Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 10: 'n Kennis van God

    GOD soek op baie maniere om Homself aan ons te openbaar en om ons in gemeenskap met Hom te bring. Die natuur spreek onophoudelik tot ons, en die hart wat oop is, sal indrukke ontvang van die liefde en heerlikheid van God soos geopenbaar in die dinge wat Hy gemaak het. Die oor wat luister, kan hoor hoedat God deur die dinge wat Hy geskape het tot ons spreek. Die groen velde, die sierlike bome, die bloeisels, die blomme, die wolke, die reent, die riviere, die heerlikheid van die lug bo ons — al hierdie dinge spreek tot ons harte en nooi ons om kennis te maak met Hom wat alles geskape het.LVB 74.1

    Die Heiland het baie lesse uit die natuur aan ons geleer. Die bome, die voëls, die blomme, die berge, die mere en die blou lug daarbo, asook ons alledaagse omgewing — al hierdie dinge het Hy ingevleg in Sy gesprekke sodat ons die lesse kan onthou, selfs temidde van die sorge en swaar geswoeg van die lewe.LVB 74.2

    God wil hê dat Sy kinders Sy werke sal waardeer en dat hulle hulle sal verheug in die eenvoudige skoonheid van hulle aardse tuiste. Hy het skoonheid lief, maar bo alles het Hy 'n mooi karakter lief; Hy wil hê dat ons die reinheid en skoonheid van die blomme sal aankweek.LVB 75.1

    As ons maar net wil luister, sal ons lesse van gehoorsaamheid en vertroue leer uit die dinge wat God geskape het. Die sterre wat eeu na eeu hulle baan deur die lugruim volg, en selfs die kleinste atoom — alles in die natuur is onderworpe aan die wil van die Skepper. En God sorg vir alles en onderhou alles wat Hy geskape het. Hy wat die ontelbare wêrelde in stand hou, sorg ook vir die klein voëltjies wat sonder vrees hulle liedjies sing. As ons werk of bid of slaap of opstaan, is die oog van die hemelse Vader op ons. Die ryk man in sy oorvloed, en die arm man en sy kinders in hulle armoede — almal geniet die beskerming van die Vader in die hemel. Daar val geen traan of God merk dit op, en daar is geen uiting van vreugde waarop Hy nie let nie.LVB 75.2

    As ons dit maar ten voile sou glo, sou ons geen onnodige kwelling hê nie. Ons lewens sou nie so vol teleurstelling wees soos nou nie; want alles, groot of klein, sou ons in die hande van God laat, wat nie in verleentheid gebring word deur ons menigvuldige sorge of daardeur oorweldig word nie. Ons sou dan 'n sielevrede geniet wat ons nie tevore geken het nie.LVB 75.3

    Namate ons ons in die skoonheid van die aarde verlustig, moet ons ook oor die nuwe aarde dink, wat die vloek van die sonde en die dood nooit sal ken nie, en waar die natuur nie meer die donker skaduwee van die vloek sal dra nie. Ons kan ons nooit verbeel hoe heerlik die tuiste van die verlostes sal wees nie. In die dinge wat ons in die natuur sien, het ons maar 'n baie flou voorstelling van die heerlikheid van God. Ons lees: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.” 1 Kor. 2: 9.LVB 75.4

    Digters en natuurkundiges besing die skoonheid van die natuur, maar dis die Christen wat hierdie dinge die beste kan geniet, want hy sien daarin die handewerk van sy hemelse Vader, en in die blomme, struikgewas en bome sien hy die liefde van God. Niemand kan die berge en vlaktes en riviere en see reg waardeer wat nie daarin 'n uitdrukking van Gods liefde tot die mens sien nie.LVB 76.1

    God spreek tot ons deur Sy voorsienigheid, asmede deur die invloed van Sy Gees op ons hart. In ons omstandighede en omgewing en in die dinge wat daeliks rondom ons gebeur, het ons kosbare lesse as ons harte maar net oop was om hulle te ontvang. Toe die psalmdigter die voorsienigheid van God in Sy werke bespeur het, het hy gesê, “Die aarde is vol van die goedertierenheid van die Here.” “Wie wys is, laat hy op hierdie dinge ag gee, en laat hulle let op die goedertierenheid van die Here.” Ps. 33: 5; 107: 43.LVB 76.2

    Ook spreek God tot ons deur Sy woord. Hier het ons 'n duideliker openbaring van Sy karakter, van Sy handelinge met die mens, en van die groot verlossingswerk. Hier kry ons 'n blik op die geskiedenis van die patriarge, profete en ander heiliges van die outyd. Hulle was mense net soos ons. Ons sien hoedat hulle geworstel het met teleurstellings net soos die wat tot ons kom, hoe hulle in versoeking beswyk het net soos ons, en nogtans weer moed geskep en deur die genade van God oorwin het; die kennis hiervan bemoedig ons in ons strewe om die geregtigheid. Waar ons van hulle ervarings lees, en van die lig en liefde en seëninge wat hulle ontvang het, ontbrand daar in ons harte ook 'n vurige begeerte om hulle na te volg en ook soos hulle met God te wandel.LVB 76.3

    Van die Ou-Testamentiese geskrifte het Jesus gesê — en dis net so waar van die Nuwe Testament — “Dit is dié wat van My getuig,” naamlik die Verlosser in wie al ons hoop is. Ja, die hele Bybel getuig van Christus. Van die begin van die skepping af, want “sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie,” tot by die slot van die Bybel, “Ja, Ek kom gou,” lees ons van Sy werke en hoor ons Sy stem. As u die Heiland wil leer ken, ondersoek die Skrifte.LVB 77.1

    Vul u hart met die woorde van God. Hulle is die lewende water wat u dors sal les. Hulle is ook die lewende brood wat van die hemel kom. Jesus het gesê: “As julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en Sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julle nie.” Joh. 6: 53. Hy het hierdie woorde as volg verduidelik: “Die woorde wat Ek vir julle sê, is gees en is lewe.” Joh. 6: 63. Ons liggame word opgebou uit wat ons eet en drink; en op geestelike gebied is dit ook so: dit is die dinge wat ons oorpeins wat ons geestelike lewe opbou.LVB 77.2

    Die engele is baie begerig om die verlossingsplan te verstaan; in die hiernamaals sal dit die onderwerp wees waaroor die verlostes gedurig sal praat en sing. Is dit dan nie nou ons noukeurige ondersoek werd nie? Die oneindige genade en liefde van Jesus vir ons, is dinge wat ons ernstig behoort te oorpeins. Ons behoort diep na te dink oor die karakter van ons Verlosser en Voorbidder. Ons behoort te peins oor Sy sending, naamlik die verlossing van Sy volk van hulle sondes. As ons dan so oor hierdie onderwerpe nadink, sal ons geloof en liefde sterker word, en ons gebede sal aanneemliker wees by God omdat hulle steeds meer en meer geloof en liefde sal openbaar; hulle sal verstandig en vurig wees. Daar sal meer vertroue in Jesus wees, en ons sal Sy krag om diegene te verlos wat deur Hom tot God gaan, beter besef.LVB 77.3

    Namate ons die volmaakte karakter van die Heiland oorpeins, sal die begeerte by ons ontstaan om heeltemal verander en in Sy ewebeeld herskep te word. Daar sal 'n honger en dors in die siel van die gelowige ontstaan om te word soos die Een wat hy aanbid. Hoe meer ons oor Christus dink, hoe meer sal ons met ander van Hom praat en Hom aan die wêreld voorstel.LVB 78.1

    Die Bybel is nie slegs vir geleerdes geskryf nie; maar dit is vir die volk oor die algemeen bedoel. Die groot waarhede wat nodig is vir die saligheid word baie duidelik verklaar, en niemand sal die pad verloor, behalwe diegene wat hulle eie weg volg in plaas van die geopenbaarde wil van God.LVB 78.2

    Ons moenie die menings van ander oor die Skrifte aanneem nie, maar ons moet vir onsself die woord van God ondersoek. As ons toelaat dat ander vir ons dink, sal dit ons vermoëns verswak. Die edele kragte van die verstand kan so verminder deur gebrek aan oefening dat die diepere betekenis van die woord nie verstaan sal word nie. Bybelondersoek en die vergelyking van die een skriftuur met die ander, en geestelike dinge met geestelike, sal die kennis vermeerder.LVB 78.3

    Daar is niks wat die verstand so ontwikkel as Bybelstudie nie. Geen ander boek kan die gedagtes so veredel en die geestesvermoëns so versterk, as die groot Bybelwaarhede nie. As die woord van God ondersoek sou word soos dit behoort, sou die verstand ontwikkel en die karakter veredel word, en daar sou 'n standvastigheid wees soos maar min in ons dae gesien word.LVB 78.4

    Maar dit sal min help om die Skrifte op 'n haastige wyse te lees. Mens kan die hele Bybel deurlees sonder om die skoonheid en dieper betekenis daarvan te besef. As mens een gedeelte sou ondersoek totdat dit duidelik is en die verhouding daarvan tot die verlossingsplan besef word, sou dit van meer waarde wees as 'n hele aantal hoofstukke wat sommer doelloos gelees word sonder dat daar iets by geleer word. Hou altyd u Bybel by u, en as u kans kry, lees dit; leer die tekste van buite. Selfs as u op straat loop, kan u die tekste oorpeins.LVB 78.5

    Ons kan nie kennis opdoen sonder ernstige studie en gebed nie. Sommige dele van die Skrif is so duidelik dat almal hulle kan verstaan; maar daar is ander dele waarvan die betekenis nie so voor die hand liggend is nie. Die een teks moet met die ander vergelyk word; daar moet sorgvuldige navorsing en biddende oorpeinsing wees. Sulke Bybelstudie sal ryklik beloon word. Net soos die mynwerker die kosbare are van goud onder die oppervlakte ontdek, so sal diegene ook wat die Skrifte volhardend ondersoek soos iemand wat na verborge skatte soek, die belangrike waarhede ontdek wat die onverskillige soeker nooit eens raaksien nie. Die oorpeinsing van die woorde van God in die hart, sal soos 'n stroom van lewende water wees.LVB 79.1

    Die Bybel moet nooit sonder gebed ondersoek word nie. Voordat ons dit lees, moet ons eers om die lig van die Heilige Gees vra, en dit sal aan ons gegee word. Toe Natanael na Jesus gekom het, het die Heiland uitgeroep: “Hier is waarlik 'n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie!” Daarop het Natanael gevra, “Waarvandaan ken U my?” Jesus het geantwoord: “Voordat Filippus jou geroep het toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien.” Joh. 1: 47, 48. En Jesus sal ons ook sien waar ons in die geheim bid en Hom om lig vra sodat ons die waarheid kan Verstaan. Engele van lig sal by diegene wees wat in ootmoed om leiding vra.LVB 79.2

    Die Heilige Gees verhef en verheerlik die Heiland. Dit is Sy werk om Christus, Sy geregtigheid, en die saligheid wat deur Hom verkry word, aan ons voor te stel. Van die Gees het Jesus gesê: “Hy sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.” Joh. 16: 14. Die Gees van Waarheid is die enigste doeltreffende leraar van die waarheid. Dink daaraan hoe hoog God die mensekinders skat, want Hy het Sy Seun gegee om vir hulle te sterf, en die Heilige Gees om hulle te leer en te lei.LVB 79.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents