En daar was sommige Grieke onder die wat opgekom het om op die fees te aanbid; hulle het na Filippus gegaan wat van Betsaida in Galilea was, en hom gevra en gesê: My heer, ons wil Jesus graag sien. Filippus kom en sê dit vir Andreas, en Andreas en Filippus vertel dit weer aan Jesus.” GF 37.1
Op hierdie tydstip het die werk van Christus na ‘n volslae neerlaag gelyk. Hy was die oorwinnaar in die stryd met die priesters en Fariseërs, maar dit was duidelik dat hulle Hom nooit as die Messias sou aanvaar nie. Die skeiding het finaal aangebreek. Sy dissipels het sake hopeloos gevind. Maar Christus was op die drumpel van die voleindiging van Sy werk. Die groot gebeurtenis waarby nie net die Joodse volk nie, maar die hele wêreld betrokke was, sou weldra plaasvind. Toe Christus die gretige versoek hoor: “Ons wil Jesus graag sien,” het Hy daarin die hongerige geroep van die wêreld gehoor, en het Sy gelaat verhelder.” Die uur het gekom,” het Hy gesê,“dat die Seun van die mens verheerlik moet word.” In die versoek van die Grieke het Hy ‘n voorsmaak gekry van die resultate van “Sy groot offer. GF 37.2
Hierdie manne het uit die Weste gekom om die Heiland aan die einde van Sy sending te sien, net soos die wyse manne aan die begin uit die Ooste gekom het. Met Christus se geboorte was die Joodse volk so behep met hul eie ambisieuse planne dat hulle nie bewus was van Sy koms nie. Die wyse manne uit ‘n heidense land het met hul geskenke na die krip gekom om die Heiland te aanbid. So het hierdie Grieke, wat die nasies, stamme en volke van die wêreld verteenwoordig het, na Jesus. gekom. So sal die volke van alle lande en alle eeue deur die kruis van die Verlosser getrek word. So sal baie “kom uit die ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob... aansit in die koninkryk van die hemele” (Matthéus 8:11). GF 37.3
Die Grieke het gehoor van Christus se triomfantelike intog in Jerusalem. Sommige het veronderstel en het die tyding versprei dat Hy die priesters en owerstes uit die tempel verdryf het en dat Hy Dawid se troon sou bestyg en as koning van Israel sou regeer. Die Grieke wou graag die waarheid aangaande Sy sending weet.” Ons wil Jesus graag sien,“het hulle gesê. Die versoek is toegestaan. Toe die versoek aan Jesus gerig is, was Hy in die deel van die tempel waar net Jode toegelaat is, maar Hy het in die buitenste voorhof na die Grieke uitgegaan, waar Hy ‘n persoonlike onderhoud met hulle gevoer het. GF 37.4
Die uur vir die verheerliking van Christus het aangebreek. Hy het in die skaduwee van die kruis gestaan, en die navrae van die Grieke het aan Hom getoon dat die offer wat Hy op die punt was om te bring baie seuns en dogters na God sou lei. Hy wis dat die Grieke Hom weldra in ‘n posisie sou sien waarvan hulle nie gedroom het nie. Hulle sou Hom langs Barabbas, ‘n rower en moordenaar, sien staan, wat bo die Seun van God vir vrylating gekies sou word. Hulle sou hoor hoe die volk, deur die priesters en owerstes aangehits, hul keuse sou maak. En op die vraag: GF 38.1
“Wat moet ek dan doen met Jesus wat genoem word Christus?” sal geantwoord word: “Laat Hom gekruisig word” (Matthéus 27:22). Christus wis dat Hy deur so vir die sondes van die mens versoening te bewerkstellig, Sy koninkryk sou vervolmaak en oor die hele wêreld sou verbrei. Hy sou die Hersteller wees, en Sy Gees sou oorwin. ‘n Oomblik het Hy in die toekoms gekyk en die stemme in alle dele van die aarde hoor roep:“Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Johannes 1:29). In hierdie vreemdelinge het Hy die belofte van ‘n groot oes gesien, wanneer die skeidsmuur tussen Jood en heiden afgebreek sou word en alle nasies, tale en volke die boodskap van verlossing sou hoor. Hierdie verwagting, die vervulling van Sy hoop, word uitgedruk in die woorde:“Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word.” Maar hoe die verheerliking sou plaasvind, was nooit uit die gedagte van Christus nie. Die insameling van die heidene sou volg op Sy naderende dood. Net deur Sy dood kon die wêreld gered word. Soos ‘n koringkorrel, moet die Seun van die mens in die grond gewerp word; maar Hy sou weer lewe. GF 38.2
Christus het Sy toekoms geskets en met die verskynsels van die natuur veraanskoulik, sodat die dissipels kon verstaan. Die ware resultaat van Sy sending sou deur Sy dood bereik word. “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.” As die koringkorrel in die grond val en sterf, ontkiem dit en dra vrugte. So sou die dood van Christus lei tot vrugte vir die koninkryk van God. Net soos met die wet van die planteryk, is lewe die gevolg van Sy dood. GF 38.3
Landbouers het hierdie illustrasie altyd voor hulle. Jaar na jaar verseker die mens sy voorraad graan deur skynbaar die beste deel daarvan weg te gooi. ‘n Tyd lank moet dit onder die grond verberg word, om deur die Here bewaak te word. Dan verskyn die sprietjie, dan die aar en dan die koring in die aar. Maar dit kan nie gebeur tensy die graan onsigbaar begrawe word nie-verberg en oënskynlik verlore. GF 38.4
Die saad wat in die aarde begrawe word, bring vrugte voort, en op sy beurt word dit geplant. So word die oes vermenigvuldig. So sal die dood van Christus op die kruis van Golgota vir die ewige lewe vrugte dra. Die betragting van hierdie offer sal die heerlikheid wees van diegene wat, as die vrugte daarvan, deur die ewigheid sal lewe. GF 39.1
Die koringkorrel wat sy eie lewe bewaar, kan geen vrugte dra nie. GF 39.2
Dit bly alleen. Christus kon, as Hy dit sou verkies, aan die dood ontkom. Maar as Hy dit sou doen, sou Hy alleen moet wees. Dan sou Hy geen seuns en dogters na God kon bring nie. Net deur Sy lewe op te offer, kon Hy lewe aan die mense gee. Net deur in die grond te val en te sterf, kon Hy die saad van daardie ontsaglike oes word-die groot menigte wat uit elke nasie en stam en taal en volk vir God vrygekoop sou word. GF 39.3
Aan hierdie waarheid verbind Christus die les van selfopoffering wat almal moet leer: “Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.” Almal wat vrugte wil dra as medewerkers van Christus, moet eers in die grond val en sterf. Die lewe moet in die akker van die wêreld se behoefte gegooi word. Eie liefde en eiebelang moet omkom. En die wet van selfopoffering is die wet van selfbehoud. Die landbouer behou sy graan deur dit weg te gooi. So ook in die lewe. Om te gee is om te lewe. Die lewe wat behoue sal bly, is die lewe wat vrylik gegee word in die diens van God en die mens. Wie hul lewe ter wille van Christus in hierdie wêreld opoffer, sal dit vir die ewige lewe behou. GF 39.4
Die lewe wat aan onsself gewy word, is soos graan wat geëet word. GF 39.5
Dit verdwyn, maar daar is geen toename nie. ‘n Mens kan soveel moontlik vir homself bymekaar maak; hy kan net vir homself lewe en dink en beplan; maar sy lewe gaan verby, en hy het niks. Die wet van selfdiens is die wet van selfvemietiging. GF 39.6