‘n Nuwe keiser, Karel V, het die troon van Duitsland bestyg, en die afgesante van Rome het na horn gehaas met gelukwense, en om hierdie vors oor te haal om sy mag teen die Hervorming te gebruik. Maar aan die anderkant, het die keurvors van Sakse, aan wie Karel baie te danke gehad het vir sy kroon, hom gesmeek om geen stappe teen Luther te doen totdat daar eers aan hom ‘n verhoor toegestaan is nie. Dit het die keiser in groot verleentheid gebring. Die pousgesindes sou met niks minder te vrede wees as ‘n keiserlike bevel om Luther om die lewe te bring nie. Die keurvors het duidelik daarop gewys dat “nóg sy keiserlike majesteit nóg enige ander persoon bewys het dat Luther se geskrifte weerlê is nie;” daarom het hy versoek, “dat Doktor Luther van ‘n vrygeleide voorsien moes word, sodat hy kon verskyn voor ‘n hof van geleerde, vrome, en onpartydige regters.” — D’Aubigne, boek VI, hoojstuk 11. GS 167.1
Die aandag van alle partye was nou gevestig op die vergadering van die Duitse state wat kort na die troonbestyging van Karel te Worms sou plaasvind. Belangrike staatkundige vrae en belange sou deur hierdie nasionale raad bespreek word; vir die eerste maal sou die prinse van Duitsland hulle jeugdige vors op ‘n raadsvergadering ontmoet. Uit alle dele van die vaderland het waardigheidsbekleërs van kerk en staat gekom. Wêreldlike owerhede, hooggebore, magtig, en ywerig vir hulle erfregte; prinslike geestelikes, opgeblaas deur die bewussyn van hulle meerdere rang en gesag, hoflike ridders en hulle gewapende volgelinge; en gesante van vreemde en verafgeleë lande — almal het op Worms saamgekom. Maar die onderwerp wat die grootste belangstelling in hierdie groot vergadering opgewek het, was die saak van die Saksiese Hervormer. GS 167.2
Karel het die keurvors vooruit gevra om Luther met hom saam te bring na die Ryksdag; hy het hom verseker van beskerming, en het ‘n vrye bespreking belowe van die geskilpunte, deur bevoegde persone. Luther wou graag voor die keiser verskyn. Sy gesondheid was destyds nie van die beste nie; maar nogtans het hy aan die keurvors geskryf: “As ek nie in goeie gesondheid na Worms kan gaan nie, sal ek my daarheen laat dra siek soos ek is. Want as die keiser my roep kan ek nie daaraan twyfel dat dit die roepstem van God Self is nie. As hulle geweld teen my wil gebruik, en dit is heeltemal waarskynlik (want dit is nie vir hulle eie onderrig dat hulle my belas het om te verskyn nie), dan plaas ek die saak in Gods hande. Hy wat die drie jongmanne in die brandende vuuroond bewaar het, leef nog. As Hy my nie red nie, maak my lewe nie eintlik saak nie. Laat ons slegs verhoed dat die evangelie blootgestel word aan die smaad van die goddelose, en laat ons ons bloed daarvoor stort, uit vrees dat hulle mag oorwin. Dit is nie vir my om te besluit wat of my lewe of my dood die meeste sou bydra tot die saligheid van almal nie. . . . U kan alles van my verwag . . . behalwe vlug en herroeping. Vlug kan ek nie, en herroep sal ek nie.”—D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 1. GS 168.1
Toe dit op Worms rugbaar geword het dat Luther voor die Ryksdag sou verskyn, het dit groot opgewondenheid veroorsaak. Aleander, die pouslike legaat aan wie die saak spesiaal toevertrou is, was verontrus en woedend. Hy het gesien dat die gevolge noodlottig sou wees vir die pouslike saak. Om weer ‘n saak te ondersoek waarin die Pous alreeds uitspraak gegee het, sou niks minder wees as veragting van die gesag van die koninklike opperpriester nie. En wat meer is, hy was bang dat die welsprekendheid en kragtige argumente van hierdie man baie van die prinse afvallig sou maak van die saak van die Pous. Hy het defhalwe baie dringend by Karel aangedring om te belet dat Luther op Worms verskyn. Teen hierdie tyd is die bul wat Luther se ekskommunikasie gelas het, openbaar gemaak; en dit, gepaard met die vertoë van die legaat, het die keiser gedwing om in te gee. Hy het aan die keurvors geskrywe dat as Luther nie wil herroep nie, hy op Wittenberg moes bly. GS 168.2
Nie tevrede met hierdie oorwinning nie, het Aleander, met al die mag en listigheid waaroor hy beskik het, hom beywer om Luther se veroordeling te bewerkstellig. Met ‘n volharding wat aan ‘n beter saak kon bestee geword het, het hy die saak onder die aandag van die prinse, prelate, en ander lede van die vergadering gebring, en hy het die Hervormer beskuldig van “sedisie, rebellie, goddeloosheid en godslastering.” Maar die heftigheid en woede het te duidelik die gees geopenbaar wat hierdie legaat besiel het. “Hy is besiel met haat en wraak,” was die algemene opmerking, “veel meer as met ywer en godsvrug.”—D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 1.Die meerderheid van die Ryksdag was nou meer as ooit tevore geneig om Luther se saak gunstig te beoordeel. GS 169.1
Met verdubbelde ywer het Aleander by die keiser aangedring om die pouslike edikte uit te voer. Maar volgens die wette van Duitsland kon dit nie gedoen word sonder die toestemming van die prinse nie; en eindelik oorwin deur die legaat se lastigheid, het Karel hom gelas om sy saak voor die Ryksdag te lê. “Dit was ‘n roemvolle dag vir die afgesant. Dit was ‘n groot vergadering; maar die saak was nog groter. Aleander sou pleit vir Rome . . . die moeder en hoof van alle kerke.” Hy sou die vorstelike mag van Petrus voor die vergaderde hoofde van die Christendom bewys. “Hy het die gawe van welsprekendheid gehad, en die gewig van die geleentheid het hom besiel. Die voorsienigheid het dit bestem dat Rome verdedig sou word deur een van sy bekwaamste sprekers voor die deurlugtigste regbank voordat hy veroordeel sou word.”— Wylie, boek VI, hoojstuk 4.Dit was nie sonder angs dat diegene wat ten gunste van Luther was, vooruitgesien het na die uitwerking van Aleander se toespraak nie. Die keurvors van Sakse was nie teenwoordig nie, maar op sy bevel het sommige van sy raadslede aantekeninge gemaak van die afgesant se toespraak. GS 169.2
Met al die mag van geleerdheid en welsprekendheid het Aleander onderneem om die waarheid omver te werp. Hy het beskuldiging op beskuldiging teen Luther geslinger dat hy ‘n vyand van die kerk en die staat was, van die lewende en die dode, van geestelikes en leke, van rade en private Christene. “In Luther se dwalings,” het hy gesê, “is daar genoeg om ‘n honderd duisend ketters te verbrand.” GS 170.1
Ten slotte het hy probeer om die aanhangers van die gereformeerde geloof veragtelik voor te stel. “Wat is al hierdie Lutherane? ‘n Spul parmantige pedagoge, verdorwe priesters, losbandige monnike, onkundige wetgeleerdes, en verlaagde edelliede. gevolg deur die ongeleerdes wat hulle mislei en bederf het. Hoever bokant hulle staan die Katolieke party wat getal, bekwaamheid, en mag betref! ‘n Eenstemmige dekreet van hierdie deurlugtige vergadering sal die eenvoudiges verlig, die onverstandiges waarsku, die weifelaars tot beslissing bring, en die swakkes versterk.”—D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 3. GS 170.2
Dit is met sulke wapens dat die voorstanders van die waarheid in elke eeu aangeval is. Dieselfde argumente word nog aangevoer teen almal wat die duidelike leerstellings van Gods woord verkondig in stryd met diepgewortelde dwalings. “Wie is hierdie leraars van nuwe leerstellings?” word uitgeroep deur diegene wat die populêre godsdienste aanhang. “Hulle is ongeleerd, klein in getal, en behoort aan die arm klas. Nogtans maak hulle daarop aanspraak dat hulle die waarheid het en die uitverkorenes van God is. Hulle is onkundig en mislei. Hoever staan ons kerk nie bokant hulle wat ledetal en invloed betref nie! Hoeveel groot en geleerde manne is daar nie onder ons nie! Kyk hoe sterk is ons!” Dit is die argumente wat die wêreld beïnvloed; maar hulle is net so swak vandag as in die dae van die Hervormer. GS 170.3
Die Hervorming het nie, soos vele dink, met Luther geëindig nie. Dit moet voortgaan tot die einde van die geskiedenis van hierdie wêreld. Luther het ‘n groot werk gehad om te doen om aan ander die lig te gee wat God aan hom gegee het; maar hy het nie al die lig ontvang wat aan die wêreld sou gegee word nie. Van daardie tyd af tot vandag, het daar steeds nuwe lig geskyn uit die Skrifte, en nuwe waarhede word gedurig geopenbaar. GS 170.4
Die legaat se toespraak het ‘n diep indruk gemaak op die Ryksdag. Daar was geen Luther teenwoordig met die duidelike, oortuigende waarhede van Gods woord, om die pouslike kampvegter te verslaan nie. Geen poging is aangewend om die Hervormer te verdedig nie. Daar was ‘n algemene gevoel, nie alleen om hom en sy leerstellings te veroordeel nie, maar indien moontlik om die ketter se leer uit te roei. Rome het die beste geleentheid gehad om sy saak te verdedig. Alles wat hy tot sy eie regverdiging kon sê, is gesê. Maar hierdie oënskynlike oorwinning was die teken van neerlaag. Van nou af sou die teenstelling tussen waarheid en dwaalleer, waar hulle die stryd teen mekaar aanbind, duideliker gesien word. Nooit weer van daardie dag af sou Rome se posisie so veilig wees nie as dit voorheen was nie. GS 171.1
Hoewel die meerderheid van die Ryksdaglede nie sou geaarsel het om Luther aan die wraak van Rome oor te lewer nie, het baie van hulle die heersende bederf in die kerk gesien en betreur, en gewens om die misbruike uit die weg te ruim waaronder die Duitse volk gely het as gevolg van die verdorwenheid en gierigheid van die hiërargie. Die legaat het die pouslike regering in die beste lig gestel. Maar nou het die Here ‘n lid van die Ryksdag beweeg om ‘n ware uiteensitting te gee van die gevolge van pouslike tirannie. Met edele standvastigheid het die Hertog Georg van Sakse opgestaan in daardie prinselike vergadering, en met ontsettende juistheid die bedrog en gruwels van die pousdom beskryf, asook die noodlottige gevolge daarvan. Hy het gesluit met die volgende woorde: GS 171.2
“Dit is sommige van die skreeuende misbruike van Rome. Hulle het geen skaamte nie, en hulle enigste doel is . . . geld, geld, geld, . . . sodat die predikers wat die waarheid behoort te verkondig, niks anders as valshede verkondig nie, en nie alleen word hulle gedoog nie, maar beloon, omdat hoe groter hulle leuens, hoe groter hulle winste. Dit is uit hierdie verderflike bron waaruit sulke besoedelde waters vloei. Losbandigheid en gierigheid gaan hand aan hand. . . . Helaas, dit is die skandale van die geestelikes wat so baie arme siele in die verderf stort. Daar moet ‘n algemene hervorming plaasvind.”—D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 4. GS 171.3
‘n Beter en kragtiger ontbloting van pouslike misbruike kon nie deur Luther self gegee gewees het nie; en die feit dat die spreker ‘n geswore vyand van die Hervormer was, het nog groter gewig aan sy woorde gegee. GS 172.1
As die oë van die vergadering geopen was, sou hulle engele van God onder hulle gewaar het, wat ligstrale laat skiet het deur die duisternis van dwaling, wat die verstand en hart oopgemaak het vir die ontvangs van die waarheid. Dit was die mag van die God van waarheid en wysheid wat die teenstanders van die Hervorming in bedwang gehou het, en sodoende die weg berei het vir die groot werk wat daar gedoen sou word. Martin Luther was nie teenwoordig nie; maar die stem van Een groter as Luther is in daardie vergadering gehoor. GS 172.2
Daar is dadelik ‘n komitee deur die Ryksdag aangestel om ‘n lys op te stel van al die pouslike verdrukkings waaronder die Duitse volk so swaar gely het. Hierdie lys, wat ‘n honderd-eneen sake bevat het, is aan die keiser voorgelê, met ‘n versoek dat hy stappe moes doen vir die onmiddellike wegruiming van hierdie misbruike. “Wat ‘n verlies van Christensiele,” het die ondertekenaars gesê, “watter plundering, watter afpersings, weens die skandale waarvan die geestelike hoof van die Christendom omring is! Dit is ons plig om die ondergang en ontering van ons volk te verhoed. Om hierdie rede versoek ons u nederig, maar baie dringend, om ‘n algemene hervorming te beveel, en te sien dat dit deurgevoer word.”—D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 4. GS 172.3
Die raad het nou die verskyning van die Hervormer voor hulle geëis. Nieteenstaande die smekings, besware, en dreigemente van Aleander, het die keiser eindelik sy toestemming gegee, en Luther is voor die Ryksdag gedaag. Met die dagvaarding was ook ‘n vrygeleide gegee, wat sy terugkeer na ‘n plek van veiligheid verseker het. Hierdie dokumente is na Wittenberg geneem deur ‘n boodskapper, wat gelas is om Luther na Worms te begelei. GS 172.4
Die vriende van Luther was verontrus en in die nood. Wetende van die vooroordeel en die vyandigheid teen hom, het hulle gevrees dat sy vrygeleide nie in ag geneem sou word nie, en hulle het hom gesmeek om nie sy lewe in gevaar te stel nie. Sy antwoord was: “Die pousgesindes begeer nie dat ek na Worms moet kom nie, maar hulle soek my veroordeling en my dood. Dit maak nie saak nie; moenie vir my bid nie, maar vir die woord van God. . . . Christus sal my Sy Gees gee om hierdie werktuie van dwaalleer te oorwin. Ek verag hulle in my lewe; in my dood sal ek oor hulle triomfeer. Op Worms is hulle besig om my te dwing om te herroep; dit sal my herroeping wees: Eers het ek gesê dat die Pous Christus se plaasvervanger is; nou sê ek dat hy ons Heiland se teenstander en die duiwel se apostel is.”—D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 6. GS 173.1
Luther sou nie sy gevaarlike reis alleen aflê nie. Behalwe die koninklike boodskapper, het drie van sy trouste vriende besluit om hom te vergesel. Melanchthon wou baie graag by hulle aansluit. Sy hart was met Luther, en hy was baie begerig om hom te volg selfs tot die dood indien nodig. Maar hy is nie toegelaat om saam te gaan nie. In geval Luther omkom, sou hierdie jeugdige medewerker van hom die hoop van die Hervorming moet wees. Toe die Hervormer van Melanchthon afskeid neem, het hy aan hom gesê: “As ek nie terugkom nie, en my vyande my om die lewe bring, moet jy aanhou leer en vasstaan in die waarheid. Werk in my plek. ... As jou lewe behou word, sal my dood nie eintlik saak maak nie.”— Idem, hoojstuk 7.Die studente en burgers wat saamgekom het om Luther te sien vertrek, was diep ontroer. ‘n Groot skare wie se harte deur die evangelie aangeraak is, het hom wenend vaarwel gesê. Daarna het die Hervormer en sy metgeselle van Wittenberg vertrek. GS 173.2
Onderweg het hulle opgemerk dat die mense verontrus is deur somber voorgevoelens. Op sommige dorpe is daar geen eer aan hulle bewys nie. Op een plek waar hulle die nag geslaap het, het ‘n vriendelike priester sy vrees te kenne gegee deur ‘n portret van ‘n Italiaanse hervormer wat die marteldood gesterf het, aan Luther te toon. Die volgende dag het hulle gehoor dat Luther se geskrifte te Worms veroordeel is. Boodskappers van die keiser het die keiserlike dekreet afgekondig, en ‘n beroep op die mense gedoen om die geskrifte wat in die ban gedoen is aan die magistrate te lewer. Die boodskapper wat Luther begelei het, en wat begin vrees het vir sy veiligheid op die vergadering, en menende dat hy nie meer so vasberade was nie, het hom gevra of hy nog die reis verder wou voortsit. Sy antwoord was: “Ek sal voortgaan al was ek ook by elke stad in die ban gedoen.”— D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 7 GS 173.3
Op Erfurt is Luther met eerbewyse ontvang. Omring deur bewonderende skares, het hy deur die strate gestap waarlangs hy menigmaal tevore met sy bedelsak gegaan het. Hy het sy sel in die klooster besoek, en gedink aan die stryd wat in sy siel gewoed het voordat die lig kon deurstraal wat vandag op Duitsland skyn. Daar is by hom aangedring om te preek. Hy was verbied om te preek, maar die boodskapper wat hom begelei het, het sy toestemming gegee, en toe het die monnik wat eenmaal die swaarste werk by die klooster gedoen het, die kansel bestyg. GS 174.1
Voor ‘n groot skare het hy gepreek na aanleiding van Christus se woorde, “Vrede vir julle.” “Wysgere, doktore, en skrywers,” het hy gesê, “het probeer om aan die mense die weg tot die ewige lewe te leer, en hulle het nie daarin geslaag nie. Ek sal dit nou aan julle verduidelik: . . . God het ‘n Man uit die dode opgewek, die Here Jesus Christus, sodat Hy die dood kon vernietig, die sonde kon uitroei en die poorte van die hel kon sluit. Dit is die werk van verlossing. . . . Christus het oorwin! Dit is die blye tyding; en ons is gered deur Sy werk, en nie deur ons eie werke nie. . . . Ons Here Jesus Christus het gesê, ,Vrede vir julle . . . kyk na My hande.’ Dit wil sê, Kyk, o mens! Dit is Ek, Ek alleen, wat jou sonde weggeneem het, en jou vry gekoop het; en nou het jy vrede, spreek die Here.” GS 174.2
Hy het voortgegaan en daarop gewys dat ware geloof deur ‘n ‘n heilige lewe getoon word. “Aangesien God ons verlos het, laat ons so wandel dat Hy ons kan aanneem. Is julle ryk; laat julle goedere voorsien in die behoeftes van die armes. Is julle arm; laat julle dienste aanneemlik wees vir die rykes. Maar as julle net vir julle self werk, is die diens wat julle voorgee om aan God te bewys ‘n bedrog.”—D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 7. GS 174.3
Die aandag van die volk was geboei. Die brood van die lewe is gebreek vir hongerige siele. Christus was voor hulle opgehef bokant pouse, legate, keisers, en konings. Luther het nooit verwys na sy eie gevaarlike posisie nie. Hy wou nie die voorwerp van medelyde wees nie. Waar hy oor Christus gespreek het, het hy homself heeltemal vergeet. Hy het agter die Man van Golgota geskuil, en getrag om Jesus alleen as die sondaar se Verlosser voor te stel. GS 175.1
Op sy reis is die Hervormer met groot belangstelling bejeën. ‘n Gretige skare het om hom saamgedring, en vriendelike stemme het hom gewaarsku van die doel van die pousgesindes. “Hulle sal jou verbrand,” het sommige gesê; “jy sal tot as verbrand word net soos hulle met Johannes Huss gemaak het.” Hierop het Luther geantwoord, “al sou hulle ‘n vuur maak langs die hele pad van Worms tot by Wittenberg, en al sou die vlamme tot aan die hemel reik, sou ek in die naam van die Here daardeur loop; ek sal voor hulle verskyn; ek sal in die bek van hierdie monster inloop, sy tande verbreek, terwyl ek die Here Jesus Christus bely.” D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 7. GS 175.2
Die tyding dat hy Worms nader, het groot opgewondenheid veroorsaak. Sy vriende het gesidder vir sy veiligheid; sy vyande het gevrees vir die sukses van hulle saak. Daar is ernstige pogings aangewend om hom af te raai om nie die stad binne te gaan nie. Die pousgesindes het by hom aangedring om na die kasteel van ‘n goedgesinde ridder te gaan, en daar, het hulle gesê, kon die hele saak op vriendelike wyse opgelos word. Vriende wou hom bangmaak, deur die gevare te beskrywe wat hom bedreig het, maar al hulle pogings was tevergeefs. Luther, nog net so standvastig, het verklaar: “Al was daar ook net soveel duiwels in Worms as panne op die dakke van die huise, sou ek nog die stad binnegaan.”— D’Aubigne boek VII, hoojstuk 7. GS 175.3
By sy aankoms op Worms het ‘n groot skare na die poorte gekom om hom te verwelkom. Selfs vir die aankoms van die keiser, kon daar nie ‘n groter skare gewees het om hom te verwelkom nie. Die opgewondenheid was groot, en onder die skare het ‘n deurdringende, klagende stem ‘n lyksang gesing om Luther te waarsku teen die lot wat hom gewag het. “God sal my beskerming wees,” het hy gesê, toe hy uit sy rytuig klim. GS 175.4
Die pousgesindes het nie geglo dat Luther werklik dit sou waag om na Worms te kom nie, en sy aankoms daar het hulle verontrus. Die keiser het dadelik sy raadslede saamgeroep om te besluit wat hulle te doen gestaan het. Een van die biskoppe, ‘n strenge Katoliek, het verklaar: “Ons het al lank oor hierdie saak beraadslaag. Laat u keiserlike majesteit dadelik van hierdie man ontslae raak. Het Sigismund nie Johannes Huss laat verbrand nie? Ons is nie verplig om aan ‘n ketter ‘n vrygeleide te gee nie, of ons woord te hou na ons dit gegee het nie.” “Nee,” het die keiser gesê: “Ons moet ons belofte nakom.”— D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 8.Daar is toe besluit om die Hervormer te verhoor. GS 176.1
Die hele stad was begerig om hierdie merkwaardige man te sien, en spoedig was sy herberg vol van besoekers. Luther het nog nie mooi herstel van sy siekte nie; hy was afgemat deur die reis, wat ‘n hele twee weke geduur het; die volgende more moes hy verskyn, en hy het stilte en rus nodig gehad. So groot was die begeerte om hom te sien, dat hy maar net ‘n paar uur gerus het toe edelliede, ridders, priesters, en burgers om hom saamgedrom het. Onder hulle was baie van die edelliede wat stoutmoedig by die keiser aangedring het op ‘n hervorming van die kerklike misbruike, en wat, soos Luther gesê het, “Deur my evangelie bevry is.”—Martyn, “Lije and Times of Luther,” bl. 393. GS 176.2
Vyande sowel as vriende het na hierdie onverskrokke monnik kom kyk; hy het hulle met die grootste kalmte ontvang, en met waardigheid en wysheid op hulle vrae geantwoord. Sy houding was vasberade en moedig. Sy maer, bleek gesig, wat tekens getoon het van siekte en swaar arbeid, het ‘n vriendelike uitdrukking gehad. Die plegtigheid en diepe eras van sy woorde het hom ‘n krag gegee wat selfs sy vyande nie heeltemal kon weerstaan nie. Beide vriende en vyande is met verbasing vervul. Sommige was daarvan oortuig dat hy onder goddelike invloed gestaan het; ander het gesê, soos die Fariseërs van Christus gesê het, “hy het ‘n duiwel.” GS 177.1
Die volgende dag is Luther voor die Ryksdag gedaag. ‘n Keiserlike offisier het hom na die gehoorsaal gebring; maar dit was met moeite dat hy die plek bereik het. Elke straat was vol toeskouers, wat graag die monnik wou sien wat dit gedurf het om die gesag van die Pous te weerstaan. GS 177.2
Net voordat hy in die teenwoordigheid van sy regters verskyn het, het ‘n ou generaal, vriendelik aan hom gesê: “Arme monnik, arme monnik, jy het ‘n stryd voor jou soos ek en menige ander kaptein nog nooit geken het, selfs in ons bloedigste veldslae nie. Maar as jou saak regverdig is, en jy daarvan seker is, gaan dan in Gods naam voorwaarts en vrees niks! God sal jou nie begewe nie.”— D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 8. GS 177.3
Eindelik het Luther voor die vergadering gestaan. Die keiser het op die troon gesit. Om hom was die deurlugtigste persone in die ryk. Nog nooit het ‘n man voor ‘n indrukwekkender vergadering verskyn as die waarvoor Luther nou sou antwoord vir sy geloof nie. “Hierdie verskyning was op sigself ‘n bepaalde oorwinning oor die pousdom. Die Pous het hierdie man reeds veroordeel, en nou staan hy voor ‘n regbank, wat hom deur hierdie verhoor, bokant die Pous gestel het. Die Pous het hom in die ban gedoen, en hom uit die samelewing verstoot, en nogtans is hy in betaamlike taal gedaag, en deur die hoogste vergadering in die wêreld ontvang. Die Pous het hom veroordeel tot voortdurende stilswye, en nou het hy op die punt gestaan om te praat voor duisende aandagtige hoorders, getrek uit die verste uithoeke van die Christendom, ‘n Ontsettende omwenteling is dus deur die toedoen van Luther teweeggebring. Rome was reeds besig om van sy troon af te klim, en dit was die stem van ‘n monnik wat hierdie vernedering veroorsaak het.”—D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 8. GS 177.4
In die teenwoordigheid van daardie magtige en getitelde vergadering, het hierdie nederiggebore Hervormer ontsteld en verslae gestaan. Verskeie van die prinse, wat sy ontroering opgemerk het, het nader gekom en een het gefluister, “moenie hulle vrees wat die liggaam kan dood, maar die siel nie kan dood nie.” ‘n Ander het gesê, “Wanneer hulle julle voor goewerneurs en konings bring om My ontwil, sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek.” Op hierdie manier is die woorde van Christus aangehaal deur die wêreld se grootste manne om Sy dienskneg in die uur van beproewing te sterk. GS 178.1
Luther is gelei tot reg voor die keiser se troon; ‘n groot stilte het in die vergadering geheers. Daarna het ‘n keiserlike offisier opgestaan, en na ‘n versameling van Luther se geskrifte wysende, het hy die Hervormer versoek om op twee vrae te antwoord: naamlik of hy die geskrifte erken as syne, en of hy van plan was om die menings daarin uitgespreek te herroep. Nadat die titels van die boeke aan hom voorgelees is, het Luther op die eerste vraag geantwoord en erken dat die boeke syne was. “Wat die tweede vraag betref,” het hy gesê, “aangesien dit ‘n vraag is wat betrekking het op geloof en die verlossing van siele, en waarin die woord van God, die grootste en kosbaarste skat in hemel en op aarde belang het, sou ek onverstandig handel as ek antwoord sonder om te dink. Ek mag minder sê as wat die omstandigheid vereis, of meer as die waarheid verg, en sodoende mag ek sondig teen hierdie gesegde van Christus: ,Elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor My Vader wat in die hemel is.’ Matt. 10: 33. Om hierdie rede smeek ek u keiserlike majesteit, in alle nederigheid, om my tyd te gee sodat ek kan antwoord sonder om teen die woord van God te sondig.”—D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 8. GS 178.2
Toe Luther hierdie versoek gemaak het, het hy baie verstandig gehandel. Sy handelwyse het die vergadering oortuig dat hy nie uit hartstog of drif gehandel het nie. Sy kalmte en selfbeheersing, nie verwag in iemand wat so stoutmoedig en ontoegewend was soos hy homself bewys het nie, het tot sy krag bygedra, en hom in staat gestel om later verstandig, vasberade, met wysheid, en met ‘n waardigheid te antwoord, wat sy teenstanders met verbasing en teleurstelling vervul het, en wat hulle parmantigheid en hovaardy bestraf het. GS 179.1
Die volgende dag sou hy verskyn om sy finale antwoord te gee. Vir ‘n tyd het sy moed weggesink by die gedagte aan die magte wat teen die waarheid verenig was. Sy geloof het gewankel; angs en vrees het hom vervul, en hy is deur skrik oorweldig. Gevare het voor hom vermenigvuldig; dit het geskyn of sy vyande op die punt gestaan het om te triomfeer, en dat die magte van duisternis sou oorwin. Wolke het om hom saamgepak wat geskyn het of hulle hom van God geskei het. Hy het verlang na die versekering dat die Here van die leërskare met hom was. In sielsangs het hy hom met aangesig op die aarde neergewerp en daardie hartverskeurende krete geuiter wat niemand as God alleen ten voile kan verstaan nie. GS 179.2
“O Almagtige en Ewige God,” het hy gesmeek, “hoe vreeslik is hierdie wêreld nie! Kyk, hy maak sy mond oop om my te verswelg, en my geloof is so swak. . . . As ek slegs die krag van hierdie wêreld gehad het om op te vertrou, dan is alles verlore. . . . My laaste uur het gekom, ek is veroordeel. . . . O God, help U my teen al die wysheid van die wêreld. Doen U dit, . . . U alleen; . . . want dit is nie my werk nie, maar U werk. Ek het hier niks te doen nie, niks om oor te stry met hierdie grotes van die wêreld nie. ... Dit is U saak, . . . en dit is ‘n regverdige en ewige saak. O Here, help my! Getroue en onveranderlike God, ek vertrou op geen mens nie. . . . Alles wat in die mens is, is onseker; alles wat van die mens kom, kan faal. . . . U het my gekies vir hierdie werk. . . . Staan aan my sy, vir die ontwil van U geliefde Jesus Christus, wat my beskermer, my skild, en my hoogvertrek is.”— D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 8. GS 179.3
‘n Alwyse Voorsienigheid het Luther daartoe gebring om sy gevaar te besef, sodat hy nie op sy eie krag sou vertrou en hom op vermetele wyse in die gevaar begeef nie. Dit was egter nie ‘n vrees vir persoonlike lyding, of ‘n vrees vir marteling of die dood nie, wat hom bedreig het en wat hom met verskrikking vervul het nie. Hy het die krisis bereik, en hy het sy swakheid besef. Deur sy swakheid sou die saak van die waarheid nie skade ly nie. Hy het met God geworstel, nie vir sy eie veiligheid nie, maar vir die oorwinning van die evangelie. Sy sielsangs was soos die van Israel daardie nag by die Jabbok. Soos Israel het hy oorwin. In sy algehele hulpeloosheid het hy sy geloof op Christus gevestig, die magtige Verlosser. Hy is versterk met die versekering dat hy nie alleen voor die raad sou verskyn nie. Daar het weer vrede in sy siel gekom, en hy het hom daarin verheug dat hy toegelaat was om die woord van God voor die regeerders van die volk op te hef. GS 180.1
Met sy vertroue op God, het Luther hom berei vir die stryd voor hom. Hy het gedink oor die antwoord wat hy sou gee; hy het gedeeltes van sy geskrifte nagegaan, en uit die Heilige Skrifte het hy bewys gehaal om sy stellings te handhaaf. En toe, met sy linkerhand op die Bybel wat voor hom oopgelê het, het hy sy regterhand na die hemel opgehef, en ‘n eed geneem om “getrou te bly aan die evangelie, en om sy geloof sonder vrees te bely, selfs al moes hy dit met sy bloed verseël.”— D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 8. GS 180.2
Toe hy weer voor die Ryksdag kom, was daar geen tekens van vrees of verleentheid op sy gelaat te sien nie. Kalm en vredig. dog dapper en edel, het hy gestaan as Gods getuie voor die grotes van die aarde. Die keiserlike offisier het nou geëis dat hy sy antwoord moes gee of hy sy leerstellings sou herroep. Stil en nederig het Luther geantwoord, sonder heftigheid of drif. Hy het hom stil en eerbiedig gedra; maar hy het ‘n vertroue en vreugde geopenbaar wat die vergadering verbaas het. GS 180.3
“Deurlugtige keiser, hoogedele vorste, genadige here,” het Luther gesê, “Ek verskyn vandag voor julle, ooreenkomstig die bevel wat gister aan my gegee is, en deur die genade van God smeek ek u majesteit en u deurlugtige hooghede om goedwilliglik te luister na die verdediging van ‘n saak waarvan ek oortuig is dat dit regverdig en reg is. As ek deur onwetendheid oortredings begaan wat betref die gebruike en reëls van die hof, smeek ek om u verskoning; want ek is nie opgelei in die paleise van konings nie, maar in die afsondering van ‘n klooster.”—D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 8. GS 181.1
Vervolgens, tot dit vraag komende, het hy verklaar dat sy geskrifte nie almal van dieselfde aard was nie. Sommige het gehandel oor geloof en goeie werke, en selfs sy vyande het verklaar dat hulle nie alleen onskadelik was nie, maar nuttig. Om hierdie werke te herroep, sou beteken dat waarhede veroordeel word wat deur alle partye aangeneem is. Sy ander werke het bestaan uit geskrifte wat die verdorwenheid en misbruike van die pousdom aan die kaak gestel het. Om hierdie werke te herroep, sou die versterking van die tirannie van Rome beteken, en dit sou die deur wyer oopmaak vir vele en groot goddeloosheid. In die derde klas van sy boeke het hy persone aangeval wat die bestaande euwels verdedig het. Aangaande laasgenoemde het hy openlik erken dat hy miskien heftiger opgetree het as wat paslik was. Hy maak nie daarop aanspraak dat hy self sonder foute is nie; maar selfs hierdie boeke kon hy nie herroep nie, want so ‘n handelwyse sou die vyande van die waarheid nog stoutmoediger maak, en hulle sou dan gebruik maak van die geleentheid om Gods volk met nog groter wreedheid te verdruk. GS 181.2
“Ek is maar ‘n gewone mens en nie God nie,” het hy voortgegaan; “ek sal my dus verdedig soos Christus Homself verdedig het: .As ek verkeerd gespreek het, getuig van die verkeerdheid.’ . . . Deur die genade van God, versoek ek u, deurlugtige keiser, en u hoogverhewe vorste, en alle mense uit alle stande, om my uit die Skrifte van die profete en die apostels te bewys dat ek gedwaal het. So gou as ek hiervan oortuig is, sal ek onmiddellik my dwalings herroep, en die eerste wees om my boeke in die vuur te gooi. GS 181.3
“Wat ek so-ewe gesê het toon duidelik, hoop ek, dat ek sorgvuldig die gevare oorweeg en bedink het, waaraan ek myself blootstel; maar verre van ontsteld te wees, verheug ek my om te sien dat die evangelie, nou, net soos in vorige tye, die oorsaak van moeilikheid en verdeeldheid is. Dit is die aard, dit is die bestemming van die woord van God. ,Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard,’ het Jesus Christus gesê. Die raadsbesluite van God is wonderlik en vreeslik; pas op, dat u, deur te onderneem om verdeeldheid te onderdruk nie die heilige Woord van God vervolg nie, en op uself ‘n vreeslike vloek van onoorkomelike gevare, rampe, en ewige verwoesting bring nie. . . . Ek kan baie voorbeelde aanhaal uit die woord van God. Ek kan spreek van die Farao’s, die konings van Babiion, en die van Israel, wie se werk meer tot hulle eie ondergang bygedra het as toe hulle deur vergaderings, iets wat oënskynlik baie verstandig was, gesoek het om hulle heerskappy te versterk. God versit berge ,sonder dat hulle die merk.’ “—D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 8. GS 182.1
Luther het in Duits gespreek; nou is hy versoek om dieselfde woorde in Latyn te herhaal. Hoewel hy uitgeput was deur sy eerste poging, het hy gehoor gegee, en weer sy toespraak met dieselfde helderheid en krag as die eerste herhaal. Die Voorsienigheid van God het hom in hierdie saak gelei. Die verstand van baie van die prinse was so benewel deur dwaalleer en bygeloof, dat hulle by die eerste toespraak nie die krag van Luther se redenasie besef het nie; maar die herhaling het hulle in staat gestel om duidelik die punte te sien wat hy aangevoer het. GS 182.2
Diegene wat hardnekkig hulle oë gesluit het vir die lig, en voornemens was om nie deur die waarheid te oortuig word nie, was woedend oor die krag van Luther se woorde. Toe hy opgehou het om te praat, het die woordvoerder van die Ryksdag kwaai gesê, “Jy het nie die vraag beantwoord wat aan jou gestel is nie. . . . Jy word versoek om ‘n duideliker en afdoende antwoord te gee. ... Sal jy, of sal jy nie herroep nie?” GS 182.3
Die Hervormer het geantwoord: “Aangesien u deurlugtige majesteit en u magtige hooghede van my ‘n duideliker, eenvoudige, en afdoende antwoord eis, sal ek u een gee, en dit is as volg: Ek kan my geloof nie onderwerp óf aan die Pous óf aan die vergaderings nie, want dit is so klaar as daglig dat hulle dikwels gedwaal en mekaar weerspreek het. Tensy ek dus deur die getuienis van die Skrifte of deur heldere redenering oortuig word; tensy ek oortuig is deur die skrifgedeeltes wat ek aangehaal het, en tensy hulle my gewete bind deur die woord van God,kan ek nie en sal ek nie herroep nie,want dit is onveilig vir ‘n Christen om teen sy gewete te handel. Hier staan ek, ek kan nie anders nie, mag God my help. Amen.”—Ibidem. GS 182.4
So het hierdie regverdige man, palgestaan op die vaste fondament van die woord van God. Die lig van die hemel het sy aangesig verlig. Sy grootheid en reinheid van karakter, sy vrede en hartsvreugde, kon duidelik deur almal gesien word toe hy getuig het teen die krag van dwaling, en vir die voortreflikheid van daardie geloof wat die wêreld oorwin. GS 183.1
Vir ‘n tyd was die vergadering spraakloos van verbasing. Toe hy die eerste maal geantwoord het, het Luther op ‘n sagte toon gespreek, met ‘n eerbiedige, byna onderworpe houding. Die Katolieke het dit as bewys geneem dat sy moed hom begin begeef het. Hulle het die versoek om uitstel vertolk as die voorspel tot sy herroeping. Karel self, het half veragtelik gesê, toe hy die monnik se eenvoudige klere en afgematte liggaam gesien, en sy eenvoudige toespraak gehoor het, gesê, “Hierdie monnik sal nooit ‘n ketter van my maak nie.” Die moed en standvastigheid wat hy nou aan die dag gelê het, sowel as die krag en helderheid van sy toespraak, het alle partye met verbasing vervul. Die keiser het met bewondering uitgeroep, “Hierdie monnik spreek met ‘n onverskrokke hart en onwrikbare moed.” Baie van die Duitse prinse het hierdie verteenwoordiger van hulle volk met vreugde en trots beskou. GS 183.2
Die aanhangers van Rome was aan die kortste kant; hulle saak was nou in ‘n baie ongunstige lig. Hulle het getrag om hulle mag te handhaaf, nie deur hulle op die Skrifte te beroep nie, maar deur toevlug te neem tot dreigemente — Rome se onfeilbare argument. Die woordvoerder van die Ryksdag het gesê, “As jy nie herroep nie, sal die keiser en die state van die ryk beraadslaag hoe om met ‘n onverbeterlike ketter te werk te gaan.” GS 183.3
Luther se vriende, wat met groot blydskap geluister het na sy bekwame verdediging, het gesidder vir hierdie woorde; maar die doktor self het kalm gesê, “Mag God my help, want ek kan niks herroep nie.”—D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 8. GS 184.1
Hy is gelas om die Ryksdag te verlaat terwyl die prinse raadgehou het. Daar is gevoel dat ‘n groot krisis bereik is. Luther se hardnekkige weiering om hom te onderwerp, mag die geskiedenis van die kerk vir eeue in die toekoms affekteer. Daar is besluit om hom nog ‘n kans te gee om te herroep. Vir die laaste maal is hy voor die vergadering gebring. Weer is hy gevra of hy sy leerstellings sou herroep. “Ek het geen ander antwoord nie,” het hy gesê, “as die wat ek reeds gegee het nie.” Dit was duidelik dat hy nie oorgehaal kon word, hetsy deur beloftes of dreigemente, om toe te gee aan die mandaat van Rome nie. GS 184.2
Die pouslike leiers was vertoorn dat hulle mag wat konings en edelliede laat sidder het, op hierdie wyse veronagsaam is deur ‘n nederige monnik; hulle het verlang om hulle woede op hom te wreek deur sy lewe uit hom te martel. Maar Luther, sy gevaar beseffende, het almal aangespreek met Christelike waardigheid en kalmte. Daar was geen trotsheid, drif, of wanvoorstelling in sy woorde nie. Hy het homself, en die grootmanne rondom hom vergeet, en gevoel dat hy in die teenwoordigheid was van Een ver hoër as pouse, prelate, konings, en keisers. Christus het deur Luther se getuienis gespreek met ‘n mag en grootheid wat vir ‘n tyd beide vriend en vyand met vrees en bewondering vervul het. Die Gees van God was teenwoordig in daardie vergadering, en die harte van die hoofde van die ryk is aangeraak. Verskeie van die prinse het openlik die regverdigheid van Luther se saak erken. Baie is oortuig van die waarheid; maar die indrukke wat op sommige gemaak is, was nie blywend nie. Daar was ‘n ander klas wat nie op die oomblik hulle oortuigings openbaar het nie, maar wat later, nadat hulle die Skrifte self ondersoek het, onverskrokke ondersteuners van die Hervorming geword het. GS 184.3
Die keurvors Frederick het met angs uitgesien na Luther se verskyning voor die Ryksdag, en met groot aandoening het hy geluister na sy toespraak. Met vreugde en trots het hy die doktor se moed, onwrikbaarheid, selfbeheersing, en vasberadenheid gesien, en hy het besluit om nog vaster te staan in sy verdediging. Hy het die partye in die stryd vergelyk, en hy het gesien dat die wysheid van pouse, konings, en prelate tot niet gemaak is deur die krag van die waarheid. Die pousdom het ‘n nederlaag gely wat gevoel sou word onder alle volke in alle tye. GS 184.4
Toe die legaat die uitwerking van Luther se toespraak sien, het hy gevrees, soos nog nooit tevore nie, vir die veiligheid van die Roomse mag, en hy het besluit om alle middels tot sy beskikking te gebruik om die Hervormer omver te werp. Met al die welsprekendheid en diplomatiese behendigheid waarin hy so uitgeblink het, het hy die jeugdige keiser gewys op die dwaasheid en gevaar om die vriendskap en ondersteuning van die magtige stoel op te offer in die saak van ‘n niksbeduidende monnik. GS 185.1
Sy woorde was nie sonder uitwerking nie. Op die dag na Luther se antwoord, het Karel, ‘n boodskap aan die Ryksdag gegee, waarin hy sy voorneme te kenne gegee het om die beleid van sy voorgangers te handhaaf en die Katolieke godsdiens te beskerm. Aangesien Luther geweier het om sy dwalings te herroep, moes die strengste stappe gedoen word teen hom en sy ketterye. “Een enkele monnik, mislei deur sy eie dwaasheid, het opgestaan teen die geloof van die Christendom. Om sulke goddeloosheid stop te sit, sal ek my koninkryke, my skatte, my vriende, my liggaam, my bloed, my siel, en lewe opoffer. Ek staan op die punt om hierdie Augustynse Luther te ontslaan, en hom te belet om enige oproer onder die volke te verwek; daarna sal ek teen hom optree en teen sy aanhangers as hardnekkige ketters deur hulle in die ban te doen, voëlvry te verklaar, en deur alle middels wat hulle kan vernietig. Ek doen ‘n beroep op die lede van die state om hulle te gedra soos getroue Christene.”— D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 9.Maar nieteenstaande dit nie, het die keiser verklaar dat Luther se vrygeleide gerespekteer moes word, en dat hy toegelaat moes word om sy huis veilig te bereik voordat stappe teen hom gedoen sou word. GS 185.2
Twee teenstrydige menings was nou onder die lede van die Ryksdag geopenbaar. Die afgevaardigdes en verteenwoordigers van die Pous het weer daarop aangedring dat die vrygeleide van die Hervormer veronagsaam moes word. “Sy as,” het hulle gesê, “moet in die Ryn gegooi word net soos die van Johannes Huss ‘n honderd jaar gelede.”— D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 9.Maar die prinse van Duitsland, hoewel pousgesind en vyande van Luther, het hulle verset teen so ‘n breuk van openbare vertroue, omdat dit ‘n klad op die eer van die volk sou wees. Hulle het gewys op die rampe wat gevolg het op die dood van Huss, en hulle het verklaar dat hulle nie dieselfde onheile wou laat kom oor Duitsland en oor die jeugdige keiser nie. GS 185.3
In antwoord op die voorstel het Karel self gesê, “Al sou eer en vertroue uit die hele wêreld verban word, behoort hulle ‘n skuilplek te vind in die harte van die prinse.”—Ibidem. Deur sommige van die bitterste vyande van Luther is daar by hom aangedring om met die Hervormer te handel soos Sigismund met Huss — naamlik om hom oor te gee aan die genade van die kerk; maar toe hy dink aan die toneel toe Huss in die openbare vergadering na sy kettings gewys het en die keiser herinner het aan sy troubreuk, het Karel V, gesê, “Ek sou nie graag wou bloos soos Sigismund nie.”(Sien Lenjant“,History oj the Council oj Constance,” Deel I, bl. 422. GS 186.1
Tog het Karel willens en wetens die waarhede wat Luther verkondig het, verwerp. “Ek is vasbeslote om die voorbeeld van my voorouers na te volg,” het die vors geskrywe. D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 9.Hy het besluit om nie die pad van gewoonte te verlaat om in die weg van waarheid en geregtigheid te wandel nie. Omdat sy vaders dit gedoen het, sou hy ook die pousdom met al sy wreedheid en bedorwenheid, beskerm. Dit is die standpunt wat hy ingeneem het, en hy het geweier om enige lig aan te neem wat sy vaders nie gehad het nie, of om enige plig te vervul wat hulle nie vervul het nie. GS 186.2
Daar is vandag baie wat op dieselfde manier vasklem aan die gewoontes en tradisies van hulle vaders. Waar die Here aan hulle meer lig gee, weier hulle om dit aan te neem, omdat hulle vaders dit nie aangeneem het nie. Ons is nie in die posisie van ons vaders geplaas nie; daarom ook is ons pligte en verantwoordelikhede nie dieselfde as hulle s‘n nie. Ons kan God nie behaag deur na die voorbeeld van ons vaders te kyk pleks om die Woord van waarheid vir onsself te ondersoek ten einde ons pligte te verstaan nie. Ons is verantwoordelik vir die lig wat hulle ontvang het, en wat hulle aan ons gegee het, maar ons is ook verantwoordelik vir die bykomstige lig wat nou op ons uit die woord van God skyn. GS 186.3
Aan die ongelowige Jode het Christus gesê: “As Ek nie gekom en met hulle gespreek het nie, sou hulle geen sonde hê nie; maar nou het hulle geen verskoning vir hulle sonde nie.” Joh. 15: 22. Dit is daardie selfde goddelike krag wat deur Luther tot die keiser en prinse van Duitsland gespreek het. En namate die lig van Gods woord geskyn het, het Sy Gees vir die laaste maal gepleit met baie in daardie vergadering. Net soos Pilatus, eeue tevore, deur trots en om die volksguns sy hart gesluit het teen die Verlosser van die wêreld; net soos die bewende Felix aan die boodskapper van die waarheid gesê het, “Gaan vir hierdie keer heen, en as ek geleentheid vind, sal ek jou laat roep;” en soos die trotse Agrippa erken het, “jy beweeg my amper om ‘n Christen te word” (Hand. 24: 25; 26: 28), en nogtans hom afgekeer het van die hemelse boodskap — so ook het Karel V, toegewende aan die stem van hoogmoed en wêreldlike beleid, besluit om die lig van die waarheid te verwerp. GS 187.1
Daar was allerhande gerugte van pogings teen Luther in omloop, en dit het groot opgewondenheid in die stad laat ontstaan. Die Hervormer het baie vriende gemaak, en hulle, wetende van die verraderlike wreedheid van Rome teenoor almal wat dit gedurf het om sy verdorwenheid aan die kaak te stel, het besluit dat Luther nie opgeoffer sou word nie. Honderde van die edelliede het hulle verbind om hom te beskerm. Baie van hulle het die koninklike boodskap veroordeel as ‘n teken van lamlendige onderwerping aan die beheersende mag van Rome. Teen die poorte, teen huise, en op openbare plekke is daar aanplakbiljette aangebring; sommige het Luther veroordeel, terwyl ander hom ondersteun het. Op een van hierdie biljette het slegs die volgende betekenisvolle woorde van ‘n wyse verskyn, “Wee jou, o land, as jou koning ‘n kind is.” Pred. 10: 16. Die geesdrif van die volk ten gunste van Luther oor die hele Duitsland het die keiser en die Ryksdag oortuig dat enige onreg teenoor hom gepleeg die vrede van die Ryk en selfs die troon in gevaar sou bring. GS 187.2
Frederick van Sakse was terughoudend; hy het sy gevoelens teenoor die Hervormer verberg, maar hy het hom terselfdertyd met onvermoeide waaksaamheid beskerm, en hy het al sy bewegings sowel as die van sy vyande dopgehou. Maar daar was vele wat nie hulle simpatie vir Luther verberg het nie. Hy is besoek deur prinse, grawe, baronne, en ander vooraanstaande persone, leke sowel as geestelikes. “Die doktor se kamertjie,” het Spalatinus geskryf, “kon nie al die besoekers bevat wat gekom het nie.” — Martyn, Deel I, bl. 404.Die mense het na hom gestaan en kyk asof hy iets meer as ‘n mens was. Selfs diegene wat geen geloof in sy leerstellings gehad het nie, kon nie nalaat om die edele regskapenheid te bewonder wat hom daartoe gebring het om die dood te trotseer liewer as om sy gewete te verkrag nie. GS 188.1
Daar is ernstige pogings aangewend om Luther se toestemming te verkry tot ‘n kompromis met Rome. Edelliede en prinse het hom daarop gewys dat volharding in sy eie oordeel teenoor die van die kerk en die vergaderings sy verbanning uit die ryk as gevolg sou hê, en dat hy dan geen verdediging sou hê nie. Hierop het Luther geantwoord: “Die evangelie van Christus kan nie son-der aanstoot gepreek word nie . . . waarom dan sou die vrees van gevaar my afskei van die Here, en van daardie goddelike woord wat alleen die waarheid is? Nee; ek sou eerder my liggaam, my bloed, en my lewe opgee.”—D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 10. GS 188.2
Weer is by hom aangedring om hom te onderwerp aan die oordeel van die keiser, en dan sou hy niks te vrees hê nie. “Met my hele hart stem ek in,” het hy gesê, “dat die keiser, die prinse, en selfs die eenvoudigste Christen, my geskrifte kan ondersoek en oordeel; maar hulle moet dit op een voorwaarde doen, hulle moet die woord van God as maatstaf neem. Die mens het niks te doen as om daaraan gehoor te gee nie. Moenie trag om my gewete geweld aan te doen nie, want dit is gebind en vasgeketting aan die Heilige Skrifte.”—D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 10. GS 188.3
Op ‘n ander versoek het hy geantwoord, “Ek is gereed om my vrygeleide op te gee. Ek plaas my persoon en my lewe in die hande van die keiser, maar die woord van God — nooit!” — Ibidem.Hy het verklaar dat hy gewillig was om hom te onderwerp aan die uitspraak van die algemene vergadering, maar op voorwaarde dat die vergadering volgens die Skrifte moes besluit. “Wat die woord van God en die geloof betref,” het hy gesê, “is elke Christen net so ‘n goeie regter as die Pous, al is dié ook ondersteun deur ‘n miljoen konsilies.”—Martyn, Deel I, bl. 410.Eindelik is beide vriende en vyande oortuig dat enige verdere pogings tot versoening nutteloos sou wees. GS 188.4
As die hervormer op een enkele punt toegegee het, sou Satan en sy leërskare die oorwinning behaal het. Maar sy onwrikbare standvastigheid het die kerk bevry, en ‘n nuwe en beter tydperk ingelui. Die invloed van hierdie een man, wat dit gewaag het om vir homself te dink en te handel in godsdienstige sake, sou ‘n uitwerking op die kerk en die wêreld hê, nie alleen vir sy eie tyd nie, maar in toekomstige geslagte. Sy onwrikbaarheid en getrouheid sou tot die einde van tyd almal versterk wat ‘n dergelike ervaring moet deurmaak. Die mag en majesteit van God het geseëvier oor die raad van mense en die mag van Satan. GS 189.1
Op gesag van die keiser is Luther spoedig beveel om huis-toe te gaan, en hy het geweet dat hierdie kennisgewing dadelik gevolg sou word deur sy veroordeling. Dreigende wolke het sy pad verduister; maar met sy vertrek van Worms was sy hart vol lof en blydskap. “Die duiwel self,” het hy gesê, “beskerm die vesting van die Pous; maar Christus het ‘n wye breuk daarin gemaak en Satan was verplig om te erken dat die Here magtiger is as hy.”—D’Aubigne, boek VII, hoojstuk 11. GS 189.2
Na sy vertrek, en nog begerig dat sy standvastigheid nie vertolk moes word as rebellie nie, het Luther aan die keiser geskryf: “God, wat die deursoeker van harte is, is my getuie dat ek gereed is om u majesteit te gehoorsaam, in eer of oneer, in lewe of in dood, en sonder uitsondering behalwe die woord van God, waardeur die mens lewe. In al die aangeleenthede van hierdie lewe sal my getrouheid onwrikbaar wees, want daarin het wins of verlies niks te doen met die saligheid nie. Maar waar ewige belange op die spel is, is dit nie Gods wil dat die mens hom aan die mens moet onderwerp nie; want sulke onderwerping in geestelike dinge is ware aanbidding, en dit behoort alleen aan die Skepper te geskied.”—Ibidem. GS 189.3
Op sy terugreis van Worms, was Luther se ontvangs nog vleiender as sy heenreis. Prinslike geestelikes het die verbande monnik verwelkom, en burgerlike owerhede het die man vereer wat deur die keiser veroordeel is. Hy is versoek om te preek, en nieteenstaande die keiserlike verbod, het hy weer die preekstoel bestyg. “Ek het nooit my woord gegee om die woord van God vas te ketting nie, en ek sal ook nie,” het hy gesê.(Martyn, Deel I, bl. 420.) GS 191.1
Hy was nie lank weg van Worms nie, of die pousgesindes het die keiser oorgehaal om die edik teen hom te laat uitvaardig. In hierdie edik is Luther veroordeel as “Satan self in die vorm van ‘n mens en gekleed in die kleed van ‘n monnik.”— D’Aubigne, boek VII, hoojst. 11.Daar is beveel dat stappe gedoen moes word om sy werk stop te sit sodra die tyd van sy vrygeleide verval het. Alle mense is verbied om aan hom herberg te verleen, voedsel of drank te gee, of hom deur woord of daad, in die openbaar of privaat, te help of by te staan. Waar hy hom ook al mag bevind moes hy gevang, en aan die owerheid oorgelewer word. Sy aanhangers moes ook gevange geneem word en hulle eiendom moes verbeurd verklaar word. Sy geskrifte moes vernietig word, en eindelik is daar beveel, dat almal wat teen hierdie edik sou handel ook onder die veroordeling daarvan moes kom. Die keurvors van Sakse, en die prinse wat Luther goedgesind was, het Worms kort na Luther se vertrek verlaat, en die keiser se edik het die goedkeuring van die Ryksdag verkry. Nou was die Roomsgesindes juigend. Hulle het gemeen dat die lot van die Hervorming nou verseël was. GS 191.2
In hierdie uur van gevaar het God vir Sy dienskneg ‘n uitweg voorsien. ‘n Waaksame oog het Luther se bewegings gevolg, en ‘n opregte en edele hart het besluit om hom te red. Dit was duidelik dat Rome met niks minder sou tevrede wees as sy dood nie; alleen deur verberging kon hy gered word uit die bek van die leeu. Aan Frederick van Sakse het God wysheid verleen om ‘n plan te maak vir die Hervormer se behoud. Met die medewerking van troue vriende, is die keurvors se planne uitgevoer, en Luther is weggesteek van vriende en vyande. Op sy reis huiswaarts, is hy gevang, van sy medereisigers weggeneem, en spoedig deur die woud geneem na die kasteel van Wartburg, ‘n afgeleë bergvesting. Beide sy gevangeneming en sy verberging het op so ‘n geheimsinnige vvyse geskied dat selfs Frederick vir ‘n lang tyd nie gevveet het waar hy was nie. Hierdie onwetendheid was nie sonder doel nie; want solank as die keurvors nie geweet het waar Luther is nie, kon hy niks openbaar nie. Hy het homself tevrede gestel dat die Hervormer veilig was, en in daardie kennis het hy berus. GS 191.3
Lente, somer, en die herfs het verbygegaan; die winter het gekom, en nog was Luther ‘n gevangene. Aleander en sy helpers het gejuig toe dit geskyn het of die lig van die evangelie sou uitgedoof word. Maar in stede hiervan, was die Hervormer besig om sy lamp uit die skatkamer van die waarheid vol te maak; en sy lig sou voortskyn met groter helderheid. GS 192.1
In die vriendelike veiligheid van Wartburg, het Luther hom vir ‘n tyd verbly in sy ontkoming aan die hitte en rumoer van die stryd. Maar hy kon nie lank tevredenheid vind in die stilte en rus nie. Gewoond aan ‘n lewe van bedrywigheid en harde stryd, kon hy dit nie verdra om stil te sit nie. In daardie eensame dae, het die toestand van die kerk voor sy gees gekom, en in wanhoop het hy uitgeroep, “Helaas! daar is niemand in hierdie laaste dae van sy toorn soos ‘n muur te staan voor die Here en Israel te red nie!”—D’Aubigne, boek IX, hoojstuk 2.Weer het hy aan homself begin dink, en hy het gevrees dat hy as ‘n lafaard sou beskou word omdat hy hom van die stryd onttrek het. Toe het hy homself verwyt oor sy luiheid en selfbevrediging. En nogtans het hy elke dag meer uitgerig as wat vir een mens moontlik geskyn het. Sy pen was nooit stil nie. Terwyl sy vyande hulle self gevlei het dat hy stilgemaak was, was hulle verwonderd en ontsteld deur tasbare bewys dat hy nog aktief was. Menigte traktate, deur hom geskryf, is in Duitsland versprei. Ook het hy ‘n groot diens aan sy landgenote bewys deur die Nuwe Testament in Duits te vertaal. Uit sy rotsagtige Patmos het hy vir byna ‘n hele jaar aangehou om die evangelie te verkondig, en om die sondes en dwalings van die tye te bestraf. GS 192.2
Maar dit was nie net om Luther van die woede van sy vyande te bewaar nie, en ook nie om hom ‘n tydjie van stilte te gee vir hierdie belangrike werk dat God Sy dienskneg aan die openbare lewe onttrek het. Daar was ander kosteliker resultate wat verkry moes word. In die eensaamheid en verborgenheid van sy skuilplek in die berg, was Luther verwyder van aardse hulp, en afgesluit van menslike lof. Op hierdie manier is hy gered van die hoogmoed en selfvertroue wat so dikwels die gevolg van sukses is. Deur lyding en vernedering is hy berei om veilig heen te stap op die duiselige hoogtes waartoe hy so plotseling verhef is. GS 192.3
Waar mense hulle verheug in die vryheid wat die waarheid bring, is hulle geneig om diegene te verhoog wat God gebruik het om die kettings van dwaling en bygeloof te verbreek. Satan trag altyd om die mens se gedagtes en liefde af te trek van God en dit te vestig op menslike werktuie; hy bring hulle daartoe om die werktuig te vereer, en om die Hand wat alle dinge bestier nie raak te sien nie. Te dikwels verloor godsdienstige leiers wat op hierdie manier geprys en geëer word hulle afhanklikheid van God uit die oog, en hulle vertrou op hulleself. Gevolglik trag hulle om die verstand en gewete van die volk te beheers, naamlik diegene wat tot hulle opsien om leiding in stede van die woord van God. Dikwels word die werk van Hervorming vertraag weens die gees van sy ondersteuners. Dit was van hierdie gevaar dat God die Hervorming wou red. Sy begeerte was dat die werk nie die stempel van die mens nie, maar van God sou dra. Die oë van die mense was op Luther gevestig as die verklaarder van die waarheid; en nou was hy verwyder sodat hulle oë op die ewige Bron van die waarheid gevestig kon word. GS 193.1