VAN die Rooi See af het die Israeliete hulle reis onder leiding van die wolkkolom voortgesit. Die natuurtoneel rondom hulle was uiters somberkaal, verlate berge, onvrugbare vlaktes, en die see met sy strand bestrooi met die lyke van hulle vyande, het tot in die verte weggestrek. Nogtans het hulle, hulle in die bewustheid van hulle vryheid verheug, en elke sweem van ontevredenheid is onderdruk. GF 9.1
Maar drie dae lank het hulle voortgereis sonder om water te vind. Die voorraad wat hulle saamgeneem het, was op. Daar was niks om hulle brandende dors te les terwyl hulle hulle moeë voete oor die verskroeide vlaktes voortsleep nie. Moses, wat daardie streek geken het, was al een wat geweet het dat die water by Mara, die naaste fonteine, onbruikbaar was. Met groot kommer het hy die leidende wolk dopgehou. Sy moed het hom begeef toe hy die blye uitroep:“Water! Water!”van die kolonne hoor opgaan. Manne, vroue en kinders het hulle na die fonteine gehaas, maar ‘n kreet van teleurstelling het van die skare opgegaan - die water was bitter. GF 9.2
Deur skok en wanhoop gedryf, het hulle Moses verwyt omdat hy hulle daarlangs gelei het, sonder om daaraan te dink dat die Goddelike teenwoordigheid in daardie geheimsinnige wolk sowel Moses as hulle gelei het. In sy droefheid oor hulle ontsteltenis het Moses gedoen wat hulle vergeet het om te doen: hy het die Here ernstig om hulp gebid. “En die Here het aan hom ‘n stuk hout gewys; dit het hy in die water gegooi, en die water het soet geword.” Daar het die Here Israel deur Moses beloof: “As jy getrou na die stem van die Here jou God luister en doen wat reg is in Sy oë, en luister na Sy gebooie en al Sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die Here wat jou gesond maak.” GF 9.3
Van Mara af het die volk na Elim gereis, en daar het hulle “twaalf waterfonteine en sewentig palmbome” gevind. Daar het hulle etlike dae lank vertoef voordat hulle na die woestyn Sin getrek het. ‘n Maand nadat hulle uit Egipte vertrek het, het hulle hulle eerste laer in die woestyn opgeslaan. Hulle voedselvoorrade was nou byna uitgeput. Die weiding was in die woestyn maar skaars, en hulle kuddes het begin maer word. Hoe sou daar vir hierdie groot skare voedsel voorsien word? Hulle het begin twyfel en weer begin kla. Selfs die owerstes en die oudstes van die volk het saam met die ander teen die deur God aangestelde leiers begin kla: “Het ons maar in Egipteland deur die hand van die Here gesterwe toe ons by die vleispotte gesit en volop brood geëet het! Want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van hongerte laat sterwe.” GF 9.4
Tot nog toe het hulle nie honger gely nie; hulle het nog genoeg gehad, maar hulle het vir die toekoms gevrees. Hulle kon nie verstaan hoe daardie groot skare op hulle reise deur die woestyn kos sou kry nie, en in hulle verbeelding het hulle die kinders van die honger sien omkom. Die Here het toegelaat dat hulle moeilikhede beleef en dat hulle kosvoorraad min word sodat hulle kon leer om op Hom te vertrou wat tot nog toe hulle Verlosser was. As hulle Hom in hulle behoeftes sou aanroep, sou Hy die duidelike bewyse van Sy liefde en sorg aan hulle openbaar. Hy het beloof dat as hulle Sy gebooie gehoorsaam, hulle nie sou siek word nie, en dit was sondige ongeloof aan hulle kant om vooruit te verwag dat hulle kinders van die honger sou omkom. GF 10.1
God het beloof om hulle God te wees, om hulle as Sy volk te neem en om hulle na ‘n groot en goeie land te lei; maar by elke hinderpaal op die weg na daardie land het hulle moedeloos geword. Hy het hulle op wonderbaarlike wyse uit hulle slawejuk in Egipte verlos om hulle op die aarde te verhef en lofwaardig te maak. Maar dit was nodig dat hulle moeilikhede moes teëkom en ontberinge moes verduur. God het hulle uit ‘n verlaagde staat opgehef en geskik gemaak om onder die volke van die aarde ‘n eerbare plek in te neem en om belangrike en heilige pande te ontvang. As hulle na aanleiding van alles wat Hy vir hulle gedoen het, in Hom geglo het, sou hulle gewillig gewees het om ongerief en ontberinge te verduur en selfs om waarlik te ly; maar hulle was onwillig om die Here verder te vertrou as wat hulle die voortdurende bewyse van Sy krag kon sien. Hulle het hulle bittere diensbaarheid in Egipte vergeet. Hulle het vergeet watter goedheid en krag God aan hulle betoon het om hulle uit hulle slawemy te verlos. Hulle het vergeet hoe hulle kinders behoue gebly het toe die doodsengel al die eersgeborenes in Egipte omgebring het. Hulle het vergeet hoe God Sy mag by die Rooi See getoon het. Hulle het vergeet dat hulle veilig op die weg wat vir hulle gebaan was deur die see gegaan het, maar dat hulle vyande wat hulle probeer volg het, deur die water van die see oorweldig was. Hulle het net hulle teenswoordige ongeriewe en beproewings gewaar en gevoel; en pleks dat hulle gesê het: “God het vir ons as slawevolk groot dinge verrig,” het hulle van die moeilikhede van die weg gepraat en gewonder wanneer hulle vermoeiende pelgrimstog tog sou eindig. GF 10.2
Die geskiedenis van die lewe van Israel in die woestyn is ter wille van die Israel van God tot aan die einde van die tyd opgeteken. Die verhaal van Gods handelinge met die woestynswerwers in al hulle heen en weer togte, in hulle blootstelling aan honger en dors en moegheid en in die treffende openbaringe van Sy krag vir hulle verlossing, bevat waarskuwings en lering vir Sy volk in alle eeue. Die afwisselende ondervindinge van die Hebreërs was ‘n oefenskool om hulle voor te berei om hulle beloofde woning in Kanaan in besit te neem. In hierdie tyd wil God hê dat Sy volk die beproewinge wat die outydse Israel getref het, met ‘n nederige hart en ‘n ontvanklike gees moet betrag, sodat hulle vir die hemelse Kanaan gereed gemaak kan word. GF 11.1
Daar is baie wat op die Israeliete terugkyk en verbaas staan oor hulle ongeloof en klagtes en voel dat hulle nie self so ondankbaar sou gewees het nie; maar wanneer hulle geloof deur selfs geringe beproewinge op die proef gestel word, lê hulle niks meer geloof of geduld aan die dag as outydse Israel nie. Wanneer hulle in noutes kom, kla hulle oor die maniere wat God gekies het om hulle te reinig. Hoewel daar in hulle huidige behoeftes voorsien is, is hulle onwillig om God vir die toekoms te vertrou, en hulle is gedurig bekommerd dat hulle dalk sal arm word en dat hulle kinders sal ly. Sommige verwag altyd onheil of hulle vergroot die reeds bestaande moeilikhede in so ‘n mate dat hulle oë verblind raak vir die baie ryke seëninge waaroor hulle dankbaar behoort te wees. Pleks dat die hindemisse wat hulle teëkom hulle dwing om by God, hulle enigste kragbron, hulp te soek, skei dit hulle van Hom omdat dit by hulle rusteloosheid en ontevredenheid verwek. GF 11.2
Is dit reg dat ons so ongelowig is? Waarom sou ons ondankbaar en wantrouig wees? Jesus is ons Vriend; die ganse hemel stel in ons welsyn belang, en ons kommer en vrees bedroef die Heilige Gees. Ons moet nie toegee aan besorgdheid wat net knaag en vermoei maar ons nie help om die beproewinge te verdra nie. Ons mag God nie in so ‘n mate wantrou dat voorsiening teen toekomstige armoede die hoofdoel van ons lewe word asof ons geluk van aardse dinge afhang nie. Dit is nie die wil van God dat Sy volk onder sorge gebuk moet gaan nie. Maar die Here vertel ons nie dat daar geen gevaar op die weg is nie. Hy is nie van plan om Sy volk uit die wêreld van sonde en onheil weg te neem nie, maar Hy wys ons op die veilige skuilplek. Hy nooi die wat bedroef en bedruk is: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” Gooi af die juk van bekommemis en wêreldse sorge wat julle self opgeneem het, en “neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rusvind virjulle siele.” (Matthéus 11:28,29.) In God kan ons rus en vrede hê as ons al ons bekommemis op Hom werp, want Hy sorg vir ons. Kyk 1 Petrus 5:7. GF 11.3
Die apostel Paulus sê:“Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie.” Hebreërs 3:12. Aangesien God soveel vir ons gedoen het, behoort ons geloof sterk, aktief en volhardend te wees. Pleks dat ons murmureer en kla, behoort die taal van ons harte te wees: GF 12.1
“Loof die Here, 0 my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam’ Loof die Here, 0 my siel en vergeet geeneen van sy weldade nie!” (Psalm 103:1,2). GF 12.2
God het Israel se behoeftes nie veronagsaam nie. Aan hulle leier het Hy gesê: “Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën.” En die volk het bevel gekry om elke dag ‘n voorraad in te samel, en op die sesde dag twee keer soveel sodat hulle die Sabbat heilig kon vier. GF 12.3