Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 11: Die Voorreg van Gebed

    GOD spreek tot ons deur die natuur en deur Sy Woord, deur Sy voorsienigheid en deur die invloed van Sy Gees. Maar hierdie dinge is nie genoeg nie; ons moet ook ons hart voor Hom uitstort. Ten einde geestelike lewe en krag te hê moet ons werklike gemeenskap met ons hemelse Vader oefen. Ons mag oor Hom dink; ons mag Sy werke, Sy barmhartighede, en Sy seëninge bepeins; maar dit is nie gemeenskap oefen met Hom in die regte sin nie. Om met God gemeenskap te oefen, moet ons iets hê om aan Hom te sê aangaande ons eie lewe.LVB 81.1

    Gebed is die uitstorting van ons hart tot God soos tot 'n vriend. Nie dat dit nodig is om aan God bekend te maak wat ons is nie, maar dis om ons in staat te stel om Hom aan te neem. Gebed bring God nie tot ons af nie, maar dit neem ons op tot Hom.LVB 81.2

    Toe Jesus op aarde was, het Hy Sy dissipels geleer hoe om te bid. Hy het hulle geleer om hulle daelikse behoeftes aan God bekend te maak, en al hulle sorge op Hom te werp. En die versekcring wat Hy aan hulle gegee het dat hulle gebede sou verhoor word, is ook 'n versekering aan ons.LVB 82.1

    Jesus self het dikwels gebid terwyl Hy op aarde onder die mense gewandel het. Ons Heiland het Hom met ons behoeftes en swakhede vereenselwig deur 'n smeker en bidder te word, en van die Vader nuwe krag te verlang vir Sy werk en die beproewings wat Hy moes deurmaak. Hy is ons voorbeeld in alle dinge. Hy is 'n broeder in ons swakhede, en was “in alle opsigte versoek net soos ons, maar sonder sonde”; dog as die een wat sondeloos was, het Hy 'n afkeer gehad van die kwaad; en in 'n wereld van sonde moes Hy 'n groot sielestryd deurmaak. Sy menswording het gebed 'n noodsaaklikheid en 'n voorreg gemaak. Hy het troos en blydskap gevind in gemeenskap met Sy Vader. En as die Verlosser van die mens, die Seun van God, behoefte gehad het aan gebed, hoeveel te meer behoort swakke, sondige sterwelinge hulle behoefte te besef aan vurige aanhoudende gebed.LVB 82.2

    Ons hemelse Vader wag om die volheid van Sy seëninge op ons uit te stort. Dit is ons voorreg om diep te drink uit die fontein van Sy oneindige liefde. Hoe verbasend dat ons so min bid! God is bereid en gewillig om die opregte gebed van die nederigste van Sy kinders te verhoor, en tog is daar so 'n traagheid van ons kant om ons behoeftes aan Hom bekend te maak. Wat moet die engele van die hemel dink van arme, hulpelose mensekinders wat blootgestel is aan versoeking en tog so min bid en so min geloof het, terwyl die hart van God, vol oneindige liefde, verlang na hulle, en bereid is om aan hulle te gee meer as wat hulle ooit kan bid of dink? Die engele skep daar behae in om hulle voor God neer te buig; hulle wil graag naby Hom wees. Hulle beskou gemeenskap met God as hulle hoogste genot; en nogtans skyn dit asof die kinders van die aarde, wat die hulp wat God alleen kan gee so nodig het, tevrede is on sonder die lig van Sy Gees en die gemeenskap van Sy teenwoordigheid te wandel.LVB 82.3

    Die duisternis van die Bose bedek diegene wat nalaat om te bid. Die influistering van die vyand verlei hulle tot sonde; en dit alleen omdat hulle nie gebruik maak van die voorregte wat God hulle deur gebed wil skenk nie. Waarom moet die seuns en dogters van God traag wees om te bid, wanneer gebed die sleutel in die hand van die gelowige is wat die skatkamers van die hemel oopsluit, waar die onbeperkte rykdom van die Almagtige gebêre is? Sonder gedurige gebed en waaksaamheid, loop ons gevaar om agtelosig te word en van die regte pad af te dwaal. Die teenstander is gedurig daarop uit om die weg tot die genadetroon te versper sodat ons nie deur vurige gebed en geloof genade en krag kan ontvang om versoeking te weerstaan nie.LVB 83.1

    Daar is sekere voorwaardes waarop ons kan verwag dat God ons gebede sal verhoor. Die eerste is dat ons ons behoefte aan Sy hulp sal besef. Hy het belowe, “Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond.” Jes. 44: 3. Diegene wat honger en dors na geregtigheid, wat verlang na God, mag seker wees dat hulle versadig sal word. Die hart moet oopgestel word vir die invloed van die Gees, of anders kan Gods seen nie ontvang word nie. Ons groot behoefte is op sigself 'n pleidooi wat op die welsprekendste wyse vir ons pleit. Maar die aangesig van die Here moet gesoek word om hierdie dinge vir ons te doen. Hy sê, “Bid, en vir julle sal gegee word,” Matt. 7: 7. “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy ook nie saam met Hom ons alles genadiglik skenk nie?” Rom. 8: 32.LVB 83.2

    As ons ongeregtigheid in ons hart koester, as ons vasklem aan iets wat ons weet wat sonde is, sal die Here ons nie verhoor nie. Maar die gebed van 'n boetvaardige, gebroke hart word altyd verhoor. As ons al die verkeerde dinge waarvan ons bewus is, reggemaak het, mag ons glo dat God ons gebede sal verhoor. Ons eie verdienste sal ons nie by God aanbeveel nie; dit is die verdienste van Jesus wat ons sal red, en Sy bloed wat ons sal reinig, maar ons moet die voorwaardes van aanneming nakom.LVB 84.1

    ’n Ander vereiste vir gebedsverhoring is geloof. “Hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek.” Heb. 11:6. Jesus het aan Sy dissipels gesê, “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit ontvang, en julle sal dit verkry.” Mark. 11: 24. Neem ons Hom op Sy woord?LVB 84.2

    Die versekering is veelomvattend en onbeperk, en Hy is getrou wat dit beloof het. As ons nie dadelik ontvang wat ons gevra het nie, moet ons nogtans glo dat die Here ons verhoor en dat Hy ons gebede sal antwoord. Ons is so sondig en kortsigtig dat ons soms om dinge vra wat ons nie tot seen sal strek nie, maar in Sy liefde skenk ons hemelse Vader ons net die dinge wat vir ons die beste sal wees — juis wat ons self sou begeer het as ons sake kon sien soos hulle werklik is. Wanneer dit skyn asof ons ge bede nie verhoor word nie, moet ons aan die belofte vasklem; want die antwoord sal gewis kom en ons sal die seen ontvang wat ons die nodigste het. Maar om te dink dat ons gebede sekerlik sal verhoor word, en dat ons juis die dinge sal ontvang waarvoor ons gevra het, en langs die weg wat ons gereken het, is vermetelheid. God is te wys om 'n fout te begaan en te goed om enige goeie ding te onthou aan diegene wat opreg wandel voor hom. Moenie bang wees om die Here te vertrou nie, al sien u nie dadelik die antwoord op u gebede nie. Steun op Sy onwankelbare belofte, “Bid, en vir julle sal gegee word.” Matt. 7: 7.LVB 84.3

    As ons toegee aan vrees en twyfel en probeer om alles te verstaan voordat ons glo, sal ons net ons moeilikhede groter en erger maak. Maar as ons tot God kom, ons hulpeloosheid en afhanklikheid besef en in ootmoedige geloof ons behoeftes bekend maak aan Hom wat alwys is en alles sien en alles bestuur, sal Hy ons roepstem verhoor en Sy lig in ons harte laat skyn. Deur opregte gebed tree ons in verbinding met die Ewige. Ons mag op die oomblik geen bewys hê dat die aangesig van ons Verlosser ons in liefde en ontferming betrag nie; maar dit is tog so. Ons mag nie voel dat Hy ons aanraak nie, maar Sy hand rus op ons in liefde en medelydende teerheid.LVB 85.1

    As ons tot God kom en om genade en seëninge vra, moet daar 'n gees van liefde en vergewensgesindheid in ons eie harte wees. Hoe kan ons bid, “Vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe” (Matt. 6: 12), en nogtans 'n gees van onvergewensgesindheid koester? As ons verwag dat ons eie gebede moet verhoor word, moet ons ander vergewe op dieselfde wyse en in dieselfde mate as wat ons verwag om vergifnis te ontvang.LVB 85.2

    Volharding is een van die voorwaardes van gebedsverhoring. Ons moet gedurig bid as ons wil toeneem in geloof en geestelik opwas. Ons moet “volhard in die gebed,” en “daarin waak met danksegging.” (Rom. 12: 12; Kol. 4: 2.) Petrus vermaan die gelowiges “Wees dan ingetoë en nugter, om te kan bid.” 1 Pet. 4: 7. Paulus skryf, “Laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.” Filip. 4: 6. “Maar julle, geliefdes,” sê Judas, “moet ... in die Heilige Gees bid en julleself bewaar in die liefde van God.” Judas 20, 21. Onophoudelike gebed beteken die onafgebroke gemeenskap van die siel met God, sodat die lewe van God in ons lewe kan instroom, en daar uit ons lewe weer reinheid en heiligheid kan terugvloei tot God.LVB 85.3

    Daar is behoefte aan ywer in ons gebede; laat niks u hinder nie. Doen alles in u vermoë om die gemeenskap tussen u siel en Jesus ongestoord te hou. Neem elke geleentheid te baat om na die gewone bidplek te gaan. Diegene wat waarlik gemeenskap met God soek, sal by die biduur gesien word, getrou om hulle plig te doen, en sal gretig en ernstig wees om alle seëninge te ontvang. Hulle sal elke geleentheid te baat neem om te gaan waar hulle die ligstrale uit die hemel kan ontvang.LVB 86.1

    Ons behoort by die huisaltaar te bid, en ons moet veral nie die gebed in die binnekamer verwaarloos nie, want dit is die lewe van die siel. Dit is onmoontlik vir die siel om vordering te maak as gebed verwaarloos word. Huislike of openbare gebed alleen is nie voldoende nie. In die verborge moet die hart vir die ondersoekende oog van God blootgestel word. Ons gebede in die verborge is alleen vir die oor van die gebedverhorende God. Geen nuuskierige oor moet sulke gebede hoor nie. In die verborge is die siel vry van die invloede van die omgewing en vry van opwinding. Kalm, dog vurig sal hy tot God roep. Soet en blywend is die invloed wat uitgaan van Hom wat in die verborge sien, Wie se oor oop is vir die gebed wat uit die diepte van die hart kom. Deur 'n kalme, eenvoudige geloof, hou die siel gemeenskap met God en neem hy die strale van goddelike lig in homself op om hom in die stryd met Satan te versterk en te ondersteun.LVB 86.2

    Bid in u binnekamer, en laat u hart dikwels in u werk tot God opgehef word. So het Henog met God gewandel. Sulke stille gebede gaan soos wierook op tot die genadetroon. Satan kan nie die hart wat so op God vertrou, oorwin nie.LVB 86.3

    Geen tyd of plek is ongcskik om 'n gebed tot God te laat opstyg nie. Daar is niks wat ons kan belet om ons hart in die gees op te hef in ernstige gebed nie. Net soos Nehemia sy versoek aan koning Artasasta gerig het, kan ons ook in die gewoel van die straat, of in ons besigheid, 'n gebed tot God opstuur. Ons kan orals waar ons is 'n binnekamer vind. Die deur van ons hart behoort gedurig oop te wees, met die uitnodiging aan Jesus om in ons hart te kom woon as 'n hemelse gas.LVB 86.4

    Al word ons omring van 'n verderflike atmosfeer, hoef ons dit nie in te asem nie; maar ons kan in die reine atmosfeer van die hemel lewe. Ons kan alle onheilige verbeeldings en onreine gedagtes verban, as ons deur opregte gebed in die teenwoordigheid van God bly. Diegene wat ontvanklike harte het vir die seen en hulp van God, sal in 'n heiliger atmosfeer wandel as die van hierdie aarde, en hulle sal onafgebroke gemeenskap met die hemel hê.LVB 87.1

    Ons behoort Jesus duideliker te sien en die ewige dinge beter te verstaan. Die hart van Gods kinders behoort vol te wees van die sieraad van heiligheid; en om dit te bewerkstellig, behoort ons te soek na goddelike openbarings van hemelse dinge.LVB 87.2

    Laat ons siel na omhoog getrek word, dat ons van God 'n teug van die hemelse atmosfeer mag ontvang. Ons kan so na aan God lewe dat ons gedagtes in elke onverwagte beproewing tot Hom sal uitgaan, net so natuurlik as die blom na die son draai.LVB 87.3

    Maak u behoeftes, u vreugde, u droefheid, u sorge en u vrees aan God bekend. U kan Hom nie daarmee belas of vermoei nie. Hy wat die hare van u hoof tel, is nie onverskillig omtrent die behoeftes van Sy kinders nie. “Die Here is vol medelyde en ontferming.” (Jak. 5: 11.) Ons smarte, ja selfs die mededeling daarvan, pynig Sy liefdevolle hart. Neem al u moeilikhede na Hom. Niks is te groot vir Hom om te dra nie, want Hy hou die wêrelde in stand en Hy heers oor die ganse heelal. Niks wat ons vrede aanraak, is te gering vir Hom om op te merk nie. Daar is geen hoofstuk in ons lewe wat vir Hom te duister is om te lees nie; daar is geen moeilikheid te groot vir Hom om op te los nie. Geen ramp kan die geringste van Sy kinders tref nie, geen angs kan hulle siel kwel nie, geen blydskap kan hulle bemoedig nie, geen opregte gebed kan hulle lippe ontval nie, waarvan ons hemelse Vader nie kennis neem nie, of waarin Hy nie onmiddellik belangstel nie. “Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde.” Ps. 147: 3. Die Here se belangstelling in elke siel is so volkome asof daar geen ander siel op aarde was wat Sy sorg nodig het, of vir wie Hy Sy geliefde Seun gegee het nie.LVB 87.4

    Jesus het gesê, “In daardie dag sal julle in My naam bid; en Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader aangaande julle sal vra nie; want die Vader self het julle lief.” “Ek het julle uitverkies . . . sodat wat julle ook al die Vader mag vra in My naam, Hy dit vir julle kan gee.” Joh. 16: 26, 27; 15: 16. Maar om in die naam van Jesus te bid, beteken meer as om slegs daardie naam te noem aan die begin en einde van die gebed. Dit beteken om met die gesindheid en gees van Jesus te bid, terwyl ons Sy beloftes aanneem, op Sy genade steun, en Sy werke doen.LVB 88.1

    Dit is nie die oogmerk van God dat ons kluisenaars of monnike moet word nie, of dat ons ons van die wêreld moet onttrek ten einde ons aan aanbidding te wy nie. Ons lewe moet soos die lewe van Christus wees — tussen die berg en die skare. Hy wat niks anders doen as bid nie, sal gou ophou om te bid, of sy gebede sal ontaard in 'n formele roetine. Wanneer mense hulleself aan die gemeenskaplike lewe onttrek — weg van hulle kruis en Christelike pligte; wanneer hulle ophou om ernstig te arbei vir hulle Meester wat so getrou vir hulle gearbei het, verloor hulle alle stof tot gebed en is daar geen aansporing meer tot godsdiens nie. Hulle gebede word persoonlik en selfsugtig. Hulle kan nie bid vir die behoeftes van die mensdom nie, of vir die opbouing van die koninkryk van Christus, of om krag om te arbei nie.LVB 88.2

    Ons ly 'n verlies as ons die voorreg verwaarloos om saam te leef en om mekaar in die diens van God te versterk en te bemoedig. Die waarhede van Gods woord verloor hulle helderheid en belangrikheid in ons gemoed. Ons hart word nie meer verlig en opgewek deur hulle heiligmakende invloed nie, en ons gaan agteruit op geestelike gebied. In ons omgang met ander verloor ons, as Christene, baie deur gebrek aan medelyde met mekaar. Hy wat homself in homself terugtrek, vul nie die plek wat God vir hom bedoel het nie. Die behoorlike ontwikkeling van die sosiale sy van ons lewe help ons om medelyde te hê met ander, en dis ook 'n middel tot opwassing en krag in die diens van God.LVB 89.1

    As Christene meer omgang met mekaar sou hê, met mekaar oor die liefde van God en die heerlike waarhede van verlossing sou praat, sou hulle eie harte verkwik word en sou hulle mekaar opbeur. Ons kan daeliks meer van ons hemelse Vader leer en meer van Sy genade geniet; dan ook sal ons graag van Sy liefde praat, en namate ons dit doen sal ons harte warm gemaak en bemoedig word. As ons meer van Jesus sou praat en dink, en minder van onsself, sou ons baie meer van Sy teenwoordigheie geniet.LVB 89.2

    As ons net so dikwels aan God dink as wat ons bewyse van Sy beskerming het, sal Hy gedurig in ons gedagtes wees, en sal ons ons daarin verbly om Hom te loof en van Hom te praat. Ons praat oor die tydelike dinge omdat ons daarin belang stel. Ons praat van ons vriende omdat ons hulle liefhet — omdat ons saam die vreugde en die leed van die lewe deurmaak. Nogtans het ons oneindig veel meer rede om God lief te hê as ons aardse vriende; en dit behoort die natuurlikste ding in die wêreld te wees dat Hy die eerste plek in ons hart inneem, en dat ons van Sy goedheid en krag praat. God het nie bedoel dat die kostelike gawes wat Hy ons skenk ons hart en liefde so in beslag sal neem dat ons niks sal hê om aan Hom te gee nie; hulle moet dien om ons gedurig aan Hom te laat dink en ons met bande van liefde en dankbaarheid aan ons hemelse Weldoener te bind. Ons leef te na aan die aarde. Laat ons ons oë ophef na die oop deur van die heiligdom daarbo, waar die lig van die heerlikheid van God skyn in die aangesig van Christus, wat “volkome red die wat deur Hom tot God gaan.” (Heb. 7: 25.)LVB 89.3

    Ons behoort God meer te loof “vir Sy goedertierenheid en vir Sy wonderdade aan die mensekinders.” Ps. 107: 8. Ons godsdiens moet nie net bestaan uit vra en ontvang nie. Laat ons nie gedurig aan ons behoeftes, en nooit aan die gawes wat ons ontvang, dink nie. Ons bid nie juis te veel nie, maar ons is te spaarsaam met ons dankseggings. Ons ontvang gedurig die seëninge van God, en tog hoe min toon ons ons dankbaarheid, hoe min loof ons Hom vir wat Hy vir ons doen.LVB 90.1

    In die ou dae, toe Israel bymekaargekom het, het God gesê, “Daar moet julle voor die aangesig van die Here julle God eet en vrolik wees, julle en jul huisgesinne, oor alles waar julle jul hand aan slaan waarin die Here jou God jou geseën het.” Deut. 12: 7. Wat ons doen ter ere van God moet met blymoedigheid gedoen word, met lofliedere en danksegging en nie met swaarmoedigheid en neerslagtigheid nie.LVB 90.2

    Ons God is 'n tere, barmhartige Vader. Sy diens moet nie beskou word as iets wat die hart treurig maak en ontstel nie. Dit behoort 'n genot te wees om die Here te aanbid en deel te neem aan Sy werk. Die Here wil nie hê dat Sy kinders, wat Hy so duur gekoop het, moet handel asof Hy 'n harde, veeleisende heer is nie. Hy is hulle beste vriend, en as hulle Hom aanbid, sal Hy by hulle wees om hulle te seen, te vertroos en hulle harte met vreugde en liefde te vervul. Die Here verlang dat Sy kinders vertroosting in Sy diens sal vind, asook meer genot as ontbering in Sy werk. Hy wil hê dat diegene wat kom om Hom te aanbid, die diens sal verlaat met vertroostende gedagtes van sorg en liefde, sodat hulle goedsmoeds kan wees in hulle daelikse werk, en dat hulle genade mag ontvang om eerlik en getrou te handel in alle dinge.LVB 90.3

    Ons moet ons rondom die kruis skaar. Christus die gekruisigde moet die onderwerp van ons oorpeinsing en gesprekke wees, en dit moet ons gemoed met blydskap vervul. Ons moet elke seen wat ons van God ontvang in gedagienis hou, en as ons Sy groot liefde besef, behoort ons gewillig te wees om alles toe te vertrou aan die hand wat vir ons aan die kruis genael is.LVB 91.1

    Op die vleuels van danksegging kan die siel nader aan die hemel kom. In die hemelse howe word God aanbid met gesang en musiek, en waar ons onse dankbaarheid betuig, stem ons aanbidding in 'n mate ooreen met dié van die hemelse leërskare. “Die een wat dank offer, eer My.” Ps. 50: 23. Laat ons dan met eerbiedige vreugde tot ons Skepper nader met “danksegging en die klank van liedere.” Jes. 51: 3.LVB 91.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents