Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Groot Stryd

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "undefined".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 11—Die Protes van die Prinse

    EEN van die edelste getuienisse van die Hervorming was die Protes van die Christelike prinse van Duitsland op die Ryksdag van Spiers in 1529. Die moed, geloof, en standvastigheid van hierdie Godsmanne het vir die toekomstige eeue vryheid van gedagte en gewete verkry. Hulle protes het aan die hervormde kerk die naam Protestant gegee; die beginsels daarvan was “die essensie van Protestantisme.”—D’Aubigne, boek XIII, hoojstuk 6.GS 227.1

    Daar het ‘n donker dag aangebreek vir die Hervorming. Ondanks die edik van Worms, wat Luther voëlvry verklaar en die verkondiging van sy leer verbied het, was daar nog verdraagsaamheid op godsdienstige gebied in die ryk. Deur die voorsienigheid van God is die magte wat die waarheid weerstaan het, in bedwang gehou. Karel V, was vasbeslote om die Hervorming te onderdruk, maar dikwels wanneer hy sy hand opgehef het om te slaan, is hy gedwing om die slag terug te hou. Keer op keer het dit geblyk dat die onmiddellike vernietiging van almal wat gedurf het om Rome teen te staan onvermydelik was; maar elke keer het die leërs van die Turke op die kritieke oomblik aan die oostelike grens verskyn, of die koning van Frankryk, en soms het selfs ook die Pous, jaloers op die uitbreidende mag van die keiser, teen hom oorlog gevoer; en dus, te midde van die stryd en oproer van die volke, kon die Hervorming uitbrei en sterker word.GS 227.2

    Eindelik, egter, het die Katolieke vorste hulle geskille besleg, sodat hulle gemene saak kon maak teen die Hervormers. Op die Ryksdag van Spiers in 1526, is daar aan elke staat volkome vryheid gegee in godsdienstige sake totdat daar ‘n algemene raadsvergadering sou wees; maar die gevare wat aanleiding gegee het tot die verkryging van hierdie konsessie was nog skaars verby of die keiser het ‘n tweede Ryksdag saamgeroep wat te Spiers in 1529 gehou sou word met die doel om kettery te onderdruk. Die plan was om die prinse, op vreedsame wyse indien moontlik, oor te haal om hulle teen die Hervorming te stel; maar ingeval hierdie poging sou misluk, was Karel bereid om na die swaard te gryp.GS 228.1

    Die pousgesindes het gejuig. Hulle het in groot getalle na Spiers gekom, en openlik hulle vyandigheid betoon teenoor die Hervormers en almal wat hulle ondersteun het. Melanchthon het gesê, “Ons is die uitvaagsel en vuilis van die wêreld; maar Christus sal op Sy arme volk neersien en hulle bewaar.”— D’Aubigne, boek XIII, hoojstuk 5.Die evangeliese prinse aanwesig op die Ryksdag is belet om selfs die evangelie in hulle huise te laat verkondig. Maar die mense van Spiers het gedors na die woord van God, en nieteenstaande die verbod nie, het duisende toegestroom na die dienste wat gehou is in die kapel van die keurvors van Sakse.GS 228.2

    Dit het die krisis verhaas. ‘n Keiserlike aankondiging het aan die Ryksdag bekend gemaak dat aangesien die besluit wat vryheid van gewete gegee het, groot wanordelikheid laat ontstaan het, die keiser besluit het om dit te herroep. Hierdie willekeurige daad het verontwaardiging en vrees by die evangeliese Christene laat ontstaan. Een het gesê, “Christus het weer in die hande geval van Kajafas en Pilatus.” Die Roomsgesindes het woedender geword. Een Roomse dweper het verklaar: “Die Turke is beter as die Lutherane; want die Turke hou vasdae, maar die Lutherane vertrap hulle. As ons moet kies tussen die Heilige Skrifte van God en die ou dwalings van die kerk, sou ons eersgenoemde verwerp.” Melanchthon het gesê, “elke dag, in die voile vergadering, gooi Faber ons evangeliegesindes met ‘n nuwe klip.”— D’Aubigne, boek XIII, hoojstuk 5.GS 228.3

    Verdraagsaamheid op godsdienstige gebied was deur die wet bepaal, en die evangeliese state was vasbeslote om enige inbreuk op hulle regte te weerstaan. Luther, wat nog onder die ban van die edik van Worms was, is nie op Spiers toegelaat nie; maar sy plek is gevul deur sy medewerkers en die prinse wat God opgewek het om Sy saak in hierdie tyd van nood te verdedig. Die edele Frederick van Sakse, Luther se vorige beskermer, het afgesterf; maar Hertog Johannes, sy broer en opvolger, het die Hervorming verwelkom; en hoewel hy vredeliewend was, het hy groot energie en moed aan die dag gelê in belang van die geloof.GS 229.1

    Die priesters het geëis dat die state wat die Hervorming aangeneem het hulle onvoorwaardelik moes onderwerp aan die Roomse jurisdiksie. Die Hervormers, daarenteen, het aanspraak gemaak op die vryheid wat voorheen gegee is. Hulle kon nie toestern dat Rome weer die state onder sy beheersing sou bring wat die woord van God met sulke groot vreugde ontvang het nie.GS 229.2

    Die volgende kompromis is eindelik voorgestel, naamlik dat die edik van Worms streng toegepas moes word op plekke waar die Hervorming nog nie gevestig was nie; en dat “op daardie plekke waar die volk daarvan afgewyk het, en waar hulle nie tot gehoorsaamheid gebring kan word sonder opstand nie, hulle geen nuwe Hervorming sou begin, geen strydpunte moes aanroer, dat hulle die viering van die mis nie moes teenstaan nie, en dat hulle geen Rooms-Katoliek sou toelaat om die leer van Luther aan te neem nie.”— D’Aubigne, boek XIII, hoojstuk 5.Hierdie voorstel is deur die Ryksdag aangeneem tot groot blydskap van die pouslike priesters en prelate.GS 229.3

    As hierdie edik deurgevoer word “kon die Hervorming nie uitgebrei word . . . waar dit nog onbekend was nie, en ook kon dit nie op ‘n vaste fondament bevestig word . . . waar dit alreeds bestaan het me.”— Ibid.Vryheid van die woord sou verbied word. Geen bekerings sou toegelaat word nie. Daar is van die vriende van die Hervorming geëis om hulle dadelik te onderwerp aan hierdie beperkings en verbodsbepalings. Dit het geskyn of die hoop van die wêreld uitgedoof sou word. “Die herbevestiging van die Roomse hiërargie . . . sou gewis weer die ou misbruike terugbring;” en daar sou baie maklik weer geleentheid gevind word vir “die voltooiing van die werk van verwoesting wat reeds so heftig geskud is” deur fanatisme en verdeeldheid. D’Aubigne, boek XIII, hoojstuk 5.GS 229.4

    Toe die evangeliese party saamgekom het vir beraadslaging, het hulle ontsteld na mekaar gekyk. “Wat staan ons te doen?” het hulle gevra. Daar was sake van wêreldbelang op die spel. Moet die hoofde van die Hervorming hulle onderwerp en die edik aanvaar? Hoe maklik kon die Hervormers in hierdie krisis, wat voorwaar baie groot was, deur redenering ‘n verkeerde weg inslaan! Hoeveel aanneemlike ekskuse en goeie redes kon daar miskien aangevoer word ten gunste van onderwerping! Die vrye beoefening van hulle godsdiens is aan die Lutheraanse prinse toegestaan. Dieselfde voorreg is ook toegestaan aan daardie onderdane van hulle wat, voor die aanname van die maatreël die hervormde geloof aangeneem het. Behoort dit hulle nie tevrede te stel nie? Hoeveel gevare sou hulle deur onderwerping kon vermy! En watter ongekende gevare en stryd sou weerstand hulle op die hals haal! Wie weet watter geleenthede die toekoms mag bring? Laat ons die vrede aanneem; laat ons die olyftak neem wat Rome ons aanbied, en die wonde van Duitsland heel. Met sulke argumente kon die Hervormers miskien ‘n weg geregverdig het wat eerlank hulle saak miskien sou vernietig het.GS 230.1

    “Gelukkig het hulle besef dat dit ‘n saak van beginsel was, en hulle het in geloof gehandel. Wat was die beginsel? Dit was die reg van Rome om die gewete te dwing en vrye ondersoek te verbied. Maar sou hulle en hulle Protestantse onderdane dan nie godsdiensvryheid geniet nie? Ja hulle sou, maar as ‘n spesiale guns en nie as ‘n reg nie. Buitekant daardie ooreenkoms, was die groot beginsel van gesag om te regeer; daar was nie rekening gehou met die gewete nie; Rome was die onfeilbare regter, en hy moes gehoorsaam word. Die aanname van so ‘n reeling sou feitlik ‘n erkening gewees het dat godsdiensvryheid beperk sou word tot die Hervormers van Sakse; en vir die res van die Christendom sou vrye ondersoek en die belydenis van die hervormde geloof ‘n misdaad wees, strafbaar met gevangenis en die brandstapel. Kon hulle instem tot die beperking van vryheid wat sou beteken het dat die Hervorming sy laaste bekeerling gemaak het? en dat waar Rome ookal op daardie oomblik die heerskappy gevoer het, sy heerskappy daar bestendig sou word? Kon die Hervormers aangevoer het dat hulle nie skuldig was aan die bloed van die honderde en duisende wat as gevolg van hierdie reëling hulle lewens sou opoffer in pouslike lande nie? Dit sou in hierdie gewigtige uur die verraaiing beteken het van die saak van die evangelie en die vryheid van die Christendom.”—Wylie, boek IX, hoojstuk 15. Liewer sou hulle “alles opoffer, hulle state, hulle krone, en hulle lewens.”— D’A ubigne, boek XIII, hoojstuk 5.GS 230.2

    “Laat ons hierdie dekreet verwerp,” het die prinse gesê. “Wat die gewete betref, het die meerderheid geen mag om dit te beperk nie.” Die afgevaardigdes het verklaar: “Die vrede wat die ryk geniet, het ons te danke aan die dekreet van 1526: die afskaffing daarvan sou Duitsland met moeilikhede en verdeeldheid vervul. Die Ryksdag is nie bevoeg om meer te doen as alleen godsdiensvryheid te bewaar tot tyd en wyl die konsilie vergader nie.”—D’Aubigne, boek XIII, hoojstuk 5. Om die vryheid van gewete te beskerm is die plig van die staat, en dit is die perke van sy gesag in godsdienssake. Elke aardse regering wat probeer om godsdienstige gebruike te reel of toe te pas deur middel van burgerlike gesag, sou juis die beginsel opoffer waarvoor evangeliese Christene so dapper gestry het.GS 231.1

    Die pousgesindes het besluit om wat hulle as “moedswillige hardnekkigheid” beskou het, te onderdruk. Hulle het begin met ‘n poging om verdeeldheid te saai onder die voorstanders van die Hervorming, en om almal bang te maak wat nie openlik ten gunste daarvan was nie. Die verteenwoordigers van die vrystede is eindelik voor die Ryksdag gedaag, om te verklaar of hulle die bepalings van die voorstel sou aanneem. Hulle het om uitstel gevra, maar tevergeefs. Toe dit op ‘n beslissing gekom het, het byna helfte van hulle met die Hervormers saamgestaan. Diegene wat op hierdie manier geweier het om gewetensvryheid en die reg van persoonlike oordeel op te offer, het goed geweet dat hulle in die toekoms gekritiseer, veroordeel en vervolg sou word. Een van die afgevaardigdes het verklaar, “ons moet of die woord van God ontken óf verbrand word.”— D’Aubigne, boek XIII, hoojstuk 5.GS 231.2

    Koning Ferdinand, die keiser se verteenwoordiger op die Ryksdag, het besef dat die dekreet ernstige verdeeldheid sou bring tensy die prinse oorgehaal kon word om dit aan te neem en te handhaaf. Hy het derhalwe probeer om hulle om te praat, want hy het goed geweet dat die gebruik van geweld sulke manne net standvastiger sou maak. “Hy het die prinse gesmeek om die dekreet te aanvaar, en hulle verseker dat die keiser hoogs in sy skik met hulle sou wees.” Maar hierdie getroue manne het ‘n gesag erken bokant die van aardse heersers, en hulle het kalm geantwoord, “ons sal die keiser gehoorsaam in alles wat die vrede en die eer van God sal handhaaf.”— D’Aubigne, boek XIII, hoojstuk 5.GS 232.1

    Eindelik het die koning in die Ryksdag aan die keurvors en sy vriende meegedeel dat hulle op die punt was om die edik “op te trek in die vorm van ‘n keiserlike dekreet, en dat hulle enigste uitweg sou wees om hulle aan die meerderheid te onderwerp.” Nadat hy dit gesê het, het hy die vergadering verlaat sonder om die Hervormers kans te gee vir beraadslaging of repliek. “Tevergeefs het hulle ‘n afvaardiging gestuur om die koning te smeek om terug te kom.” Op hulle besware was sy enigste antwoord, “die saak is afgehandel; onderwerping is al wat oorbly.”— D’Aubigne, boek XIII, hoojstuk 5.GS 232.2

    Die keiserlike party was daarvan oortuig dat die Christenprinse sou vashou aan die Heilige Skrifte bokant menslike leerstellings en vereistes; en hulle het geweet dat die pousdom, orals waar hierdie beginsel aangeneem word, omvergewerp sou word. Maar, soos duisende na hulle, het hulle hulle oë gevestig net op die sigbare dinge, en hulleself daarmee gevlei dat die saak van die keiser en die Pous sterk was, en dié van die Hervormers swak. As die Hervormers alleenlik op menslike hulp gesteun het, sou hulle so magteloos gewees het as wat die pousgesindes gemeen het. Maar hoewel hulle klein in getal was, en van Rome verskil het, het hulle hulle krag gehad. “Van die verslag van die Ryksdag het hulle hulle op die woord van God beroep, en van die keiser, op Jesus Christus, Koning van konings, en Here van here.”—Idem, boek XIII, hoojstuk 6.GS 232.3

    Daar Ferdinand geweier het om hulle gewetensbesware in ag te neem, het die prinse besluit om hulle nie aan sy afwesigheid te steur nie, maar om hulle Protes dadelik voor die nasionale raad te bring. Daarom het hulle ‘n plegtige verklaring opgetrek en aan die Ryksdag voorgelê:GS 233.1

    “Ons protesteer hiermee voor God, ons enigste Skeppsr, Beskermer, Verlosser, en Heiland, die een wat eendag ons Regter sal wees, voor alle mense en alle skepsels, dat ons, vir ons en ons volk, die voorgestelde dekreet nie goedkeur of in enige mate aanneem nie, in alles wat teenstrydig is met God, Sy Heilige Woord, ons vrye gewete, en die redding van ons siele.”GS 233.2

    “Wat! sou ons hierdie dekreet bevestig! Moet ons toegee, dat wanneer die Almagtige ‘n persoon tot sy kennis roep, daardie mens die kennis van God nie mag aanneem nie?” “Daar is geen betroubare leerstelling behalwe die wat ooreenkomstig die woord van God is nie . . . die Here verbied die verkondiging van enige ander leerstelling. . . . Die Heilige Skrifte behoort verklaar te word deur ander en duideliker tekste. . . . Hierdie heilige Boek is, in alle dinge wat vir die Christen nodig is, maklik om te verstaan, en bereken om die duisternis te verdryf. Ons is vasbeslote, om met die genade van God die reine en uitsluitlike prediking van Sy woord alleen, soos bevat in die Bybelse Boeke van die Ou en Nuwe Testamente te handhaaf, sonder enigiets wat in stryd daarmee is, by te voeg. Hierdie Woord is die enigste waarheid; dit is die betroubare maatstaf van alle leerstellings en van alle lewe. en dit kan ons nooit begewe of bedrieg nie. Hy wat op hierdie fondament bou, sal teen al die magte van die hel staande bly, terwyl alle menslike ydelhede wat daarteen opgestel is, voor die aangesig van God sal val.”GS 233.3

    “Om hierdie rede verwerp ons die juk wat op ons geplaas is.” “Terselfdertyd verwag ons dat sy keiserlike majesteit hom teenoor ons sal gedra soos ‘n Christen-prins wat God bo alles liefhet; en ons verklaar onsself gereed om aan hom, sowel as aan u, genadige here, alle liefde en gehoorsaamheid te gee volgens ons regverdige en wettige plig.”— D’Aubigne, boek XIII, hoojstuk 6.GS 233.4

    Daar is ‘n diep indruk op die Ryksdag gemaak. Die meerderheid was met verbasing en ontsteltenis vervul oor die stoutmoedigheid van die protesteerders. Die toekoms het vir hulle stormagtig en onseker gelyk. Verdeeldheid, stryd, en bloedvergieting het vir hulle onvermydelik gelyk. Maar die Hervormers, verseker van die regverdigheid van hulle saak, en vertrouende op die Almagtige arm, was “vol moed en standvastigheid.”GS 233.5

    “Die beginsels vervat in hierdie beroemde Protes . . . bevat die essensie van Protestantisme. Hierdie Protes het twee menslike gebruike wat die geloof betref, weerstaan: die eerste was die indringing van die burgerlike magistraat, en die tweede was die arbitrêre gesag van die kerk. In die plek van hierdie misbruike, het Protestantisme die gewete bokant die magistraat gestel, en die gesag van Gods woord bokant die sigbare kerk. In die eerste plek verwerp dit burgerlike mag in goddelike sake, en verklaar dit saam met die profete en apostels, ,ons moet God meer gehoorsaam wees as die mense.’ Voor die kroon van Karel V, het dit die kroon van Jesus Christus verhef. Maar dit gaan verder: dit lê die beginsel neer dat alle menslike leerstellings aan die woord van God ondergeskik moet wees.”— D’Aubigne, boek XIII, hoojstuk 6.En ook het die protesteerders hulle reg beklemtoon om hulle oortuigings van die waarheid vryelik uit te spreek. Hulle sou nie slegs glo en gehoorsaam nie, maar ook leer wat die woord van God voorstel; en hulle het die reg van priester of magistraat om tussenbei te tree, ontken. Die Protes van Spiers was ‘n plegtige getuienis teen godsdienstige onverdraagsaamheid en ‘n verklaring van die reg van alle mense om God te dien volgens die inspraak van hulle eie gewete.GS 234.1

    Die verklaring was gemaak. Dit is in die geheue van duisende geskryf, en dit is opgeteken in die boek van die hemel, waar geen mens dit kan uitwis nie. Die hele evangeliese Duitsland het die Protes aangeneem as ‘n uitdrukking van hulle geloof. Orals het mense in hierdie verklaring die belofte van ‘n nuwe en beter tydperk gesien. Een van die prinse het aan die Protestante op Spiers gesê, “Mag die Almagtige, wat julle genade gegee het om op so ‘n kragtige, vrye, en onbevreesde wyse te getuig, julle in daardie Christelike standvastigheid bewaar tot in ewigheid.”-— D’Aubigne, boek XIII, hoojstuk 6.GS 234.2

    As die Hervorming, nadat dit ‘n mate van sukses behaal het, ingestem het om toe te gee ten einde die guns van die wêreld te verkry, sou dit ontrou aan God en homself gewees het, en dit sou dus sy eie vernietiging verseker het. Die ervaring van hierdie edele Hervormers bevat ‘n les vir die toekoms. Satan se manier van optrede teen God en Sy woord het nie verander nie; hy is nog net so gekant teen die Skrifte as lewensreël, as hy in die sestiende eeu was. In ons dae is daar ‘n groot afwyking: van die Skrifte, en daar is behoefte aan ‘n terugkeer tot die Protestantse beginsel — die Bybel en die Bybel alleen as die maatstaf van geloof en plig. Satan werk steeds deur middel van alles wat hy kan beheers om godsdiensvryheid te vernietig. Hierdie anti-Christelike mag wat deur die Protesteerders van Spiers verwerp is, trag nou met hernude krag om sy verlore oppermagtigheid te herstel. Dieselfde onwrikbare handhawing van die woord van God soos in die tyd van die Hervorming geopenbaar, is die enigste hoop op hervorming vandag.GS 234.3

    Daar was tekens van gevaar vir die Protestante; maar ook was daar tekens dat die goddelike hand uitgestrek was om die getroues te beskerm. Dit was in hierdie tyd dat “Melanchthon sy vriend Simon Grynaeus haastig deur die strate van Spiers begelei het na die Ryn en hom oor die rivier gestoot het. Laasgenoemde was verstom oor die haastigheid. ,‘n Ou man van ernstige en plegtige voorkoms, maar wat ek nie ken nie,’ het Melanchthon gesê, ,het voor my verskyn en gesê, binne ‘n minuut sal geregsdienaars deur Ferdinand gestuur word om Grynaeus te arresteer.’ ”GS 235.1

    Daardie dag was Grynaeus in ‘n preek deur Faber, vooraanstaande pouslike doktor, aangeval; aan die einde daarvan het hy hom skrobbeer omdat hy “sekere veragtelike dwalings verdedig het.” Faber het sy toorn verberg, maar onmiddellik daarna na die koning gegaan van wie hy ‘n bevel gekry het teen hierdie lastige professor van Heidelberg. Melanchthon het nie daaraan getwyfel dat God sy vriend gered het deur een van Sy heilige engele te stuur om hom te waarsku nie.GS 235.2

    “Onbeweeglik het hy aan die oewer van die Ryn gestaan en wag totdat die stroom Grynaeus van sy vervolgers gered het. ,Eindelik,’ het Melanchthon uitgeroep, toe hy hom aan die oorkant sien, ,eindelik is hy weggeskeur uit die wrede kake van diegene wat dors na sy onskuldige bloed.’ Toe Melanchthon by sy huis terugkom, is aan hom bekendgemaak dat geregsdienaars sy hele huis deursoek het na Grynaeus.”— D’Aubigne, boek XIII, hoo.jstuk 6.GS 235.3

    Die Hervorming sou nog meer onder die aandag gebring word van die magtiges van die aarde. Koning Fredinand het geweier om verder te luister na die evangeliese prinse; maar hulle sou geleentheid kry om hulle saak voor te stel in teenwoordigheid van die keiser en die waardigheidsbekleërs van kerk en staat. Om die verdeeldheid te onderdruk wat die ryk in beroering gebring het, het Karel V, in die jaar na die Protes van Spiers, die Ryksdag van Augsburg saamgeroep waar hy in eie persoon die voorsitterstoel sou inneem. Die Protestantse leiers is daarheen gedaag.GS 236.1

    Groot gevare het die Hervorming bedreig; maar sy voorstanders het nog hulle saak aan God toevertrou, en hulle verbind om onwrikbaar te staan vir die evangelie. Die keurvors van Sakse is deur sy raadslede versoek om nie op die Ryksdag te verskyn nie. Die keiser, het hulle gesê, verlang die teenwoordigheid van die prinse daar om hulle in ‘n strik te lei. “Is dit nie om alles te waag om mens te gaan opsluit binne die mure van ‘n stad saam met ‘n magtige vyand nie?” Maar ander het verklaar, “Laat die prinse hulle slegs moedig gedra, en die saak van God sal gered wees.” “God is getrou; Hy sal ons nie verlaat nie,” het Luther verklaar.— D’Aubigne, boek XIV, hoofstuk 2.Die keurvors het met sy gevolg na Augsburg vertrek. Almal was bekend met die gevare wat hom bedreig het, en vele het daarheen gegaan met ‘n sombere gelaat en ‘n benoude hart. Maar Luther, wat hulle vergesel het sover as Coburg, het hulle sinkende geloof versterk deur die lied te sing wat hy op daardie reis geskryf het, “‘n Vaste Burg is Onse God.” Menige benoude voorgevoel is verban en menige beswaarde hart verlig onder die geklank van die besielende woorde.GS 236.2

    Die Hervormde prinse het besluit om hulle menings in skriftelike vorm op te stel, met bewyse uit die Skrifte, om aan die Ryksdag voor te lê; en hierdie werk is aan Luther, Melanchthon en hulle medewerkers opgedra. Hierdie belydenis is deur die Protestante aangeneem as ‘n uiteensetting van hulle geloof, en hulle het saamgekom om hierdie belangrike dokument te onderteken. Dit was vir hulle ‘n ernstige en sware tyd. Die Hervormers was daarop gesteld dat hulle saak nie verwar sou word met politieke vraagstukke nie; hulle het gevoel dat die Hervorming geen ander invloed behoort uit te oefen as alleen die wat uit die woord van God vloei nie. Toe die Christen-prinse vorentoe gekom het om die belydenis te onderteken, het Melanchthon tussenbei gekom en gesê, “dit is vir die teoloë en predikante om hierdie dinge voor te stel; laat ons die gesag van die magtiges van die aarde bewaar vir ander sake.” “God verhoed,” het Johannes van Sakse gesê: “dat julle my sal uitsluit. Ek is vasbeslote om te doen wat reg is, sonder om my oor my kroon te bekommer. Ek wil die Here bely. My keurvorstelike hoed en kleed is nie vir my so dierbaar as die kruis van Jesus Christus nie.” Nadat hy dit gesê het, het hy sy naam geteken. Een van die ander prinse het gesê, terwyl hy die pen opgeneem het, “as die eer van my Here Jesus dit verg, is ek gereed . . . om my goed en lewe agter te laat.” “Ek sou liewer my onderdane en my state prysgee, liewer die land van my vaders met staf in die hand verlaat, as om enige leerstelling aan te neem wat nie in hierdie belydenis vervat is nie.”— D’Aubigne, boek XIV, hoojstuk 6.So groot was die geloof en onverskrokkenheid van hierdie manne van God.GS 237.1

    Eindelik het die tyd aangebreek om voor die keiser te verskyn. Karel V., sittende op sy troon, en omring deur die keurvorste en prinse, het ‘n onderhoud aan die Protestantse Hervormers toegestaan. Die belydenis van hulle geloof is gelees. Op daardie hoë vergadering is die waarhede van die evangelie duidelik uiteengesit, en die dwaalleer van die pouslike kerk geopenbaar. Te reg word daardie dag genoem “die grootste dag van die Hervorming, en een van die heerlikste dae in die geskiedenis van die Christendom en die mensheid.”— Idem, boek XIV, hoojstuk 7.GS 238.1

    Daar het maar slegs ‘n paar jaar verloop sedert die tyd toe die monnik van Wittenberg alleen te Worms voor die nasionale vergadering gestaan het. Nou het die edelste en die magtigste prinse van die ryk in sy plek gestaan. Luther is belet om op Augsburg te verskyn, maar hy was teenwoordig deur sy woorde en gebede. “Ek is verheug,” het hy geskryf, “dat ek gespaar is tot hierdie uur, waarin Christus in die openbaar verhoog is deur sulke hoogelede belyers, en op so ‘n skitterende vergadering.” — Idem, boek XIV, hoojstuk 7.So is die Skrif vervul wat lui, “ook wil ek voor konings van U getuienisse spreek.” Ps. 119: 46.GS 238.2

    In die dae van Paulus is die evangelie waarvoor hy in die gevangenis gewerp is, op hierdie manier voor die prinse en edelliede van die keiserlike stad gebring. So ook in hierdie geval, is die evangelie wat die keiser verbied het om van die kansel verkondig te word, in die paleis verkondig; wat as ongeskik beskou was selfs vir die knegte, was nou met bewondering gehoor deur die meesters en hooghede van die ryk. Konings en grootmanne het die gehoor uitgemaak, gekroonde prinse was die predikers, en die preek was oor die koninklike waarheid van God. “Sedert die tyd van die apostels,” het ‘n skrywer gesê, “was daar nie ‘n groter werk of ‘n beter belydenis nie.”— D’Aubigne, boek XIV, hoojstuk 7. GS 239.1

    “Alles wat die Lutherane gesê het is waar; ons kan dit r.ie ontken nie,” het ‘n pouslike biskop gesê. Iemand het aan Doktor Eck gevra, “kan u die gesonde redes in die Belydenis wat deur die keurvors en sy bondgenote gemaak is, weerlê?” Die antwoord was, “Met die geskrifte van die apostels en profete — nee! Maar ons kan dit wel doen met die geskrifte van die Vaders en van die konsilies!” “Volgens jou verstaan ek,” het die vraer daarop gesê, “dat die Lutherane op die Skrifte staan, maar ons nie.”— Idem, boek XIV, hoojstuk 8.GS 239.2

    Sommige van die prinse van Duitsland is tot die hervormde geloof gewin. Selfs die keiser het verklaar dat die Protestantse artikels maar net die waarheid was. Die Belydenis is in baie tale vertaal, en oor Europa versprei, en in die daaropvolgende geslagte is dit deur miljoene aanvaar as ‘n belydenis van hulle geloof.GS 239.3

    Gods getroue diensknegte het nie alleen gewerk nie. Terwyl “owerhede en magte en bose geeste” saamgestaan het teen hulle, het die Here nie Sy volk verlaat nie. As hulle oë maar geopen kon gewees het, sou hulle net sulke duidelike bewyse van die goddelike teenwoordigheid en hulp gesien het as wat daar gegee is aan ‘n profeet vanouds. Toe Elisa se kneg sy meester gewys het op die vyandige leër wat hulle omsingel het, sodat daar geen kans was om te ontsnap nie, het die profeet gebid, “Here open tog sy oë dat hy kan sien.” 2 Kon. 6:17. En meteens was die berg vol perde en waens van vuur, die leër van die hemel, om die Godsman te beskerm. Net so ook het engele die werkers van die Hervorming beskerm.GS 239.4

    Een van die beginsels wat Luther baie streng gehandhaaf het, was dat daar nie toevlug geneem moes word na wêreldlike mag om die Hervorming aan te help nie, en dat daar nie na die wapen gegryp moes word ter verdediging daarvan nie. Hy was baie bly dat die evangelie bely is deur die prinse van die ryk; maar toe hulle voorgestel het om ‘n verdedigingsbondgenootskap aan te gaan, het hy verklaar dat “die evangelie alleen deur God moes verdedig word. . . . Hoe minder die mens hom met die werk bemoei, hoe meer sou God daarvoor werk. Al die politieke voorsorgsmaatreëls wat voorgestel is, was sy insiens, die gevolg van onnodige vrees en sondige gebrek aan vertroue.”— D’Aubigne, boek X, hoojstuk 14. (Londense ed.)GS 240.1

    Toe magtige vyande saamgespan het om die hervormde geloof omver te werp en dit geskyn het of duisende swaarde daarteen gebruik sou word, het Luther geskryf: “Satan se woede het begin; goddelose opperpriesters het saamgesweer; en ons word deur oorlog bedreig. Vermaan die volk om heldhaftig voor die troon van God te stry, deur geloof en gebed, sodat ons vyande, verslaan deur die Gees van God, tot die vrede gedwing kan word. Ons grootste behoefte, ons grootste werk, is gebed; laat die volk verstaan dat hulle nou blootgestel is aan die swaard en aan die woede van Satan, en laat hulle bid.”—D’Aubigne, boek X, hoojstuk 14.GS 240.2

    Later weer, verwysende na die verbond wat die hervormde prinse voornemens was om aan te gaan, het Luther verklaar dat die enigste wapen in hierdie oorlog “die swaard van die Gees” behoort te wees. Aan die keurvors van Sakse het hy geskryf: “Ons kan nie met ‘n rein gewete die voorgestelde bondgenootskap goedkeur nie. Ons sal liewer tienmaal sterf as om toe te laat dat ons evangelie een druppel bloed sou vergiet. Ons deel behoort te wees soos lammers wat na die slagplek gelei word. Die kruis van Christus moet gedra word. Laat u hoogheid sonder vrees wees. Deur ons gebede sal ons meer doen as al ons vyande met hulle grootpratery. Sorg net dat u hande nie met bloed bevlek word nie. As die keiser verkies dat ons voor sy geregshowe moet verskyn, dan is ons gereed. U kan nie ons geloof verdedig nie: Elkeen behoort op sy eie risiko te geloof.” —Idem, boek XIV, hoojstuk 1.GS 240.3

    Uit die binnekamer het die krag gekom wat die wêreld geskud het in die Groot Hervorming. Daar, met heilige kalmte, het die diensknegte van die Here op die rots van Sy beloftes gestaan. Gedurende die stryd te Augsburg, “het daar nie ‘n dag verbygegaan sonder dat Luther drie uur in gebed deurgebring het nie, en dit was ure wat hy baie nodig gehad het vir studie.” Daar, in sy binnekamer, het hy sy siel voor God uitgestort in woorde “vol aanbidding, vrees, en hoop, soos iemand wat met ‘n vriend praat.” “Ek weet dat U ons Vader en ons God is,” het hy gesê, “en dat U die vervolgers van U kinders sal verjaag; want U Self is in gevaar saam met ons. Hierdie hele saak is U saak, en dit is alleen omdat ons deur U gedwing is dat ons dit aangepak het. Beskerm ons dan, o Vader!”— D’Aubigne, boek XIV, hoojstuk 6.GS 241.1

    Aan Melanchthon, wat neerslagtig was onder die las van angs en vrees, het hy geskryf: “Genade en vrede in Christus — in Christus sê ek, en nie in die wêreld nie, Amen. Ek haat uitermate daardie oorweldigende sorge wat jou verteer. As die saak onregverdig is, gee dit op; as die saak regverdig is, waarom moet ons dan die beloftes ontken van Hom wat ons beveel om te gaan slaap sonder vrees? ... In die werk van geregtigheid en waarheid sal Christus ons nie begewe nie. Hy leef, Hy regeer; waarom moet ons dan vrees!”— D’Aubigne, boek XIV, hoojstuk 6.GS 241.2

    God het die geroep van Sy diensknegte verhoor. Aan die prinse en predikante het Hy genade en moed gegee om die waarheid te handhaaf teen die heersers van die duisternis van hierdie wêreld. Die Here het gesê, “Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.” 1 Petrus 2: 6. Die Protestantse Hervormers het op Christus gebou, en die poorte van die hel sou hulle nie oorweldig nie.GS 241.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents