Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Groot Stryd

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "undefined".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 10—Vooruitgang van die Hervorming in Duitsland

    DIE geheimsinnige verdwyning van Luther het deur die hele Duitsland ontsteltenis veroorsaak. Orals is daar aangaande hom navraag gedoen. Die ontsettendste gerugte was in omloop, en baie het geglo dat hy vermoor is. Daar was groot geweeklaag, nie alleen van die kant van sy vriende nie, maar ook deur duisende wat nie openlik vir die Hervorming uitgestaan het nie. Vele het hulle deur ‘n plegtige eed verbind om sy dood te wreek.GS 211.1

    Met vrees het die Roomse leiers aanskou hoe hoog die gevoelens onder hulle geloop het. Hoewel hulle aan die begin juigend was oor die vermoede dood van Luther, het hulle spoedig begeer om skuiling te soek van die woede van die volk. Sy moedige dade terwyl hy nog onder hulle was, het sy vyande nie so ontstel as wat sy verwydering nou gedoen het nie. Diegene wat in hulle woede getrag het om die onverskrokke Hervormer te vernietig, was nou, nadat hy ‘n hulpelose gevangene geword het, met vrees vervul. “Die enigste manier om onsself te red,” het een gesê, “is om fakkels aan te steek en die hele wêreld te deursoek vir Luther, sodat ons hom aan die volk wat om hom roep, kan teruggee.”— D’Aubigne, boek IX, hoojstuk 1. Dit het ge-skyn of die edik van die keiser kragteloos was. Die pouslike legate was met verontwaardiging vervul toe hulle sien dat dit minder aandag geniet het as die lot van Luther.GS 211.2

    Die tyding dat hy veilig was, hoewel ‘n gevangene, het die gemoedere van die volk tot bedaring gebring, terwyl dit hulle ywer vir hom nog groter gemaak het. Sy geskrifte is met groter gretigheid gelees as ooit tevore. Toenemende getalle het hulle vereenselwig met die saak van hierdie dapper man, wat in so ‘n ongelyke stryd die woord van God verdedig het. Die Hervorming het steeds in krag toegeneem. Die saad wat Luther gesaai het, het orals ontkiem. Sy afwesigheid het ‘n werk verrig wat sy teenwoordigheid nie kon doen nie. Ander werkers het ‘n nuwe verantwoordelikheidsbesef gekry noudat hulle groot leier uit die weg geruim is. Met nuwe geloof en ywer het hulle voortgegaan om alles in hulle mag te doen, sodat die werk so goed begin, nie verhinder mag word nie.GS 212.1

    Maar Satan het nie stilgesit nie. Hy het nou probeer wat hy nog altyd in alle hervormingsbewegings probeer het, naamlik om die volk te mislei en te vernietig deur die valse, pleks van die egte, aan hulle af te smeer. Net soos daar valse christusse was in die eerste eeu van die kerk, het daar valse profete in die sestiende eeu opgestaan.GS 212.2

    ‘n Paar manne, aangetas deur die opwinding in die godsdienstige wêreld, het hulle verbeel dat hulle spesiale openbarings van die hemel ontvang het, en hulle het daarop aanspraak gemaak dat hulle goddelike opdrag gekry het om die Hervorming te voltooi, wat, soos hulle gesê het, so swak begin is deur Luther. Inderwaarheid het hulle juis die werk afgebreek wat hy gedoen het. Hulle het die groot beginsel verwerp wat ten grondslag gelê het van die Hervorming, naamlik dat die woord van God die enigste maatstaf van die geloof en lewe is; en in die plek van daardie betroubare gids het hulle die veranderlike, onsekere standaard van hulle eie gevoelens en indrukke gestel. Deur dus die groot openbaarder van dwaalleer en valsheid tersyde te stel, is die weg vir Satan geopen om die verstand van mense te beheers soos dit horn mag behaag.GS 212.3

    Een van die profete het daarop aanspraak gemaak dat hy deur die engel Gabriel onderrig is. ‘n Student wat sy studies opgegee en by horn aangesluit het, het verklaar dat hy van God Self wysheid ontvang het om Sy woord te verklaar. Ander wat van nature geneig was tot fanatisme, het by hulle aangesluit. Die handelinge van hierdie dwepers het groot opgewondenheid veroorsaak. Die prediking van Luther het baie mense opgewek om die nodigheid van ‘n hervorming in te sien, en nou is selfs eerlike persone mislei deur die valse bewerings van die nuwe profete.GS 213.1

    Die leiers van die beweging het na Wittenberg gegaan met die doel om Melanchthon en sy medewerkers te oortuig. Hulle het gesê: “Ons is deur God gestuur om die volk te onderrig. Ons het ‘n persoonlike onderhoud met die Here gehad; ons weet wat sal gebeur; in kort, ons is apostels en profete en ons beroep ons op Doktor Luther.”— D’Aubigne, boek IX, hoojstuk 7.GS 213.2

    Die Hervormers was verbaas en verbysterd. Dit was iets wat hulle nog nooit voorheen teëgekom het nie, en hulle het nie geweet watter weg om in te slaan nie. Melanchthon het gesê: “Daar is voorwaar buitengewone geeste in hierdie manne; maar watter geeste? . . . Aan die een kant moet ons oppas dat ons nie die Gees van God uitblus nie, en aan die anderkant dat ons nie verlei word deur die gees van Satan nie.”—Ibid.GS 214.1

    Die vrugte van hierdie nuwe leer was gou sigbaar. Die mense is gelei om die Bybel te verwaarloos en dit heeltemal tersyde te stel. Die skole is in verwarring gebring. Studente het alle bande verbreek, hulle studies opgegee, en die universiteit verlaat. Die manne wat gemeen het dat hulle bekwaam was om die werk van die Hervorming te beheers en te laat herlewe, het dit op die randjie van mislukking gebring. Die pousgesindes het weer hulle vertroue herwin, en verheug het hulle uitgeroep, “net een laaste poging en ons het die oorwinning.”— Ibid.GS 214.2

    Toe Luther in Wartburg hoor wat gebeur het, het hy verontrus gesê, “ek het altyd verwag dat Satan ons hierdie plaag sou stuur.”— D’Aubigne; boek IX, hoojstuk 7.Hy het die ware karakter van hierdie gewaande profete ingesien, asook die gevaar wat die waarheid bedreig het. Die teenstand van die Pous en die keiser het hom nie so ontstel as wat hy nou was nie. Onder die sogenaamde vriende van die Hervormer het die grootste vyande nou verrys. Juis die waarhede wat aan hom sulke groot vreugde gebring het, is nou gebruik om stryd en verwarring in die kerk te veroorsaak.GS 214.3

    In die hervormingswerk is Luther deur die Gees van God aangedryf en verder gevoer as wat hy self gemeen het om te gaan. Hy het nie vooraf besluit om die stellings in te neem wat hy nou ingeneem het nie, of om sulke verreikende veranderings te maak nie. Hy was slegs die werktuig in die hand van Ewige Mag. Maar nogtans het hy dikwels gesidder vir die gevolge van sy werk. Eenmaal het hy gesê, “as ek weet dat my leer een man, slegs een man, hoe nederig of onbekend seergemaak het — iets wat dit nie kan doen nie, want dit is die evangelie self — sou ek liewer tienmaal sterf as om dit nie te herroep nie.”— D’Aubigne, boek IX, hoojstuk 7.GS 214.4

    Selfs Wittenberg, die middelpunt van die Hervorming, het nou vinnig in die mag van fanatisme en wetteloosheid verval. Hierdie haglike toestand is nie veroorsaak deur die leer van Luther nie; maar deur die hele Duitsland het sy vyande die skuld op hom gepak. In bitterheid het hy soms gevra, “kan dit dan die einde van hierdie groot hervormingswerk wees.”—Ibid. Maar dan weer, nadat hy met God in die gebed geworstel het, het daar weer vrede in sy hart gekom. “Hierdie werk is nie myne nie, maar U werk,” het hy gebid; “U sal nie toelaat dat dit bederf word deur bygeloof of fanatisme nie.” Maar die gedagte om nog langer afsydig te bly in die stryd van hierdie krisis, was ondraaglik. Hy het besluit om na Wittenberg terug te keer.GS 215.1

    Sonder verwyl het hy die gevaarlike reis onderneem. Hy was nog onder die ryksban. Vyande kon hom die lewe ontneem; vriende is verbied om hom te help of te herberg. Die keiserlike regering het die sterkste maatreëls getref teen sy aanhangers. Maar hy het gesien dat die werk van die evangelie in gevaar was, en in die naam van die Here het hy onverskrokke die stryd vir die waarheid aangeknoop.GS 215.2

    In ‘n brief aan die keurvors, nadat hy die doel van sy vertrek uit Wartburg verduidelik het, het Luther geskryf: “Laat dit aan u hoogheid bekend wees dat ek na Wittenberg gaan onder beskerming van Iemand ver hoër as prinse en keurvorste. Dit is nie my plan om die ondersteuning van u hoogheid te vra nie, en ook nie u beskerming nie. Ek sou u liewer beskerm. As ek sou weet dat u hoogheid my kon of wou beskerm, sou ek nie na Wittenberg gaan nie. Daar is geen swaard wat hierdie saak kan bevorder nie. God alleen moet alles doen, sonder die hulp of goedkeuring van mense. Hy wat die grootste geloof het, is die een wat beste in staat is om te beskerm.”—D’Aubigne, boek IX, hoojstuk 8.GS 215.3

    In ‘n tweede brief het Luther geskryf: “Ek is bereid om my die mishae van u hoogheid en die toorn van die hele wêreld op die hals te haal. Is die Wittenbergers nie my skape nie? Het God hulle nie aan my sorg toevertrou nie? En is dit nie my plig om my selfs aan die dood bloot te stel vir hulle ontwil nie? En wat meer is, vrees ek dat om ‘n groot oproer in Duitsland te sien waardeur God ons volk sal straf.”—D’Aubigne, boek IX, hoojstuk 7.GS 215.4

    Met groot versigtigheid en nederigheid, maar ook met vasberadenheid, het hy sy werk aanvaar. “Deur die Woord,” het hy gesê, “moet ons omver werp en vernietig wat deur geweld tot stand gebring is. Ek sal nie geweld gebruik teen die bygelowiges en ongelowiges nie. . . . Niemand moet gedwing word nie. Vryheid is die essensie van geloof.”—D’Aubigne, boek IX, hoojstuk 8. GS 216.1

    Dit het spoedig in Wittenberg rugbaar geword dat Luther teruggekom het en dat hy sou preek. Uit alle rigtings het die mense toegestroom, en die kerk was tot oorlopenstoe vol. Hy het die kansel bestyg, en met groot wysheid en sagmoedigheid die mense geleer, vermaan, en bestraf. Aangaande sommige wat geweld gebruik het by die afskaffmg van die mis, het hy gesê:GS 216.2

    “Die mis is ‘n slegte ding; God is daarteen; dit moet afgeskaf word; en ek wens dat dit deur die hele wêreld vervang kon word deur die Avondmaal van die evangelie. Maar laat niemand deur geweld daarvan losgeskeur word nie. Ons moet die saak in Gods hande laat. Sy woord moet handel en nie ons nie. En waarom vra u: omdat ek nie die harte van mense in my hand het soos die pottebakker die klei nie. Ons het ‘n reg om te praat; maar ons het nie die reg om handelend op te tree nie. Laat ons preek, maar die res aan God oorlaat. Wat sou ek win as ek gew’eld sou gebruik? Grynsing, formaliteit, naäpery, menslike verordeninge, en huigelary. . . . Maar daar sou geen opregtheid van hart of liefde of geloof wees nie. Waar hierdie drie dinge ontbreek, ontbreek alles, en dit sou nie ‘n pennie werd wees nie. . . . God kan meer deur Sy woord alleen doen as u en ek en die hele wêreld deur ons gesamentlike mag. God lê beslag op die hart; en wanneer die hart gewin is, is alles gewin. . . .GS 216.3

    “Ek sal preek, bespreek, en skryf; maar ek sal niemand dwing nie, want geloof is ‘n vrywillige iets. Kyk wat ek gedoen het. Ek het my verset teen die Pous, aflate, en pousgesindes, maar sonder geweld of oproer. Ek het Gods woord voorgehou; ek het gespreek en geskryf — dit is al wat ek gedoen het. En tog. terwyl ek geslaap het, . . . het die woord wat ek verkondig het, die pouslike mag omvergewerp, en prins en keiser kon dit nie soveel skade berokken het nie. As ek my toevlug tot geweld geneem het, sou die hele Duitsland miskien ‘n bloedbad geword het. Maar wat sou die gevolge gewees het? Verderf en verwoesting van beide liggaam en siel. Daarom het ek stilgesit, en die Woord alleen deur die wêreld laat gaan.”— D’Aubigne, boek IX, hoojstuk 8.GS 216.4

    Elke dag, vir ‘n hele week, het Luther vir gretige skares gepreek. Die Woord van God het die towerkrag van fanatieke opwinding verbreek. Die krag van die evangelie het die misleide volk weer in die pad van waarheid gebring.GS 217.1

    Luther het geen begeerte gehad om in botsing te kom met die fanatieke wat soveel onheil veroorsaak het nie. Hy het geweet dat hulle manne was van onrype oordeel en onbeteuelde drifte wat, terwyl hulle op spesiale lig uit die hemel aanspraak gemaak het, nie die minste teëspreking, of die beste raad sou gedoog nie. Op verwaande wyse aanspraakmakende op oppergesag, het hulle van almal verwag om sonder enige vrae hulle aansprake te erken. Maar daar hulle ‘n onderhoud met hom verlang het, het hy ingestem om hulle te ontmoet; en so gou het hy daarin geslaag om hulle aanmatigings aan die kaak te stel, dat die bedrieërs Wittenberg onmiddellik verlaat het.GS 217.2

    Die fanatisme is vir ‘n tyd aan bande gelê; maar etlike jare later het dit weer uitgebreek met groter woede en onsettender gevolge. Aangaande die leiers van hierdie beweging het Luther gesê: “Vir hulle is die Heilige Skrifte ‘n dooie letter, en hulle skree almal, ,Die Gees! die Gees!’ Maar sowaar, ek sal nie volg waar hulle gees lei nie. Mag God my in Sy genade behoed van ‘n kerk wat net uit heiliges bestaan. Ek woon graag onder die nederiges, die swakkes, en siekes, wat hulle sondes ken en voel, en wat gedurig sug en uit die diepte van hulle harte tot God roep om Sy vertroosting en ondersteuning.”— D’Aubigne, boek X, hoojstuk 10.GS 217.3

    Thomas Münzer, die bedrywigste van die fanatieke, was ‘n man van heelwat bekwaamheid, wat, onder regte leiding, tot baie goed in staat sou gewees het; maar hy het nie eens die eerste beginsels van ware godsdiens geken nie. “Hy was besiel met ‘n begeerte om die hele wêreld te hervorm, maar soos alle dwepers “het hy vergeet dat die hervorming by homself moes begin.”— D’Aubigne, boek IX, hoojstuk 8.Hy het gestrewe na posisie en invloed, en wou selfs nie onder Luther staan nie. Hy het verklaar dat die Hervormers, deur die gesag van die Skrifte in die plek te stel van die van die Pous, slegs ‘n ander soort pousdom in die lewe geroep het. Hy, het hy gesê, het goddelike opdrag ontvang om die ware hervorming te begin. “Hy wat die gees het,” het Múnzer gesê, “het die ware geloof, al sou hy nooit die Skrifte in sy lewe sien nie.”— D’Aubigne, boek X, hoojstuk 10.GS 217.4

    Die fanatieke leraars het toegelaat dat hulle deur indrukke beheers word, en hulle het elke gedagte en gemoedsdrang as die stem van God geneem; die gevolg was dat hulle tot uiterstes oorgegaan het. Sommige van hulle het selfs hulle Bybel verbrand en uitgeroep: “Die letter maak dood maar die Gees maak lewendig.” Miinzer se leer het die menslike begeerte vir die buitengewone, bevredig, asook hulle hoogmoedsgevoel, deur menslike idees en sienswyses feitelik bokant die woord van God te stel. Sy leer is deur duisende aangeneem. Baie gou het hy alle orde in die openbare godsdiens veroordeel, en hy het verklaar dat gehoorsaamheid aan prinse ‘n poging was om God en Belial tegelyk te dien.GS 218.1

    Die gemoedere van die volk, wat reeds begin het om die pouslike juk af te werp, het ook ongeduldig begin word onder die beperkings wat deur die burgerlike owerheid opgelê is. Miinzer se rewolusionêre leerstellings, wat op goddelike gesag aanspraak gemaak het, het hulle daartoe gebring om hulle van alle gesag los te skeur, en die vrye teuels te gee aan hulle vooroordele en drifte. Die vreeslikste tonele van sedisie en opstand het gevolg, en die velde van Duitsland was in bloed gedrenk.GS 218.2

    Die sielsangs wat Luther so lank tevore te Erfurt ondervind het, het nou met verdubbelde mag op hom gedruk waar hy die resultate gesien het van die fanatisme wat nou aan die Hervorming tuisgebring is. Die pouslike prinse het verklaar — en baie was gereed om dit te glo — dat die opstand die werklike vrugte van Luther se leerstellings was. Alhoewel hierdie beskuldiging nie die minste grond gehad het nie, het dit die Hervormer nogtans groot verdriet veroorsaak. Dat die saak van die waarheid so beklad kon word dat dit op gelyke voet gestel is met die laagste soort fanatisme, was meer as wat hy kon verduur. Aan die anderkant weer, het die leiers van die opstand Luther gehaat omdat hy nie alleen hulle leer bestry en hulle aanspraak op goddelike ingewing geloën het nie, maar omdat hy hulle bestempel het as rebelle teen die burgerlike gesag. In weerwraak het hulle hom veroordeel as ‘n lae bedrieër. Dit het geskyn asof hy die vyandigheid van beide prinse en die volk op sy hals gehaal het.GS 218.3

    Die Roomsgesindes het gejuig en verwag om die spoedige val van die Hervorming te sien; en hulle het Luther geblameer, selfs vir die dwalings wat hy so ywerig getrag het om te verbeter. Die fanatieke party, deur valslik te verklaar dat hulle met groot onreg behandel is, het daarin geslaag om die medelyde van ‘n groot gedeelte van die volk te win, en, soos dit dikwels gaan met diegene wat aan die verkeerde kant staan, is hulle beskou as martelaars. Op hierdie wyse is diegene wat met alle mag die Hervorming weerstaan het, bejammer en geprys as die slagoffers van wreedheid en verdrukking. Dit was die werk van Satan, ingegee deur dieselfde gees van opstand wat in die begin in die hemel geopenbaar is.GS 219.1

    Satan trag steeds om mense te bedrieg, en om hulle daartoe te bring om sonde geregtigheid te noem, en geregtigheid sonde. Hoe suksesvol was sy werk nie! Hoe dikwels word Gods getroue diensknegte berispe en verwyt omdat hulle onverskrokke die waarheid verdedig! Diegene wat werktuie van Satan is, word geprys en gevlei en selfs as martelaars beskou terwyl diegene wat gerespekteer en bygestaan moet word weens hulle getrouheid aan God, dikwels alleen moet staan en met agterdog bejeën word.GS 221.1

    Valse heiligheid, onegte heiligmaking, gaan vandag nog voort met hierdie werk van bedrog. In verskillende vorms openbaar dit dieselfde gees as in die tyd van Luther; dit trek die aandag van mense af van die Skrifte, en bring hulle daartoe om hulle eie gevoelens en indrukke na te volg liewer as om Gods wet te gehoorsaam. Dit is een van Satan se suksesvolste planne om reinheid en waarheid in verdinking te bring.GS 221.2

    Onverskrokke het Luther die evangelie beskerm teen die aanslae wat van alle kante gekom het. Die woord van God het homself bewys as ‘n wapen wat magtig is in die stryd. Met daardie woord het hy die stryd gevoer teen die gesag wat die Pous homself valslik aangematig het, teen die rasionalistiese filosofie van die geleerdes, terwyl hy ook rotsvas gestaan het teen die fanatisme wat getrag het om aan te sluit by die Hervorming.GS 221.3

    Elkeen van hierdie teenstrydige elemente het op sy eie manier probeer om die Heilige Skrifte tersyde te stel, en menslike wysheid as die bron van godsdienstige waarheid en kennis te verhef. Rasionalisme verafgood die rede en maak daarvan die maatstaf van die godsdiens. Romanisme, wat daarop aanspraak maak dat sy opperpriester ‘n ingewing besit wat in ‘n onafgebroke lyn van die apostels kom, wat altyd onveranderlik is, bied alle geleentheid vir alle soorte buitensporigheid en bederf wat onder die dekmantel van die heiligheid van die apostoliese opdrag skuil. Die ingewing waarop Miinzer en sy aanhangers aanspraak gemaak het, het voortgevloei uit geen hoër bron as die grille van die verbeelding nie, en die invloed daarvan het alle gesag, menslik of goddelik, verwerp. Ware Christelike godsdiens neem die woord van God aan as die groot skatkamer van ingegewe waarheid en as die toets van alle ingewing.GS 221.4

    Na sy terugkoms van Wartburg het Luther sy vertaling van die Nuwe Testament voltooi, en kort daarna is die evangelie aan die Duitse volk gegee in hulle eie taal. Die vertaling is met groot blydskap ontvang deur almal wat die waarheid liefgehad het, maar dit is met veragting verwerp deur diegene wat menslike tradisies en menslike gebooie verkies het.GS 222.1

    Die priesters was ontsteld deur die gedagte dat die gewone mense nou in staat sou wees om die woord van God met hulle te bespreek, en dat hulle eie onkunde aan die kaak gestel sou word. Die wapens van hulle vleeslike redenering was magteloos teen die swaard van die Gees. Rome het gebruik gemaak van al sy gesag om die verspreiding van die Skrifte te belet; maar dekrete, vervloekings en martelings -— alles was tevergeefs. Hoe meer Rome die Bybel veroordeel en belet het, hoe groter was die begeerte van die volk om te weet wat dit werklik geleer het. Almal wat kon lees was gretig om die woord van God self te ondersoek. Hulle het dit met hulle saamgedra, gelees en herlees, en hulle was nie tevrede voordat hulle groot gedeeltes van die Skrif uit hulle hoof geken het nie. Toe Luther sien hoe gunstig die Nuwe Testament ontvang is, het hy dadelik begin met ‘n vertaling van die Ou Testament, en dele daarvan is uitge-gee sodra hulle voltooi was.GS 222.2

    In die stede en in die dorpies is Luther se geskrifte ewe-eens verwelkom. “Wat Luther en sy vriende geskryf het, is deur ander versprei. Monnike, oortuig van die onwettigheid van kloosterverpligtings en begerig om ‘n lang lewe van ledigheid te vervang deur ‘n aktiewe lewe, maar wat te ongeleerd was om die woord te verkondig, het die provinsies deurreis, dorpies en wonings besoek waar hulle die boeke van Luther en sy vriende verkoop het. Baie gou het Duitsland gewemel van hierdie stoutmoedige kolporteurs.”— D’Aubigne, boek IX, hoojstuk 11.GS 222.3

    Hierdie geskrifte is met groot belangstelling gelees deur beide rykes en armes, geleerdes en onkundiges. Saans het die onderwysers van die dorpskole hardop daaruit voorgelees vir die groepies by die kaggelvuur. Met elke poging is siele oortuig van die waarheid, en, die word met blydskap ontvangende, het hulle weer op hulle beurt die goeie nuus aan ander vertel.GS 222.4

    Die volgende skrifwoord is vervul: “Die opening van U woorde gee lig, dit maak die eenvoudiges verstandig.” Ps. 119: 130: Die ondersoek van die Skrifte het ‘n groot verandering gebring in die gemoed en harte van die volk. Die pouslike regering het op die nek van sy onderdane ‘n ysterjuk geplaas wat hulle in onkunde en verlaging gehou het. Bygelowige nakoming van vorms is stip gehandhaaf; maar in al hulle diens het die hart en verstand maar ‘n baie klein aandeel gehad. Die prediking van Luther, wat die duidelike waarhede van Gods woord verklaar het, en die Bybel self in die hande van die gewone mense geplaas het, het hulle slapende kragte wakker gemaak, wat nie alleen hulle geestelike natuur gereinig en veredel het nie, maar aan hulle nuwe verstandelike krag gegee het.GS 224.1

    Mense van alle range is gesien met die Bybel in hulle hande, besig om die leerstellings van die Hervorming te verdedig. Die pousgesindes wat die ondersoek van die Skrifte oorgelaat het aan priesters en monnike, het laasgenoemdes nou versoek om die nuwe leer te weerlê. Maar, onkundig wat die Skrifte en die krag van God betref, is die priesters en monnike totaal verslaan deur diegene wat deur hulle veroordeel is as ongeleerd en ketters. “Ongelukkig,” het een Katolieke skrywer gesê, “het Luther sy navolgers oorgehaal om geen geloof te heg aan enige ander woord behalwe die Heilige Skrifte nie.”— D’Aubigne, boek IX, hoojstuk 11.Skares het saamgekom om die verkondiging van die waarheid te hoor deur manne wat min opleiding gehad het, en te hoor hoedat hulle dit bespreek het met geleerde en welsprekende teoloë. Die skandelike onkunde van hierdie groot manne het duidelik geblyk wanneer hulle argumente beantwoord is deur die eenvoudige leer van Gods woord. Arbeiders, soldate, vrouens, en selfs kinders, was beter bekend met die leer van die Bybel as die priesters en die geleerde doktore.GS 224.2

    Die teenstelling tussen die dissipels van die evangelie en die voorstanders van pouslike bygeloof was net so sigbaar in die geledere van die geleerdes as onder die gewone mense. “In teenstelling met die ou voorvegters van die hiërargie wat die aanleer van tale en die studie van literatuur verwaarloos het, . . . was edele jongeliede, toegewy aan die ondersoek van die Skrifte, besig om hulleself vertroud te maak met die letterkundige skatte van die outyd. Met ‘n aktiewe verstand, ‘n sieleadel en ‘n onverskrokke hart, het hierdie jongmanne spoedig sulke kennis verkry dat daar vir ‘n lang tyd niemand was wat teen hulle opgewasse was n;e. . . . Gevolglik het hierdie jeugdige verdedigers van die Hervorming op enige vergadering waar hulle met die Roomse doktors in aanraking gekom het, hulle met sulke gemak en vertroue aangeval dat hierdie onkundige manne geaarsel het, in verleentheid gebring is, en in die oë van almal aan verdiende veragting blootgestel is.”— D’Aubigne, boek IX, hoojstuk 11.GS 224.3

    Toe die Katolieke geestelikes sien hoedat hulle gemeentes verminder, het hulle die hulp van die magistrate ingeroep, en met alle middels tot hulle beskikking het hulle getrag om hulle hoorders terug te bring. Maar in die nuwe leerstellings het die volk juis die dinge gevind wat in die behoeftes van hulle siele voorsien het, en hulle het hulle afgekeer van diegene wat hulle so lank reeds op waardelose kaf van bygelowige rites en menslike tradisies gevoed het.GS 225.1

    Toe die vervolging losgebreek het teen die leraars van die waarheid, het hulle gehoorgegee aan die volgende woorde .’an Christus: “Wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe.” Matt. 10: 23. Die lig het orals deurgedring. Die vlugtelinge het altyd ‘n ope deur gevind om hulle te herberg, en solank hulle daar gebly het, het hulle die woord van Christus verkondig, soms in die kerk, of as daardie voorreg aan hulle geweier is, in privaat huise of in die ope lug. Enige plek waar hulle ‘n gehoor kon kry, was ‘n heilige tempel. Die waarheid, verkondig met sulke ywer en vertroue, het met onweerstaanbare krag versprei.GS 225.2

    Tevergeefs is die gesag van geestelike en burgerlike owerhede ingeroep om die dwaalleer te vernietig. Tevergeefs het hulle gebruik gemaak van die gevangenis, marteling, vuur, en swaard. Duisende gelowiges het hulle geloof met hulle bloed verseël, en nogtans het die werk voortgegaan. Vervolging het alleen gedien om die waarheid te verbrei; en die fanatisme wat Satan probeer het om daarmee te vermeng, het die gevolg gehad dat die teenstelling tussen die werk van Satan en die werk van God duideliker gesien is.GS 225.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents