Met hulle heupe omgord, met skoene aan hulle voete en hulle staf in die hand het Israel swygend en met ontsag en verwagting gewag op die koning se bevel dat hulle moes trek. Voor dagbreek was hulle in die pad. Gedurende die plae, terwyl die openbaringe van Gods mag in die slawe se harte geloof verwek en hulle verdrukkers met vrees besiel het, het die Israeliete geleidelik in die land Gosen saamgekom; en ondanks hulle plotselinge vertrek is sekere reëlings reeds getref vir die nodige organisasie en beheersing van die bewegende skare. Hulle was reeds in groepe verdeel, elk met sy aangewese leier. GF 1.1
“Omtrent seshonderdduisend te voet, die manne buiten die kinders. En ‘n menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek. ” Onder die skare was nie net diegene wat weens hulle geloof in die God van Israel gegaan het nie, maar ook ‘n veel groter aantal wat net van die plae wou wegkom, of wat uit blote nuuskierigheid of opge-wondenheid agter die trekkende Israeliete aangegaan het. Daardie klas was altyd vir Israel ‘n struikelbloken ‘n strik. GF 1.2
Die volk het ook “kleinvee en beeste ‘n groot hoeveelheid vee” met hulle saamgeneem. Dit was die eiendom van die Israeliete wat nooit, soos die Egiptenare, hulle besittings aan die koning verkoop het nie. Jakob en sy seuns het hulle beeste en hulle kleinvee saam met hulle na Egipte geneem, en daar het hulle grootliks vermeerder. Voordat hulle uit Egipte weggetrek het, het die volk, op bevel van Moses, hulle onbetaalde loon geëis; en die Egiptenare was maar te gretig om van hulle ontslae te raak, en het nie geweier nie. Die slawe is daar weg, belaai met die buit van hulle verdrukkers. GF 1.3
Op daardie dag is die geskiedenis wat honderde jare vantevore in profetiese gesig aan Abraham geopenbaar was, afgesluit. “Weet vir seker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en Daarna sal hulle uittrek met baie goed.” Genesis 15:13,14. Die vierhonderd jaar was nou verstreke en op daardie selfde dag het die Here die kinders van Israel, volgens hulle leërafdelings. uit Egipteland uitgelei. ‘n Kosbare erfnis wat die Israeliete met hulle saam uit Egipte weggeneem het, was die gebeente van ]osef wat so lank op die vervulling van die belofte van God gewag het en wat Israel gedurende daardie donkere jare van slawemy herinner het aan hulle komende verlossing. GF 1.4
Pleks dat Hy hulle reguit deur die land van die Filistyne na Kanaan geneem het, het die Here hulle suidwaarts na die oewers van die Skelfsee gelei. “Want God het gesê:” Die volk kan dalk berou kry as hulle oorlog sien, en teruggaan na Egipte.” As hulle geprobeer het om deur die land van die Filistyne te trek, sou hulle teenstand ondervind het, want die Filistyne sou hulle vir slawe aangesien het wat van hulle meesters wegvlug, en hulle sou nie geaarsel het om teen hulle oorlog te maak nie. Die Israeliete het in elk geval nie oor die nodige wapens beskik om so ‘n magtige, oorlogsugtige volk aan te durf nie. Hulle het min kennis van God gehad en hulle geloof in Hom was nog maar swak, en hulle sou verskrik en moedeloos geword het. Hulle was nie net ongewapend en sonder enige kennis van oorlogvoering nie, maar hulle lange jare van slawemy het hulle ook geesloos gemaak, en boonop het hulle vroue en kinders en vee by hulle gehad. Deur hulle na die Skelfsee te lei het die Here bewys dat Hy sowel ‘n God van genade as van wysheid is. GF 2.1
“So het hulle dan van Sukkot af weggetrek en laer opgeslaan in Etam, aan die kant van die woestyn. En die Here het voor hulle uit getrek, bedags in ‘n wolkkolom om hulle op die pad te lei, en snags in ‘n vuurkolom om hulle voor te lig, sodat hulle dag en nag kon trek. Die wolkkolom het nie bedags en die vuurkolom nie snags voor die volk gewyk nie.” Die psalmdigter sê: “Hy het ‘n wolk uitgebrei as bedekking en vuur om die nag te verlig.” Psalm 105:39. Kyk ook 1 Korinthiërs 10:1,2. Hulle onsigbare Leidsman se vaandel was altyd by hulle. Bedags het die wolk hulle op hulle reis gelei, of dit het as bedekking bokant die skare gedien. Dit het as beskerming teen die brandende hitte gedien, en deur sy koelte en vog in die dorre woestyn welkome verkwikking aangebied. Snags het dit’ n vuurkolom geword wat hulle kamp verlig en hulle voortdurend aan die Goddelike teenwoordigheid herinner het. GF 2.2
In een van die mooiste en vertroostendste gedeeltes van Jesaja word daar na die wolk - en vuurkolom verwys as ‘n sinnebeeld van die sorg van God vir Sy volk in die laaste groot stryd met die magte van boosheid. “Dan skep die Here oor elke woonplek van die berg Sion en oor sy plekke van same-koms ‘n wolk bedags en rook met die glans van vuurvlamme in die nag; want oor alles wat heerlik is, sal daar ‘n beskutting wees. En daar sal “n afdak wees vir ‘n skaduwee bedags teen die hitte en vir ‘n skuilplek en toevlug teen die stortbui en die reën.” Jesaja 4:5,6. GF 2.3
Hulle het deur ‘n somber woestynstreek gereis. Reeds het hulle begin wonder waarheen hierdie weg hulle sou voer; en hulle het moeg geword vir die moeilike pad, en in sommige harte het vrees vir agtervolging deur die Egiptenare reeds ontstaan. Maar die wolk het voortbeweeg en hulle het gevolg. En nou het die Here Moses beveel om in’ n nou kloof af te draai en langs die see laer op te slaan. Daar is aan hom geopenbaar dat Farao hulle sou agtervolg, maar dat God hulle met redding sou vereer. GF 3.1
In Egipte het dit rugbaar geword dat die Israeliete nie in die woestyn vertoef het om te aanbid nie, maar dat hulle in die rigting van die Skelfsee getrek het. Farao se raadgewers het aan die koning gesê dat hulle slawe gevlug het en nooit sou terugkeer nie. Die volk het die feit betreur dat hulle so dwaas was om die dood van hulle eersgeborenes aan die mag van God toe te skryf. Nadat die wyse manne van hulle skrik herstel het, het hulle die plae aan natuurlike oorsake toe-geskryf. Hulle het gesê:“Wat het ons nou gedoen dat ons Israel laat trek het, sodat hulle ons nie meer dien nie?” GF 3.2
Farao het sy strydmagte versamel, seshonderd uitgesoekte strydwaens ... en al die ander strydwaens van Egipte, ruiters en aanvoerders en voetvolk. Die koning self, vergesel van die groot manne van sy ryk, was aan die voorpunt van hierdie aanvalsleër. Om die goedkeuring van die gode te verkry en die welslae van die ondememing te verseker, het die priesters ook met hulle saamgegaan. Die koning was van voomeme om die Israeliete bang te maak met sy grootse magsvertoon. Die Egiptenare was bang dat hulle gedwonge onderwerping aan die God van Israel hulle in die oë van die ander nasies belaglik sou maak; maar as hulle nou met groot magsvertoon uitgaan en die vlugtelinge terugbring, sou hulle hulle eer herstel en ook die dienste van hulle slawe herwin. GF 3.3
Die Hebreërs se laer was langs die see en sy waters was skynbaar ‘n onoorkomelike versperring voor hulle. Boonop het die berge aan die suide verdere vordering in daardie rigting belet. Skielik sien hulle in die verte die blink pantsers en die bewegende strydwaens wat die koms van die oprukkende leër verraai. Namate die mag nader kom, besef hulle dat hulle deur die hele Egiptiese leër agtervolg word. Israel is vreesbevange. Sommige bid tot die Here, maar die meerderheid haas hulle om by Moses te gaan kla:“Het u, omdat daar in Egipte glad geen grafte is nie, ons saamgeneem om in die woestyn te sterwe? Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipte uitgelei het? Is dit nie die woord wat ons u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe.” GF 3.4
Moses was diep verontrus omdat sy volk so min vertroue in God aan die dag gelê het, ondanks hulle herhaaldelik die openbaring van Sy mag tot hulle voordeel aanskou het. Hoe kon hulle die skuld vir hulle moeilikhede en gevare op hom pak aangesien hy die duidelike bevel van God gehoorsaam het? Daar was wel geen moontlikheid om te ontvlug tensy God self sou intree nie, maar aangesien hy weens sy gehoorsaamheid aan God in hierdie moeilikheid beland het, het Moses die gevolge nie gevrees nie. Bedaard het hy die volk verseker: “Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die Here wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.” GF 4.1
Dit was geen maklike saak om die leërskare van die Israeliete op die toetrede van die Here te laat wag nie. Omdat hulle geen selfbeheersing of dissipline gehad het nie, het hulle gewelddadig en onredelik geword. Hulle het verwag om spoedig weer in die hande van hulle verdrukkers te wees en hulle het lank en luid geweeklaag. Hulle het die wonderbaarlike wolkkolom gevolg as ‘n teken van God dat hulle moet voorwaarts trek; maar nou het hulle hulle afgevra of dit nie dalk die voorteken van ‘n groot ramp was nie. Het dit hulle dan nie aan die verkeerde kant van die berg op ‘n onbegaanbare weg gelei nie? Daarom het hulle die engel van die Here in hulle misleide denke vir ‘n onheilsbode aangesien. GF 4.2
Maar toe die Egiptiese leër op hulle toesak en verwag om hulle maklik te oorrompel, lig die wolkkolom hom sierlik op in die hemele. Hy beweeg bo-oor die Israeliete en daal tussen hulle en die Egiptiese leër neer. Nou is daar ‘n donker muur tussen agtervolgers en agtervolgdes. Die Egiptenare kon die laer van die Hebreërs nie meer sien nie en moes stilhou. Maar namate die nag donkerder word, word die wolkmuur vir die Hebreërs ‘n groot lig wat hulle hele laer met die lig van die dag verhelder. GF 4.3
Toe het daar weer in die harte van die Israeliete hoop gekom. Moses het die Here aangeroep: “Toe vra die Here vir Moses: “Wat roep jy na My? Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet wegtrek. En jy, hef jou staf op en steek jou hand uit oor die see en kloof dit, sodat die kinders van Israel dwarsdeur die see op droë grond kan trek.” GF 4.4
Die psalmdigter beskryf in sy lied hoe Israel deur die see gegaan het: “U weg was in die see en u paaie in groot waters, en u spore was nie te beken nie. U het u volk soos skape gelei deur die hand van Moses en kiron.” Psalm 77:20,21. Toe Moses sy staf uitstrek, gaan die waters oop en Israel loop op droë grond die see in terwyl die water aan weerskante soos ‘n groot muur staan. Die lig van God se vuurpilaar skyn op die skuimende golwe en verlig die pad wat soos ‘n voor deur die waters van die see oopgekloof is en in die duistemis op die ander oewer verdwyn. GF 5.1
Toe het die Egiptenaars hulle gejaag en agter hulle aan getrek - al Farao se perde, sy strydwaens en sy ruiters - die see in. En in die morewaak het die Here, in die vuuren wolkkolom, op die leër van die Egiptenaars afgekyk en die leër van die Egiptenaars in verwarring gebring. Die geheimsinnige wolk het voor hulle oë in ‘n vuurkolom verander. Die donder het gedreun en die weerlig het geblits.” Die wolke het water uitgegiet, die hemele het donder laat hoor, ook het u pyle rondgevlieg. U rollende donder het weerklink; bliksems het die wêreld verlig; die aarde het gesidder en gebewe.” Psalm 77:18,19. GF 5.2
Die Egiptenare was verwar en verskrik.Te midde van die toom van die elemente waarin hulle die stem van ‘n vertoomde God kon hoor, het hulle probeer omdraai om terug te vlug na die oewer waarvandaan hulle gekom het. Maar Moses het sy staf uitgestrek, en skuimend en bulderend het die opgehoopte water, gretig vir sy prooi, teruggestroom en die Egiptenare in hulle donkere dieptes verswelg. GF 5.3
Toe dit more word, sien die Israeliete al wat van hulle magtige vyande oorgebly het - die gepantserde lyke wat op die strand uitgespoel het. Hulle is in een nag uit die aakligste gevaar gered. Die groot hulpelose skare slawe wat geen krygskuns geken het nie, vroue, kinders en vee met die see voor hulle en die magtige Egiptiese leër op hulle hakkehet gesien hoe hulle weg deur die water geopen is en hoe hulle vyande in die oomblik van verwagte oorwinning vemietig is. Net Jehova alleen het hulle verlos, en tot Hom het hulle harte met dankbaarheid en geloof uitgegaan. Hulle gevoelens is in lofliedere uitgespreek. Die Gees van God het op Moses gerus en Hy het die volk voorgegaan in ‘n segelied van danksegging, die oudste en een van die verhewendstes wat aan mense bekend is. GF 5.4
“Ek wil sing tot eet van die Here, want Hy is hoog verhewe.
Die perd en sy ruiter het Hy in die see gewerp.
Die Here is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword.
Hy is my God, Hom sal ek roem;
die God van my vader, Hom sal ek verhef.
Die Here is ‘n krygsman;
Here is sy naam.
Hy het Farao se strydwaens en sy leërmagte in die see gewerp.
En sy beste vegsmanne het in die Skelfsee gesink.
Die watervloede het hulle oordek.
Hulle het in die kolke gesink soos ‘n klip.
o Here, U regterhand is verheerlik deur krag.
U regterhand, o Here, verpletter die vyand...
o Here, wie is oor U onder die gode?
Wie is soos U, verheerlik in heiligheid,
gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?...
U het deur U guns die volk gelei wat U verlos het;
U het hulle deur U krag na U heilige woning gevoer...
Die volke het dit gehoor, hulle het gesidder...
Verskrikking en vrees het op hulle geval;
deur die grootheid van U arm was hulle stom soos ‘n klip,
terwyl U volk deurtrek, Here,
terwyl die volk deurtrek wat U verwerf het.
U bring hulle in en plant hulle op die bergland van u erfnis,
die plek, o Here, wat U as vaste woonplek vir U berei het.” GF 5.5
Exodus 15:1-17
Soos die stem van die see het die verhewe hulde van die groot skare van Israel opgegaan. Die vroue van Israel onder leiding van Mirjam, Moses se suster, het dit verder gevoer terwyl hulle met tamboeryne in die hande gedans het. Tot ver oor die woestynsand en die see het die woorde van hulle loflied weerklink - “Sing tot eer van die Here, want Hy is hoog verhewe.” GF 6.1
Hierdie lied en die verlossing wat daardeur herdenk word, het op die geheue van die Hebreërs ‘n indruk gemaak wat nooit uitgewis kon word nie. Eeu na eeu het die profete en sangers van Israel dit oorvertel en getuig dat Jehova die krag en die verlossing is van diegene wat op Hom vertrou. Daardie lied behoort nie uitsluitlik aan die Joodse volk nie. Dit wys ook op die toekomstige verdelging van al die vyande van geregtigheid en die laaste sege van die Israel van God. Die profeet van Patmos het die witgeklede skare wat “oorwinnaars” is, op die “see van glas, gemeng met vuur” sien staan” met siters van God. En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam” (Openbaring 15:2,3). GF 6.2
“Nie aan ons, o Here, nie aan ons nie, maar aan U Naam gee eer, om U goedertierenheid, om U trou ontwil.” Psalm 115:1. Van hierdie gees was die verlossingslied van Israel deurtrokke en dit is die gees wat tuishoort in die harte van almal wat God vrees en Hom liefhet. Deur ons van diensbaarheid aan die sonde te bevry, het God vir ons ‘n groter verlossing teweeggebring as die van die Hebreërs by die Skelf-see. Soos die Hebreërs behoort ons die Here met hart en siel en stem te prys vir Sy “wonderdade aan die mensekinders.” Diegene wat by die groot genadedade van God stilstaan en ook Sy kleinere gawes nie uit die oog verloor nie, sal hulle met vreugde omgord en in hulle harte tot die Here sing. Ons behoort gedurig ons dank te betuig vir die alledaagse seëninge wat ons uit die hand van God ontvang, en bo alles vir die dood wat Jesus gesterf het om geluk en die hemel binne ons bereik te bring. Watter medelyde, watter ongeëwenaarde liefde het God teenoor ons as verlore sondaars bewys deur ons te erken en as Sy besondere eiendom, Sy skat, aan te neem! Wat ‘n opoffering het ons Verlosser gemaak sodat ons kinders van God genoem kan word! Ons behoort God te loof vir die salige hoop wat deur die groot verlossings plan aan ons voorgehou word; ons behoort Hom te loof vir die hemelse erfnis en vir Sy dierbare beloftes; loof Hom omdat Jesus leef om vir ons in te tree. GF 6.3
Die Skepper sê: “Die een wat dank offer, eer My” (Psalm 50:23). Al die bewoners van die hemel loof God uit een mond. Laat ons dan nou die engelelied leer sodat ons dit saam met hulle kan sing wanneer ons, ons by hulle geledere aansluit. Laat ons soos die psalmdigter sé: “Ek wil die Here prys solank as ek lewe; ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek nog daar is.” “Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof.” (Psalm 146:2; 67:4). GF 7.1
In Sy voorsienigheid het God die Hebreërs tussen die berge en die see gebring, sodat Hy Sy krag deur hulle verlossing kon betoon en die trots van hulle verdrukkers kon verpletter. Hy kon hulle op ‘n ander manier gered het, maar Hy het hierdie metode verkies om hulle geloof op die proef te stel en om hulle vertroue in Hom te versterk. Die volk was moeg en verskrik, maar as hulle gehuiwer het toe Moses hulle beveel om voorwaarts te trek, sou God nooit vir hulle ‘n pad oopgemaak het nie. Dit was “deur die geloof” dat hulle “soos oor droë grond” deur die Skelfsee getrek het (Hebreërs 11:29). Deurdat hulle tot by die water getrek het, het hulle bewys dat hulle die woord van God soos deur Moses gespreek, geglo het. Hulle het alles in hulle vermoë gedoen en Daarna het die Magtige van Israel die see oopgekloof om vir hulle voete ‘n pad te baan. GF 7.2
Dit was ‘n groot les vir tyd en ewigheid. Die Christen se lewe word dikwels deur gevare bedreig, en dit skyn dikwels moeilik om ons plig te doen. Die verbeelding skilder vir ons ondergang voor en slawemy of die dood agter. Nogtans spreek die stem van God duidelik: “Voorwaarts!” Ons behoort hierdie bevel te gehoorsaam al kan ons oë nie deur die duistemis dring nie en al voel ons die koue golwe onder ons voete. Die struikelblokke wat ons vordering belemmer, sal nooit voor ‘n aarselende, twyfelende gees wyk nie. Diegene wat gehoorsaamheid uitstel totdat elke sweem van onsekerheid verdwyn het en daar geen gevaar van mislukking of neerlaag is nie, sal nooit gehoorsaam nie. Ongeloof fluister: “Kom ons wag totdat alle struikelblokke verwyder is en ons die pad duidelik kan sien,” maar geloof gaan moedig voorwaarts en dit hoop alles en glo alles. GF 8.1
Die wolk wat vir die Egiptenare duistemis was, was vir die Hebreërs ‘n groot lig wat die hele laer verlig en die pad voor hulle verhelder het. Op dieselfde manier bring die voorsienighede van God vir die ongelowiges duistemis en wanhoop terwyl hulle vir die vertrouende siel vol lig en vrede is. Die pad waarop God voorgaan, kan deur die woestyn of deur die see loop, maar dis ‘n veilige pad. GF 8.2