Om te voorkom dat 'n siekte na die liggaam versprei en die lewe vernietig, sal 'n mens toelaat dat selfs jou regterhand afgesit word. Veel meer behoort ons gewillig te wees om af te sien van wat die lewe van die siel in gevaar stel. MOR 67.1
Deur middel van die evangelie moet siele wat deur die Satan bederf en verslaaf is, verlos word om deel te kan hê aan die heerlike vryheid van die seuns van God. God beoog nie net om te verlos van die lyding wat die onvermydelike gevolg van die sonde is nie, maar om van die sonde self te verlos. Die verdorwe en gebreklike siel moet gereinig en verander word, sodat dit in “die lieflikheid van die Here” geklee kan word, “om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun.” Net die ewigheid sal ons leer watter heerlike bestemming vir die mens wag wat na die beeld van God herstel is. MOR 67.2
Om hierdie hoë ideaal te kan bereik, moet enigiets wat die siel kan laat struikel, opgeoffer word. Dit is deur die wil dat die sonde steeds 'n houvas oor ons het. Die oorgawe van die wil word vergelyk met die uitpluk van die oog of die afkap van die hand. Dikwels kom dit vir ons voor dat die onderwerping van die wil aan God op dieselfde sal neerkom as om vermink deur die lewe te gaan. Maar dit is beter, sê Christus, dat die eie-ek vermink of gewond word as dit nodig is, as dit u in staat stel om in die lewe in te gaan. Wat die mens vir 'n ramp aansien, is die deur tot die hoogste goed. MOR 67.3
God is die fontein van die lewe, en ons kan die lewe alleen ontvang as ons met Hom gemeenskap het. Sonder God kan ons 'n kort rukkie voortbestaan, maar ons het nie die lewe nie. “Sy wat losbandig is, is lewendig dood.” 1 Timotheus 5:6. Net as ons die wil aan God oorlewer is dit vir Hom moontlik om ons lewe te gee. Net as ons Sy lewe deur middel van selfoorgawe ontvang, sê Jesus, is dit moontlik dat hierdie geheime sondes wat Ek aan die kaak gestel het, oorwin kan word. Julle kan dit maar in jul harte begrawe en hulle vir die oë van mense verberg, maar hoe sal julle in die teenwoordigheid van God staan? MOR 67.4
As u vaskleef aan die eie-ek en weier om u wil aan God te onderwerp, kies u die dood. Vir sonde, waar dit ook gevind mag word, is God 'n verterende vuur. As u die sonde kies en weier om daarvan geskei te word, moet die teenwoordigheid van God, wat die sonde verteer, u verteer. MOR 68.1
Dit sal opoffering vereis om u aan God te onderwerp; maar dit is die opoffering van 'n geringer ding vir iets hoërs, van die aardse vir die geestelike, die verderflike vir die ewige. God ver-wag nie dat ons wil vernietig moet word nie, want dit is net deur die beoefening daarvan dat ons kan bereik wat Hy vir ons beoog. Ons wil moet aan Hom oorgelewer word, sodat ons dit kan terug-ontvang, gelouter en gereinig, en so eendragtig met die Goddelike verbind, dat Hy deur ons die getye van Sy liefde en krag kan uitstort. Hoe bitter en pynlik hierdie oorgawe ook al vir die eiesinnige, afvallige hart skyn te wees, tog is dit “vir jou beter.” MOR 68.2