Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Gelykenisse van Christus

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "undefined".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 5—“Soos ‘n Mosterdsaad”

    Na aanleiding van Mattheus 13:31, 32; Markus 4:30-32; Lukas 13:18,19

    ONDER die menigtes wat na Christus se leer geluister het, was daar baie Fariseërs. Hulle het met veragting opgemerk hoe weinig van Sy toehoorders Hom as die Messias erken het. En hulle het hulle afgevra hoe hierdie beskeie leermeester Israel tot ‘n wêreldryk kon verhef. Hoe sou Hy die nuwe koninkryk sonder rykdom, mag of eer tot stand bring? Christus het hulle gedagtes gelees en het daarop geantwoord:DGC 41.1

    “Waarmee moet ons die koninkryk van God vergelyk, of met watter soort gelykenis moet ons dit voorstel?” Wat aardse regerings betref, was daar niks wat kon dien as ‘n gelykenis nie. Geen burgerlike samelewing kon as simbool dien nie. “Dit is soos’n mosterdsaad, wat die kleinste is van al die soorte saad op die aarde wanneer dit in die grond gesaai is; en wanneer dit gesaai is, kom dit op en word groter as al die groentesoorte en maak groot takke, sodat die voëls van die hemel onder sy skaduwee nes kan maak.” Markus 4:31, 32.DGC 41.2

    Die kiem in die saad groei deur die ontplooiing van die lewensbeginsel wat God ingeplant het. Die ontwikkeling daarvan is nie afhanklik van menslike krag nie. So is dit met die koninkryk van Christus. Dit is ‘n nuwe skepping. Die beginsels van sy ontwikkeling is net die teenoorgestelde van dié wat die koninkryke van hierdie wêreld beheer. Aardse koninkryke heers met geweld; hulle behou hulle heerskappy deur oorloë; maar die grondlegger van die nuwe koninkryk is die Vredevors. Die Heilige Gees stel aardse koninkryke met wrede roofdiere voor, maar Christus is “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” (Joh. 1:29) In Sy regeringstelsel word geen geweld gebruik om die gewete te dwing nie. Die Jode het verwag dat die koninkryk van God op dieselfde manier as die koninkryke van die wêreld opgerig sou word. Om geregtigheid te bevorder het hulle hul tot uiterlike maatreëls gewend. Hulle het allerlei metodes en planne uitgedink. Maar Christus plant ‘n beginsel in. Deur die inplanting van waarheid en geregtigheid maak Hy dwaling en sonde tot niet.DGC 41.3

    Waar Jesus hierdie gelykenis geleer het, was die mosterdplant orals sigbaar bokant die gras en graan; sy takke het liggies in die windjie beweeg. Voëls het van tak tot tak gevlieg en tussen die blare gesing. Tog was die saad waaruit hierdie reuse plant gespruit het onder die kleinste van alle soorte saad. Eers het dit ‘n tere spruit opgestoot, maar dit was sterk en fris en het gegroei en gebloei totdat dit sy huidige grootte bereik het. So was die koninkryk van God aanvanklik skynbaar nederig en onbeduidend. Vergeleke met aardse koninkryke het dit gelyk of dit die kleinste van almal was. Die regeerders van hierdie wêreld het Christus se bewering dat Hy‘n koning was, met spot bejeën. Tog het die koninkryk van die evangelie in die magtige waarhede wat aan Sy volgelinge toevertrou is’n Goddelike lewe besit. Hoe snel was die groei, hoe uitgestrek die invloed daarvan! Toe Christus hierdie gelykenis gespreek het, was daar maar net ‘n paar arm Galileërs om hierdie nuwe koninkryk te verteenwoordig. Hulle armoede en klein getalle is keer op keer as rede verstrek waarom mense hulle nie by hierdie eenvoudige vissers wat Jesus gevolg het, moes aansluit nie. Maar die mosterdsaad sou groei en sy takke sou deur die hele wêreld versprei. Wanneer die aardse koninkryke, waarmee mense geroem het, tot niet sou gaan, sou die koninkryk van Christus as kragtige en vérreikende mag bly staan.DGC 42.1

    So is die werk van genade in die hart aanvanklik klein. ‘n Woord word gespreek,‘n ligstraal word in die siel ingewerp en‘n invloed word uitgeoefen wat die begin van die nuwe lewe beteken; en wie kan sy gevolge bereken?DGC 42.2

    Nie alleenlik word die groei van Christus se koninkryk deur die gelykenis van die mosterdsaad geïllustreer nie, maar op elke stadium van sy groei word die ondervinding herhaal wat in die gelykenis voorgestel word. God het ‘n spesiale waarheid en ‘n spesiale werk vir sy kerk in elke geslag. Die waarheid wat van die wêreld se wyses en verstandiges teruggehou word, word aan die kinderlikes en die nederiges geopenbaar. Om dit te verkry verg selfopoffering. Mens moet daarvoor stry en oorwinnings behaal. Aanvanklik is daar min wat dit verkondig. Die grotes van die wêreld en ‘n wêreldsgesinde kerk verag en bestry hulle. Kyk hoe staan Johannes die Doper, die voorloper van Christus, alleen om die hoogmoed en vormgodsdiens van die Joodse nasie te bestraf. Aanskou die eerste verkondigers van die evangelie in Europa. Hoe beskeie, hoe skynbaar hopeloos was die sending van Paulus en Silas, die twee tentmakers, toe hulle saam met hulle vriende te Troas na Filippi skeepgegaan het. Aanskou hoe “Paulus, as’n ou man,” in boeie Christus in die vesting van die Caesars verkondig. Aanskou die klein groepies slawe en armes in stryd teen die heidendom van die Romeinse ryk. Aanskou Martin Luther waar hy sy stand inneem teen daardie magtige kerk wat ‘n meesterstuk is van wêreldse wysheid. Kyk hoe staan hy op Gods Woord teen keiser en pous, met die verklaring, “Hier staan ek, ek kan nie anders nie. Mag God my help.”DGC 42.3

    Aanskou John Wesley waar hy Christus en Sy geregtigheid te midde van vormdiens, wellustigheid en ongeloof verkondig. Aanskou hoe een wat met die wee van die heidense wêreld belas is om die voorreg pleit om die boodskap van Christus se liefde na hulle te neem. Luister na die antwoord van kerkisme: “Sit maar, jongman. Wanneer God die heidene wil bekeer, sal Hy dit sonder jou hulp en sonder myne doen.”DGC 43.1

    Vooraanstaande godsdiensleiers van hierdie geslag loof hulle wat die waarheidsaad eeue gelede gesaai het en rig vir hulle monumente op. Is daar nie deesdae vele wat hierdie werk los en die spruite van hierdie selfde saad vertrap nie? Die ou kreet word herhaal, “Ons weet dat God met Moses gespreek het; maar wat Hom betref [Christus in die boodskapper wat Hy stuur], ons weet nie van waar Hy is nie.” (Joh. 9:29) Soos in vervloë eeue word die besondere waarhede vir hierdie tyd nie by diegene gevind wat kerklike gesag het nie, maar by manne en vroue wat nie te geleerd of te wys is om die woord van God te glo nie.DGC 43.2

    “Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak.” (1 Kor. 1:26-28); “sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.” (1 Kor. 2:5)DGC 43.3

    En in hierdie laaste geslag sal die gelykenis van die mosterdsaad ‘n duidelike en triomfantlike vervulling bereik. Die klein saadjie sal ‘n boom word. Die laaste boodskap van waarskuwing en genade sal na “alle nasies en stamme en tale,” gaan (Openb. 14:6-14), “om ‘n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem.” (Hand. 15:4) En die aarde sal verlig word deur Sy heerlikheid. (Openb. 18:1)DGC 43.4

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents