Die Jode was baie trots op hul kuisheid en het die wellustige praktyke van die heidene met afsku bejeën. Die teenwoordigheid van Romeinse amptenare in Palestina was 'n steen des aanstoots vir die volk, want hierdie uitlanders het allerhande heidense gebruike, wellus en verdorwenheid met hulle saamgebring. In Kapernaum het Romeinse amptenare met hul vrolike minnaresse die parke en promenades opgesoek, en dikwels het brasserye die stilte van die meer verbreek wanneer hul plesierbote op die stil waters beweeg het. Die skare het verwag dat Jesus hierdie mense kras moes veroordeel, maar tot hul verbasing moes hulle woorde aanhoor wat die boosheid van hul eie harte ontbloot het! MOR 66.1
As die bose gedagte innerlik gekoester word, hoe heimlik ook al, het Jesus gesê, wys dit dat die sonde nog in die hart heers. Die siel verkeer nog in galbitterheid en in die bande van die on-geregtigheid. Hy wat genot vind in onreine gedagtes of wat hom skuldig maak aan 'n wellustige blik, kan in die openlike sonde met sy las van skande en smart die ware aard van die boosheid sien wat hy in die binnekamers van die siel verberg. Die versoeking self waaronder 'n mens moontlik in ernstige sonde kan verval, skep nie die boosheid wat aan die lig gebring word nie, maar ontwikkel of openbaar slegs die begeertes wat al die tyd in die hart gesmeul het. Soos 'n mens “in sy siel bereken, so is hy;” want uit die hart “is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 23:7; 4:23). MOR 66.2