Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Gelykenisse van Christus

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Tyd

    Ons tyd behoort aan God. Elke oomblik is Syne, en ons staan onder die plegtigste verpligting om dit tot Sy eer te benut. Van geen talent wat Hy gegee het, sal Hy ‘n noukeuriger verslag eis as van ons tyd nie.DGC 244.2

    Die waarde van tyd is onberekenbaar. Christus het elke oomblik as kosbaar beskou, en so behoort ons dit te beskou. Die lewe is te kort om te verbeusel. Ons het maar net ‘n paar proefdae waarin ons ons vir die ewigheid moet voorberei. Ons het geen tyd om te verkwis nie, geen tyd om aan selfsugtige genot te wy nie, geen tyd vir toegewing aan die sonde nie. Dit is nou dat ons vir die toekomstige, onsterflike lewe karakters moet vorm. Dit is nou dat ons ons moet voorberei vir die deurtastende oordeel.DGC 244.3

    Die mensdom begin skaars leef of hulle begin sterwe, en die onophoudelike arbeid van die wêreld eindig in nietigheid tensy‘n ware kennis van die ewige lewe verkry word. Die man wat tyd as sy werksdag waardeer, sal hom geskik maak vir‘n woning en vir‘n lewe wat onsterflik is. Dit is goed dat hy gebore is.DGC 244.4

    Ons word vermaan om die tyd uit te koop. Maar tyd wat reeds verspil is, kan nooit herwin word nie. Ons kan nie eens’n oomblik terugroep nie. Al manier om ons tyd uit te koop, is om die beste te maak van die wat oorbly, deur medewerkers saam met God in Sy groot verlossingsplan te wees.DGC 244.5

    In hom wat dit doen, vind daar‘n karakterverandering plaas. Hy word ‘n seun van God, ‘n lid van die koninklike gesin, ‘n kind van die hemelse Koning. Hy is geskik om met die engele om te gaan.DGC 244.6

    Dit is nou ons geleentheid om vir die redding van ons medemense te arbei. Daar is sommige wat dink dat as hulle geld aan die saak van Christus gee, dit al is wat van hulle verwag word. Die kosbare tyd waarmee hulle persoonlike werk vir Hom kan doen, glip onbenut verby. Maar dit is die voorreg en die plig van almal wat sterk en gesond is om vir God te werk. Almal moet arbei om siele vir Christus te wen. Geldelike bydraes kan nie die plek hiervan inneem nie.DGC 244.7

    Elke oomblik is met ewige gevolge belaai. Ons moet staan soos manne van die oomblik, gereed om op kort kennisgewing diens te doen. Die geleentheid wat ons nou het om tot een of ander behoeftige siel die woord van die lewe te spreek, kan hom miskien nooit weer voordoen nie. God kan aan daardie een sê, “In hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis” en weens ons nalatigheid is hy dalk nie gered nie (Lukas 12:20) Hoe sal ons in die groot oordeelsdag voor God rekenskap kan gee?DGC 245.1

    Die lewe is te ernstig om met tydelike en aardse dinge gevul te wees in ‘n trapmeul van sorg en angs oor die dinge wat vergeleke met die dinge van ewige belang slegs’n atoom is. Tog het God ons geroep om Hom in die tydelike sake van die lewe te dien. Vlytigheid in hierdie werk is net so‘n belangrike deel van ware godsdiens as vroomheid. Die Bybel keur luiheid nie goed nie. Dit is die grootste vloek wat ons wêreld teister. Elke man en elke vrou wat waarlik bekeerd is, sal ‘n ywerige werker wees.DGC 245.2

    Van die regte gebruik van ons tyd hang ons sukses in die verkryging van kennis en verstandelike ontwikkeling af. Verbetering van die verstand hoef nie deur armoede, ‘n beskeie agtergrond, of ongunstige omgewing verhinder te word nie. Ag net die minute as kosbaar.‘n Paaroomblikke hier en ‘n paar daar wat verspil kan word op nuttelose praatjies; die oggendure wat so dikwels in die bed verkwis word; die tyd wanneer mens per bus of trein reis, of op die stasie wag; die oomblikke wanneer mens op die ete wag, of op diegene wat laat is vir‘n afspraak - as mens ‘n boek byderhand hou en hierdie brokkies tyd vir studie, lees of versigtige nadenke gebruik, kan jy daar veel mee bereik. Vasberadenheid, volhardende vlyt en versigtige spaarsaamheid met tyd sal mense in staat stel om hulle verstand te dissiplineer sodat hulle vir byna enige invloedryke, bruikbare pos geskik sal wees.DGC 245.3

    Dit is die plig van elke Christen om gewoontes van ordelikheid, deeglikheid en spoed aan te kweek. Daar is geen verskoning vir stadige brouwerk van enige aard nie. As mens altyd aan die werk is en die werk kom nooit klaar nie, is dit omdat die hart nie in die werk is nie. Die een wat stadig en onbeholpe werk, moet verstaan dat hierdie tekortkominge reggestel behoort te word. Hy moet sy verstand gebruik en planne beraam om sy tyd so te gebruik dat hy die beste resultate kan verkry. Deur die regte slag en metode sal sommige soveel in vyf uur kan verrig as wat andere in tien uur doen. Sommige mense wat huishoudelike arbeid verrig, is altyd aan die werk; nie omdat hulle soveel het om te doen nie, maar omdat hulle nie so beplan dat hulle tyd kan spaar nie. Deur hulle stadige, draaierige maniere maak hulle baie werk uit baie min. Maar almal wat wil, kan hierdie omslagtige, langsame gewoontes oorwin. Laat hulle’ n besliste doel in hulle werk hê. Besluit hoeveel tyd nodig is vir ‘n gegewe taak, en laat alle kragte ingespan word om die werk in die gegewe tyd te voltooi. Die beoefening van wilskrag sal die hande vaardig laat beweeg.DGC 245.4

    Weens gebrek aan vasberadenheid om hulleself kort te vat en te hervorm, kan mense in verkeerde gewoontes vasraak, of deur hulle kragte te ontwikkel kan hulle die bekwaamhede verkry om die allerbeste diens te lewer. Dan sal hulle vind dat hulle op enige plek en orals in aanvraag is. Hulle sal gewaardeer word vir wat hulle werd is.DGC 246.1

    Baie kinders en jongmense verkwis tyd wat hulle kon gebruik het om laste in die huis te dra waardeur hulle liefde en belangstelling in vader en moeder kan toon. Die jeug kan op hulle sterk, jong skouers baie verantwoordelikhede neem wat iemand moet dra.DGC 246.2

    Die lewe van Christus was van Sy jongste jare af‘n lewe van ernstige werksaamheid. Hy het nie geleef om Homself te behaag nie. Hy was die Seun van die ewige God, en tog het Hy as skrynwerker saam met Sy vader Josef gewerk. Sy ambag was betekenisvol. Hy het in die wêreld ingekom as die karakterbouer en as sodanig was al Sy werk volmaak. In al Sy sekulêre arbeid het Hy dieselfde volmaaktheid ingebring as in die karakters wat Hy besig was om deur Sy Goddelike krag te verander. Hy is ons voorbeeld.DGC 246.3

    Ouers behoort aan hulle kinders die waarde en die regte gebruik van tyd te leer. Leer hulle dat om iets te doen wat God sal vereer en die mensdom sal seën, iets is wat die moeite werd is om na te strewe. Selfs in hulle vroegste jare kan hulle sendelinge vir God wees.DGC 246.4

    Ouers kan nie ‘n groter sonde pleeg as om hulle kinders toe te laat om ledig te wees nie. Gou leer die kinders om ledigheid lief te hê, en hulle word as hulpelose, nuttelose manne en vroue groot. As hulle oud genoeg is om hulle eie verdienste te hê, en hulle vind werk, dan werk hulle op ‘n lui, halfslagtige manier, en tog verwag hulle om net soveel betaal te word as indien hulle getrou gewerk het. Daar is ‘n wêreldwye verskil tussen hierdie klas werkers en dié wat besef dat hulle getroue rentmeesters moet wees.DGC 246.5

    Lui, onverskillige gewoontes wat in sekulêre werk beoefen word, sal in die godsdienstige lewe ingebring word en sal mens ongeskik maak om bekwame diens vir God te doen. Baie wat deur vlytige arbeid vir die wêreld tot seen kon gewees het, is deur ledigheid geruïneer. Gebrek aan werk en aan vasberade doelgerigtheid maak die deur vir‘n duisend versoekings oop. Slegte maats en kwade gewoontes verlaag die verstand en die siel, en die gevolg is ondergang in sowel hierdie lewe as die lewe wat kom.DGC 247.1

    Watter soort werk ons ook al verrig, die woord van die Here leer ons: “Wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here.” “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag,” “omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus.” (Rom. 12:11; Pred. 9:10; Kol. 3:24.)DGC 247.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents