Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Groot Stryd

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "undefined".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 17—Tekens van Christus se koms

    EEN van die plegtigste, dog heerlikste waarhede wat in die Bybel geopenbaar is, is die van die wederkoms van Christus om die verlossingswerk te voltooi. Aan Gods pelgrimsvolk wat vir so ‘n lang tyd in “die land van die skaduwee van die dood” gewoon het, word daar ‘n kosbare, blye hoop gegee deur die belofte van die verskyning van Hom wat die “opstanding en die lewe” is, om “Sy bannelinge weer tuis te bring.” Die leerstelling van die wederkoms is inderwaarheid die sleutel tot die Heilige Skrifte. Sedert die dag toe die eerste mensepaar droewig van Eden weggestap het, het die kinders van geloof gewag op die koms van die Beloofde Een om die mag van die verwoester te verbreek en hulle weer in die verlore Paradys te herstel. Heilige manne vanouds het vooruitgesien na die koms van die Messias in heerlikheid as die vervulling van hulle verwagting. Henog, die sewende van die wat in Eden gewoon het, hy wat vir drie eeue op die aarde met God gewandel het, is toegelaat om op ‘n afstand die koms van die Verlosser te sien. “Kyk,” het hy gesê, “die Here het gekom met Sy heilige tien-duisendtalle, om gerig te hou oor almal.” Judas 14, 15. In die nag van sy bittere beproewing het die aardsvader Job met vaste vertroue uitgeroep: “Ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan. . . . [Ek sal | nogtans uit my vlees God aanskou; Hom wat ek sal aanskou my ten goede, en my oë — en geen vreemde nie — sal sien.” Job 19: 25-27.GS 343.1

    Die wederkoms van Christus om die regering van geregtigheid in te stel, het die gewyde skrywers die verhewendste en besielendste woorde laat uitroep. Die digters en profete van die Bybel het die koms beskryf in woorde wat gegloei het van hemelse vuur. Die psalmis het die mag en majesteit van Israel se koning as volg besing: “Uit Sion, die volkomenheid van skoonheid, verskyn God in ligglans. Onse God kom en kan nie swyg nie. . . . Hy roep na die hemel daarbo en na die aarde om Sy volk te oordeel.” Ps. 50: 2-4. “Laat die hemele bly wees en die aarde juig; . . . voor die aangesig van die Here; want Hy kom, want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke in Sy trou.” Ps. 96: 11-13.GS 344.1

    Die profeet Jesaja het gesê “Waak op en jubel, julle wat in die stof woon! Want u dou is ‘n dou van lig, en die aarde sal aan skimme die lewenslig skenk.” “U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan.” “Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here Here sal die trane van alle gesigte afvee; en Hy sal die smaad van Sy volk van die hele aarde af wegneem; want die Here het dit gespreek. En hulle sal in die dag sê: Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; Dit is die Here op wie ons gewag het; Laat ons juig en bly wees oor Sy hulp.” Jes. 26: 19; 25: 8, 9.GS 344.2

    En Habakuk, in ‘n heilige visioen versink, het sy verskyning aanskou: “God kom van Teman en die Heilige van die berg Paran. Sela. Sy majesteit bedek die hemel, en die aarde is vol van Sy lof. ‘n Glans soos sonlig is daar.” “Hy tree op en laat die aarde wankel, in ‘n oogwink laat Hy nasies opskrik; verpletterd lê die ewige berge en neergedruk die ou-ou heuwels.” “U ry op U perde, U oorwinningswaens.” “Die berge sien U en bewe van angs. . . . Die wêreldvloed verhef sy stem en steek sy hande omhoog. Die son, die maan bly in hulle woonplek by die lig van U pyle wat verbyskiet, by die glans van U flikkerende spies.” “U trek uit tot redding van U volk, tot redding van U gesalfde.” Hab. 3: 3-13.GS 344.3

    Toe die Heiland op die punt gestaan het om te skei van sy dissipels, het Hy hulle in hulle droefheid met die versekering vertroos dat Hy weer sou kom: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; ... In die huis van My Vader is daar baie wonings; . . . Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem.” Joh. 14: 1-3. “En wanneer die Seun van die mens kom in Sy heerlikheid en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op Sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies bymekaargebring word.” Matt. 25: 31. 32.GS 345.1

    Die engele wat na die hemelvaart van Christus op die Olyfberg agtergebly het, het die belofte van Sy wederkoms aan die dissipels herhaal: “HierdieJesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.” Hand. 1:11. En die apostel Paulus het getuig: “Die Here Self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God.” 1 Thess. 4: 16. En die profeet van Patmos het gesê, “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien.” Openb. 1: 7.GS 345.2

    Met Sy wederkoms is die heerlikhede verbind “Van die wederoprigting van alle dinge waarvan God vanouds af gespreek het deur die mond van al Sy heilige profete.” Hand. 3:21. Dan sal die lang heerskappy van die sonde verbreek word, en die “koninkryke van die wêreld” sal die “eiendom van onse Here word en van Sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.” Openb. 11: 15. “En die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien.” “So sal die Here Here geregtigheid en lof laat uitspruit voor die oog van al die nasies.” En die Here sal wees “tot ‘n sierlike kroon en ‘n pragtige krans vir die oorblyfsel van Sy volk.” Jes. 40: 5; 61: 11; 28: 5.GS 345.3

    Dit is dan wanneer die langverwagte vredesryk van die Messias sal opgerig word onder die ganse hemel. “Die Here vertroos Sion; Hy vertroos al Sy puinhope en maak Sy woestyn soos Eden en Sy wildernis soos die tuin van die Here.” “Die heerlikheid van Libanon is aan Hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron.” “Jy sal nie meer genoem word Verlatene nie, en jou land sal nie meer genoem word Wildernis nie. Maar jy sal genoem word: My welbehae, en jou land die getroude.” “En soos die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees.” Jes. 51: 3; 35: 2; 62: 4, 5.GS 345.4

    In alle eeue was die wederkoms van die Here die hoop van Sy ware navolgers. Die Here se afskeidsbelofte op die Olyfberg, dat Hy weer sou kom, het die toekoms vir Sy dissipels verlig, en hulle harte met hoop en vreugde vervul wat nie deur droefheid kon geblus of deur beproewing kon verdof word nie. Te midde van lyding en vervolging was die “verskyning van die heerlikheid van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,” “die salige hoop.” Toe die Thessalonicense met droefheid vervul was, waar hulle hulle geliefdes begrawe het wat gehoop het om in die lewe te bly tot die wederkoms van die Here, het Paulus, hulle leraar, hulle gewys op die opstanding wat sou plaasvind by die Heiland se wederkoms. Dan sou die dode in Christus opstaan, en saam met die lewendes sou hulle opgeneem word om die Here in die lug te ontmoet. “En so,” het hy gesê, “sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.” 1 Thess. 4: 16-18.GS 346.1

    Op die rotsagtige Patmos het die geliefde dissipel die belofte gehoor, “Kyk, Ek kom gou,” en in sy antwoord het hy die verlange van die kerk op sy lang pelgrimstog uitgespreek, “Ja kom, Here Jesus.” Openb. 22: 20.GS 346.2

    Uit die gevangenis, van die brandstapel, van die skavot, waar die heiliges en martelare vir die waarheid getuig het, hoor ons die stem van hulle geloof en hoop. “Verseker synde van Sy persoonlike opstanding, en dus ook van hulle eie by Sy wederkoms, en om hierdie rede,” sê een van hierdie Christene, “Het hulle die dood verag en bokant dit gestaan.”— Taylor, Daniel T., “Tlie Reign of Christ on Earth; or, The Voice of the Church in all Ages,” bl. 33.Hulle was gewillig om in die graf te gaan sodat hulle “vry kon opstaan.”—Idem., bl. 54. Hulle het uitgesien na die verskyning “Van die Here uit die hemel in die wolke met die heerlikheid van Sy Vader wat aan die regverdige die tye van die Koninkryk bring.” Die Waldense het dieselfde geloof gekoester.(Idem., bls. 129-132.)Wycliffe het uitgesien na die verskyning van die Verlosser as die hoop van die kerk.(Idem., bls. 132-134.)GS 346.3

    Luther het verklaar: “Ek hou my inderwaarheid daarvan oortuig dat die oordeelsdag geen voile drie honderd jaar meer in die toekoms is nie. God wil nie en sal nie hierdie sondige wêreld baie langer meer gedoog nie.” “Die groot dag kom nader waarin die koninkryk van gruwels omver gewerp sal word.”— Idem., bls. 158, 134.GS 347.1

    “Hierdie verouderde wêreld is nie meer ver van sy einde af nie,” het Melanchthon gesê. Calvyn het Christene beveel om “Nie te aarsel om die dag van die Here se koms vurig te begeer nie as die heerlikste van alle gebeurtenisse;” en hy het verklaar dat “die hele gesin van die gelowiges daardie dag voor oë sal hou.” “Ons moet dorstig wees vir Christus, ons moet soek, en oorpeins, tot daardie groot dag aanbreek wanneer die Here die heerlikheid van Sy koninkryk ten voile sal openbaar.”—Idem., bls. 158, 134.GS 347.2

    “Het ons Here Jesus nie ons vlees na die hemel geneem nie?” het Knox, die Skotse Hervormer gesê, “en sal Hy nie terugkom nie? Ons weet dat Hy sal terugkom en dit baie gou.” Ridley en Latimer, wat hulle lewens vir die waarheid opgeoffer het, het in geloof uitgesien na die wederkoms van die Here. Ridley het geskryf: “Sonder enige twyfel — ek sê dit omdat ek dit glo — nader hierdie wêreld sy einde. Laat ons met Johannes, die dienskneg van God, in ons hart tot ons Heiland roep, kom, Here Jesus, kom.”—Idem., bls. 151, 145.GS 347.3

    “Gedagtes oor die koms van die Here” het Baxter gesê, “Is soet en aangenaam vir my.”—Baxter, Richard, “Works,” Deel XVII, bl. 555.“Dit is die werk van geloof en die karakter van Sy heiliges om Sy verskyning lief te hê en uit te sien na daardie salige hoop.” “As die dood die laaste vyand is wat by die opstanding vernietig sal word, kan ons weet hoe sterk gelowiges behoort te verlang na, en te bid vir, die wederkoms van Christus, wanneer hierdie voile en finale oorwinning sal behaal word.”— Idem.., bl. 500. “Dit is die dag waarna alle gelowiges behoort te verlang, waarvoor hulle moet hoop en wag, want dit sal die voleindiging van hulle verlossing wees, en van al die begeertes en pogings van hulle siele.” “Verhaas, o Here, daardie salige dag!” — Baxter, “Works” Deel XVII, bls. 182, 183.Dit was die hoop van die apostoliese kerk, van die “kerk in die woestyn,” en van die Hervormers.GS 347.4

    Die profesieë voorspel nie alleen die wyse en doel van Christus se koms nie, maar gee tekens waardeur mense kan weet wanneer die koms naby is. Jesus het gesê: “Daar sal tekens wees aan son en maan en sterre.” Lukas 21: 25. “Die son sal duister word en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte wat in die hemel is, sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens op die wolke sien kom met grote krag en heerlikheid.” Markus 13: 24-26. In Openbaring beskryf Johannes die eerste tekens wat die wederkoms vooraf sal gaan as volg: “Daar was ‘n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ‘n harige sak, en die maan het geword soos bloed.” Openb. 6: 12.GS 348.1

    Hierdie tekens is gesien voor die begin van die negentiende eeu. Ter vervulling van hierdie profesie was daar in die jaar 1755 die vreeslikste aardbewing wat daar nog ooit bekend was. Hoewel dit tans bekend is as die aardbewing van Lissabon, het dit die grootste gedeelte van Europa, Afrika, en Amerika aangetas. Dit is gevoel in Groenland, in die Wes-Indiese Eilande, op Madeira, in Noorweë en Swede, Groot-Brittanje en Ierland. Dit het n gebied van nie minder as viermiljoen vierkante myle aangetas nie. In Afrika was die skok byna net so geweldig as in Europa. ‘n Groot gedeelte van Algiers is verwoes; en ‘n kort distansie van Morokko af is ‘n dorp van tussen agten tienduisend inwoners opgeswelg. ‘n Magtige golf het die kus van Spanje en Afrika getref, wat stede oorstroom en groot skade aangerig het.GS 348.2

    Dit was in Spanje en Portugal waar die ergste skok gevoel is. Op Kadiz was die golf sestig voet hoog. Berge, “sommige van die grootste in Portugal is heftig geskud, tot by hulle fondamente, as’t ware; sommige van hulle is bo oopgeskeur sodat groot massas grond in die klowe afgestort het. Daar word vertel dat vlamme uit die berge gekom het.”—Lyell, Sir Charles, “Principles of Geology,” bl. 495 (ed. 1858, N. Y.)GS 348.3

    In Lissabon “is daar ‘n gedreun soos onderaardse donder gehoor en onmiddellik daarna het ‘n geweldige skok die grootste gedeelte van die stad in puin gelê. Binne ses minute is daar sowat sestigduisend persone gedood. Die see het eers terug getrek en die sandbank blootgelê; toe het dit weer teruggestroom, byna vyftig voet hoër as die gewone watervlak.” “Onder die buitengewone gebeurtenisse, soos vertel word, wat daar te Lissabon gedurende die ramp plaasgevind het, was die instorting van ‘n nuwe kaai wat deurgaans van marmer gebou is teen groot onkoste. ‘n Groot skare het daar saamgedrom vir veiligheid as ‘n plek waar hulle buite die bereik van die instortende geboue kon wees; maar skielik het die kaai weggesak met al die mense daarop, en nie een van hulle dooie liggame is ooit weer op die oppervlakte gesien nie.”—Lyell, Sir Charles, “Principles oj Geology,” bl. 495 (ed. 1858, N. Y.)GS 348.4

    “Die skok” van die aardbewing “is onmiddellik gevolg deur die instorting van elke kerk en klooster, byna al die groot openbare geboue, en meer as ‘n kwart van die woonhuise. Sowat twee-uur na die skok, het daar brand ontstaan in verskillende dele en dit het vir byna drie dae so geweldig gewoed dat die stad totaal verwoes is. Die aardbewing het op ‘n heilige dag plaasgevind toe die kerke en kloosters vol mense was, baie min waarvan ontsnap het.”—“Encyclopædia Americana,” art. Lisbon, opmerking (ed. 1831).“Die vrees van die mense was onbeskryflik. Niemand het gehuil nie; dit was te erg vir trane. Hulle het herwaarts en derwaarts gehardloop, waansinnig van vrees en verbasing, hulle het op hulle gesigte en borste geslaan terwyl hulle uitgeroep het ,Misericordia! die einde van die wêreld het gekom!’ Moeders het hulle kinders vergeet en met kruisbeelde rondgehardloop. Ongelukkig het baie van hulle na die kerke toe gehardloop vir beskerming, maar tevergeefs is die sakrament tentoongestel; tevergeefs het die arme skepsels hulle arms om die altare geslaan: beelde, priesters, en volk is in een algemene puinhoop bedolwe.” Dit is bereken dat negentigduisend mense hulle lewens op daardie noodlottige dag verloor het.GS 349.1

    Vyf-en-twintig jaar later het die volgende teken wat in die profesie genoem is, verskyn — die verduistering van die son en die maan. Wat hierdie gebeurtenis nog treffender gemaak het, is die feit dat die tyd vir die vervulling daarvan bepaald aangewys is. Die Heiland se gesprek met Sy dissipels op die Olyfberg, nadat Hy die lang beproewingstydperk van die kerk beskryf het — die 1260 jaar van pouslike vervolging waarvan Hy gesê het dat die verdrukking verkort sou word — het Hy sekere gebeurtenisse genoem wat Sy koms sou voorafgaan, en Hy het die tyd vasgestel wanneer die eerste daarvan gesien sou word: “In daardie dae, ná die verdrukking, sal die son duister word, en die maan sal sy glans nie gee nie.” Markus 13: 24. Die 1260 dae, of jaar, het in 1798 geëindig. ‘n Kwart eeu voor daardie tyd het die vervolging so-te-sê byna opgehou. Ná hierdie vervolging, het Christus gesê, sou die son verduister word. Op 19 Mei 1780 is hierdie profesie vervul.GS 350.1

    “Hierdie geheimsinnige en totnogtoe onverklaarde verskynsel, naamlik die donker dag van 19 Mei 1780, staan byna alleen indien nie heeltemal alleen nie, as die onverklaarbaarste verduistering van die sigbare hemele en atmosfeer inNew England.” —Devens, R. M., “Our First Century,” bl. 89.GS 350.2

    ‘n Ooggetuie van Massachussetts beskryf die gebeurtenis as volg:GS 350.3

    “In die more het die son helder opgekom, maar die lug was gou bewolk. Die wolke het donker geword, daar het weerlig uitgeslaan, dit het gedonder en ‘n bietjie reën het geval. Teen nege-uur het die wolke dunner geword en ‘n koperagtige kleur aangeneem; die aarde, die rotse, die bome, die geboue, die water, en persone is verander deur hierdie vreemde aaklige lig. ‘n Paar minute later het ‘n dik swart wolk die hele lig bedek behalwe ‘n dun strepie op die gesigseinder, en dit was so donker as dit gewoonlik was om nege-uur op ‘n somersaand. . . .GS 351.1

    “Vrees, angs, en ontsetting het stadigaan die gemoedere van die mense vervul. Vrouens het in die deure gestaan en kyk na die donkere landskap; mans het van hulle werk op die lande teruggekeer; die skrynwerker het sy gereedskap neergesit, die smid het sy aambeeld verlaat, en die winkelier sy toonbank. Die skole is verdaag en die kinders het vreesagtig huis-toe gevlug. Reisigers het sommer by die naaste plaashuis herberg gaan soek. ,Wat is aan kom?’ was die vraag op elke hart en lip. Dit het geskyn asof ‘n stormwind gedreig het of dat die einde van alle dinge gekom het.GS 351.2

    “Kerse is opgesteek; die vure in die kaggels het helder geskyn net soos op ‘n maanlose nag. . . . Hoenders het gaan slaap, beeste het by hulle kamphekke gestaan en bulk, die paddas het gekwaak, die voëls het hulle aandlied gesing, en die vlermuise het begin rondvlieg. Maar die mens het geweet dat dit nog nie nag was nie. . . .GS 351.3

    “Dr. Nathanael Whittaker, leraar van die tabernakelkerk in Salem, het ‘n diens gehou, en ‘n preek gelewer waarin hy volgehou het dat die duisternis bonatuurlik was. Op baie ander plekke het gemeentes vergader. Dit tekste vir die onvoorbereide preke was gewoonlik die wat daarop gewys het dat die duisternis ooreengekom het met die profesie van die Skrif. . . . Kort na elfuur was dit die donkerste.”—“ The Essex Antiquarian,” Salem, Mass., April, 1899 (Deel III, No. 4, bls. 53, 54) “Op meeste plekke van die land was die duisternis selfs in die dag so groot dat die mense nie op hulle horlosies kon sien hoe laat dit was nie, ook kon hulle nie eet of met hulle gewone werk aangaan sonder om kerse op te steek nie. . . .GS 351.4

    “Die uitgestrektheid van hierdie duisternis was buitengewoon. In ‘n oostelike rigting is dit sover as Falmouth waargeneem. Na die weste het dit tot die verste deel van Connecticut gestrek tot by Albany. In die suide het dit tot by die seekus gestrek; en in die noorde is dit sover as die Amerikaanse nedersettings gestrek het, gesien.”— Gordon, Dr. Wm., “History of the Rise, Progress, and Establishment of the Independence of the U. S. A.,” Deel III, bl. 57 (N. Y., 1789).GS 351.5

    Die stikdonkerheid van daardie dag is ‘n uur of so voor die aand voorafgegaan deur ‘n gedeeltelike onbewolkte lug, en die son het geskyn, alhoewel dit omhul was van ‘n swaar swart mis. “Na sononder het die lug weer bewolk geword en dit het vinnig donker geword.” “Die donkerheid van die nag was ook nie minder buitengewoon en skrikwekkend as die van die dag nie; nieteenstaande die feit dat dit voile maan was, kon niks gesien word nie sonder die hulp van kunsmatige lig, wat, waar dit van die naburige wonings geskyn het, gelyk het asof dit deur ‘n soort van Egiptiese duisternis gekom het wat byna nie deur ligstrale kon deurdring word nie.”— Thomas, “Massachussetts Spy; or, American Oracle of Liberty,” Deel X, No. 472 (25 Mei, 1780).‘n Ooggetuie van die toneel het verklaar: “Destyds het die gedagte onwillekeurig by my opgekom dat as elke liggewende liggaam van die heelal in ondeurdringbare skaduwees gehul was, of heeltemal uitgedoof sou gewees het, die duisternis nie erger kon gewees het nie.”— Letter by Dr. Samuel Tenney, of Exeter, N. H., Desember, 1785 (in “Massachusetts Historical Society Collections,” 1792, eerste reeks, Deel I, bl. 97). Hoewel die maan daardie aand om nege-uur opgekom het, “het dit nie die minste uitwerking gehad om die doodse skaduwees te verdryf nie.” Na middernag het die duisternis verdwyn en die maan, toe dit die eerste maal sigbaar geword het, het soos bloed gelyk.GS 353.1

    19 Mei 1780 staan in die geskiedenis bekend as “Die Donker Dag.” Sedert die tyd van Moses, was geen duisternis so donker, so uitgestrek, en het so lank geduur as die wat beskryf is nie. Die beskrywing van hierdie gebeurtenis soos deur ‘n ooggetuie gegee, is slegs ‘n weerklank van die woorde van die Here, soos opgeteken deur die profeet Joël, vyf-en-twintig honderd jaar voor hulle vervulling: “Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed voordat die grote en deurlugtige dag van die Here kom.” Joël 2: 31.GS 353.2

    Christus het Sy volk beveel om uit te kyk vir die tekens van Sy wederkoms, en hulle te verbly as hulle hierdie tekens van hulle komende Koning sou sien. “As hierdie dinge begin gebeur,” het Hy gesê, “Kyk dan na bo en hef julle hoofde op omdat julle verlossing naby is.” Hy het die aandag van Sy navolgers gevestig op die uitspruitende bome van die lente, en gesê: “Net soos hulle uitloop, weet julle van self, as julle dit sien, dat die somer al naby is. So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.” Lukas 21: 28, 30, 31.GS 354.1

    Maar namate die gees van ootmoed en toewyding in die kerk vervang is deur hoogmoed en formalisme, het liefde vir Christus en geloof in Sy wederkoms afgeneem. Inbeslaggeneem deur wêreldsgesindheid en singenot, is die sogenaamde volk van God verblind vir die Heiland se onderrig aangaande die tekens van Sy wederkoms. Die leerstelling van die wederkoms is verwaarloos; die tekste in verband daarmee is verdof deur verkeerde uitlegging, totdat dit, in ‘n groot mate, veronagsaam en vergeet is. Veral was dit die geval met die kerke van Amerika. Die vryheid en gemak wat deur alle klasse van die samelewing geniet is, die vooruitstrewende begeerte vir rykdom en weelde wat die mense met die geldmaakgees besiel het, die gretigheid vir mag en populariteit, wat binne die bereik van almal geskyn het, het die mense daartoe gebring om al hulle belange en hoop te plaas op die dinge van hierdie lewe, en daardie plegtige dag wanneer die huidige orde van sake sal verbygaan, het hulle ver in die toekoms gestel.GS 354.2

    Toe die Heiland Sy navolgers gewys het op die tekens van Sy wederkoms, het Hy die afvallige toestand voorspel wTat daar sou wTees net voor Sy wederkoms. Daar sou, net soos in die dae van Xoag, groot bedrywigheid wees in die sakewêreld, en ‘n sug na plesier — koop, verkoop, plant, bou, trou, en uitgee in die huwelik — sonder enige gedagte aan God en die lewe hiernamaals. Aan diegene wat in daardie tyd sou lewe, is die vermaning van Christus as volg: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en die sorge van die lewe nie, en die dag julle nie skielik oorval nie. . . . Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig mag geag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en te staan voor die Seun van die mens.” Lukas 21: 34, 36.GS 354.3

    Die toestand van die kerk in hierdie tyd is beskryf in die Heiland se woorde in Openbaring, “Jy het die naam dat jy leef en jy is dood.” Openb. 3: 1, 3. En aan diegene wat weier om gewek te word uit hulle toestand van valse veiligheid, is die volgende waarskuwing gegee: “As jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie.”GS 355.1

    Dit was nodig dat die mense opgewek moet word om hulle gevaar te besef; en dat hulle wakker gemaak sou word om klaar te maak vir die plegtige gebeurtenisse in verband met die sluiting van die genadetyd. Die profeet van die Here het gesê: “Want die dag van die Here is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?” Wie sal kan staan wanneer Hy verskyn “wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die moeite nie kan aanskou nie?” Joël 2: 11; Hab. 1: 13; Hos. 8: 1, 2; Ps. 16: 4. Vir hulle wat roep, “My God, ons ken U,” maar wat nogtans Sy verbond oortree en ander gode nagevolg het, wat sonde in hulle hart verberg en die weë van ongeregtigheid liefhet — vir hulle sal die dag van die Here “duisternis en geen lig nie, ja donkerheid sonder ‘n ligstraal” wees. Amos 5: 20. “En in die tyd,” sê die Here, “sal Ek Jerusalem met lanterns deursoek en besoeking doen oor die mense wat dik geword het op hulle afsaksel, wat in hulle hart sê: Die Here doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie.” Sef. 1: 12. “Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder.” Jes. 13: 11. “Hulle silwer of goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die Here te red nie;” “En hulle rykdom sal geplunder word, en hulle huise verwoes word.” Sef. 1: 18, 13.GS 355.2

    Die profeet Jeremia, vooruitsiende na daardie vreeslike tyd, het uitgeroep: “0 my ingewande, my ingewande, ek bewe van angs!” “Ek kan nie swyg nie; want jy, my siel, het basuingeklank gehoor, oorlogsgeskreeu! Verwoesting op verwoesting word uitgeroep.” Jer. 4: 19, 20.GS 355.3

    “Dié dag is ‘n dag van grimmigheid, ‘n dag van benoudheid en angs, ‘n dag van woestheid en verwoesting, ‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag, ‘n dag van basuingeklank en krygsgeskreeu.” Sef. 1: 15, 16. “Kyk, die dag van die Here kom, verskrik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sondaars daaruit te verdelg.” Jes. 13: 9.GS 356.1

    Met die oog op daardie vreeslike dag doen die woord van God, in die ernstigste en plegtigste taal, ‘n beroep op Sy volk om wakker te skrik uit hulle geestelike doodsheid, en om sy aangesig met bekering en ootmoed te soek: “Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op My heilige berg! Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van die Here kom, want Hy is naby. . . . Heilig ‘n vasdag, roep ‘n vergadering saam! Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders en die suigelinge! Laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar slaapvertrek. Laat die priesters, die dienaars van die Here, tussen die voorportaal en die altaar ween.” “Bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil.” Joël 2:1, 15-18, 12, 13.GS 356.2

    Om ‘n volk voor te berei om in die groot dag van God te kan staan, moet daar ‘n groot hervormingswerk gedoen word. God het gesien dat baie van Sy sogenaamde volk nie vir die ewigheid gebou het nie, en in Sy genade het Hy op die punt gestaan om aan hulle ‘n boodskap van waarskuwing te stuur om hulle uit hulle slaap wakker te skud, en hulle te lei en gereed te maak vir die koms van die Here.GS 356.3

    Hierdie waarskuwing is opgeteken in Openbaring 14. Daar word ‘n drievoudige boodskap voorgestel wat deur hemelse wesens verkondig is, wat onmiddellik gevolg is deur die wederkoms van die Seun van die mens “Om die oes van die aarde in te samel. ‘ Die eerste van hierdie waarskuwings kondig die naderende oordeel aan. Die profeet het ‘n engel “In die middel van die lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig, aan al die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke. En Hy het met ‘n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.” Openb. 14: 6, 7.GS 356.4

    Hierdie boodskap word verklaar as deel te wees van die “ewige evangelie.” Die werk om die evangelie te verkondig is nie aan engele opgedra nie, maar aan die mens gegee. Heilige engele is gebruik om leiding te gee in hierdie werk; hulle is in bevel van die groot bewegings vir die redding van die mens; maar die werklike verkondiging van die evangelie word gedoen deur die diensknegte van Christus op die aarde.GS 357.1

    Getroue manne, wat die leiding van Gods Gees en die leer van Sy woord gehoorsaam, moes hierdie boodskap van waarskuwing aan die wêreld gee. Dit is hulle wat ag geslaan het op die “vaste profetiese woord,” die “lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die morester opgaan.” 2 Pet. 1: 19. Hulle het na die kennis van God gesoek meer as na verborge skatte, en dit beskou “beter as dié van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud.” Spreuke 3: 14. En die Here het aan hulle die groot dinge van Sy koninkryk geopenbaar. “Die verborgenheid van die Here is vir die wat Hom vrees, en Sy verbond om hulle dit bekend te maak.” Ps. 25: 14.GS 357.2

    Dit was nie die geleerde teoloë wat hierdie waarheid verstaan en dit verkondig het nie. As hulle getroue wagters was wat ywerig en biddend die Skrifte ondersoek het, sou hulle die tyd van die nag geweet het; die profesieë sou aan hulle die dinge wat moes plaasvind, geopenbaar het. Maar hulle het nie daardie posisie beklee nie, en die boodskap is aan nederiger manne gegee. Jesus het gesê: “Wandel solank as julle die lig het, sodat die duisternis julle nie oorval nie.” Joh. 12: 35. Diegene wat hulle afkeer van die lig wat God gegee het, of wat nalaat om dit te soek wanneer dit binne hulle bereik is, word in duisternis gelaat. Maar die Heiland sê, “Wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” Joh. 8:12. Wie ookal met een doel soek om die wil van God te doen, wie ernstig agslaan op die lig wat alreeds gegee is, sal groter lig ontvang; aan daardie siel sal ‘n ster met hemelse glans gestuur word om hom tot alle waarheid te lei.GS 357.3

    Tydens Christus se eerste koms, kon die priesters en skrifgeleerdes van die heilige stad, aan wie die orakels van God toevertrou was, die tekens van die tye gesien het en die koms van die Beloofde Een verkondig het. Die profesie van Miga het Sy geboorteplek aangewys. (Miga 5: 1.) Daniël het die tyd van Sy koms voorspel. (Dan. 9: 25.) God het hierdie profesieë aan die Joodse leiers gegee; hulle sou sonder verskoning wees as hulle nie geweet en aan die volk verkondig het, dat die koms van die Messias naby was nie. Hulle onkunde was die gevolg van sondige nalatigheid. Die Jode het monumente opgerig vir die profete van God wat om die lewe gebring is, terwyl hulle deur hulle eerbied vir die groot manne van die aarde besig was om hulde te bring aan die diensknegte van Satan. Inbeslaggeneem deur hulle stryd om die hoogste plek en om mag onder die mense, het hulle die goddelike eerbewyse wat hulle deur die Koning van die hemel aangebied is, nie gesien nie.GS 358.1

    Met diepe en eerbiedige belangstelling moes die oudstes van Israel ondersoek ingestel het na die plek, die tyd, en die omstandighede waaronder hierdie grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die wêreld sou plaasvind, naamlik die koms van die Seun van God om die verlossing van die mens te bewerkstellig. A1 die mense moes wakende en wagtende gewees het, sodat hulle onder die eerstes kon gewees het om die wêreld se Verlosser te verwelkom. Maar kyk, in Betlehem stap twee afgematte reisigers van die berge van Nasaret die hele lengte van die nou straatjie at na die oostelike end van die dorp, en tevergeefs soek hulle na ‘n rusplek en herberg vir die nag. Geen deure is oopgemaak om hulle te ontvang nie. In ‘n ellendige krot, vir vee ingerig, het hulle eindelik skuiling gevind en daar is die Verlosser van die wêreld gebore.GS 358.2

    Heilige engele het die heerlikheid aanskou waarin die Seun van God gedeel het saam met Sy Vader voor hierdie wêreld was, en hulle het met die grootste belangstelling uitgesien na Sy verskyning op die aarde, wat die grootste vreugde sou gebring het aan alle mense. Engele is aangestel om die blye tyding te bring aan diegene wat gereed was om dit te ontvang en wat dit blymoedig sou verkondig het aan die bewoners van die aarde. Christus het Hom verneder om die menslike natuur aan te neem; Hy moes ‘n eindelose las van ellende dra, daar Hy sy siel as offer sou gee vir die sonde; maar nogtans het die engele begeer dat die Seun van die Allerhoogste, selfs in Sy vernedering, voor die mense mag verskyn met ‘n waardigheid en heerlikheid wat by Sy karakter gepas het. Sou die groot manne van die aarde in die hoofstad van Israel vergader om Sy koms te begroet? Sou legioene van engele Hom aan die verwagtende menigte voorstel?GS 358.3

    ‘n Engel het die aarde besoek om te sien wie gereed was om Jesus te verwelkom. Maar hy kon geen tekens van verwagting opmerk nie. Hy hoor geen juigen triomfkrete dat die koms van die Messias op hande is nie. Vir ‘n tyd het die engel gesweef oor die uitverkore stad en die tempel waar die goddelike teenwoordigheid vir eeue verskyn het; maar selfs daar sien hy dieselfde onverskilligheid. Die priesters, in hulle praal en trots, was besig om besoedelde offerandes in die tempel te offer. Die Fariseërs het die mense met luiderstem toegespreek, of hulle het selfverheffende gebede op die hoeke van die strate gebid. In die paleise van die konings, in vergaderings van die filosowe, in die skole van die rabbi’s, is almal eweseer onbewus van die wonderbare feit wat die ganse hemel met vreugde en lof vervul het, naamlik dat die Verlosser van die mens op die punt gestaan het om op die aarde te verskyn.GS 359.1

    Daar was geen bewys dat Christus verwag is nie, en ook geen voorbereiding vir die Vors van die Lewe nie. In verbasing wou die hemelse boodskapper na die hemel terugkeer met die skandelike tyding, toe hy ‘n groep herders opmerk wat besig was om in die nag wag te hou by hulle kuddes, en wat hulle oë opgehef het na die sterrehemel en gedink het oor die profesie van ‘n Messias wat na die aarde sou kom, en verlang het na die koms van die wêreld se Verlosser. Hier was ‘n groep wat bereid was om die hemelse boodskap te ontvang, en skielik het die engel van die Here verskyn en die blye boodskap van groot vreugde aan hulle verkondig. Hemelse heerlikheid het die vlakte vervul en daar is ‘n ontelbare skare van engele geopenbaar; en asof die vreugde te groot was vir een boodskapper om van die hemel te bring, het ‘n menigte stemme die lied aangehef wat al die verlostes eendag sal sing: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!” Lukas 2: 14.GS 359.2

    O, wat ‘n les is daar in hierdie wonderbare verhaal van Betlehem! Hoe bestraf dit nie ons ongeloof, ons hoogmoed en ons selfvoldaanheid. Hoe waarsku dit ons nie om op te pas sodat ons deur ons onverskoonbare onverskilligheid ook nie sal versuim om die tekens van die tye te sien, en dus die dag van besoeking nie te ken nie.GS 360.1

    Dit was nie alleen op die berge van Judea en onder die herders dat die engele wagters gevind het op die koms van die Messias nie. Ook in die land van die heidene was daar diegene wat Sy koms verwag het; hulle was die wyse manne, ryk en edel, die wysgere van die Ooste. As studente van die natuur het die wyse manne God in Sy handewerk gesien. Uit die Hebreeuse Skrifte het hulle geleer van die Ster wat sou kom uit Jakob, en met groot verlange het hulle gewag op Hom, wat nie alleen die “Vertroosting van Israel” sou wees nie, maar ook “‘n Lig tot verligting van die nasies,” en “‘n verlossing sal wees tot aan die eindes van die aarde.” Lukas 2: 25, 32; Hand. 13: 47. Hulle was soekers na die lig, en lig van die troon van God het die pad vir hulle voete verlig. Terwyl die priesters en die rabbi’s van Jerusalem, die aangestelde beskermers en verklaarders van die waarheid, in duisternis gehul was, het die ster, deur die hemel gestuur, hierdie heidense vreemdelinge na die geboorteplek van die pasgebore Koning gelei.GS 360.2

    Dit is “aan die wat Hom verwag” dat Christus “vir die tweede maal sonder sonde sal verskyn.” Heb. 9: 28. Net soos die boodskap van die Heiland se geboorte, is die boodskap van Sy wederkoms nie aan die godsdienstige leiers van die volk toevertrou nie. Hulle het versuim om hulle verbinding met God te handhaaf, en het die lig van die hemel geweier; daarom val hulle nie onder die getal wat as volg deur die apostel Paulus beskryf is nie: “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie. Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.” 1 Thess. 5:4, 5.GS 360.3

    Die wagters op die mure van Sion moes die eerste gewees het om die boodskap van die Heiland se koms te verneem; die eerste om hulle stem te verhef om te verkondig dat Hy naby is; die eerste om die volk te vermaan om vir Sy koms klaar te maak. Maar hulle was gerus en het gedroom van vrede en veiligheid, terwyl die volk in hulle in sondes geslaap het. Jesus het sy kerk gesien, soos die onvrugbare vyeboom, vol weelderige blare, maar sonder die kostelike vrug. Daar was ‘n eiegeregtige nakoming van die vorms van die godsdiens, terwyl die gees van ware nederigheid, boetvaardigheid, en geloof — dinge wat alleen ons diens by God aanneemlik kan maak—ontbreek het. In plaas van die deugde van die Gees, was daar hoogmoed, formalisme, selfverheffing, selfsug, en verdrukking. ‘n Afvallige kerk het sy oë gesluit vir die tekens van die tye. God het hulle nie verlaat nie, of Sy getrouheid versuim nie; maar hulle het Hom verlaat, en hulleself afgeskei van Sy liefde. Omdat hulle geweier het om te voldoen aan die voorwaardes, is Sy beloftes nie aan hulle vervul nie.GS 361.1

    Dit is die gewisse gevolge van ‘n verwaarlosing van die lig en die voorregte wat God gee. Tensy die kerk volg waar Hy lei, elke ligstraal aanneem, en elke plig nakom wat geopenbaar is, sal die godsdiens onvermydelik ontaard in die nakoming van vorms, en die gees van werklike godsaligheid sal verdwyn. Hierdie waarheid is herhaaldelik geïllustreer in die geskiedenis van die kerk. God verwag van Sy volk werke van geloof en gehoorsaamheid wat ooreenstem met die seëninge en voorregte wat Hy gee. Gehoorsaamheid verg opoffering en ‘n kruis; en dit is die rede waarom so baie van die sogenaamde navolgers van Christus weier om die lig van die hemel aan te neem, en, soos die Jode vanouds, ken hulle nie die tyd van hulle besoeking nie. (Lukas 19: 44.) Weens hulle hoogmoed en ongeloof, het die Here hulle verbygegaan en Hy het Sy waarheid geopenbaar aan diegene, wat soos die herders van Betlehem en die wyse manne van die Ooste, ag geslaan het op al die lig wat hulle ontvang het.GS 361.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents