Versoeking is die uitlokking tot sonde. Dit kom nie van God nie, maar van die Satan en die boosheid van ons eie harte. “God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.” Jakobus 1:13. MOR 129.1
Die Satan wil ons in versoeking bring, sodat die boosheid van ons karakters voor mense en engele ontbloot kan word en hy ons as syne kan opeis. In die simboliese profesie van Sagaria staan die Satan aan die regterkant van die Engel van die Here en beskuldig hy Josua, die hoëpriester, wat vuil klere aan het, en hy weerstaan die werk wat die Engel vir Josua wil doen. Dit is die houding van die Satan teenoor elke siel wat Christus na Homself trek. Die vyand verlei ons tot sonde en beskuldig ons voor die heelal dat ons Gods liefde nie waardig is nie. Maar, “toe sê die Here aan die Satan: Mag die Here jou bestraf, o Satan! Ja, mag die Here, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie 'n brandhout wat uit die vuur geruk is nie?” En aan Josua het Hy gesê: “Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere.” Sagaria 3:1-4. MOR 129.2
God streef in Sy groot liefde daarna om die deugde van Sy Gees in ons te ontwikkel. Hy laat toe dat ons struikelblokke, moeilikhede en vervolging teëkom - nie as 'n vloek nie, maar as die grootste seën van ons lewe. Elke versoeking wat ons weerstaan, elke beproewing wat ons verduur, bring 'n nuwe ondervinding mee en bevorder die ontwikkeling van ons karakters. Die siel wat versoekings in die krag van God kan weerstaan, toon aan die wêreld en aan die hemele hoe doeltreffend die genade van Christus is. MOR 129.3
Maar hoewel ons nie moet toelaat dat beproewinge, hoe bitter ook al, ons moet ontmoedig nie, moet ons bid dat die Here nie sal toelaat dat ons na 'n punt gelei sal word waar ons deur die begeertes van ons eie bose harte weggevoer sal word nie. Deur hierdie gebed van Christus te bid, onderwerp ons ons aan die leiding van God en vra ons Hom om ons langs veilige weë te lei. Ons kan die gebed nie opreg bid en tog nog ons eie weg bewan-del nie. Ons sal wag dat Sy hand ons lei, ons sal na Sy stem luis-ter as Hy sê: “Dit is die weg, wandel daarop!” (Jesaja 30:21). MOR 130.1
Dit is onveilig om stil te staan en te bereken watter voordele ons kan ontvang as ons aan die Satan se versoekings toegee. Die sonde bring oneer en rampspoed oor elkeen wat hom daaraan skuldig maak; maar dit is oëverblindend en verleidelik van aard en lok ons met vleiende voorstellings. Waag ons ons op die Satan se terrein, het ons geen waarborg van beskerming teen sy mag nie. So ver moontlik moet ons elke opening toestop waardeur die verleier toegang tot ons kan kry. MOR 130.2
Die gebed: “Lei ons nie in versoeking nie,” is ook 'n belofte. As ons ons aan God toevertrou, het ons die versekering dat Hy “nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13). MOR 130.3
Al beskerming teen die bose is die inwoning van Christus in die hart deur die geloof in Sy geregtigheid. Dit is die bestaan van selfsug in ons harte wat maak dat die versoeking mag oor ons het. Maar as ons die liefde van God aanskou, besef ons hoe afstootlik en laakbaar selfsug is, en verlang ons dat dit uit die siel verdryf moet word. Terwyl die Heilige Gees Christus in ons ver-heerlik, word ons harte week en onderdanig, verloor die versoek-ing sy krag, en verander die genade van Christus die karakter. MOR 130.4
Christus laat geen siel vir wie Hy gesterf het in die steek nie. Die siel kan Hom verlaat en deur 'n versoeking oorweldig word, maar Christus draai nooit die rug op een wat Hy met Sy eie lewe losgekoop het nie. As ons geestelike oë kon oopgaan, sou ons siele sien wat onder verdrukking en droefheid gebuk gaan soos 'n wa onder gerwe, gereed om in wanhoop te sterwe. Ons sal ook sien hoe engele hierdie versoekte siele te hulp snel waar hulle op die rand van 'n afgrond staan. Die engele van die hemel dryf die bose magte terug en lei die verdrukte siel terug na vaste grond. Die stryd tussen die twee leërs is so werklik soos dié wat tussen die leërs van die wêreld gevoer word, en die lotsbestemming van mense hang van die uitslag van hierdie geestelike stryd af. MOR 130.5
Tot ons, soos tot Petrus, kom die woord: “Die Satan het vurig begeer om jou soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie” (Lukas 22:31, 32). Dank God ons staan nie alleen nie. Hy wat die wêreld so liefgehad het dat Hy Sy eie Seun gegee het, “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16), sal ons in die stryd met die teenstander van God en mens nie verlaat nie. “Kyk,” sê Hy, “Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.” Lukas 10:19. MOR 131.1
Bly in voeling met die lewende Christus, en Hy sal u hand altyd vashou. Ken en glo die liefde wat God vir ons het, en u is veilig; daardie liefde is 'n ondeurdringbare vesting vir die misleid-ings en aanslae van die Satan. “Die Naam van die Here is 'n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” Spreuke 18:10. MOR 132.1