Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Groot Stryd

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "undefined".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 13—Die Nederlande en Skandinawie

    IN die Nederlande het die pouslike tirannie vroeg reeds besliste teenstand uitgelok. Sewehonderd jaar voor die tyd van Luther is die Roomse opperpriester deur twee biskoppe wat as afgesante na Rome gegaan het en wat die ware karakter van die “heilige stoel” ontdek het, in die volgende woorde onbevrees beskuldig: “God het vir Sy koningin en bruid, die kerk, ‘n edele en ewigdurende voorsiening gemaak, en aan haar ‘n bruidskat gegee wat nie kan verwelk of vergaan nie, asook ‘n ewige kroon en septer; . . . al hierdie weldade het u soos ‘n dief, van haar gesteel, U het uself in die tempel van God opgestel; pleks van ‘n herder, het u ‘n wolf vir die skape geword ... u wil ons wysmaak dat u ‘n opperbiskop is, maar u gedrag is soos die van ‘n tiran . . . pleks dat u ‘n kneg van knegte is, soos u uself noem, streef u om ‘n heer van die here te wees. . . . U bring die gebooie van God in veragting. . . . Die Heilige Gees is die opbouer van alle kerke oor die hele aarde. . . . Die stad van onse God, waarvan ons die burgers is, reik tot alle dele van die hemel; en dit is groter as die stad wat deur die heilige profete Babilon genoem is, wat voorgee dat hy goddelik is, wat hom gelyk stel met die hemel, en daarop roem dat sy wysheid onverganklik is; en eindelik, wat voorgee, hoewel sonder enige bewys, dat hy nooit gedwaal het of kan dwaal nie.”— Brandt, “History oj the Reformation in and About the Low Countries,” boek I, bl. 6.GS 271.1

    Van eeu tot eeu het daar ander opgestaan om die protes te herhaal. En daardie vroeë leraars, wat in verskillende lande gereis het, en verskillende name gedra het, het die karakter gehad van die Vaudois-sendelinge; orals het hulle die kennis van die evangelie versprei, en hulle het ook die Nederlande binnegedring. Hulle leer het vinnig versprei. Hulle het die Waldensiese Bybel op rym in Hollands vertaal. Hulle het verklaar “dat daarin groot voordeel was; geen grappe en geen fabels, geen ydele woordspelings, geen bedrog, maar net woorde van waarheid; dat daar wel hier en daar ‘n harde kors was, maar dat die murg en soetigheid van wat goed en heilig was maklik daarin kon ontdek word.”-— Idem,” bl. 14.So het die vriende van die ou geloof in die twaalfde eeu geskryf.GS 272.1

    Toe het die Roomse vervolgings begin; maar te midde van die brandstapels en marteling het die gelowiges steeds vermeerder, en standvastig verklaar dat die Bybel die enigste onfeilbare gesag in die godsdiens was, en dat “geen mens gedwing moet word om te glo nie, maar dat hy deur prediking gewin moes word.”—Martyn, Deel II, bl. 87.GS 272.2

    Die leerstellings van Luther het goeie grond gevind in die Nederlande, en ernstige en getroue manne het opgestaan om die evangelie te verkondig. Uit een van die provinsies van Nederland het Menno Simons gekom, opgevoed as Katoliek en as priester georden, was hy heeltemal onkundig wat die Bybel betref het, en hy wou dit nie lees nie uit vrees dat hy tot kettery verlei sou word. Toe hy eenmaal getwyfel het oor die transsubstansiasieleer het hy dit as ‘n versoeking van Satan beskou, en deur gebed en belydenis het hy getrag om homself daarvan te bevry, maar tevergeefs. Deur buitensporighede het hy probeer om die aanklaende stem van sy gewete stil te maak, maar dit het nie gehelp nie. Na ‘n tyd het hy oorgegaan tot ‘n studie van die Nuwe Testament, en dit, saam met die geskrifte van Luther, het hom beweeg om die Hervormde geloof aan te neem. Kort daarna het hy in ‘n naburige dorp gesien hoedat ‘n man om die lewe gebring is omdat hy hom weer laat doop het. Dit het hom aanleiding gegee tot ‘n studie van die Bybel oor die kinderdoop. Hy kon geen bewys daarvoor in die Skrifte vind nie, maar hy het ontdek dat bekering en geloof nodig was voor die doop kon bedien word.GS 272.3

    Menno het hom aan die Katolieke Kerk onttrek, en sy lewe gewy aan die verkondiging van die waarhede wat hy ontdek het. Beide in Duitsland en die Nederlande het daar ‘n klas fanatieke verrys wat die belaglikste en oproerigste leerstellings verkondig het, wat die reels van ordelikheid en welvoeglikheid verwerp en oorgegaan het tot opstand en geweld. Menno het gesien watter vreeslike gevolge hierdie bewegings sou hê, en hy het met alle mag die verkeerde leerstellings en wilde skemas van die fanatieke bestry. Daar was baie, egter, wat deur hierdie fanatieke mislei is, maar wat later hulle gevaarlike leer versaak het; en daar was ook nog baie afstammelinge van die vroeë Christene — die vrugte van die Waldensiese leerstellings. Onder hierdie klasse het Menno met groot ywer en sukses gewerk.GS 273.1

    Vir vyf-en-twintig jaar het hy rondgereis met sy vrou en kinders; hy moes baie ontberings verduur, en dikwels was hy in lewensgevaar. Hy het die Nederlande en noordelike Duitsland deurreis, en onder die eenvoudiger klasse gewerk, maar hy het groot invloed gehad. Van nature welsprekend, hoewel hy nie veel geleerdheid gehad het nie, was hy ‘n man van onwrikbare opregtheid, van ‘n nederige gees en sagmoedige maniere; hy was vroom en in sy eie lewe het hy uitgeleef wat hy geleer het, en hy het die vertroue van die volk gehad. Sy navolgers is verjaag en verdruk. Hulle het baie gely omdat hulle verwar is met die dweepsieke Munsteriete (Wederdopers). As gevolg van sy arbeid het daar groot getalle tot bekering gekom.GS 273.2

    Op geen ander plek is die Hervormde leerstellings so algemeen aangeneem as in die Nederlande nie. In min lande het die gelowiges heftiger vervolging ondervind. In Duitsland het Karel V, die Hervorming in die ban gedoen en hy sou baie graag al die aanhangers daarvan na die brandstapel gebring het; maar die vorste het soos ‘n bolwerk gestaan teen sy tirannie. In die Nederlande het hy groter mag gehad, en dekrete tot vervolging het vinnig op mekaar gevolg. Om die Bybel te lees, om dit te preek, of om daarvan te praat, het feitlik die dood beteken op die brandstapel. Om tot God in die geheim te bid, om te weier om voor ‘n beeld neer te buig, of om ‘n psalm te sing, was ook deur die dood strafbaar. Selfs diegene wat hulle dwalings afgesweer het, is veroordeel; die mans moes met die swaard om die lewe gebring word, en die vrouens moes lewendig begrawe word. Duisende het omgekom tydens die regering van Karel en die van Filips II.GS 274.1

    Eentyd was daar ‘n hele gesin voor die inkwisisiehof gebring omdat hulle weggebly het van die Mis en hulle godsdiens tuis beoefen het. By die verhoor, het die jongste seun, in antwoord op ‘n vraag wat hulle in die geheim gedoen het, gesê: “Ons val op ons knieë en bid God om ons verstand te veriig en ons sondes te vergewe; ons bid vir die koning, dat sy regering voorspoedig en sy lewe gelukkig mag wees. Ons bid vir ons magistrate dat die Here hulle mag bewaar.”— Wylie, boek XVIII, hoofstuk 6.Sommige van die regters was diep getref ; maar tog is die vader en een van sy seuns tot die brandstapel veroordeel.GS 274.2

    Die woede van die vervolgers was net so heftig as wat die geloof van die martelaars sterk was. Nie alleen die mans nie, maar delikate vrouens en jongmeisies het onwrikbare moed aan die dag gelê. “Vrouens het dikwels aan hulle eggenoot se sy by die brandstapel gestaan, en terwyl hy die vuur verduur het aan hom trooswoorde toegefluister of psalms gesing om hom op te beur.” “Jong meisies het gaan lê in hulle lewende graf asof hulle op hulle bed vir die nag gaan lê het; of hulle het na die brandstapel gegaan, in hulle beste klere gekleed, asof hulle bruide was.”-— Wylie, boek XVIII, hoofstuk 6.GS 274.3

    Soos in die dae toe Paganisme getrag het om die evangelie uit te roei, was die bloed van Christene die saad. (Sien Tertullianus se “Apologie,” para. 50.) Die vervolging het die getal getuies vir die waarheid vermeerder. Jaar na jaar het die keiser, wat woedend gemaak is deur die onoorwinlike standvastigheid van die volk, sy wrede werk met grag voortgesit; maar tevergeefs. Onder die edele Willem van Orange het die opstand eindelik aan Holland die vryheid gebring om God te dien.GS 274.4

    In die berge van Piedmont, op die vlaktes van Frankryk en langs die kuste van Holland, is die vooruitgang van die evangelie met die bloed van die dissipels gemerk. Maar in die noordelike lande het dit vreedsaam voortgegaan. Die studente van Wittenberg wat na hulle huise teruggekeer het, het die Hervormde geloof na Skandinawië geneem. Die geskrifte van Luther het ook die lig versprei. Die eenvoudige, taaie volk van die noorde het hulle afgewend van die bederf, die prag, en die bygeloof van Rome, om die reinheid, die eenvoud, en die lewegewende waarhede van die Bybel aan te neem.GS 275.1

    Tausen, “die Hervormer van Denemarke,” was ‘n boereseun. Reeds vroeg in sy lewe het die seun blyke gegee van ‘n lewenskragtige verstand; hy het gedors na onderrig; maar weens die omstandighede van sy ouers kon hy dit nie verkry nie, en hy is gevolglik na ‘n klooster. Hier het die reinheid van sy lewe, saam met sy ywer en getrouheid, vir hom die guns van die prior gewin. Sy eksamens het getoon dat hy talente besit het wat in die toekoms veel sou beteken vir die diens van die kerk. Daar is besluit om hom na een van die universiteite van Duitsland of die Nederlande te stuur; die jong student kon self kies, maar met een voorwaarde, naamlik dat hy nie na Wittenberg moes gaan nie. Hierdie student van die kerk moes gevrywaar word teen die gif van kettery, so het die monnike gesê.GS 275.2

    Tausen het na Keule gegaan wat destyds, en soos dit vandag nog is, een van die vestings van Katolisisme was. Spoedig, egter, het hy gevind dat die mistisisme van die skoolmanne hom nie aangestaan het nie. In hierdie tyd het hy Luther se geskrifte in die hande gekry. Dit het hy met verbasing en verrukking gelees, en hy was baie begerig om persoonlik deur die Hervormer onderrig te word. Om dit te kan doen, sou beteken dat hy hom die misnoeë van die kloosterhoof op die hals sou haal en dat hy daardeur sy ondersteuning sou verloor. Dit het hom nie lank geneem om te besluit nie, en baie gou was hy ingeskryf as ‘n student op Wittenberg.GS 275.3

    Terug in Denemarke, is hy weer na sy klooster. Totnogtoe het niemand vermoed dat hy ‘n Lutheraan was nie; hy het nie sy geheim verklap nie, maar het getrag om sy vriende, sonder om hulle vooroordeel op te wek, te lei tot ‘n reiner geloof en heiliger lewe. Hy het die Bybel aan hulle verklaar, en Christus aan hulle verkondig as die sondaar se geregtigheid en sy enigste hoop op die saligheid. Die prior wat soveel van hom verwag het as ‘n magtige verdediger van Rome, was woedend. Hy is dadelik uit sy eie klooster verwyder na ‘n ander, waar hy in sy sel onder strenge toesig moes bly.GS 276.1

    Tot ontsteltenis van sy nuwe bewakers, het verskeie van die monnike verklaar dat hulle die Protestantse geloof aangeneem het. Deur die tralies van sy sel, het Tausen die waarheid aan sy metgeselle verkondig. As hierdie Deense vaders geweet het hoe om met ketters te handel, sou Tausen se stem nooit weer gehoor gewees het nie; maar pleks om hom in die een of ander ondergrondse kerker op te sluit, het hulle hom uit die klooster gesit. Nou was hulle magteloos. ‘n Koninklike edik wat pas uitgevaardig was, het beskerming verleen aan al die leraars van die nuwe leer. Tausen het begin preek. Die kerke is vir hom geopen, en die volk het daarheen gestroom om hom te hoor. Daar was ook ander wat die woord van God verkondig het. Die Nuwe Testament, in die Deense taal vertaal, is wyd en syd versprei. Die pogings wat die priesters aangewend het om die werk te stop, het dit net uitgebrei, en eerlank het Denemarke verklaar dat hy die Hervormde geloof aangeneem het.GS 276.2

    Ook in Swede, het jongmanne wat uit die fontein van Wittenberg gedrink het, die water van die lewe aan hulle landgenote gebring het. Twee van die leiers in die Sweedse Hervorming, Olaf en Laurentius Petri, seuns van ‘n smid op Orebro, het onder Luther en Melanchthon gestudeer, en die waarhede wat hulle geleer het, het hulle ywerig verkondig. Soos die groot Hervormer, het Olaf die mense deur sy ywer en welsprekendheid opgewek terwyl Laurentius, soos Melanchthon, geleerd, nadenkend, en kalm was. Albei manne was baie vroom, met groot bekwaamheid in die teologie, en van onwrikbare moed in die verkondiging van die waarheid. Pouslike teenstand het nie ontbreek nie. Die Katolieke priesters het die ongeleerde en bygelowige volk opgerui. Olaf Petri is dikwels deur die gepeupel aangeval, en verskeie keer is hy byna gedood. Hierdie Hervormers het egter die guns en beskerming van die koning geniet.GS 276.3

    Onder die Rooms-Katolieke Kerk is die volk verarm en verdruk. Hulle het nie die Skrifte gehad nie; en met ‘n godsdiens wat net uit tekens en seremonies bestaan het en nie die verstand verlig het nie, het hulle verval tot die bygeloof en paganistiese praktyke van hulle heidense voorouers. Die volk was in strydende partye verdeel, en die gedurige stryd het almal in ellende gedompel. Die koning het besluit tot ‘n hervorming van kerk en staat, en hy het hierdie bekwame helpers in die stryd teen Rome verwelkom.GS 277.1

    In teenwoordigheid van die koning en die vooraanstaandes van Swede, het Olaf Petri met groot bekwaamheid die leerstellings van die Hervormde geloof verdedig teen die Roomse kampvegters. Hy het verklaar dat die onderwys van die kerkvaders aangeneem moes word alleen as dit ooreenkom met die Skrifte; dat die vernaamste leerstellings van die geloof duidelik en eenvoudig in die Bybel voorgestel is, sodat alle mense dit kan verstaan. Christus het verklaar, “My leer is nie Myne nie, maar van Hom wat My gestuur het;” en Paulus het verklaar dat as hy ‘n ander evangelie sou verkondig as wat hy ontvang het, hy ‘n vervloeking sou wees. (Joh. 7: 16; Gal. 1: 8.) “Hoe, dan,” het die Hervormer gevra, “sal ander hulle die reg aanmatig om leerstellings na hulle eie goeddunke te maak en dit dan voor te skryf as dinge wat nodig is vir die saligheid?”— Wylie, boek X, hoojstuk 4.Hy het daarop gewys dat die dekrete van die kerk geen gesag het as hulle indruis teen die gebooie van God nie, en hy het die groot Protestantse beginsel gehandhaaf, naamlik: “Die Bybel en die Bybel alleen” as die enigste maatstaf van die geloof en lewe.GS 277.2

    Die stryd, hoewel dit, algemeen gesproke, op ‘n afgeleë toneel plaasgevind het, dien om ons te toon “watter soort manne die leër van die Hervormers uitgemaak het. Hulle was nie ongeletterde, sektariese, luidrugtige redetwisters nie — gladnie; hulle was manne wat die woord van God gestudeer het en wat goed verstaan het om die wapens waarvan die Bybel hulle voorsien het, te hanteer. Wat geleerdheid betref was hulle voor hulle tyd. As ons dink aan sulke skitterende sentrums soos Wittenberg en Zurich, en aan sulke beroemde name soos die van Luther en Melanchthon, van Zwingli en (Ecolampadius, kan daar moontlik aan ons gesê word, maar hierdie manne was die leiers van die beweging, en natuurlik verwag ons dat hulle manne van buitengewone krag en groot talent sou wees; maar hulle ondergeskiktes was nie soos hulle nie. Wel, laat ons na daardie afgeleë toneel, Swede, gaan, en laat ons byvoorbeeld Olaf en Lourentius Petri neem —• van die leiers tot die dissipels — en wat vind ons? . . . geleerdes en teoloë; manne wat die hele stelsel van evangeliese waarheid volkome verstaan het, en wat maklik die oorwinning behaal het oor die drogredenaars van die skole en die waardigheidsbekleërs van Rome.”—“ Wylie, boek X, hoojstuk 4.GS 278.1

    As gevolg van hierdie redetwis, het die koning van Swede die Protestantse geloof aangeneem, en kort daarna het die volksverteenwoordiging hulle ten gunste daarvan verklaar. Die Nuwe Testament is deur Olaf Petri in Sweeds vertaal, en op versoek van die koning het die twee broers ‘n vertaling van die hele Bybel onderneem; en so het die Sweedse volk vir die eerste maal die woord van God in hulle eie taal gekry. Die Ryksdag het bepaal dat die predikante deur die hele koninkryk die Skrifte moes ver-klaar, en dat kinders in die skole geleer moes word om die Bybel te lees.GS 279.1

    Stadig maak seker het die duisternis van onkunde en bygeloof gewyk voor die geseënde lig van die evangelie. Vrygemaak van die Roomse onderdrukking, het die volk ‘n krag en grootheid bereik soos nog nooit tevore nie. Swede het een van die bolwerke van Protestantisme geword. ‘n Eeu later, in ‘n tyd van die allergrootste gevaar, het hierdie klein en totnogtoe swak volk — die enigste volk in Europa wat dit gedurf het om te help — tot die hulp van Duitsland gekom in die vreeslike stryd van die Dertigjarige Oorlog. Dit het geskyn of die hele Noordelike Europa aan die dwingelandy van Rome sou onderwerp word. Dit was die leers van Swede wat Duitsland gehelp het om die pousgesindes te oorwin en om verdraagsaamheid teenoor die Protestante te verkry —Calviniste sowel as Lutherane—en om gewetensvryheid te bring aan die lande wat die Hervorming aangeneem het.GS 279.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents