Jesus leer ons om Sy Vader ons Vader te noem. Hy skaam Hom nie om ons broeders te noem nie (Hebreërs 2:11). Die Heiland se hart is so bereid, so gretig om ons as lede van die gesin van God te verwelkom, dat Hy in die heel eerste woorde wat ons moet besig om God te nader, die versekering van ons Goddelike verwantskap stel, “Onse Vader.” MOR 114.3
Hier het ons 'n bevestiging van die wonderbare waarheid, so vol bemoediging en vertroosting, dat God ons liefhet soos Hy Sy Seun liefhet. Dit is wat Jesus in Sy laaste gebed vir Sy dissipels gesê het, dat U “hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het” (Johannes 17:23). MOR 114.4
Die wêreld wat die Satan ingepalm en so wreed geregeer het, het die Seun van God in een ontsaglike daad met Sy liefde omring en weer met die troon van die Allerhoogste verbind. Gerubs en serafs en die ontelbare leërskare van die ongevalle wêrelde het in lofliedere tot God en die Lam uitgebreek toe hierdie oorwinning behaal is. Hulle het hulle daaroor verheug dat verlossing vir die gevalle wêreld verseker is en dat die aarde bevry sou word van die vloek van die sonde. Hoe veel te meer moet hulle hul nie ver-heug om wie se onthalwe hierdie weergalose liefde bewys is nie! MOR 115.1
Hoe kan ons ooit twyfel of onseker wees, of voel dat ons wese is? Juis ter wille van hulle wat die wet oortree het, het Jesus die mensheid op Hom geneem; Hy het aan ons gelyk geword sodat ons ewigdurende vrede en veiligheid kan hê. Ons het 'n Voorspraak in die hemel, en elkeen wat Hom as sy persoonlike Saligmaker aanneem, is nie 'n weeskind wat sy eie sondes moet dra nie. MOR 115.2
“Geliefdes, nou is ons kinders van God.” “En as ons kinders is dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” “Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.” 1 Johannes 3:2; Romeine 8:17. MOR 116.1
Die heel eerste stap as ons God wil nader, is om die liefde wat Hy vir ons het te ken en te glo (1 Johannes 4; 16); want dit is Sy liefde wat ons tot Hom trek. MOR 116.2
Die besef van God se liefde bring selfverloëning. Deur God ons Vader te noem, aanvaar ons al Sy kinders as ons broeders. Ons is almal deel van die groot mensemassa, almal lede van een gesin. In ons gebede moet ons aan ons naastes dink soos aan onsself. Niemand bid reg as hy 'n seën net vir homself soek nie. MOR 116.3
Die oneindige God, het Jesus gesê, gun u die voorreg om Hom as Vader aan te spreek. Dink aan alles wat dit beteken. Geen aardse ouer pleit ooit so ernstig met 'n afkerige kind as wat ons Skepper by die oortreder pleit nie. Geen mens het die onboet-vaardige nog ooit met sulke liefdevolle belangstelling en tere uitnodigings agtervolg nie. Die Here woon in elke huis; Hy hoor elke woord wat gespreek word, luister na elke gebed wat tot Hom gerig word, deel in die verdriet en teleurstellings van elke siel, sien hoe vader, moeder, suster, vriend en buurman behandel word. Hy ken ons behoeftes, en Sy liefde, ontferming en genade vloei voortdurend uit om daarin te voorsien. MOR 116.4
Maar as u God u Vader noem, erken u dat u Sy kind is, om deur Sy wysheid gelei te word en in alles gehoorsaam te wees, wetende dat Sy liefde onveranderlik is. U sal Sy plan vir u lewe aanvaar. As kind van God sal u Sy eer, Sy karakter, Sy volk en Sy werk, onderwerpe van intense belangstelling vind. Dit sal u vreugde gee om u plig teenoor u Vader en elke lid van Sy gesin te erken en na te kom. U sal u verbly in enige daad, hoe nederig ook al, wat Hom tot eer sal strek of wat die welvaart van u medemens sal bevorder. MOR 116.5
“Wat in die hemele is.” Hy wat Christus wil hê dat ons as onse Vader moet beskou, is “tog in die hemel... Hy doen alles wat Hom behaag” (Psalm 115:3). In Sy sorg kan ons ons veilig berus en sê: “die dag as ek vrees, sal ek op U vertrou” (Psalm 56:4). MOR 117.1