Jesus leer ons dat ons van God net in die mate vergifnis kan verwag waarin ons ander vergewe. Dit is die liefde van God wat ons na Hom toe trek, en daardie liefde kan ons harte nie aanraak sonder om liefde vir ons broeders op te wek nie. MOR 124.3
Toe Jesus Sy gebed voltooi het, het Hy bygevoeg: “As julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” Hy wat onvergewensgesind is, sluit sodoende die enigste kanaal waardeur hy van God genade kan ontvang. Ons moenie dink dat ons die vergifnis maar kan weerhou totdat die een wat ons te na gekom het om vergifnis kom vra nie. Dit is ongetwyfeld hulle plig om hulle te verootmoedig met berou en belydenis; maar ons moet 'n gees van barmhartigheid aan die dag lê teenoor diegene wat ons te na gekom het, ongeag of hulle hul skuld bely het of nie. Ongeag hoe diep hulle ons miskien seergemaak het, mag ons nie griewe koester of onsself oor die onreg bejam-mer nie; maar in dieselfde mate waarin ons verwag om vergifnis van God te ontvang vir ons misdrywe teenoor Hom, moet ons ook diegene vergewe wat ons te na gekom het. MOR 124.4
Maar vergifnis het 'n baie breër betekenis as wat baie dink. Wanneer God beloof dat Hy menigvuldiglik sal vergewe, sê Hy, asof die betekenis van daardie belofte ons verstand te bowe gaan: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die Here. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.” Jesaja 55:8, 9. God se vergifnis is nie 'n blote regsdaad waardeur ons ver-oordeling tersyde gestel word nie. Dis nie net vergifnis van die sonde nie, maar herwinning uit die sonde. Dis die uitstraling van 'n reddende liefde wat die hart verander. Dawid het die ware begrip van vergifnis gehad toe hy gebid het: “Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees.” Psalm 51:12. “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” Psalm 103:12. MOR 125.1
In Christus het God Homself vir ons sondes gegee. Hy het die wrede kruisdood gesterf, vir ons die skuldlas gedra, “die Regverdige vir die onregverdiges,” om Sy liefde aan ons te openbaar en ons na Hom toe te trek. En Hy sê: “Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Efesiërs 4:32). Laat Christus, die Goddelike Lewe, in julle leef en deur julle die hemelse liefde openbaar wat die hopeloses met hoop sal besiel en hemelse vrede na die sondegeteisterde hart sal bring. Dit is die voor-waarde wat by die drumpel vir ons wag as ons tot God kom, dat ons met die genade wat ons van Hom ontvang, onsself moet oorgee om Sy genade aan andere te openbaar. MOR 127.1
Om die vergewende liefde van God te kan ontvang en bewys, is een ding noodsaaklik: dat ons die liefde wat Hy vir ons het, ken en glo (1 Johannes 4:16). Die Satan gebruik elke denkbare mis-leiding om te verhoed dat ons daardie liefde besef. Hy sal ons oortuig dat ons foute en oortredinge so groot is dat die Here ons gebede nie sal verhoor en ons nie sal seën en red nie. Ons kan in onsself niks anders as swakheid sien nie, niks wat ons by God kan aanbeveel nie; die Satan vertel ons dat dit hopeloos is; dat ons ons karaktergebreke nie kan aansuiwer nie. Wanneer ons die Here probeer nader, fluister die vyand: “Dit help nie om te bid nie; het jy nie daardie bose dinge begaan nie? Het jy nie teen God gesondig en jou gewete verkrag nie?” Maar ons kan vir die vyand sê dat die bloed van Jesus Christus ons van alle sonde reinig. (1 Johannes 1:7.) Wanneer ons voel ons is sondaars en ons kan nie bid nie, is dit juis die tyd om te bid. Ons voel moontlik skaam en verneder, maar ons moet bid en glo. “Dit is 'n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.” 1 Timotheus 1:15. Vergifnis, versoening met God, is nie beloning vir ons werke nie, dit word nie toegeken weens die verdienste van sondige mense nie, maar is 'n geskenk aan ons met die vlekkelose geregtigheid van Christus as grondslag vir sy toekenning. MOR 127.2
Ons moet nie ons skuldlas probeer verlig deur die sonde te verdedig nie. Ons moet God se taksering van die sonde aanvaar -en dit is inderdaad ernstig. Net Golgota kan die ontsaglikheid van die sonde aan die lig bring. Om self die las te moet dra sou ons verpletter. Maar die Sondelose het ons plek ingeneem; al verdien ons dit nie, het Hy ons sonde gedra. “As ons ons sondes bely,” God “is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9). Heerlike waarheid! - regverdig teenoor Sy eie wet, maar Regverdigmaker van almal wat in Jesus glo. “Wie is 'n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het 'n welbehae in goedertierenheid.” Miga 7:18. MOR 128.1