Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Groot Stryd

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "undefined".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 27—Ware Bekering Absoluut Nodig

    WAAR ookal die woord van God getrou verkondig is, was daar gevolge wat die goddelike oorsprong daarvan bewys het. Die boodskap van Sy diensknegte het met die Gees van God gepaard gegaan, en die woord was met krag. Die gewete van sondaars is wakkergeskud. Die “lig wat elke mens verlig,” het die verborge skuilhoeke van hulle siele verlig, en die verborge dinge van die duisternis is geopenbaar. Hulle verstand en hart is deur ‘n diepe oortuiging getref. Hulle is oortuig van sonde, van geregtigheid, en van die aanstaande oordeel. Hulle het ‘n besef gekry van die geregtigheid van Jehova, en die gedagte om in hulle sonde en onreinheid voor die Deursoeker van harte te verskyn, het hulle met verskrikking vervul. In sielsangs het hulle uitgeroep. “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Namate die kruis van Golgota met sy oneindige slagoffer vir die sonde van die mense geopenbaar is, het hulle besef dat niks behalwe die verdienstes van Christus versoening kon doen vir hulle oortredings nie; dit alleen kon die mens met God versoen. In geloof en ootmoed het hulle die Lam van God aangeneem, wat die sonde van die wêreld wegneem. Deur die bloed van Jesus kon hulle vergifnis verkry vir die sondes van die verlede.GS 527.1

    Hierdie siele het vrugte voortgebring wat by die bekering gepas het. Hulle het geglo en Is gedoop, en hulle het opgestaan om in ‘n nuwe lewe te wandel — nuwe skepsels in Christus Jesus; nie om weer te wandel in hulle vorige sondes nie, maar om deur geloof te volg in die voetstappe van die Seun van God, om Sy karakter te weerkaats, en om hulleself te reinig soos Hy rein is. Die dinge wat hulle eers gehaat het, het hulle nou liefgehad; en die dinge wat hulle eers liefgehad het, het hulle nou gehaat. Die hoogmoediges en eiegeregtiges het sagmoedig en nederig geword. Die ydeles en ligsinniges was ernstig en nie langer opdringerig nie. Die onheiliges het eerbiedig geword, die dronkes nugter, en die losbandiges rein. Die ydel modes van die wêreld is versaak. Christene het gesoek, nie na die versiering van die uiterlike nie, haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie; maar na die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees wat baie kosbaar is voor God. (1 Petrus 3: 3, 4.)GS 527.2

    Die opwekkings het selfondersoek en nederigheid as gevolg gehad. Hulle is gekenmerk deur plegtige, ernstige oproepe aan sondaars, en deur ‘n groot ontferming teenoor diegene wat deur die bloed van Christus vrygekoop is. Manne en vroue het met God in die gebed geworstel om die redding van siele. Die vrugte van sulke opwekkings is gesien in siele wat nie teruggedeins het vir selfverloëning en opoffering nie, maar wat hulle daarin verbly het dat hulle waardig geag is om smaad en beproewing te ly vir die saak van Christus. Mense het die verandering in die lewens gesien van diegene wat die naam van Jesus bely het. Hulle het ‘n goeie invloed gehad op die samelewing. Hulle het saam met Christus ingesamel, vir die Gees gesaai, om die ewige lewe te oes.GS 528.1

    Van hulle kan gesê word: Julle was bedroef tot bekering “want julle was bedroef volgens die wil van God. . . . Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot verlossing, maar die droefheid van die wêreld werk die dood. Want kyk, juis dit dat julle bedroef geword het volgens die wil van God — hoe groot ‘n ywer het dit in julle gewerk, ja verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing. In alles het julle gewys dat julle rein is in die saak.” 2 Kor. 7:9-11GS 528.2

    Dit is die gevolg van die werk van die Gees van God. Tensy daar ‘n verandering in die lewe kom, is daar geen bewys van ‘n opregte bekering nie. As hy die pand teruggee, en vergoed wat hy gesteel het, sy sondes bely, en God en sy medemens liefhet, mag die sondaar seker wees dat hy die vrede van God gevind het. Dit was die uitwerking wat in vorige jare gesien is na godsdienstige opwekking. Volgens hulle vrugte geoordeel, was dit bekend dat hulle deur God geseën is in die redding van siele en die opheffing van die mensdom.GS 529.1

    Maar baie van die moderne opwekkings steek skerp af by die openbarings van goddelike genade wat in die vroeë dae gevolg het op die arbeid van Gods diensknegte. Dit is waar dat daar groot belangstelling opgewek word, dat baie voorgee om bekeerd te wees, en dat daar ‘n groot toevloei tot die kerke is; maar die resultate bewys nie ‘n ooreenkomstige toename van die ware geestelike lewe nie. Die vlam wat vir ‘n tyd opflikker, gaan gou weer dood, met die gevolg dat die duisternis nog groter is as voorheen.GS 529.2

    Populêre opwekkings word dikwels verkry deur beroepe op die verbeelding, die opsweping van die emosies, en deur die liefde vir nuwighede. Bekeerlinge wat op hierdie manier gemaak is, het min begeerte om na die Bybelse waarheid te luister, en min belangstelling in die getuienis van profete en apostels. Tensy die diens sensasiewekkend is, het dit vir hulle geen aantrekking nie. ‘n Boodskap wat ‘n beroep doen op die verstand val op dowe ore, die duidelike waarskuwings van Gods woord ten opsigte van hulle ewige belange, word nie gehoorsaam nie.GS 529.3

    Die verhouding van die siel tot God en die ewige dinge sal die hoofonderwerp wees waaroor bekeerde siele praat. Maar waar is die gees van toewyding tot God in die kerke van vandag? Die bekeerlinge versaak nie hulle hoogmoed en liefde vir die wêreld nie. Hulle is net so onwillig om self te verloën, hulle kruis op te neem, en die nederige Jesus te volg, as wat hulle was voor hulle bekering. Ongelowiges en twyfelaars dryf die spot met die godsdiens omdat so baie wat dit bely onkundig is aangaande die beginsels daarvan. Die krag van godsaligheid het so te sê gewyk uit baie van die kerke. Pieknieks, kerkopvoerings, basaars, mooi huise, en vertoon, het alle gedagtes aan God verban. Grond en goed en wêreldse bedrywigheid neem die hart in beslag, en die ewige dinge kry byna geen aandag nie.GS 529.4

    Maar nieteenstaande die gemis aan geloof en vroomheid is daar nogtans ware navolgers van Christus in hierdie kerke. Voordat die laaste oordele van God op die aarde kom, sal daar onder die volk van God so ‘n herlewing wees van die outydse godsvrug as wat daar nie sedert die dae gesien is nie. Die gees en die krag van God sal uitgestort word op Sy kinders. In daardie tyd sal baie hulle afskei van die kerke waarin liefde vir hierdie wêreld die liefde vir God en Sy woord vervang het. Baie, sowel predikante as leke, sal blymoedig die groot waarhede aanneem wat God in hierdie tyd laat verkondig, om ‘n volk te berei vir die wederkoms van die Here. Die sielevyand wil hierdie werk verhinder; en voordat die tyd vir hierdie beweging aanbreek, sal hy trag om dit te belet deur ‘n valse beweging te laat ontstaan. In die kerke wat hy kan bedrieg, sal hy dit laat blyk of Gods spesiale seen alreeds uitgestort is; en daar sal blykbaar groot belang in godsdienstige dinge wees. Baie sal hulle verbly omdat God op wonderbaarlike wyse vir hulle werk soos hulle meen, terwyl dit die werk van ‘n gans ander gees is. Onder ‘n godsdienstige dekmantel sal Satan trag om sy invloed te laat geld oor die Christelike wêreld.GS 530.1

    In baie van die opwekkings in die laaste helfte van die vorige eeu, was dieselfde invloede aan die werk, in ‘n minder of meerder mate, as die wat geopenbaar sal word in die groter bewegings van die toekoms. Daar is ‘n emosionele opwekking, ‘n vermenging van die ware met die valse, wat daarop bereken is om te mislei. Maar niemand hoef bedrieg te word nie. In die lig van Gods woord is dit nie moeilik om die aard van hierdie bewegings vas te stel nie. Orals waar mense die getuienis van die Bybel nalaat en hulle afwend van die duidelike, sieltoetsende waarhede wat selfverloëning en ‘n versaking van die wêreld verg, daar sal Gods seen gewis nie uitgestort word nie. En volgens die reel wat Christus Self gegee het, naamlik, “aan hulle vrugte sal julle hulle ken” (Matt. 7: 16), is dit duidelik dat hierdie bewegings nie die werk van die Gees van God is nie.GS 530.2

    In hierdie waarhede van Sy woord het God aan die mense ‘n openbaring van Homself gegee; en vir almal wat hulle aanneem is hulle ‘n skild teen die bedrog van Satan. Dit is verwaarlosing van hierdie waarhede wat die deur oopgemaak het vir die euwels wat tans so algemeen is in die godsdienstige wêreld. In ‘n groot mate is die aard en die belangrikheid van die wet van God uit die oog verloor. ‘n Verkeerde begrip van die karakter, die ewigdurendheid, en die verpligting van die goddelike wet het dwalings laat ontstaan in verband met bekering en heiligmaking, met die gevolg dat dit die peil van die kerk verlaag het. Hier het ons die geheim van die gemis aan die Gees en die krag van God in die opwekkings van ons tyd.GS 530.3

    In die verskillende denominasies is daar manne wat bekend is vir hulle vroomheid, wat hierdie feit erken en laak. Professor Edwards A. Park, skrywende oor die heersende godsdienstige gevare, sê: “Een van die gevare is nalating om die goddelike wet in die kansel te beklemtoon. In vorige tye was die kansel die weerklank van die stem van die gewete. . . . Ons beroemdste predikers het gesag aan hulle preke gegee deur die voorbeeld van die Meester na te volg, en deur die wet en die dreigemente daarvan te beklemtoon. Hulle het die twee groot beginsels herhaaldelik voorgehou, naamlik dat die wet ‘n afskrif van die goddelike volmaaktheid is, en dat die man wat die wet nie liefhet nie ook nie die evangelie liefhet nie; want die wet sowel as die evangelie, is ‘n spieël waarin die ware karakter van God weerkaats word. Hierdie gevaar lei tot ‘n ander, naamlik die onderskatting van die sondigheid van die sonde, die uitgestrektheid en die nadele daarvan. Net so regverdig as die gebod is, net so onregverdig is die ongehoorsaamheid daaraan.GS 531.1

    “Gepaard met die gevare wat reeds genoem is, is die gevaar om die regverdigheid van God te onderskat. Die neiging in die moderne kansel is om goddelike regverdigheid te skei van goddelike goedheid, en om goedheid te verlaag tot ‘n gevoel in stede om dit te verhef tot ‘n beginsel. Die nuwe teologiese prisma skei wat God saamgevoeg het. Is die goddelike wet goed of kwaad? Dit is goed. Dan is regverdigheid ook goed; want dit is ‘n toepassing van die wet. Van die gewoonte van onderskatting van die goddelike wet en geregtigheid, en die geringskatting van menslike ongehoorsaamheid, verval mens baie gou tot die gewoonte van onderskatting van die genade wat voorsien is vir die versoening van die sonde.” Op hierdie manier verloor die evangelie sy waarde en belangrikheid in die menslike gemoed, en eerlank is hulle gereed om selfs die Bybel opsy te skuif.GS 531.2

    Baie leraars beweer dat Christus, deur Sy dood, die wet afgeskaf het, en dat die mense nou vry is van gehoorsaamheid. Daar is sommige wat dit voorstel as ‘n swaar juk, en hulle stel die vryheid van die evangelie teenoor, wat hulle noem, die slawerny van die wet.GS 532.1

    Maar die profete en apostels het die heilige wet van God nie so beskou nie. Dawid het gesê, “Dan wil ek U wet altyd deur onderhou . . . en in die ruimte wandel, want ek soek U bevele.” Na die dood van Christus, het die apostel Jakobus die dekaloog genoem “die koninklike wet,” en “die volmaakte wet van die vryheid.” ‘n Half-eeu na die kruisiging word in die boek Openbaring ‘n seen uitgespreek op “die wat Sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.” (Ps. 119: 44, 45; Jak. 2: 8; 1: 25; Openb. 22: 14.)GS 532.2

    Die bewering dat Christus Sy Vader se wet afgeskaf het deur Sy dood, is sonder enige grond. As dit moontlik was om die wet te verander of af te skaf, sou dit nie vir Christus nodig gewees het om te sterf ten einde die mens van die straf van die sonde te verlos nie. Die dood van Christus bewys eerder die onveranderlikheid van die wet. Die Seun van God het gekom om die wet te vergroot en te vereer. Hy het gesê, “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet te ontbind nie. . . . Totdat die hemele en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan” nie. Van Homself het Hy gesê, “Ek het lus, o my God, om U welbehae te doen, en U wet is binne-in my ingewande.” (Matt. 5: 17, 18; Ps. 40: 9.)GS 532.3

    In sy hele vvese is die wet van God onveranderlik. Dit is ‘n openbaring van die wil en karakter van sy Gewer. God is liefde, en Sy wet is liefde. Die twee hoofbeginsels daarvan is liefde tot God en liefde tot die mens. “Daarom is die liefde die vervulling van die wet.” Die karakter van God is geregtigheid en waarheid, dit is ook die aard van Sy wet. Die psalmis sê, “U wet is waarheid”; “Al U gebooie is geregtigheid.” En die apostel Paulus verklaar, “Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed.” (Rom. 13: 10; Ps. 119: 142, 172; Rom. 7: 12.) So ‘n wet, wat ‘n uitdrukking is van die hart en wil van God, moet net so ewigdurend wees as die Gewer daarvan.GS 532.4

    Om die lewens van mense in ooreenstemming te bring met die beginsels van Gods wet, dit is die werk van bekering en heiligmaking. In die begin is die mens in Gods ewebeeld geskape. Hy was in volkome ooreenstemming met Gods wet; die beginsels van geregtigheid was in sy hart geskryf. Maar die sonde het hom van Sy Skepper vervreem. Nie meer het hy die goddelike beeld weerkaats nie. Sy hart was in opstand teen die beginsels van Gods wet. “Omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.” Rom. 8: 7. Maar “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het,” om die mens met God te versoen. Op grond van die verdienstes van Christus kan hy weer in ooreenstemming met sy Skepper gebring word. Sy hart moet vernuwe word deur goddelike genade; hy moet ‘n nuwe lewe van omhoog ontvang. Hierdie verandering is die wedergeboorte, waarsonder, sê Jesus, “hy die koninkryk van God nie kan sien nie.”GS 533.1

    Die eerste stap tot versoening met God is ‘n oortuiging van sonde. “Deur die wet is die kennis van die sonde.” Rom. 3: 20. Ten einde sy skuld te besef, moet die sondaar sy karakter toets aan Gods groot maatstaf van geregtigheid. Dit is die spieël wat die volmaaktheid van ‘n regverdige karakter weerkaats, en dit stel hom in staat om sy eie gebreke te sien.GS 533.2

    Die wet openbaar aan die mens sy sondes, maar dit kan nie die sonde wegneem nie. Terwyl dit die lewe belowe aan die gehoorsames, verklaar dit dat die deel van die oortreder die dood is. Die evangelie van Christus alleen kan hom vrymaak van die veroordeling en die besoedeling van die sonde. Hy moet hom tot God bekeer wie se wet hy oortree het; en hy moet geloof hê in Christus, sy soenoffer. Op hierdie manier word sy “sondes ongestraf [gelaat] wat hy vantevore gedoen” het, en hy word ‘n deelgenoot van die goddelike natuur. Hy word ‘n kind van God, omdat hy “die Gees van aanneming” ontvang het waardeur hy roep “Abba, Vader!”GS 533.3

    Staan dit hom nou vry om Gods wet te oortree? Paulus vra: “Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Dit tog nie! Inteendeel, ons bevestig die wet.” Rom. 3: 31. “Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” En Johannes sê, “Want dit is die liefde tot God, dat ons Sy gebooie bewaar; en Sy gebooie is nie swaar nie.” (Rom. 3: 31; 6: 2; 1 Joh. 5: 3.) In die wedergeboorte word die hart, namate dit in ooreenstemming met Gods wet gebring word, ook in ooreenstemming met God gebring. Wanneer hierdie groot verandering in die sondaar plaasgevind het, het hy oorgegaan van die dood tot die lewe, van sonde tot heiligheid, van oortreding en rebellie tot gehoorsaamheid en getrouheid. Die ou lewe van vervreemding van God is beëindig; die nuwe lewe van versoening en geloof en liefde het begin. Die “reg van die wet” sal dan “vervul word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.” Dan sal die siel uitroep, “Hoe lief het ek U wet; dit is my bepeinsing die hele dag.” Rom. 8: 4; Ps. 119: 97.GS 534.1

    “Die wet van die Here is volmaak: dit verkwik die siel.” Ps. 19: 8. Sonder ‘n kennis van die wet het die mens nie ‘n regte begrip van die reinheid en heiligheid van God nie, en ook nie van sy eie skuld en onreinheid nie. Hy het geen ware oortuiging van sonde nie, en het ook geen behoefte aan bekering nie. Omdat hy nie sy verlore toestand as ‘n oortreder van Gods wet besef nie, besef hy ook nie sy behoefte aan die versoenende bloed van Christus nie. Die hoop op die saligheid word aangeneem sonder ‘n radikale verandering van die hart of ‘n hervor ming van die lewe. Daarom is daar baie oppervlakkige bekerings, en menigtes sluit by die kerk aan wat nog nooit met Christus verenig was nie.GS 534.2

    Weens die verwaarlosing of verwerping van die goddelike wet bestaan daar dwaalbegrippe oor heiligmaking in die godsdienstige bewegings van vandag. Wat die leer betref is hierdie teorieë vals, en dit het gevaarlike gevolge; en die feit dat hulle so algemeen aangeneem word, maak dit des te meer noodsaaklik dat almal ‘n helder begrip moet hê van wat die Skrifte in hierdie verband leer.GS 534.3

    Ware heiligmaking is ‘n Bybelse leerstelling. In sy brief aan die Thessalonicense skryf die apostel Paulus, “Dit is die wil van God — julle heiligmaking.” En toe het hy gebid, “Mag Hy, die God van vrede, julle volkome heilig maak.” 1 Thess. 4: 3; 5: 23. Die Bybel leer duidelik wat heiligmaking is en hoe dit verkry word. Vir Sy dissipels het die Heiland gebid, “Heilig hulle in U waarheid; U woord is die waarheid.” Joh. 17: 17. Paulus het geleer dat gelowiges geheilig word “deur die Heilige Gees.” Rom. 15: 16. Wat is die werk van die Heilige Gees? Jesus het aan Sy dissipels gesê, “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, Hy sal julle in die hele waarheid lei.” Joh. 16: 13. En die Psalmis sê, “U wet is die waarheid.” Die groot beginsels van geregtigheid soos in Sy wet vervat, word deur die woord en die Gees van God geopenbaar aan die mens. Aangesien die wet van God “heilig en regverdig en goed is”—‘n afskrif van die goddelike volmaaktheid — volg dit dat ‘n karakter wat gevorm word in gehoorsaamheid aan daardie wet, heilig sal wees. In Christus het ons ‘n volmaakte voorbeeld van so ‘n karakter. Hy het gesê: “Ek [het] die gebooie van My Vader bewaar.” “Ek doen altyd wat Hom welgevallig is.” Joh. 15: 10; 8: 29. Die navolgers van Christus moet soos Hy word; deur die genade van God moet hulle karakters vorm wat in ooreenstemming is met die beginsels van Sy heilige wet. Dit is Bybelse heiligmaking.GS 534.4

    Heiligmaking kan verkry word alleen deur geloof in Christus en deur die krag van die inwonende Gees van God. Paulus vermaan die gelowiges as volg: “Werk julle eie verlossing uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae.” Filip. 2: 12, 13. Die Christen sal sondige neigings in hom voel, maar hy moet steeds daarteen veg. Dit is hier waar Christus se hulp nodig is. Menslike swakheid word verenig met goddelike krag, en die geloof roep uit, “Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.” 1 Kor. 15: 57.GS 535.1

    Die Skrifte leer duidelik dat die werk van heiligmaking progressief is. Wanneer die sondaar deur die versoenende bloed vrede by God vind, dan eers begin die Christelike lewe. Nou moet die Christen voortgaan tot volmaaktheid. Hy moet opwas tot ‘n volwasse man en “die mate van die voile grootte van Christus.” Paulus sê, “Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te kry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” Filip. 3: 13, 14. En Petrus stel aan ons die stappe voor waardeur Bybelse heiligmaking verkry word: “Daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde, . . . want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.” 2 Petrus 1: 5-10.GS 535.2

    Diegene wat Bybelse heiligmaking ondergaan het, sal ‘n nederige gees openbaar. Net soos Moses, het hulle ‘n blik gekry op die ontsagwekkende majesteit van heiligheid, en in teenstelling met die reinheid en volmaaktheid van die Ewige God sien hulle hulle eie onwaardigheid.GS 536.1

    In die profeet Daniel het ons ‘n voorbeeld van ware heiligmaking. Sy lang lewe was ‘n lewe van edele diens vir sy Meester. Hy word ‘n “geliefde man” genoem. (Dan. 10: 11.) En nogtans het hierdie geëerde profeet, in stede van aanspraak te maak op reinheid en heiligheid, hom vereenselwig met sondige Israel, en hy het as volg voor God vir sy volk gepleit: “Want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor U aangesig nie, maar op grond van U grote barmhartigheid. . . . Ons het gesondig, ons was goddeloos.” Hy het gepraat van “my sonde en die sonde van my volk Israel.” En toe die Seun van God later aan hom verskyn het om hom te onderrig, sê Daniel, “My gesonde kleur het aan my verander en verdwyn, en ek het geen krag oorgehou nie.” Dan. 9: 18, 15, 20; 10: 8.GS 536.2

    Toe Job die stem van God uit die sterk wind gehoor het, het hy uitgeroep, “Daarom verag ek myself en het berou in stof en as.” Job. 42: 6. Toe Jesaja die heerlikheid van God gesien en die gerubs gehoor sing het, “Heilig, heilig, heilig, is die Here van die leërskare,” het hy uitgeroep, “wee my, ek is verlore!” Jes. 6: 3, 5. Nadat Paulus in die derde hemel opgeneem is, en dinge gehoor het wat onmoontlik was vir ‘n mens om te spreek, beskou hy hom as “die geringste van al die heiliges.” Efe. 3: 8. Dit was die geliefde Johannes, die een wat op Jesus se bors geleun en Sy heerlikheid gesien het, wat soos ‘n dooie aan die voete van die engel neergeval het. (Openb. 1: 17.)GS 536.3

    By diegene wat in die skaduwee van die kruis van Golgota wandel, sal daar geen selfverheffing en geen aanspraak op sondeloosheid wees nie. Hulle voel dat dit hulle sonde was wat die lyding veroorsaak het wat die hart van die Seun van God gebreek het, en hierdie gedagte maak hulle ootmoedig. Diegene wat die naaste aan Jesus lewe, sien die swakheid en sondigheid van die mens die duidelikste, en hulle enigste hoop is op die verdienste van ‘n gekruisigde en verrese Heiland.GS 536.4

    Die heiligmaking wat vandag op die voorgrond tree in die godsdienstige wêreld openbaar ‘n gees van selfverheffing, en ‘n veronagsaming van die wet van God wat dit bestempel as iets vreemds wat die godsdiens van die Bybel betref. Die voorstanders daarvan leer dat heiligmaking in ‘n oomblik geskied, waardeur die mens, deur geloof alleen, volmaakte heiligheid bekom. “Glo net,” sê hulle, “en die seen is joue.” Hulle meen dat geen verdere pogings nodig is aan die kant van die ontvanger nie. Terselfdertyd loën hulle die gesag van die wet van God, en hulle beweer dat hulle vrygestel is van die verpligting om die gebooie te onderhou. Maar is dit moontlik vir die mens om heilig te wees en in ooreenstemming met die wil en karakter van God te leef, sonder om ook in ooreenstemming te lewe met die beginsels wat ‘n uitdrukking van Sy natuur en wil is, en wat openbaar wat welbehaaglik vir Hom is?GS 537.1

    Die begeerte vir ‘n maklike godsdiens, wat geen stryd, geen selfverloëning, en geen versaking van die dwaashede van die wêreld verg nie, het die leerstelling van geloof, en geloof alleen, ‘n populêre leerstelling gemaak; maar wat het die woord van God daaroor te sê? Die apostel Jakobus sê: “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het die werke nie? Die geloof kan hom tog nie red nie? . . . Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is? Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie? Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke? . . . Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie.” Jak. 2: 14-24.GS 537.2

    Die woord van God getuig teen hierdie gevaarlike leerstelling van geloof sonder werke. Om die guns van die hemel aan te neem sonder om die voorwaardes na te kom waarop die genade geskenk is, is nie geloof nie; dit is vermetelheid; want egte geloof is gegrondves op die beloftes en voorwaardes van die Skrifte.GS 537.3

    Laat niemand homself bedrieg met die geloof dat hy geheilig kan word terwyl hy moedswillig een van Gods gebooie oortree nie. Die vasklemming aan ‘n bekende sonde maak die stem van die Gees stil, en skei die siel af van God. “Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien nie en Hom nie geken nie.” 1 Joh. 3: 6. Hoewel Johannes in sy briewe so veel oor die liefde gesê het, aarsel hy nogtans nie om die ware karakter te openbaar nie van diegene wat aanspraak maak op heiligheid terwyl hulle Gods wet oortree. “Hy wat sê: Ek ken Hom — en Sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat Sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword.” 1 Joh. 2:4, 5. Hier het ons nou ‘n toets vir elke mens se godsdiens. Niemand kan heilig wees sonder om te voldoen aan Gods enigste maatstaf van heiligheid in hemel en op aarde. As mense nie die gewigtigheid van die sedewet besef nie, as hulle Gods gebooie verkleineer en veronagsaam, en hulle een van die minste van hierdie gebooie breek en mense so leer, sal hulle in die hemel nie geag word nie. En ons kan verseker wees dat hulle aansprake sonder fondament is.GS 538.1

    Die aanspraak op sondeloosheid is op sigself bewys dat die persoon wat dit maak baie ver van heiligheid is. So ‘n aanspraak word gemaak omdat hulle geen besef het van die oneindige reinheid en heiligheid van God nie, of van wat diegene moet word wat in ooreenstemming met Sy karakter lewe nie; omdat hulle nie ‘n ware begrip van die reinheid en verhewe heerlikheid van Jesus het nie, en van die afskuwelikheid van die sonde nie, beskou hulle hulleself heilig. Hoe verder hulle verwyderd is van Christus, en hoe minder hulle die goddelike karakter en vereistes besef, hoe heiliger sal hulle in hulle eie oë wees.GS 538.2

    Die heiligheid wat in die Skrifte geopenbaar word, sluit die hele persoon in, naamlik liggaam, siel en gees. Paulus het vir die Thessalonicense gebid, “Mag julle gees en siel en liggaam geheelenal onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus.” 1 Thess. 5: 23. En nogeens het hy aan die gelowiges geskryf, “Ek vermaan julle dan, broeders, deur die ontferminge van God, dat julle julle liggame stel as ‘n lewendige, heilige en aan God welgevallige offer.” Rom. 12: 1. In die dae van Israel vanouds, was elke offerande aan God eers deeglik ondersoek. As daar enige gebrek aan die offerdier was, is dit verwerp; want God het beveel dat die offerandes sonder gebrek moes wees. Daarom ook word Christene beveel om hulle liggame te stel as “‘n lewendige, heilige, en aan God welgevallige offer.” Om dit te kan doen, moet al hulle vermoëns in die beste moontlike toestand bewaar word. Elke gewoonte wat nadelig is vir die liggaam of verstand maak ‘n mens ongeskik vir die diens van sy Skepper. En sal God tevrede wees met minder as die beste wat ons kan gee? Christus het gesê, “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart.” Diegene wat God wel liefhet met hulle hele hart sal begerig wees om die beste van hulle lewe aan Hom te gee, en hulle sal steeds trag om al hulle vermoëns in ooreenstemming te bring met die wette wat hulle beter in staat sal stel om Sy wil te doen. Hulle sal nie, deur die botviering van hulle aptyt of drifte die offerande besoedel wat hulle aan hulle hemelse Vader bring nie.GS 538.3

    Petrus sê, “Onthou julle van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel.” 1 Petrus 2:11. Elke sonde waaraan daar toegegee word, benewel die verstand en verdof die geestelike waarnemingsvermoëns sodat die Woord of die Gees van God nie ‘n groot indruk op die hart kan maak nie. Aan die Korinthiërs het Paulus geskryf, “Laat ons van alle besoedeling van die vlees en die gees ons reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” 2 Kor. 7: 1. By die vrug van die Heilige Gees —“liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid”— het hy ook selfbeheersing gevoeg. (Gal. 5: 22, 23.)GS 539.1

    Hoeveel Christene is daar nie wat nieteenstaande hierdie verklarings van die Skrif hulle kragte verswak deur die najaging van wins en die aanbidding van die mode nie; hoeveel is daar nie wat hulle goddelike manlikheid verlaag deur vraatsugtigheid, wynsuipery, en ongeoorloofde plesier nie. En die kerk, pleks om hierdie dinge te bestraf, moedig dit maar te dikwels aan deur ‘n beroep te doen op die aptyt, en ‘n begeerte te skep vir wins en plesier ten einde sy skatkis te vul—dinge wat ontbreek weens ‘n gebrek aan liefde vir Christus. As Jesus vandag die kerke kon besoek en die etery en onheilige handel kon sien wat daar in die naam van die godsdiens geskied, sou Hy ook nie hierdie onheiliges uitjaag soos Hy die geldwisselaars uit die tempel gejaag het nie?GS 539.2

    Die apostel Jakobus verklaar dat die wysheid van omhoog in die eerste plek rein is. Maar as die apostel in aanraking kon kom met diegene wat die dierbare naam van Jesus uitspreek met lippe wat deur tabak besoedel is, en wie se asem en liggaam besoedel is deur die verpestelike reuk, en wat die lug besoedel en almal rondom hulle verplig om die gif in te asem—as hy met ‘n gewoonte in aanraking gekom het wat so bots met die reinheid van die evangelie, sou hy dit nie veroordeel het as “aards, vleeslik, en duiwels nie?” Slawe van tabak, aanspraakmakende op algehele heiligmaking, praat van hulle hoop op die hemel; maar Gods woord leer duidelik dat daar in die hemel “nie sal inkom iets wat verontheilig” nie. (Openb. 21: 27.)GS 540.1

    “\Veet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” 1 Kor. 6: 19, 20. Diegene wie se liggaam die tempel van die Heilige Gees is, sal nie ‘n slaaf wees van hierdie vuil gewoonte nie. Sy vermoëns behoort aan Christus, wat hom met Sy bloed gekoop het. Sy besittings behoort aan die Here. Hoe kan hy sonder skuld wees as hy die kapitaal wat aan hom gegee is, verkwis? Sogenaamde Christene verkwis jaarliks reusesomme aan nuttelose en skadelike gewoontes, terwyl siele vergaan weens gebrek aan die woord van die lewe. God word beroof van tiendes en offergawes, terwyl hulle meer op die altaar van wellus verbrand as wat hulle gee om die armes te help of die evangelie te ondersteun. As almal wat voorgee om navolgers van Christus te wees waarlik geheilig was, sou hulle middele, in stede dat hulle dit verkwis op nuttelose en skadelike gewoontes, in die Here se skatkis gestort word, en Christene sou ‘n voorbeeld wees in matigheid, selfverloëning, en selfopoffering. Dan sou hulle inderwaarheid die lig van die wêreld wees.GS 540.2

    Die wêreld is oorgegee aan selfbevrediging. “Die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe,” beheers die volksmassas. Maar Christus se navolgers het ‘n heiliger roeping. “Gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie.” Op grond van Gods woord is ons geregtig om te verklaar dat ‘n heiligmaking wat nie hierdie versaking van sondige gebruike en begeertes as gevolg het nie, nie eg is nie.GS 540.3

    Aan diegene wat voldoen aan die voorwaardes, “gaan onder hulle uit en sonder julle af . . . en raak nie aan wat onrein is,” is die belofte van God, “Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir my seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.” 2 Kor. 6: 17, 18. Dit is die voorreg asook die plig van elke Christen om ‘n ryke en voile ondervinding te hê in die dinge van God. “Ek is die lig van die wêreld,” het Jesus gesê. “Wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” Joh. 8: 12. “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die moreglans, wat al helderder word tot die voile middag toe.” Spreuke 4: 18. Elke stap van geloof en gehoorsaamheid bring die siel nader aan die Lig van die wêreld, in wie daar geen duisternis is nie. Die helder strale van die Son van Geregtigheid skyn op die diensknegte van God, en hulle moet Sy ligstrale weerkaats. Soos ons van die sterre leer dat daar ‘n groot lig in die hemel is deur wie se heerlikheid hulle verlig is, so moet Christene dit ook openbaar maak dat daar ‘n God op die troon van die heelal is wie se karakter lof en navolging waardig is. Die deugde van Sy Gees, die reinheid en heiligheid van Sy karakter, sal in Sy getuies geopenbaar word.GS 541.1

    In sy brief aan die Kolossense beskryf Paulus die heerlike seëninge wat aan die kinders van God gegee word. Hy sê: “Ons [hou] ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van Sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardig die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei, en met alle krag bekragtig word volgens die mag van Sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap.” Kol. 1:9-11.GS 541.2

    En dan weer skryf hy aan die broeders op Efese dat hulle die Christen se voorreg ten voile mag besef. Hy beskryf aan hulle in die duidelikste taal die wonderbaarlike krag en kennis wat hulle kan hê as seuns en dogters van die Allerhoogste. Hy sê dat God “Aan julle mag gee . . . om met krag versterk te word deur Sy gees in die innerlike mens,” om in “die liefde gewortel en gegrond” te wees, sodat hulle “in staat kan wees om saam met al die heiliges ten voile te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref.” Efe. 3: 16-19. Maar die gebed van die apostel bereik sy hoogtepunt waar hy bid dat Julle vervul kan word tot al die volheid van God.”GS 542.1

    Hier word die hoogtes beskryf wat ons kan bereik deur geloof in die beloftes van ons hemelse Vader as ons aan Sy vereistes voldoen. Deur die verdienstes van Christus het ons toegang tot die troon van Oneindige Mag. “Hy wat selfs Sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy ook nie saam met Hom ons alles genadiglik skenk nie?” Rom. 8: 32. Die Vader het Sy Gees sonder mate aan Sy Seun gegee, en ons kan ook deel in daardie volheid. Jesus sê: “As julle wat sleg is dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel temeer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid” nie? “As julle iets in My naam vra, sal Ek dit doen.” “Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” Lukas 11: 13; Joh. 14: 14; 16: 24.GS 542.2

    Hoewel die Christen se lewe deur nederigheid gekermerk sal wees, moet dit nie treurig en selfveragtend wees nie. Dit is die voorreg van elkeen om so te lewe dat God hom sal aanneem en seen. Dit is nie die wil van ons hemelse Vader dat ons onder die veroordeling van duisternis sal lewe nie. Dit is nie ‘n bewys van ware nederigheid as mens met hangende hoof en met die blik na binne gerig rond stap nie. Ons kan na Jesus gaan om reiniging, en voor die wet onbeskaamd en sonder verwyt staan. “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die gees.” Rom. 8: 1.GS 542.3

    Deur Jesus kan die gevalle seuns van Adam seuns van God word “want Hy wat heilig maak sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie, om hulle broeders te noem nie.” Heb. 2:11. Die Christelike lewe moet ‘n lewe van geloof, oorwinning, en vreugde in God wees. “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.” 1 Joh. 5: 4. Tereg het Gods dienskneg Nehemia. gesê, “Want die blydskap in die Here — dit is julle beskutting.” Neh. 8: 11. En Paulus sê: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal; Verbly julle!” Filip. 4: 4. “Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” 1 Thess. 5: 16-18.GS 542.4

    So lyk die vrugte van Bybelse bekering en heiligmaking; en dit is omdat die groot beginsels van geregtigheid, vervat in die wet van God, so veronagsaam word deur die Christelike wêreld dat hierdie vrugte so selde gesien word. Dit is om hierdie rede dat daar so min gesien word van die diepgaande, blywende werk van die Gees van God wat die opwekkings in vorige tye gekenmerk het.GS 543.1

    Dit is deur aanskouing dat ons verander word. En namate daardie heilige voorskrifte waarin God die volmaaktheid en heiligheid van Sy karakter geopenbaar het, verwaarloos word, en die hart van die volk uitgaan tot menslike leerstellings en teorieë, is dit geen wonder dat dit ‘n afname van vroomheid in die kerk veroorsaak het nie. Die Here het gesê, “My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.” Jer. 2: 13.GS 543.2

    “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose . . . maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag. En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verdroog nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.” Ps. 1: 1-3. Dit is alleen namate die wet van God herstel word tot sy regmatige plek dat daar ‘n herlewing sal wees van die outydse geloof en godsvrug onder Sy volk. “So spreek die Here: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel.” Jer. 6: 16.GS 543.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents