Die Heiland het Sy modelgebed twee keer gegee - eers aan die skare in die Bergpredikasie, en enkele maande later aan net die dissipels. Die dissipels was 'n kort tydjie weg van hul Here af, en by hul terugkeer het hulle Hom verdiep in gemeenskap met God gevind. Asof onbewus van hul teenwoordigheid, het Hy aangehou hardop bid. Die Heiland se gelaat het gestraal van hemelse lig. Dit was asof Hy in die teenwoordigheid van die Ongesiene self was, en Sy woorde het van lewenskrag getuig soos van een wat met God verkeer. MOR 113.1
Die dissipels se harte was diep ontroer. Hulle wis hoe dikwels Hy lange ure alleen in gemeenskap met Sy Vader deurgebring het. Hy het Sy dae gewy aan die bediening van die menigtes wat om Hom saamgedring het, en in die ontmaskering van die verrader-like drogredenasies van die rabbi’s, en hierdie ononderbroke arbeid het Hom dikwels so uitgeput dat Sy moeder en sy broers, en selfs Sy dissipels vir Sy lewe gevrees het. Maar wanneer Hy teruggekeer het van hierdie ure van gebed na afloop van 'n vermoeiende dag, het hulle die vrede op Sy gelaat gelees, die verkwikking wat Sy teenwoordigheid dan deurtrek het. Dit was van hierdie ure wat Hy in die teenwoordigheid van God deurge-bring het, dat die Heiland oggend vir oggend uitgegaan het om die lig van die hemel na die mensdom te neem. Sy dissipels het begin besef dat Sy ure van gebed verband het met die krag van Sy woorde en werke. En nou, terwyl hulle na Sy smeking geluister het, is hul harte met ontsag en ootmoed vervul. Toe Hy ophou bid, was dit met 'n besef van hul eie groot behoefte dat hulle uitgeroep het: “Here, leer ons bid” (Lukas 11:1). MOR 113.2
Jesus gee hulle geen nuwe gebedsvorm nie. Hy herhaal wat Hy hulle tevore geleer het, asof Hy wil sê: Julle behoefte is om te verstaan wat Ek julle reeds gegee het. Daarin skuil 'n diepte van betekenis wat julle nog nie gepeil het nie. MOR 114.1
Die Heiland beperk ons egter nie tot die gebruik van hierdie presiese woorde nie. As mens bied Hy ons Sy eie ideaal vir gebed aan - sulke eenvoudige woorde dat 'n klein kindjie hulle kan gebruik, en tog so alomvattend dat die grootste geeste nooit die betekenis daarvan ten volle kan begryp nie. Ons word geleer om God met danksegging te nader, om ons behoeftes bekend te maak, ons sondes te bely, en om aanspraak op Sy genade te maak volgens Sy belofte. MOR 114.2