Die verdriet wat hier genoem word, is egte droefheid oor die sonde. Jesus het gesê: “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.” Johannes 12:32. As 'n mens Jesus aan die kruis verhef sien, besef jy hoe sondig die mensdom is. Jy besef dat dit die sonde is wat die Heiland gegêsel en gekruisig het. Jy besef dat, hoewel jy teer bemin word, jy gedurig ondankbaar en opstandig is. Jy het jou beste Vriend in die steek gelaat en misbruik gemaak van die hemel se kosbaarste gawe. In jou lewe het jy die Seun van God opnuut gekruisig en opnuut daardie bebloede en bedroefde hart deursteek. Jy word van God geskei deur 'n kloof van sonde en jy betreur dit met 'n gebroke hart. MOR 15.2
Wie so bedroef is, “sal vertroos word.” God toon ons ons sonde, sodat ons ons tot Christus kan wend en Hy ons kan bevry uit die slawerny van die sonde, sodat ons ons kan verheug in die vryheid van die seuns van God. Ons kan met ware berou na die voet van die kruis kom en ons laste daar neerlê. MOR 16.1
Die Heiland se woorde het 'n vertroostende boodskap vir diegene wat leiding en droefheid ken. Ons droefheid is nie sonder rede nie. “Want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie.” Klaagliedere 3:33. Wanneer Hy beproewing toelaat, is dit “tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word” (Hebreërs 12:10). As ons dit in die geloof aanvaar, sal die beproewing wat so bitter is, vir ons tot heil wees. Die wrede houe wat ons vreugde op aarde verdryf, sal ons oë na die hemel trek. Hoe baie is daar wat Jesus nooit sou geken het as hulle nie in droefheid by Hom troos gesoek het nie! MOR 16.2
Die beproewinge van die lewe is God se handlangers wat onreinheid en grofheid uit die karakter verwyder. Die gekap en gebeitel, die geskuur en geskaaf is pynlik. Dit is swaar om teen die slypsteen gedruk te word, maar die geslypte steen is gereed vir sy plek in die hemelse tempel. Die Meester verkwis nie sulke sorgvuldige en deeglike werk aan waardelose stof nie. Net Sy kosbare stene word uitgebeitel na die boustyl van 'n paleis. MOR 17.1
Die Here sal almal bearbei wat op Hom vertrou. Hulle sal waardevolle lesse leer en waardevolle ondervindinge beleef. MOR 17.2
Ons hemelse Vader is nooit onbesorg oor hulle wat treur nie. Toe Dawid met bedekte hoof en kaal voete teen die Olyfberg opklim, “terwyl hy altyddeur loop en ween;” (2 Samuel 15:30), het die Here hom medelydend aangesien. Dawid was in sak en as geklee, en sy gewete het hom gegésel. Die uiterlike tekens van sy verootmoediging het getuig van sy berou. Toe Dawid sy saak met trane en 'n gebroke hart aan die Here voorgelê het, het die Here Sy dienskneg nie verwerp nie. Nooit was Dawid vir die liefdevolle Here dierbaarder as toe hy met 'n skuldige gewete vir sy lewe gevlug het van sy vyande wat deur sy eie seun opgestook is nie. Die Here sê: “Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou” (Openbaring 3:19). Christus verhef die gebroke hart en louter die bedroefde siel totdat dit Sy woning word. MOR 17.3
Hoeveel van ons is egter nie soos Jakob wanneer beproewinge ons oorval nie! Ons dink dis die hand van die vyand; blindelings worstel ons in die duisternis totdat ons uitgeput is sonder om troos of uitkoms te vind. Die Goddelike aanraking het Jakob laat besef met wie hy geworstel het - die Engel van die verbond; wenende en hulpeloos het hy hom oorgegee en toe die seën ontvang waarna sy siel gesmag het. Ons moet ook leer dat beproewinge voordelig is en dat ons die tugtiging van die Here nie moet verag of moedeloos moet word wanneer Hy ons bestraf nie. MOR 17.4
“Gelukkig is die man wat God kasty;... Hy doen smart aan, maar verbind ook; Hy verbrysel, maar sy hande maak gesond. In ses benoudhede sal Hy jou red, ja, in sewe sal geen onheil jou tref nie.” Job 5:17-19. Jesus genees elkeen wat beproef is. 'n Lewe van droefheid, pyn en lyding kan opgehelder word met kostelike openbarings van Sy teenwoordigheid. MOR 18.1
Die Here wil nie hê dat ons met gebroke harte onder die skaduwee van droefheid moet verkeer nie. Hy wil hê ons moet opkyk en die liefde in Sy aangesig sien. Die Heiland staan by menigeen wie se oë so deur trane verblind is, dat hy Hom nie herken nie. Hy verlang om ons aan die hand te hou; dat ons in die geloof tot Hom moet opsien en Hom moet toelaat om ons te lei. Hy voel saam met ons in ons beproewinge en droefheid. Hy het ons met 'n ewige liefde liefgehad en ons met barmhartigheid omring. Ons kan met ons hele hart op Hom vertrou en altyd aan Sy barmhartigheid dink. Hy sal ons bo die alledaagse droefhede en verleenthede verhef en ons vrede gee. MOR 18.2
Dink hieraan, kinders van lyding en droefheid, en verheug julle in hoop. “Dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.” 1 Johannes 5:4. MOR 18.3
Salig is ook hulle wat saam met Jesus ween oor die wêreld se leed en bedroef is oor sy sonde. Dit is geen selfsugtige rou nie. Jesus was die Man van Smarte wat onbeskryflike hartseer geken het. Sy gees is deur die oortredinge van mense verbrysel en verskeur. Hy het Hom opgeoffer om mense uit hulle ellende te verlos, en Hy was bedroef toe hulle weier om die lewe by Hom te neem. Almal wat Jesus volg, sal hierdie ondervinding hê. Wanneer hulle in Sy liefde deel, sal hulle 'n aandeel hê in Sy vermoeiende werk vir die redding van verlorenes. Hulle sal deel hê in die lyde van Christus - en in die heerlikheid wat geopenbaar sal word. Hulle wat saam met Hom arbei en uit die beker van Sy droefheid drink, sal ook in Sy vreugde deel. MOR 18.4
Dit was deur lyding dat Jesus die diens van vertroosting kon aanbied. In elke beproewing van die mens het Hy gedeel; “want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Jesaja 63:9; Hebreërs 2:18). Elke siel wat met Hom in Sy lyde deel, het die voorreg om hierdie diens met Hom te deel. “Soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ons troos ook oorvloedig deur Christus” (2 Korinthiërs 1:5). Die Here het 'n besondere genade vir die treurende, en die mag daarvan is om harte te versag, om siele te wen. Sy liefde dring deur na die gewonde en verbryselde siel, en word 'n helende balsem vir die treurende. “Die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting” troos ons “in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word” (2 Korinthiërs 1:3, 4). MOR 19.1