Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Gelykenisse van Christus

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 20—Wins Wat Verlies Is

    Na aanleiding van Lukas 12:13-21

    CHRISTUS was besig om te leer, en, soos gewoonlik, was daar ander behalwe Sy dissipels wat na Hom geluister het. Hy het met Sy dissipels gepraat oor gebeurtenisse waarin hulle binnekort ‘n rol sou speel. Hulle moes die waarhede wat Hy aan hulle opgedra het, orals verkondig en hulle sou met die regeerders van hierdie wêreld bots. Om Sy ontwil sou hulle voor howe gedaag word, en voor landdroste en konings verskyn. Hy het hulle verseker van wysheid wat niemand kon weerspreek nie. Sy eie woorde, wat die harte van die menigtes geraak en Sy slinkse teenstanders in verwarring gebring het, het getuig van die mag van daardie inwonende Gees wat Hy aan Sy volgelinge belowe het.DGC 175.1

    Maar daar was vele wat die genade van die hemel wou hê, net om hulle eie selfsugtige doel te dien. Hulle het besef dat Christus ‘n wonderlike vermoë het om die waarheid duidelik voor te stel. Hulle het gehoor dat Hy Sy volgelinge beloof dat hulle wysheid sou he om voor regeerders en landdroste te spreek. Sou Hy Sy krag dan nie vir aardse gewin aan hulle verleen nie?DGC 175.2

    En een van die skare sê vir Hom: “Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.” Deur Moses het God inligting gegee aangaande die oordrag van eiendom. Die oudste seun het ‘n dubbele deel van die vader se boedel ontvang (Deut. 21:17), terwyl die jonger broers gelykop moes deel. Hierdie man dink dat sy broer hom bedrieg het met sy erfenis. Sy eie pogings om te kry wat hy as sy regmatige deel beskou het, het misluk, maar as Christus sal ingryp sal hy sekerlik sy doel bereik. Hy het Christus se roerende oproepe en Sy plegtige aanklagte teen die skrifgeleerdes en Fariseërs gehoor. As woorde met soveel gesag tot hierdie broer gerig kon word, sou hy dit nie durf om aan die veronregte man sy deel te weier nie.DGC 175.3

    Te midde van die plegtige onderrig wat Christus gegee het, het hierdie man sy selfsugtige neiging geopenbaar. Hy kon daardie bekwaamheid van die Here waardeer wat sy eie tydelike sake kon bevorder, maar sy hart en sy gedagtes was nog nie vatbaar vir geestelike waarhede nie. Hy was behep met die verkryging van sy erfenis. Jesus, die Koning van heerlikheid, wat ryk was, maar wat om ons ontwil arm geword het, het die skatte van Goddelike liefde aan hom voorgelê. Die Heilige Gees het gepleit dat hy‘n erfgenaam moes word van die“onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis.” (1 Pet. 1:4) Hy het bewyse gesien van die krag van Christus. Nou was dit sy kans om met die groot Leermeester te praat en die grootste verlange van sy hart bekend te maak. Maar soos die man met die vuilishark in Bunyan se allegorie was sy oë op die aarde gerig. Hy het nie die kroon bokant sy hoof gesien nie. Soos Simon Magus het hy die gawe van God as’n weg tot aardse wins gewaardeer.DGC 175.4

    Die Heiland se sending op aarde het na sy einde gesnel. Daar was net‘n paar maande oor vir Hom om Sy sending te voltooi, naamlik om die koninkryk van Sy genade op te rig. Maar menslike gierigheid wou Hom wegkeer van Sy werk om Hom te bemoei met ‘n geskil oor ‘n stuk grond. Maar Christus het Hom nie van Sy sending laat afkeer nie. Sy antwoord was, “Mens, wie het My as regter of deler oor julle aangestel?”DGC 176.1

    Jesus kon hierdie man presies vertel het wat reg was. Hy het geweet wat in die saak reg was, maar die broers het getwis omdat albei inhalig was. Christus het feitlik gesê: “Dit is nie My taak om geskille van hierdie aard op te los nie.” Hy het met ‘n ander doel gekom, naamlik om die evangelie te verkondig en mense sodoende bewus te maak van ewige werklikhede.DGC 176.2

    In Christus se hantering van hierdie geval skuil ‘n les vir almal wat in Sy Naam dien. Toe Hy die twaalftal uitgestuur het, het Hy gesê: “En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom. Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.” (Matt. 10:7, 8.) Dit was nie hulle werk om die tydelike sake van die mense te skik nie. Hulle werk was om mense te oorreed om hulle met God te versoen. Hulle krag om mense te seen was tot hierdie werk beperk. Die enigste middel teen die mens se sondes is Christus. Net die evangelie van Sy genade kan die kwaad genees wat soos ‘n vloek op die samelewing rus. Die onreg van die rykes teenoor die armes, die armes se haat vir die rykes, ontstaan albei in selfsug, en dit kan net deur onderwerping aan Christus uitgeroei word. Net Hy kan in die plek van die selfsugtige sondige hart, ‘n nuwe hart van liefde gee. Laat die diensknegte van Christus die evangelie met die Gees verkondig wat uit die hemel gestuur is, en laat hulle soos Hy tot voordeel van die mens werk. Die gevolge sal wees dat die mensdom geseën en opgehef sal word ver bo wat blote menslike krag in staat is om te verrig.DGC 176.3

    Met die woorde, “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie,” het die Here die kern van die saak aangeroer wat hierdie vraer gehinder het, en ook van alle ander soortgelyke geskille.DGC 177.1

    Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: “n Ryk man se grond het goed gedra.” En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie? Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereed gemaak het, wie s‘n sal dit wees? So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.”DGC 177.2

    Deur die gelykenis van die ryk dwaas, het Christus die dwaasheid aangetoon van diegene wat net vir die wêreld leef. Hierdie man het alles van God ontvang. Die son is toegelaat om op sy landerye te skyn, want sy strale val op die regverdige en op die onregverdige. Die reent van die hemel val op die slegte en op die goeie. Die Here het die plante welig laat groei en die landerye oorvloedig laat voortbring. Die ryk man was bekommerd oor wat hy met al sy produkte sou doen. Sy skure was tot oorlopens toe vol, en hy het geen bêreplek vir die oorskot van sy oes gehad nie. Hy het nie aan God gedink van wie al sy seëninge gekom het nie. Hy het nie besef dat God van hom ‘n rentmeester van Sy besittings gemaak het sodat hy aan die behoeftiges hulp kon verleen nie. Hy het ‘n pragtige geleentheid gehad om God se aalmoesenier te wees, maar hy het net aan sy eie gerief gedink.DGC 177.3

    Die omstandighede van die arme, die wees, die weduwee, die lydende, die geteisterde is onder die aandag van die ryk man gebring. Daar was baie plekke waar hy sy besittings kon insamel. Hy kon maklik‘n deel van sy oorvloed afgestaan het en baie huisgesinne sou nie meer behoeftig gewees het nie, vele wat honger was, sou gevoed gewees het, baie naaktes geklee, baie harte verbly, baie gebede om brood en klere verhoor, en ‘n loflied sou hemelwaarts gestyg het. Die Here het die gebede van die behoeftiges gehoor en van Sy goedheid vir die ellendige berei (Ps. 68: 11) In die seëninge wat op die ryk man uitgestort is, is daar oorvloedige voorsiening vir die behoeftes van baie mense gemaak. Maar hy het sy hart gesluit vir die geroep van die behoeftiges, en het aan sy diensknegte gesê, “Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik.”DGC 178.1

    Hierdie man het niks hoër gemik as die diere wat omkom nie. Hy het geleef asof daar geen God, geen hemel, geen toekomstige lewe was nie; asof alles wat hy besit het sy eie was, en asof hy niks aan God of mens verskuldig was nie. Die psalmdigter het hierdie ryk man beskrywe toe hy geskryf het, “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie.” Ps. 14:1.DGC 178.2

    Hierdie man het vir homself gelewe en voorsiening gemaak. Hy sien dat daar oorvloedige voorsiening vir die toekoms is; daar bly nou niks meer oor as om die vrugte van sy arbeid te versamel en te geniet nie. Hy meen hy is bo andere begunstig en neem vir homself die eer vir sy verstandige bestuur. Hy word deur sy stadsgenote as ‘n man van nugtere oordeel en as ‘n voorspoedige burger geëer. En hulle prys jou, “omdat jy aan jouself goed doen.” (Ps. 49:19)DGC 178.3

    Maar” die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God.” (1 Kor. 3:19) Terwyl die ryk man uitsien na jare van genot, maak die Here ander planne. Die boodskap kom tot hierdie onbetroubare rentmeester: “Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis.” Hier is’n vereiste waaraan geld nie kan voldoen nie. Die geld wat hy opgehoop het, kan geen uitstel koop nie. In een oomblik word alles waarvoor hy sy hele lewe lank gearbei het vir hom nutteloos. “En wat jy gereed gemaak het, wie s‘n sal dit wees?” Sy uitgestrekte landerye en goed gevulde skure glip onder sy beheer uit. “Hulle stapel op en weet nie wie dit sal insamel nie.” Ps. 39:7.DGC 178.4

    Die enigste ding wat nou vir hom van waarde sou wees, het hy nie verkry nie. Omdat hy vir homself gelewe het, het hy daardie Goddelike liefde verwerp wat in genadebetoon aan sy medemens sou uitgevloei het. So het hy die lewe verwerp. Want God is liefde en liefde is lewe. Hierdie man het die aardse eerder as die geestelike verkies en met die aardse moet hy sterwe. “Die mens wat in aansien is en geen verstand het nie, is soos die diere wat vergaan.” Ps. 49:21.DGC 179.1

    “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.” Wat hier geskilder word, geld vir alle tye. U kan eiewins nastreef, u kan skatte vergader, u kan geboue oprig wat groot en hoog staan, soos die bouers van Babilon van ouds gemaak het, maar u kan nie‘n muur hoog genoeg, of‘n hek sterk genoeg bou wat die boodskappers van die dood sal uitsluit nie. Belsasar die koning het in sy paleis ‘n fees gehou “en die gode van goud en silwer, koper, yster, hout en klip geprys.” Maar die hand van Een wat onsigbaar was, het die woorde van veroordeling op die muur geskryf en die voetstappe van vyandige leërmagte is buite die poort van die paleis gehoor “In dieselfde nag is Belsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood,“en ‘n uitlandse heerser het op die troon gesit. (Dan. 5:30)DGC 179.2

    Om vir die self te lewe, beteken vernietiging. Hebsug, die begeerte vir voordeel net ter wille van die self, sny die siel van die lewe af. Dit is die gees van die Satan om te kry, om vir die self te versamel. Dit is die gees van Christus om te gee, om die self ter wille van andere op te offer. “En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.” 1 Joh. 5:11, 12.DGC 179.3

    Daarom sê Hy: “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.”DGC 179.4

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents