Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Koning Van Die Eeue

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    “Die Koninkryk van God het Naby Gekom”

    JESUS het in “Galilea gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.” Markus 1: 14, 15.

    Die koms van die Messias is die eerste verkondig in Judea. Die geboorte van die boodskapper is aan Sagaria voorspel terwyl hy voor die altaar gedien het in die tempel te Jerusalem. Op die berge van Betlehem het die engele die geboorte van Jesus aangekondig. Die wyse manne het na Jerusalem gekom soekende na Hom. In die tempel het Simeon en Anna getuig van Sy godheid. “Jerusalem en die hele Judea” het die prediking van Johannes die Doper gehoor; en die alvaardiging van die Sanhedrin, sowel as die skare, het sy getuienis aangaande Jesus gehoor. Christus het Sy eerste dissipels in Judea geroep, en daar ook het Sy vroeë bediening geskied. Die deurflitsing van Sy godheid by die reiniging van die tempel, Sy wonderwerke van genesing, die lesse van goddelike waarheid wat Hy geleer het — dit alles het getuig wat Hy ook ná die genesing by Betesda self voor die Sanhedrin getuig het, naamlik dat Hy die Seun van die ewige God was.”KE 225.1

    As die leiers van Israel Christus aangeneem het, sou Hy hulle vereer het om Sy boodskappers te wees om die evangelie na die hele wêreld te neem. Aan hulle is die eerste kans gegee om boodskappers van die koninkryk en genade van God te word. Maar Israel het nie die tyd van sy besoeking geken nie. Die jaloesie en wantroue van die Joodse leiers het oorgegaan tot openlike haat, en die harte van die mense is afgekeer van Jesus.KE 227.1

    Die Sanhedrin het Christus se boodskap verwerp en hulle was vasberade om Hom dood te maak; daarom het Jesus uit Jerusalem vertrek, weg van die priesters, die tempel, die geestelike leiers, en die mense wat uit die wet onderrig is, en Hy het Hom gewend tot n ander klas om Sy boodskap te verkondig en diegene uit te kies wat die evangelie na alle nasies sou neem.KE 227.2

    Net soos die lig en die lewe van die mense deur die geestelike leiers verwerp is in die dae van Christus, so is dit ook deur elke geslag daarna verwerp. Keer op keer is die geskiedenis van Christus se onttrekking uit Judea herhaal. Toe die Hervormers die Woord van God verkondig het, het hulle nie daaraan gedink om hulleself van die gevestigde kerk af te skei nie; maar die geestelike leiers het nie die lig verdra nie, en diegene wat dit gedra het, moes hulle na n ander klas wend wat verlang het na die waarheid. In ons tyd, waarin die belydende navolgers van die Hervormers lewe, is daar min wat met hulle gees besiel is. Daar is min wat luister om Gods stem te verneem en wat gewillig is om die waarheid aan te neem, in watter vorm dit ook mag kom. Dikwels word diegene wat in die voetstappe van die Hervormers volg, verplig om die kerke wat hulle liefhet, te verlaat ten einde die duidelike leer van die Woord van God te verkondig. En dikwels ook word diegene wat soek na lig, deur dieselfde lering verplig om die kerk van hulle vaders te verlaat sodat hulle God kan gehoorsaam.KE 227.3

    Die mense van Galilea is deur die rabbi s van Jerusalem verag as grof en ongeleerd, maar hulle was 'n gunstiger arbeidsveld vir die Heiland se werk. By hulle was daar groter opregtheid en erns; hulle was minder dweepsiek; en hulle was vatbaar vir die waarheid. Deur na Galilea te gaan, het Jesus nie isolasie en afsondering gesoek nie. Die provinsie was in daardie tyd baie dig bewoon en met n groter volksverskeidenheid as die van Judea.KE 227.4

    Terwyl Jesus deur Galilea gereis en geleer en genees het, het skares na Hom gestroom uit die stede en dorpies. Selfs uit Judea en aangrensende provinsies het baie mense gekom. Dikwels was Hy verplig om te gaan wegkruip vir die mense. Die geesdrif van die mense was so groot dat daar versigtig gehandel moes word om nie die vrees van die Romeinse owerheid vir 'n opstand op te wek nie. Nog nooit was daar vir die wêreld 'n periode soos hierdie nie. Die Hemel het na die mense toe afgekom. Hongerige en dorstige siele wat lank op die verlossing van Israel gewag het, het nou die genade van 'n barmhartige Heiland ingedrink.KE 228.1

    Die hooftema van Christus se prediking was, “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.” So was die evangelieboodskap dan, soos deur die Heiland self verkondig, op die profesieë gebaseer. Die “tyd” wat vervul is, was die tyd wat deur die engel Gabriel aan Daniel bekendgemaak is. “Sewentig weke,” het die engel gesê, “is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseel en om 'n hoogheilige voorwerp te salf.” Dan. 9: 24. 'n Dag in die profesie staan vir 'n jaar. (Sien Num. 14: 34; Eseg. 4: 6.) Die sewentig weke, of vierhonderd-en-negentig dae, stel voor vierhonderd-en-negentig jaar. Die aanvangspunt van hierdie tydperk is gegee: “Nou moet jy weet en verstaan; van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op n gesalfde, 'n vors, is sewe weke, en twee-en-sestig weke”—'n periode van nege-en-sestig weke, of vierhonderd drie-en-tagtig jaar. (Dan. 9: 25.) Die bevel om Jerusalem te herbou, soos voltooi deur Artasasta Longimanus (sien Esra 6: 14; 7: 1, 9), het in werking getree in die herfs van die jaar 457 v.C. Vanaf daardie tyd bereken, sal vierhonderd drie-en-tagtig jaar strek tot die herfs van die jaar 27 n.C. Volgens die profesie sou hierdie tydperk strek tot by die Messias, die Gesalfde. In die jaar 27 n.C., het Jesus by Sy doop die salwing van die Heilige Gees ontvang, en kort daarna het Hy Sy openbare sending begin. Toe is die boodskap verkondig, “Die tyd is vervul.”KE 228.2

    Dan sou Hy, het die engel gesê, “een week lank [sewe jaar] met baie 'n sterk verbond sluit.” Vir sewe jaar nadat die Heiland Sy bediening begin het, is die evangelie spesiaal aan die Jode verkondig; vir drie en 'n half jaar deur Christus self, en daarna deur die apostels. “Gedurende die helfte van die week sal Hy slagoffer en spysoffer laat ophou.” Dan. 9: 27. In die lente van die jaar 31 n.C., is Christus, die ware slagoffer, op Golgota geoffer. Toe is die voorhangsel van die tempel in twee geskeur as bewys dat die heiligheid en betekenis van die offerstelsel geëindig het. Die tyd het gekom vir die aardse slag- offcrs en spysoffers om ten einde te loop.KE 228.3

    Daardie een week, of sewe jaar, het in die jaar 34 n.C., geëindig. Toe het die Jode, deur die steniging van Stefanus hulle verwerping van die evangelie finaal beseël. Die dissipels wat deur die vervolging verstrooi is, “het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig” (Hand. 8:4); en kort daarna het Saulus, die vervolger, tot bekering gekom, en het hy Paulus, die apostel tot die heidene geword.KE 229.1

    Die tyd van Christus se koms, Sy salwing met die Heilige Gees, Sy dood, en die verkondiging van die evangelie aan die heidene — daarop is bepaald gewys. Dit was die voorreg van die Joodse volk om hierdie profesieë te verstaan en hulle vervulling te sien in die sending van Christus. Christus het die belangrikheid van die studie van die profesieë by Sy dissipels beklemtoon. Verwysende na 'n profesie van Daniël, wat betrekking gehad het op hulle tyd, het Hy gesê, “Laat hy wat lees, oplet.” Matt. 24: 15. Ná Sy opstanding het Hy “en al die profete” die dinge aan Sy dissipels verduidelik “wat op Hom betrekking het.” Lukas 24: 27. Die Heiland het deur al die profete gespreek. “Die Gees van Christus wat in hulle was” het getuig “van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna.” 1 Pet. 1: 11.KE 229.2

    Dit was Gabriel, die engel wat die rang net onder Christus beklee, wat met die goddelike boodskap na Daniël gekom het. Dit was Gabriël, “Sy engel,” wat Christus gestuur het om die toekoms aan Johannes te openbaar, en daar word 'n seën uitgespreek op diegene wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is. (Openb. 1: 3.)KE 229.3

    “Die Here Here doen niks tensy dat Hy eers Sy geheimenis aan Sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.” Terwyl die “verborge dinge” vir die Here onse God is, is die “geopenbaarde dinge ... vir ons en ons kinders tot in ewigheid.” Amos 3: 7; Deut. 29: 29. God het hierdie dinge aan ons gegee, en Hy sal Sy seën gee by 'n eerbiedige en biddende studie van die profetiese geskrifte..KE 229.4

    Net soos die boodskap van Christus se eerste koms die koninkryk van Sy genade aangekondig het, so kondig die boodskap van Sy tweede koms die koninkryk van Sy heerlikheid aan. En die tweede boodskap, net soos die eerste, is gebaseer op die profesieë. Die woorde van die engel aan Daniël met betrekking tot die laaste dae, sou verstaan word in die tyd van die einde. In daardie tyd sal baie “dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.” “Die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose sal verstaan nie, maar die verstandige sal verstaan.” Dan. 12: 4, 10. Die Heiland self het die tekens van Sy koms gegee, en Hy het gesê, “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.” “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en die dag julle nie skielik oorval nie.” “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig mag geag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en te staan voor die Seun van die mens.” Lukas 21: 31, 34, 36.KE 230.1

    Ons het die tyd bereik wat in hierdie skrifte voorspel is. Die tyd van die einde het gekom, die gesigte van die profete word geopenbaar, en hulle ernstige waarskuwings wys daarop dat die koms van die Here in heerlikheid naby is.KE 230.2

    Die Jode het die Woord van God verkeerd vertolk en verkeerd toegepas, en hulle het nie die tyd van hulle besoeking geken nie. Die jare van die bediening van Christus en Sy apostels — die kosbare laaste jare van genade aan die uitverkore volk — het hulle bestee aan planne om die Here se boodskappers dood te maak. Aardse ambisies het hulle in beslag geneem, en die geestelike is hulle tevergeefs aangebied. So ook vandag word die mense se harte in beslag geneem deur die koninkryk van hierdie wêreld, en hulle slaan nie ag op die vinnig- vervullende profesieë en die tekens van die spoedige koms van die koninkryk van God nie.KE 230.3

    “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos 'n dief sou oorval nie. Julie is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.” Hoewel ons nie die uur van die Here se koms sal weet nie, kan ons weet wanneer dit naby is. “Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.” 1 Thess. 5:4-6. KE 230.4

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents