141.2
“Soek.” U moet nie net na Sy seën verlang nie, maar wel na Hom. “Sluit tog vriendskap met Hom, sodat jy vrede kan hê.” Job 22:21. Soek, en u sal vind. God soek na u, en die begeerte wat u voel om na Hom toe te kom, is juis Sy Gees wat u aantrek. Gee u oor aan daardie roepstem. Christus pleit ten behoewe van die versoekte, die dwalende en die ontroue. Hy wil hulle ophef tot gemeenskap met Hom. “As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind.” 1 Kronieke 28:9. MOR 142.1
“Klop.” Ons kom na God op uitnodiging, en Hy wag om ons in Sy binnekamer te verwelkom. Die eerste dissipels wat Jesus gevolg het, was nie tevrede met 'n verbygaande gesprekkie met Hom nie; hulle het gevra: “Rabbi... waar is U tuis?... Hulle het gegaan en gesien waar Hy tuis was, en die dag by Hom gebly” (Johannes 1:39, 40). So het ons toegang tot die intiemste gemeenskap met God. MOR 142.2
Jesus het heengekyk oor die skare wat bymekaar gekom het om na Hom te luister, en het inniglik verlang dat die groot skare die genade en goedertierenheid van God moes verstaan. As 'n beeld van hulle behoefte en van God se gewilligheid om te gee, het Hy 'n honger kind gebruik wat sy aardse ouer om brood vra. “Watter mens is daaronder julle,” sê Hy, “wat, as sy seun hom brood vra, aan hom 'n klip sal gee?” Hy beroep Hom op die tere, natuurlike liefde van 'n ouer vir sy kind, en dan sê Hy: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid?” Geen mens met 'n vaderhart sal sy rug draai op sy honger seun wat hom om brood vra nie. Dink julle hy sal dit oor sy hart kry om sy kind vir die gek te hou, of om hom te treiter deur sy verwagtinge op te wek net om hom teleur te stel? Sou hy beloof om hom goeie, voedsame kos te gee en hom dan 'n klip gee? Sal iemand die Here dan so 'n oneer aandoen om te dink dat Hy Hom nie aan Sy kinders se smeekstemme sal steur nie? MOR 143.1
As julle wat menslik en sleg is, dan “weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat hom bid?” (Lukas 11:13). Die Heilige Gees, Sy eie verteenwoordiger, is die grootste van alle gawes. Alle “goeie dinge” word in Hom saamgevat. Die Skepper self kan ons niks groters of beters gee nie. As ons die Here smeek om ons uit ons benoudheid te red, of ons deur Sy Heilige Gees te lei, sal Hy ons gebed nooit veronagsaam nie. Dit sou vir 'n ouer nog moontlik wees om sy honger kind te veronagsaam, maar die Here kan nooit die geroep van die behoeftige en verlang-ende hart verwerp nie. Hoe tederlik beskryf Hy nie Sy liefde nie! Vir mense wat in donkere tye voel dat God Hom nie aan hulle steur nie, kom hierdie boodskap uit die Vaderhart: “Sion sê: Die Here het my verlaat, en die Here het my vergeet! Kan 'n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ek jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer.” Jesaja 49:14-16. MOR 143.2
Elke belofte in die Woord van God gee ons iets om voor te bid, en die woord van die Here is ons waarborg. Dit is ons voorreg om elke geestelike seën wat ons nodig het deur Jesus te eis. Met die eenvoud van 'n kind kan ons die Here vra presies wat ons nodig het. Ons kan ons stoflike behoeftes aan Hom voorlê en Hom om voedsel en klere vra, net soos ons om die brood van die lewe en die kleed van Christus se geregtigheid moet vra. U hemelse Vader weet dat u al hierdie dinge nodig het, en u word genooi om Hom daarom te vra. Deur die Naam van Jesus word elke guns ontvang. Die Here sal daardie Naam respekteer en in al u behoeftes voorsien uit die rykdom van Sy milddadigheid. MOR 144.1
Maar moenie vergeet dat u, as u tot God as Vader kom, daarmee u kindskap erken nie. U vertrou nie net op Sy goedheid nie, maar u onderwerp u in alle opsigte aan Sy wil, in die wete dat Sy liefde onveranderlik is. U wy uself aan Sy werk. Dit is aan hulle vir wie Jesus aangeraai het om eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid te soek dat Jesus belowe het. “Bid en julle sal ontvang” (Johannes 16:24). MOR 144.2
Die gawes van Hom wat alle mag in die hemele en op aarde het, is daar vir die kinders van God. Gawes wat so kosbaar is dat ons hulle deur die duur offer van die Heiland se bloed ontvang; gawes wat die diepste verlangens van die hart sal bevredig; gawes wat so lank soos die ewigheid sal duur, sal ontvang en geniet word deur almal wat soos kindertjies tot God wil kom. Aanvaar God se beloftes as u eie, lê hulle aan Hom voor as Sy eie woorde, en u sal versadiging en vreugde vind. MOR 144.3