Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Koning Van Die Eeue

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    “Na My V ader en Julle V ader”

    DIE tyd het gekom vir Christus om op te vaar na Sy Vader se troon. Soos 'n goddelike oorwinnaar het Hy op die punt gestaan om terug te keer na die hemelhowe met die trofeë van die oorwinning. Vóór Sy dood het Hy aan Sy Vader gesê, “Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.” Joh. 17:4. Ná Sy opstanding het Hy vir 'n tydjie op die aarde vertoef sodat Sy dissipels met Hom bekend kon raak in Sy verrese, verheerlikte liggaam. Nou was Hy gereed om hulle te verlaat. Hy het die feit bevestig dat Hy 'n lewende Verlosser was. Sy dissipels hoef Hom nie langer met die graf te assosieer nie. Hulle kon nou aan Hom dink as die verheerlikte in die hemelse heelal.KE 848.1

    Vir die plek van Sy hemelvaart het Jesus die plek gekies wat so dikwels geheilig is deur Sy teenwoordigheid toe Hy onder die mense gewandel het. Nie die berg Sion, die plek van Dawid se stad nie, en ook nie die berg Moria, die staanplek van die tempel, sou so vereer word nie. Dáár is Christus bespot en verwerp. Dáár is die strome van genade, wat gevloei het in 'n vloedgolf van liefde, teruggedryf deur harte so hard soos rotse. Daarvandaan het Jesus, moeg en met 'n beswaarde hart gegaan om te gaan rus op die Olyfberg. Die heilige glans, toe dit gewyk het uit die tempel, het daar op die oostelike berg gerus asof dit teësinnig was om die uitverkore stad te verlaat; so het Christus op die Olyfberg gestaan, en met 'n verlangende hart Jerusalem betrag. Die boorde en klofies teen die berg was geheilig deur Sy gebede en trane. Teen sy hellings is die gejuig gehoor van die skare wat Hom as koning uitgeroep het. Daar ook het Hy 'n tuiste gevind in die huis van Lasarus te Betanië. In die tuin van Getsemane, aan die voet van die berg, het Hy alleen in gebed geworstel. Vanaf hierdie berg sou Hy opvaar na die hemel. Op die kruin van daardie berg sal Sy voete rus wanneer Hy weer kom. Nie as man van smarte nie, maar as 'n heerlike, triomfantlike Koning sal Hy op die Olyfberg staan, onderwyl Hebreeuse hallelujas sal weergalm saam met heidense hosannas, en die stemme van die verloste leërskare sal uitroep, Kroon Hom, Here van aller here!KE 848.2

    Met die elf dissipels is Jesus nou na die berg. Toe hulle deur die poort van Jerusalem gaan, het nuuskierige oë die groepie aanskou, gelei deur die Een wat n paar weke tevore voor die owerstes veroordeel is om gekruisig te word. Die dissipels het nie geweet dat dit hulle laaste onderhoud met hulle Meester sou wees nie. Jesus het die tyd bestee om met hulle te praat, en het Sy vorige bevele herhaal. Toe hulle Getsemane nader, het Hy gaan staan, sodat hulle kon dink aan die lesse wat Hy hulle gegee het die aand van Sy lyde. Weer het Hy na die wynstok gekyk wat Hy as beeld gebruik het van die eenheid van Sy kerk met Hom en Sy Vader; weer het Hy die waarhede herhaal wat Hy toe verkondig het. Orals rondom hulle was daar herinneringe aan Sy versmaaide liefde. Selfs Sy dissipels wat Hy so liefgehad het, het Hom in die uur van Sy vernedering verlaat.KE 849.1

    Christus was vir drie-en-dertig jaar op die aarde; Hy het veragting, beledigings en bespotting verduur; Hy is verwerp en gekruisig. Nou, waar Hy op die punt staan om na Sy troon van heerlikheid op te vaar; waar Hy dink aan die ondankbaarheid van die mense wat Hy kom red het, sal Hy Sy medelyde en liefde aan hulle onttrek? Sal Hy nie Sy liefde gee daar waar dit waardeer sal word, en waar sondelose engele wag om Sy bevele uit te voer nie? Nee; Sy belofte aan Sy geliefdes wat Hy op die aarde agterlaat, is, “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Matt. 28: 20.KE 849.2

    Op die Olyfberg aangekom, het Jesus vooruitgegaan tot op die kruin, in die omgewing van Betanië. Daar het Hy gaan staan, en die dissipels het by Hom gaan staan. Dit het geskyn of lig uit Sy aangesig straal terwyl Hy hulle met liefde betrag. Hy het hulle nie bestraf vir hulle foute en mislukkings nie; die laaste woorde wat van Sy lippe gekom het, was die allerteerste woorde. Met Sy hande uitgestrek in seën, asof Hy hulle wou verseker van Sy beskerming, het Hy stadig opgevaar onder hulle uit, hemelwaarts getrek deur 'n krag sterker as die aardse aantrekkingskrag. Namate Hy opwaarts gegaan het, het die vreesbevange dissipels stip gekyk om die laaste blik van die opstygende Here te kry. 'n Wolk van heerlikheid het Hom vir hulle oë bedek; en toe daardie wolke-wa van engele Hom wegneem, het hulle weer die woorde gehoor, “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” Terselfdertyd het hulle die heerlikste sang van die engelekoor gehoor.KE 850.1

    Terwyl die dissipels so na bo staan en kyk, het stemme soos die soetste musiek hulle aangespreek. Hulle het omgedraai, en twee engele, in die gedaante van manne, het aan hulle gesê, “Galilese manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.”KE 851.1

    Hierdie engele was deel van die engeleskaar wat in die wolk gewag het om Jesus na Sy hemelse tuiste te begelei. Hulle was die hoogste onder die engeleskaar, en hulle was dieselfde twee wat na die graf gekom het tydens Christus se opstanding, en hulle was altyd saam met Hom gedurende Sy aardse lewe. Die ganse hemel het gretig gewag vir die einde van Sy verblyf op aarde, so geskend en ontsier deur die vloek van die sonde. Die tyd het nou gekom vir die hemelse heelal om hulle Koning te ontvang. Het hierdie twee engele ook nie verlang om onder die skare te wees wat Jesus sou verwelkom nie? Maar uit medelyde en liefde vir diegene wat Hy agtergelaat het, het hulle agtergebly die dissipels te vertroos. “Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word terwille van die wat die saligheid sal beërwe nie?” Heb. 1: 14.KE 851.2

    Christus het na die hemel opgevaar in 'n menslike gedaante. Die dissipels het gesien hoedat die wolk Hom ontvang. Dieselfde Jesus wat met hulle gewandel en gepraat en gebid het; wat saam met hulle geëet het, wat saam met hulle in hulle skuite op die meer was, en wat nog daardie dag saam met hulle die berg bestyg het — hierdie selfde Jesus het nou opgevaar om saam met Sy Vader op Sy troon te sit. En die engele het hulle verseker dat dieselfde Een wat hulle sien wegvaar het na die hemel, sou terugkom net soos hulle Hom sien gaan het. Hy sal “kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien.” “Die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aarts-engel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.” Die Seun van die mens sal kom “in Sy heerlikheid en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op Sy heerlike troon sit.” Openb. 1: 7; 1 Thess. 4: 16; Matt. 25: 31. So sal die Here se belofte aan Sy dissipels vervul word: “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” Joh. 14: 3. Wel kon die dissipels hulle verbly in die hoop op hulle Here se wederkoms.KE 851.3

    Toe die dissipels terug is na Jerusalem, het die mense hulle met verbasing aanskou. Ná die verhoor en kruisiging van Jesus, is daar gemeen dat hulle neerslagtig en skaam sou wees. Hulle vyande het verwag dat hulle die tekens sou toon van droefheid en neerlaag. Maar pleks daarvan het hulle slegs blydskap en die oorwinning gesien. Hulle gesigte het gestraal van 'n lig nie van hierdie aarde nie. Hulle het nie getreur oor verydelde hoop nie, maar hulle was vol lof en danksegging aan God. Met blydskap het hulle die wonderbare verhaal van Christus se opstanding en Sy hemelvaart vertel, en hulle getuienis is deur vele aangeneem.KE 852.1

    Die dissipels was nie langer bang vir die toekoms nie. Hulle het geweet dat Jesus in die hemel was, en dat Hy altyd met hulle sou simpatiseer. Hulle het geweet dat hulle n Vriend op die troon van God het, en hulle het met gretigheid hulle versoeke aan die Vader gerig in Jesus se Naam. Met groot eerbied het hulle gebid, en aanspraak gemaak op die belofte, “Alles wat julle die Vader sal vra in My Naam, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in My Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” Joh. 16: 23, 24. Hulle het die hand van geloof al hoër en hoër uit- gestrek, met die magtige pleidooi, “Christus is dit wat gesterf het, ja meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” Rom. 8: 34. En Pinkster het aan hulle die volheid van vreugde gebring in die ga we van die Trooster, net soos Christus belowe het.KE 852.2

    Die ganse hemel het gewag om die Heiland in daardie heerlike howe te verwelkom. Soos Hy opgevaar het, was Hy aan die voorpunt, en die skare gevangenes wat Hy vrygestel het tydens Sy opstanding, het gevolg. Die hemelse leërskare het met gejuig en engelesang agterna gekom.KE 852.3

    Toe hulle naby die Godstad kom, het die begeleidende engele die bevel gegee:KE 852.4

    “Hef op julle hoofde, o poorte,
    Ja verhef julle, ewige deure,
    Dat die Erekoning kan ingaan!”
    Dat die Erekoning kan ingaan!”
    KE 852.5

    Met vreugde het die engelwagters geantwoord: “Wie is dan die Erekoning?” Dit sê hulle, nie omdat hulle nie weet wie Hy is nie, maar omdat hulle die antwoord van groot lof wou hoor:KE 853.1

    “Die Here, sterk en geweldig,
    Die Here geweldig in die stryd.
    Hef op julle hoofde, o poorte,
    Ja hef op, ewige deure,
    dat die Erekoning kan ingaan!”
    KE 853.2

    Weer word die aanroep gehoor, “Wie is dan die Erekoning?” want die engele word nooit moeg om daardie Naam te loof nie. Die begeleidende engele antwoord nogmaals:KE 853.3

    Die Here van die leërskare
    Hy is die Erekoning.” Ps. 24: 7-10.
    KE 853.4

    Dan word die poorte van die Godstad wyd oopgemaak, en die engeleskare gaan in op die maat van die verruklikste musiek.KE 853.5

    Daar is die troon, en daarom die reënboog van belofte. Daar is gerubs en serafs. Die aanvoerders van die leërskare van engele, die seuns van God, die verteenwoordigers van die sondelose wêrelde, is daar vergader. Die hemelse raad voor wie Lucifer God en Sy Seun beskuldig het, die verteenwoordigers van daardie sondelose ryke waaroor die Satan gehoop het om te regeer — almal is daar om die Verlosser te verwelkom. Hulle is gretig om Sy oorwinning te vier en om hulle Koning te verheerlik.KE 853.6

    Maar Hy belet hulle. Dis nog nie tyd nie; Hy kan nie nou al die kroon van heerlikheid en die komnkhke gewaad aanneem nie. Hy gaan voor Sy Vader staan. Hy wys na Sy verwonde hoof, sy deurstoke sy, Sy deurboorde voete; en Hy hou Sy hande op met die merke van die spykers daarin. Hy wys na die bewyse van Sy oorwinning; Hy het die hefoffer-gerf aangebied vir Sy Vader — diegene wat saam met Hom opgestaan het as verteenwoordigers van die groot skare wat uit die graf sal voortkom by Sy wederkoms. Hy gaan na die Vader toe, wat Hom verbly oor elke sondaar wat tot bekering kom; Hy sing oor hom met gejubel. Vóór die grondlegging van die wêreld, het die Vader en die Seun n verbond aangegaan om die mens te red as hy deur die Satan oorwin sou word. Hulle het mekaar se hand geneem en hulle plegtig verbind dat Christus borg sou staan vir die mens. Christus het Sy belofte gehou. Toe Hy aan die kruis uitgeroep het, “Dit is volbring,” het Hy die Vader aangespreek. Hierdie ooreenkoms is ten volle nagekom. Nou sê Hy: Vader, dit is volbring. Ek het U wil gedoen, o My God. Ek het die verlossingswerk voltooi. As U geregtigheid bevredig is, “Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees.” Joh. 19: 30; 17: 24.KE 853.7

    Die stem van God word gehoor wat verklaar dat daar voldoen is aan die reg. Die Satan is verslaan. Christus se swoegende en worstelende navolgers op die aarde is begenadig in die Geliefde. Efe. 1:6. Voor die hemelse engele en die verteenwoordigers van die sondelose wêrelde, word hulle regverdig verklaar. Waar Hy is, daar sal Sy kerk ook wees. “Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar.” Ps. 85: 11. Die Vader omhels Sy Seun, en die bevel word gegee, “Al die engele van God moet Hom aanbid.” Heb. 1: 6.KE 854.1

    Met onuitspreeklike vreugde erken regeerders en owerhede en die magte die opperheerskappy van die Vors van die lewe. Die leërskare van engele val voor Hom neer, terwyl die hemelhowe weergalm met die woorde, “Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.” Openb. 5: 12.KE 854.2

    Oorwinningsliedere en die musiek van engeleharpe vervul die ganse hemel met vreugde en lof. Liefde het oorwin. Die wat verlore was, is gevind. Die hemel weergalm van stemme wat sê, “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid.” Openb. 5:13.KE 854.3

    Van daardie oord van hemelse vreugde kom Christus se eie woorde tot ons hier op die aarde, “Ek vaar op na My Vader en julle Vader, en My God en julle God.” Joh. 20: 17. Die gesin van die hemel en die aarde is verenig. Vir ons het onse Here opgevaar, en vir ons lewe Hy. “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” Heb. 7: 25.KE 854.4

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents