Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Eerste Geskrifte

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 39—Christus Verraai

    Ek is gebring tot die tyd toe Jesus die Pasga geëet het saam met Sy dissipels. Die Satan het Judas bedrieg en hom gelei om te dink dat hy een van Christus se ware dissipels was; maar sy hart was maar altyd vleeslik. Hy het die magtige werke van Jesus gesien; hy was saam met Hom in Sy bediening, en hy het die oorweldigende getuienis aangeneem dat: Hy die Messias was; maar Judas was suinig en inhalig; hy het geld liefgehad. Hy was kwaad oor die kosbare salf wat op Jesus uitgegiet is. Maria het haar Here liefgehad. Hy het haar sondes vergewe, en dit was baie, en Hy het haar broer uit die dode opgewek, en sy het gevoel dat niks te kosbaar was om aan Jesus te gee nie. Hoe kosbaarder die salf, hoe beter kon sy daardeur haar dankbaarheid aan die Heiland toon. As dekmantel vir sy inhaligheid, het Judas aangevoer dat dit verkoop moes gewees het, en dat die geld aan die armes gegee moes gewees het. Maar dit was nie omdat hy enige gevoel vir die armes gehad het nie, want hy was selfsugtig, en dikwels het hy van die geld vir homself geneem wat hy in bewaring gehad het vir die armes. Judas het hom nie bekommer oor die gerief en selfs die behoeftes van Jesus nie, en om sy hebsugtigheid te bedek, het hy dikwels van die armes gepraat. Hierdie gulhartige daad van Maria was ‘n skerp bestraffing van sy inhalige geaardheid. Die weg is berei vir die versoeking van die Satan om ingang te kry tot die hart van Judas.EG 163.1

    Die priesters en owerstes van die Jode het Jesus gehaat; maar menigtes het na Hom gekom om Sy woorde van wysheid te hoor, en Sy magtige werke te sien. Die uiterste belangstelling van die mense is opgewek, en hulle het Jesus gretig gevolg om die leer te hoor van hierdie wonderbare leraar Baie van die owerstes het in Hom geglo, maar hulle was bang om hulle geloof te bely sodat hulle nie miskien uit die sinagoge gewerp sou word nie. Die priesters en owerstes het besluit dat iets gedoen moes word om die aandag van die mense af te trek van Jesus. Hulle het gevrees dat al die mense in Hom sou glo. Hulle kon geen veiligheid vir hulleself sien nie. Hulle moes of hulle posisie verloor, of hulle moes Jesus om die lewe bring. En nadat hulle Hom om die lewe gebring het, sou daar nog diegene wees wat lewende monumente is van Sy krag. Jesus het Lasarus uit die dode opgewek, en hulle het gevrees dat as hulle Jesus om die lewe sou bring, sou Lasarus getuig van Sy groot krag. Die mense het toegestroom om die man te sien wat uit die dode opgewek is, en die owerstes het besluit om ook Lasarus dood te maak, en so die opwinding te demp. Daarna sou hulle die mense terugbring na die tradisies en leringe van mense, die vertiening van kruisement en wynruit, om so weer invloed oor hulle te hê. Hulle het besluit om Jesus gevange te neem as Hy alleen is, want as hulle sou probeer om Hom by die skare te neem, terwyl die mense se belangstelling in Hom so groot was, sou hulle moontlik gestenig word.EG 163.2

    Judas het geweet hoe graag hulle Jesus in die hande wou kry, en hy het aangebied om Hom in die hande van die owerpriesters en ouderlinge te verraai vir ‘n paar silwer geldstukke. Sy liefde vir geld het hom laat instem om sy Here te verraai in die hande van Sy bitterste vyande. Die Satan het regstreeks deur Judas gewerk, en daar by die indrukwekkende toneel van die laaste avondmaal, was die verraaier besig met sy planne om Sy Meester te verraai. In droefheid het Jesus aan Sy dissipels gesê dat almal daardie aand aan Hom sal aanstoot neem. Maar Petrus het heftig verklaar dat al sou al die ander aanstoot neem, sou hy dit nie doen nie. Jesus het aan hom gesê: “Die Satan het vurig begeer om jou soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie mag ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.”Lukas 22:31,32.EG 164.1

    Ek het Jesus in die tuin gesien met Sy dissipels. In groot droefheid het Hy hulle gevra om te waak en te bid sodat hulle nie in versoeking kom nie. Hy het geweet dat hulle geloof beproef sou word, hulle hoop teleurgestel, en dat hulle al die krag wat hulle kan kry deur te waak en te bid, sou nodig hê. Met sterk geroep en geween het Jesus gebid, “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie My wil nie, maar U wil geskied” Die Seun van God het in angs gebid. Groot druppels bloed het op Sy voorhof gestaan en op die grond geval. Engele het oor die plek gesweef, die toneel gesien, maar net een het opdrag gehad om die Seun van God te gaan versterk in Sy lyde. Daar was geen vreugde in die hemel nie. Die engele het hulle krone en harpe neergegooi, en stil en met die grootste belangstelling het hulle Jesus gadegeslaan. Hulle wou graag die Seun van God omring, maar die bevelvoerende engel wou hulle nie toe laat nie, want as hulle sou sien hoedat Hy verraai word, sou hulle Hom miskien wou verlos; die verlossingsplan is opgestel, en dit moes vervul word.EG 164.2

    Nadat Jesus gebid het, het Hy na Sy dissipels gekom, maar hulle het geslaap. In daardie vreeslike uur het Hy nie die medelyde en gebede van selfs Sy dissipels gehad nie. Petrus, wat ‘n rukkie tevore nog so ywerig was, was vas aan die slaap. Jesus het hom herinner aan sy positiewe verklarings, en het aan hom gesê, “So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie?” Driemaal het die Seun van God in angs gebid. Toe het Judas met sy bende hulle verskyning gemaak. Hy het sy Meester soos gewoonlik genader en Hom gegroet. Die bende het Jesus omring, maar toe het Hy Sy goddelike krag geopenbaar, en gevra, “Wie soek julle?””Dit is Ek.” Hulle het teruggedeins en op die grond neergeval. Jesus het hierdie vraag gestel sodat hulle Sy krag kon sien en die bewys kon hê dat Hy Homself uit hulle hande kon verlos as Hy wou.EG 165.1

    Die dissipels se hoop het herleef toe hulle sien hoedat die skare met hulle swaarde en stokke so vinnig teen die grond val. Toe hulle opstaan en weer die Seun van God omring, het Petrus sy swaard uitgetrek en die kneg van die hoëpriester se oor afgekap. Jesus het Hom beveel om sy swaard weer in die skede te steek, en gesê; “Dink jy dat Ek nie nou My Vader kan bid, en Hy sal vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar stel nie?”Toe hierdie woorde gespreek is, het ek gesien dat die aangesigte van die engele opgeflikker het met hoop. Daar en dan het hulle begeer om hulle Aanvoerder te omring en om die bose skare uitmekaar te jaag. Maar weer het droefheid oor hulle gekom toe Jesus bygevoeg het, maar”hoe sou die Skrifte dan vervul word, dat dit so moet gebeur?” Die moed van die dissipels het ook in wanhoop en bitter teleurstelling gesak toe Jesus toegelaat het dat Sy vyande Hom wegneem.EG 165.2

    Die dissipels het gevrees vir hulle eie lewens, en hulle het Hom almal verlaat en gevlug. Jesus is alleen gelaat in die hande van die moorddadige bende. 0, wat ‘n oorwinning was dit vir die Satan! En hoe droefgeestig was die engele van God! Baie afdelings heilige engele, elk aangevoer deur ‘n groot bevelvoerende engel aan hulle hoof, is gestuur om toeskouers te wees by die toneel. Hulle moes elke belediging aanteken, en elke mishandeling van die Seun van God; ook moes hulle al die angs aanteken wat Jesus sou ly; want daardie einste manne wat ‘n rol gespeel het in daardie vreeslike toneel, sal dit alles weer in lewende karakters sien.EG 165.3

    _______________

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents