Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 9: Die Werk en die Lewe

    GOD is die Bron van die lewe, die lig en die vreugde van die heelal. Soos die sonstrale, soos water uit 'n lewende fontein vloei, so vloei daar seëninge van Hom tot al Sy skepsels. En waar die lewe van God in die harte van mense is, sal dit ook uitgaan in liefde en seen tot ander.LVB 67.1

    Die Heiland het Hom daarin verheug om gevalle mense op te hef en te verlos. Hiervoor het Hy Sy lewe veil gehad, die’ kruis verdra en die skande verag. Op hierdie manier ook werk die engele gedurig ten behoewe van die geluk van ander. Dis vir hulle 'n vreugde. Wat selfsugtige harte as vernederende diens beskou, naamlik diens vir diegene wat veragtelik en in alle opsigte benede hulle is, dit is die werk van sondelose engele. Die gees van Christus se selfopofferende liefde is die gees wat in die hemel heers, en daarin bestaan die ware geluk van die hemel. Dit is ook die gees wat die navolgers van Christus sal besiel, en die werk wat hulle sal doen.LVB 67.2

    As die liefde van Christus in die hart woon, sal dit geopenbaar word soos 'n lieflike geur — dit sal nie kan bedek word nie. Die heilige invloed daarvan sal gevoel word deur almal met wie ons in aanraking kom. Die gees van Christus in die hart, is soos 'n waterfontein in die woestyn, wat almal verkwik, en wat diegene wat klaar is om te beswyk, gretig maak om van die water van die lewe te drink.LVB 68.1

    Liefde vir Jesus sal geopenbaar word in 'n begeerte om te werk soos Hy gewerk het vir die opheffing en seen van die mensdom. Dit sal mens met liefde, teerheid en medelyde vul teenoor alle skepsels.LVB 68.2

    Die Heiland se lewe op aarde was nie 'n lewe van gemak en eieliefde nie, maar Hy het ernstig en volhardend gewerk vir die redding van die verlore mensdom. Van die stal tot by Golgota het Hy die weg van selfverloëning bewandel; Hy het nie vrystelling gesoek van die moeilike werksaamhede, die vermoeiende reise en die afmattende werk nie. Hy het gesê: “Die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy siel te gee as 'n losprys vir baie.” Matt. 20: 28. Dit was die een groot doel van Sy lewe; alle ander dinge het tweede plek ingeneem. Om die wil van God te doen en Sy werk te voleindig, was soos voedsel en drank vir Hom. Eiebelang het geen plek in Sy werk gehad nie.LVB 68.3

    Diegene wat deelgenote is van die genade van Christus sal ook gereed wees om enige opoffering te maak, sodat ander vir wie Hy gesterf het ook deel kan hê in die hemelse gawe. Hulle sal alles in hulle vermoë doen om die wêreld 'n aangenamer plek te maak deur hulle lewe. Hierdie gees is 'n gewisse teken van 'n waarlik bekeerde siel. Sodra iemand tot Christus kom, ontstaan daar in sy hart 'n begeerte om aan ander te vertel van die dierbare Vriend wat Jesus vir hom geword het; hierdie reddende en heiligmakende waarheid kan nie in die hart verberg word nie. As ons met die geregtigheid van Christus beklee is en die vreugde van Sy inwonende Gees smaak, sal ons nie kan stilbly nie. As ons ondervind het dat die Here goed is, sal ons iets te sê hê. Net soos Filippus, toe hy die Here gevind het, sal ons ook ander na Hom toe bring. Ons sal die aantreklikhede van Christus aan hulle voorstel, en hulle vertel van die werklikheid van die lewe hiernamaals. Daar sal 'n vurige begeerte wees om in die voetstappe van Jesus te volg, en daar sal 'n ernstige verlange wees dat diegene rondom ons ook die Lam van God sal sien “wat die sonde van die wêreld wegneem.”LVB 68.4

    Die pogings wat ons aanwend om ander te seën, sal ons weer tot seen strek: en dit is juis die doel wat die Here voor oë het met die aandeel wat Hy ons in die verlossingsplan gee. Hy het aan die mens die voorreg geskenk om 'n deelgenoot te word van die goddelike natuur, sodat hy op sy beurt 'n seen kan wees tot sy medemens. Dit is die grootste eer, die grootste vreugde wat dit moontlik is vir God om aan die mens te gee. Diegene wat op hierdie wyse deel in die werk van liefde, kom die naaste aan hulle Skepper.LVB 69.1

    God kon net so lief die verkondiging van die evangelie en die diens van liefde aan die hemelse engele toevertrou het; Hy kon ander middels gebruik het om Sy doel te bereik. Maar in Sy groot liefde het Hy ons uitgekies as Sy medewerkers, saam met Christus en die engele, sodat ons ook in die seen, die vreugde, die geestelike opheffing kan deel wat spruit uit sulke onselfsugtige diens.LVB 69.2

    Deur in die lyding van Christus te deel, word ons nader aan Hom gebring. Elke opoffering en elke goeie daad vir ander, versterk in die hart van die gewer die gees van weldadigheid en bring hom nog nader aan die hart van die Verlosser van die wereld, wat om ons ontwil arm geword het sodat ons deur Sy armoede ryk kan wees. Alleen namate ons op hierdie manier beantwoord aan die doel van ons skepping sal die lewe vir ons 'n seën wees.LVB 69.3

    As u sou werk soos Christus bedoel het dat Sy dissipels moet werk, en siele vir Hom sou win, sou u u behoefte besef aan 'n dieper kennis en ondervinding van goddelike dinge, en u sal honger en dors na geregtigheid. Smeekbedes sal tot God opstyg, u geloof sal versterk word, en u siel sal drink uit die waterputte van die saligheid. Die teenstand en beproewings wat u sal ondervind, sal u tot die Bybel en tot gebed dryf. U sal opwas in genade en die kennis van Christus, en u sal ryke ervarings opdoen.LVB 70.1

    Die gees van onbaatsugtige diens vir ander sal u karakter sterk en soos die van Christus maak, en dit sal vrede en vreugde aan u bring. Al u strewe sal heilig wees, en daar sal geen plek wees vir luiheid en selfsug nie. Diegene wat op hierdie wyse die Christelike deugde in beoefening bring, sal opwas en sterk word in die werk van die Here. Hulle sal 'n heldere geestelike insig hê, 'n vaste, toenemende geloof, en groter vermoë om te bid. Die Gees van God in hulle hart sal heerlike musiek voortbring. Diegene wat hulle so toewy aan onbaatsugtige diens ten behoewe van ander, is gewis besig om hulle eie heil uit te werk.LVB 70.2

    Die enigste manier om op te was in genade is om op onselfsugtige wyse die werk te doen wat Christus aan ons gegee het, naamlik om tot die beste van ons vermoë diegene te help wat hulp nodig het. Krag kom deur oefening; bedrywigheid is die een voorwaarde van lewe. Diegene wat trag om hulle Christelike lewe aan die gang te hou deur stil te sit en maar net die seëninge wat van God kom, te geniet, en wat niks vir Christus doen nie, probeer eenvoudig om te lewe deur te eet sonder om te werk. Die gevolge van so 'n handelwyse is agteruitgang en verwording; dit is die geval op geestelike sowel as stoflike gebied. 'n Man wat weier om sy bene te gebruik, sal baie gou nie meer kan loop nie. Die Christen wat nie sy deur God gegewe kragte gebruik nie, sal nie slegs geen vordering maak in die Christelike lewe nie, maar hy sal ook die vermoëns wat hy alreeds besit, verloor.LVB 70.3

    Die kerk van Christus is die kanaal wat God daargestel het vir die redding van mense; sy roeping is om die evangelie aan die wêreld te bring. Hierdie verpligting rus op alle Christene. Elkeen moet volgens sy talente en die geleentheid wat hy het die opdrag van die Heiland uitvoer. Die liefde van Christus wat aan ons geopenbaar is, maak ons skuldenaars aan almal wat Hom nog nie ken nie. God het ons die lig gegee, nie vir onsself alleen nie, maar ook om op hulle te laat skyn.LVB 71.1

    As die navolgers van Christus hulle pligte sou besef soos hulle behoort, sou daar duisende wees wat die evangelie in heidense lande verkondig waar daar vandag maar een is; en almal wat nie persoonlik aan die werk kan deelneem nie sou dit deur hulle middele, hulle medelyde en hulle gebede ondersteun, en in Christenlande sou daar ook met groter erns gearbei word. Om vir Christus te werk hoef ons nie na heidenlande of selfs buite ons eie huislike kring te gaan as dit daar is waar ons werkkring lê nie. Ons kan in ons eie huislike kring, in die kerk, en onder diegene met wie ons omgaan of sake doen, vir Christus werk.LVB 71.2

    Die Heiland het die grootste gedeelte van Sy aardse lewe in die timmermanswinkel op Nasaret deurgebring. Gedienstige engele het die Here vergesel waar Hy ongesien en ongeëerd met die ander mense gemeng het. Terwyl Hy by Sy skaafbank gewerk het, het Hy Sy dienste net so getrou vervul as toe Hy die siekes gesond gemaak het of op die meer van Galilea gewandel het. Ons kan dus, temidde van ons alledaagse pligte en in die nederigste werk op aarde met Christus wandel en saamwerk.LVB 71.3

    Die apostel sê: “Laat elkeen, broeders, in die staat waarin hy geroepe is, daarin bly by God.” 1 Kor. 7: 24. Die sakeman kan sy sake doen op 'n manier wat die Here sal verheerlik, deur opreg te wees. As hy 'n ware navolger van Christus is, sal hy sy godsdiens orals met hom saamneem en die gees van Christus openbaar. Die masjinis kan ook 'n getroue gesant van Hom wees wat daar tussen die berge van Galilea nederige werk verrig het. Elkeen wat die naam van Christus noem, behoort so te werk dat ander hulle goeie werke sal sien en hulle Skepper en Verlosser sal verheerlik.LVB 72.1

    Baie het hulleself verskoon om vir Christus te werk omdat hulle meen dat ander meer begaafd is as hulle. Die mening is dat slegs diegene wat spesiale talente het onder verpligting is om hulle vermoëns aan die diens van God toe te wy. Baie is onder die indruk dat die talente net aan 'n spesiaal begunstigde klas gegee is, en dat die ander uitgesluit is en nie hoef te werk nie en ook nie deel sal hê aan die uiteindelike loon nie. Maar dit word nie so verduidelik in die gelykenis nie. Toe die huisheer sy diensknegte geroep het, het hy aan elkeen sy werk gegee.LVB 72.2

    In 'n gees van liefde kan ons die nederigste werk verrig “soos vir die Here.” Kol. 3: 23. As die liefde van God in die hart is, sal dit ook in die lewe geopenbaar word. Die Iieflike geur van Christus sal ons omring, en deur ons invloed sal ander opgehef en geseën word.LVB 72.3

    U moenie op groot geleenthede wag of buitengewone bekwaamhede verwag voordat u vir die Here begin werk nie. U hoef u nie te bekommer oor wat die wereld van u sal dink nie. As u daelikse lewe getuig van reinheid en van die opregtheid van u geloof, en as ander sien dat u hulle graag wil help, sal u pogings nie tevergeefs wees nie.LVB 72.4

    Die armste en nederigste dissipel van Christus kan 'n seen tot ander wees. Hulle mag nie besef dat hulle enige goed doen nie, maar deur hulle stille invloed kan hulle strome van seëninge in beweging bring wat steeds dieper en wyer sal gaan, en dit mag wees dat hulle eers in die hiernamaals die gevolge van hulle werk sal sien. Hulle sal nie weet of voel dat hulle iets groots verrig nie, en dit word nie van hulle verwag dat hulle hulle sal bekommer oor sukses nie. Hulle moet stil voortgaan, die werk wat God hulle gee getrou verrig, en hulle lewe sal nie tevergeefs wees nie. Hulle eie siel sal meer en meer in die ewebeeld van Christus gevorm word; in hierdie lewe is hulle medewerkers van God en op hierdie manier maak hulle hulleself geskik vir die edeler werk in die lewe hiernamaals.LVB 73.1

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents