Die Saligsprekinge word gekenmerk deur 'n stygende Christelike belewenis. Die wat hul behoefte aan Christus besef het, die wat getreur het oor die sonde en saam met Christus in die skool van beproewing gesit het, sal by die Goddelike Leraar leer om sagmoedig te wees. MOR 19.2
Jesus beskou sagmoedigheid as een van die eerste vereistes vir Sy koninkryk. Die Goddelike skoonheid van hierdie kosbare gawe word in Sy eie lewe en karakter weerspieël. MOR 19.3
Jesus, die afskynsel van die Vader se heerlikheid, “het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem” (Filippense 2:6, 7). Hy was bereid om al die nederige ondervindinge van die lewe deur te maak en onder die mensekinders te wandel, nie as 'n koning wat eerbetoon vereis nie, maar as Een wie se sending dit was om andere te dien. In Sy gedrag was daar geen sweem van dweepsug, geen kille strengheid nie. Die Verlosser van die wêreld was hoër as die engele, tog was Sy Goddelike majesteit verenig met sagmoedigheid en nederigheid wat almal na Hom getrek het. MOR 20.1
Jesus het Homself ontledig, en in alles wat Hy gedoen het, was daar geen spore van die ego nie. Hy het alles aan die wil van Sy Vader onderwerp. Toe Hy op die punt was om Sy sending op aarde af te sluit, kon Hy sê: “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring” (Johannes 17:4). En aan ons sê Hy: “Leer van My, want Ek is sagmoedig en nederigheid van hart.” “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën” (Mattheüs 11:29; 16:24), die eie-ek onttroon en hom nie meer toelaat om oor die siel te heers nie. MOR 20.2
Hy wat Christus in Sy selfverloëning, Sy nederigheid van hart aanskou, sal gedwing word om soos Daniël te sê toe Hy Een soos die Seun van 'n mens gesien het: “My gesonde kleur het aan my verander en verdwyn” (Daniël 10:8). Die onafhanklikheid en selfverheerliking waarin ons ons verlustig, word in hul ware afskuwelikheid gesien as tekens van slawerny onder die Satan. Die menslike natuur wil hom altyd laat geld, is altyd gereed vir stryd; maar hy wat van Christus leer, word ontledig van die eieek, van hoogmoed, van die drang na oppermag, en 'n stilte sak toe oor die siel. Die ego word tot die beskikking van die Heilige Gees gestel. Dan streef ons nie meer na die hoogste posisie nie. Dan het ons geen ambisie om onsself na vore te dring nie; maar voel ons dat ons hoogste plek aan die voete van ons Heiland is. Ons sien op na Jesus, wag dat Sy hand ons moet lei, luister dat Sy stem ons moet voorsê. MOR 21.1
As ons Christus as blywende inwoner in die siel ontvang, sal die vrede van God, wat alle begrip te bowe gaan, ons hart en gees bewaar deur Jesus Christus. Die Heiland se lewe op aarde was, ondanks dit deur stryd omring was, 'n lewe van vrede. Wanneer woedende vyande Hom gedurig agtervolg het, het Hy gesê: “Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie; omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is” (Johannes 8:29). Geen storm van menslike of sataniese toorn kon die kalmte van daardie volmaakte gemeenskap met God verstoor nie. En vir ons sê Hy: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle.” “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele” (Johannes 14:27; Mattheüs 11:29). Dra saam met My die juk van diens ter verheerliking van God en die verheffing van die mensdom, en julle sal ontdek dat die juk sag en die las lig is. MOR 21.2
Dit is ons selfbeheptheid wat ons vrede vernietig. Solank as wat die eie-ek nog lewe, is ons altyd oorgehaal om dit te verdedig teen vernedering en kastyding; maar as ons dood is en ons lewe met Christus in God opgesluit is, sal ons nie so liggeraak wees as ons gekleineer en verag word nie. Ons sal doof wees vir verwyte en blind vir beledigings en hoon. “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer.” 1 Korinthiërs 13:4-8. MOR 22.1
Geluk wat uit aardse bronne geput word, is so veranderlik as wat omstandighede dit kan maak; maar die vrede van Christus is 'n bestendige en blywende vrede. Dit hang van geen lewensomstandigheid af nie, nie van die hoeveelheid wêreldse goedere of die aantal wêreldse vriende nie. Christus is die bron van lewende water, en geluk wat uit Hom geput word, vergaan nooit. MOR 22.2
Die sagmoedigheid van Christus maak die gesin gelukkig as dit in die huis geopenbaar word; dit wek geen rusie op nie, gee geen bitsige antwoord nie, maar bedaar die prikkelbare humeur en straal 'n sagte invloed uit wat deur almal binne sy towerkring aangevoel word. Oral waar dit gekoester word, maak dit die aardse gesinne deel van die een groot gesin daarbo. MOR 22.3
Dit sou vir ons ver beter wees om valse beskuldigings te verduur as om onsself te teister met die gésel van vergelding. Die gees van haat en vergelding het sy oorsprong in die Satan en kan net onheil bring aan hom wat dit koester. Nederigheid van hart, die sagmoedigheid wat die vrug van 'n lewe in Christus is, is die ware geheim van saligheid. “Hy versier die ootmoediges met heil.” Psalm 149:4. MOR 22.4
Die sagmoediges “sal die aarde beërwe.” Dit was die drang na selfverheffing wat die wêreld in sonde laat verval en ons eerste voorouers die heerskappy oor hierdie lieflike aarde - hul koninkryk - laat verloor het. Dit is deur selfverloëning dat Christus verlos wat verlore was. En Hy sê ons moet oorwin soos Hy oorwin het (Openbaring 3:21). Deur nederigheid en selfonderwerping kan ons mede-erfgename met Hom word wanneer “die ootmoediges... die aarde besit” (Psalm 37: 11). MOR 23.1
Die aarde wat aan die sagmoediges belowe is, sal nie soos hierdie een verduister wees deur die skaduwee van die dood en die vloek nie. “Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” “Daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien.” 2 Petrus 3:13; Openbaring 22:3. MOR 23.2
Daar is geen teleurstelling, geen droefheid, geen sonde nie, en niemand wat sal sê: Ek is siek nie; daar is geen begrafnisstoete nie, geen roubedryf nie, geen dood, geen afskeid, geen gebroke harte nie; maar Jesus is daar - daar is vrede. Daar sal hulle “geen honger en dors meer hê nie, en die woestyngloed en die son sal hulle nie steek nie; want hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water” (Jesaja 49:10). MOR 23.3