Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Koning Van Die Eeue

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Die Roeping by die See

    DIE dag het gebreek oor die see van Galilea. Die dissipels, moeg van 'n nag se vrugtelose arbeid; was nog in hulle visserskuitjies op die meer. Jesus het gekom om 'n stille uurtjie deur te bring aan die kant van die water. Hy het gehoop om in die vroeë oggend 'n bietjie rus te kry van die skare wat Hom dag na dag gevolg het. Maar die mense het hulle al gou weer om Hom geskaar. Hulle getal het vinnig aangegroei, sodat hulle aan alle kante teen Hom gedruk het. In die tussentyd het die dissipels aan wal gekom. Om weg te kom van die druk van die skare, het Jesus in Petrus se skuit geklim en hom gevra om 'n bietjie van die kant weg te stoot. Van daar af kon hulle Jesus beter sien en hoor, en vanuit die skuitjie het Hy die skare aan die wal begin leer.KE 240.1

    Wat 'n toneel vir die engele om te aanskou; hulle heerlike Aanvoerder, sittende in 'n visserskuit, heen-en-weer gewieg deur die rus- telose branders, was besig om die evangelie te verkondig aan die skare wat tot aan die kant van die water gedruk het! Hy wat die geëerde van die hemel was, was besig om die groot dinge van Sy koninkryk, in die opelug aan die gewone mense te verkondig. En tog kon Hy geen beter toneel gehad het vir Sy werk nie. Die meer, die berge, die uitgestrekte lande, die helder sonskyn, al hierdie dinge het Hy as beeide gebruik om Sy lesse te illustreer en op die hart van die mense te druk. En geen les van Christus was vrugteloos nie. Elke boodskap van Sy lippe het die een of ander siel getref as die woord van die ewige lewe.KE 240.2

    Die skare aan die oewer het elke oomblik aangegroei. Ou manne leunende op hulle kieries, geharde boere uit die berge, vissers van hulle werk op die meer, koopliede en rabbi's, ryk en geleerd, oud en jonk, het hulle siekes en lydendes gebring, en nader gekom om die woorde van die goddelike Leraar te hoor. Dit was sulke tonele waarna die profete uitgesien het, en waaroor hulle geskryf het:KE 241.1

    Die land Sebulon en die land Naftali,
    Na die see toe, oorkant die Jordaan,
    Galilea van die heidene,
    Die volk wat in duisternis sit,
    Het 'n groot lig gesien,
    En die wat sit in die land en skaduwee van die dood,
    Vir hulle het 'n lig opgegaan.”
    KE 241.2

    Behalwe die skare daar aan die strand van Genesaret, het Jesus in Sy preek by die see ook aan ander gehore gedink. Hy het eeue in die toekoms Sy getroues gesien in die gevangenis en die geregshof, in versoeking en eensaamheid en eilende. Elke toneel van vreugde en stryd en verbystering het Hy voor Hom gesien. In die woorde aan diegene daar rondom Hom het Hy ook gespreek tot daardie ander siele, woorde wat hulle sou opbeur in verdrukking, vertroos in droefheid, en wat 'n hemelse lig vir hulle in duisternis sou wees. Deur die Heilige Gees het daardie stem wat uit die visserskuit gespreek het op die meer van Galilea, woorde van vrede gespreek aan menslike harte tot die einde van tyd.KE 241.3

    En toe Hy ophou met spreek, het Jesus Petrus beveel om na die diep water te vaar en sy net te laat sak vir 'n vangs. Maar Petrus was moedeloos. Die hele vorige nag het hy niks gevang nie. In die eensame ure het hy gedink aan die lot van Johannes die Doper, wat alleen in die gevangenis moes sit en kwyn. Hy het gedink aan die vooruitsigte van Jesus en Sy volgelinge, aan die min sukses van die sending in Judea, en aan die kwaadwilligheid van die priesters en rabbi's. Selfs sy eie nering het hom in die steek gelaat, en waar hy so na die leë nette gekyk het, het die toekoms vir hom donker en ontmoedigend gelyk. “Meester,” het hy gesê, “ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op U woord sal ek die net laat sak.”KE 241.4

    Mens kon alleen in die nag met nette visvang in die helder water van die meer. Nadat hulle die hele nag sonder sukses probeer het, het dit hopeloos gelyk om die net in die dag in te gooi; maar Jesus het die bevel gegee, en liefde vir hulle Meester het die dissipels beweeg om te gehoorsaam. Simon en sy broer het die net laat sak. Toe hulle probeer het om dit in te trek, was dit so vol vis dat dit begin breek het. Hulle was verplig om Jakobus en Johannes te roep om te kom help. Toe die vangs in was, was albei die skuitjies so swaar gelaai dat hulle gevaar geloop het om te sink.KE 243.1

    Maar Petrus het nou nie aan die skuitjies of hulle vrag gedink nie. Hierdie wonderwerk, meer as enige ander wat hy gesien het, was vir hom die openbaring van goddelike krag. In Jesus het hy iemand gesien wat beheer gehad het oor die hele natuur. Die goddelike teenwoordigheid het aan hom sy eie onheiligheid geopenbaar. Liefde vir sy Meester, skaamte oor sy eie ongeloof, blydskap oor die toegeneëntheid van Christus, maar bo alles, die besef van sy eie onreinheid in die teenwoordigheid van ewige reinheid, het hom oorweldig. Terwyl sy metgeselle besig was om die inhoud van die net uit te haal, het Petrus aan die Heiland se voete neergeval en uitgeroep, “Gaan weg van my, Here, want ek is 'n sondige man!”KE 243.2

    Dit was dieselfde teenwoordigheid van goddelike heiligheid wat die profeet Daniël op die grond laat neerval het soos 'n dooie voor die engel van God. Hy het gesê: “Geen krag het in my oorgebly nie, en my gesonde kleur het aan my verander en verdwyn.” Toe Jesaja die heerlikheid van die Here aanskou het, het hy uitgeroep, “Wee my, ek is verlore! Want ek is 'n man van onrein lippe en woon onder 'n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die Here van die leërskare, gesien.” Dan. 10: 8; Jes. 6: 5. Die mensheid, met sy swakheid en sonde, is in teenstelling gebring met die volmaaktheid van die Godheid, en hy het heeltemal gebrekkig en onheilig gevoel. So was dit met almal wat 'n blik gekry het op Gods grootheid en majesteit.KE 243.3

    Petrus het uitgeroep, “Gaan weg van my . . . want ek is 'n sondige man;” maar hy het vasgeklem aan Jesus se voete, omdat hy gevoel het dat hy nie van Hom geskei wou wees nie. Die Heiland het geantwoord, “Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang.” Dit was nadat Jesaja die heiligheid van God en sy eie onwaardigheid gesien het dat die goddelike boodskap aan hom toevertrou is. Dit was ná Petrus tot selfverfoeiing en vertroue op die goddelike krag gebring is, dat hy die beroep gekry het om vir Christus te werk.KE 244.1

    Voor hierdie tyd het nie een van die dissipels ten volle aangesluit as medewerkers van Christus nie. Hulle het baie van Sy wonderwerke gesien en na Sy prediking geluister; maar hulle het nie volkome hulle werk opgegee nie. Die gevangeskap van Johannes was vir hulle almal 'n bitter teleurstelling. As dit die uitslag van Johannes se sending was, kon hulle maar min hoop vir hulle Meester hê met al die geestelike leiers verenig teen Hom. Onder die omstandighede was dit vir hulle 'n verligting om vir 'n kort tydjie terug te gaan na hulle visvang. Maar nou het Jesus hulle geroep om die ou lewe op te gee en by Hom aan te sluit. Petrus het die beroep aangeneem. Toe hy aan wal kom, het Jesus aan die drie ander dissipels gesê, “Kom hier agter My aan en Ek sal julle vissers van mense maak.” Hulle het dadelik alles laat staan en Hom gevolg.KE 244.2

    Voordat Hy hulle gevra het om hulle nette en visserskuite te laat staan, het Jesus hulle die versekering gegee dat God in al hulle behoeftes sou voorsien. Die gebruik van Petrus se skuit vir die werk van die evangelie is ryklik beloon. Hy wat ryk is “oor almal wat Hom aanroep,” het gesê, “Gee, en vir julle sal gegee word. 'n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is.” Rom. 10: 12; Lukas 6: 38.In hierdie maat het Hy die dissipels se diens beloon. En elke opoffering wat gemaak is in Sy diens, sal beloon word volgens die “uitnemende rykdom van Sy genade.” Efe. 3: 20; 2: 7.KE 244.3

    In daardie bange nag op die meer, toe hulle geskei was van Christus, was die dissipels swaar gedruk deur ongeloof, en hulle was moeg van vrugtelose werk. Maar Sy teenwoordigheid het hulle geloof laat her-leef, en het blydskap en sukses gebring. So is dit met ons; geskei van Christus is ons werk vrugteloos, en is dit baie maklik om te kla en wantrouig te wees. Maar wanneer Hy naby is en ons onder Sy leiding werk, verbly ons ons in die bewyse van Sy krag. Dit is die werk van die Satan om die siel te ontmoedig; dit is Christus se werk om ons met geloof en hoop te besiel.KE 244.4

    Die dieper les wat die wonderwerk vir die dissipels ingehou het, is vir ons ook 'n les - naamlik dat Hy, wie se woord die visse uit die see kon bymekaarmaak, ook menslike harte kan beïnvloed en hulle deur die bande van Sy liefde trek, sodat Sy diensknegte die “vissers van mense” kan word.KE 245.1

    Hulle was nederige en ongeleerde manne, daardie vissers van Galilea;maar Christus, die lig van die wêreld, was volkome in staat om hulle te bekwaam vir die posisie waarvoor Hy hulle gekies het. Die Heiland het nie geleerdheid verag nie, want intellektuele kuituur, wanneer dit beheers word deur die liefde van God, en aan Sy diens toegewy is, is 'n seën. Maar Hy het die wyse manne van Sy tyd verbygegaan omdat hulle so selfvoldaan was dat hulle nie met die lydende mensdom kon simpatiseer en medewerkers van die Man van Nasaret kon wees nie. In hulle dweepsug het hulle dit verag om deur Christus geleer te word. Die Here Jesus soek die samewerking van diegene wat hulleself as oop kanale sal gee vir die mededeling van Sy genade. Die eerste ding wat geleer moet word deur almal wat medewerkers van God wil word, is om die eie-ek te wantrou; dan sal hulle bereid wees om die mededeling van die karakter van Christus te ontvang. Dit is nie iets wat geleer kan word in selfs die mees wetenskaplike skole nie. Dit is die vrug van wysheid wat alleen van die goddelike Leraar verkry kan word.KE 245.2

    Jesus het ongeleerde vissers gekies omdat hulle nie geskool was in die tradisies en verkeerde gebruike van hulle tyd nie. Hulle het die bekwaamheid van hulle stand gehad, en hulle was nederig en geseghk manne wat Hy kon oplei vir Sy werk. In die gewone beroepe vau die lewe is daar baie wat geduldig met die geswoeg van elke dag se werk voortgaan, onbewus daarvan dat hulle kragte besit, wat, as dit in aksie gebring word, hulle sal ophef tot gelykheid met die wêreld se mees geëerdes. Die aanraking van 'n bedrewe hand is nodig om daardie sluimerende vermoëns wakker te maak. Dit was sulke manne wat Jesus geroep het om Sy medewerkers te wees; en Hy het hulle die voorreg van Sy geselskap gegee. Die groot manne van die wêreld het nooit so n leermeester gehad nie. Toe die dissipels voortgekom het uit Sy skool, was hulle nie meer onkundig en sonder kultuur nie. Hulle het soos Hy geword in hart en karakter, en die mense het daarop gelet dat hulle by Jesus was.KE 245.3

    Die grootste werk van opvoeding is nie om net kennis mee te deel nie, maar om daardie lewenskrag te gee wat ontvang word deur kontak van verstand met verstand, en van siel met siel. Dit is alleen lewe wat lewe kan voortbring. Watter groot voorreg het hulle dus gehad om vir drie jaar lank daeliks in kontak te wees met daardie goddelike lewe, die bron waaruit elke lewegewende krag gevloei het wat die wêreld geseën het! Meer as al sy metgeselle het Johannes, die geliefde dissipel, hom oorgegee aan die krag van daardie wonderbare lewe. Hy sê: “Die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is.” “En uit Sy volheid het ons almal ontvang, ja genade op genade.” 1 Joh. 1: 2; Joh. 1: 16.KE 246.1

    In die apostels van die Here was daar niks om eer aan hulleself te bring nie. Dit was duidelik dat die sukses van hulle werk heeltemal van God gekom het. Die lewens van hierdie manne die karakters wat hulle gevorm het, en die magtige werk wat God deur hulle gedoen het, is 'n getuienis van wat Hy sal doen vir almal wat geseglik en gehoorsaam is.KE 246.2

    Die een wat Christus die meeste liefhet, sal die meeste goed doen. Die bruikbaarheid van die persoon wat die eie-ek op die agtergrond skuif en plek maak vir die werking van die Heilige Gees in sy hart, en 'n lewe lei volkome toegewy aan God, is onbeperk. As mense maar die nodige tug wil ondergaan sonder om te kla of langs die weg uit te sak, sal God hulle uur na uur en dag na dag leer. Hy wil graag Sy genade openbaar. As Sy mense die struikelblokke sou wegneem, sal Hy die waters van die saligheid in sterk strome laat vloei deur menslike kanale. As mense in die nederige posisies van die lewe aangemoedig sou word om al die goed te doen wat hulle kan, as hande nie op hulle gelê word om hulle ywer terug te hou nie, sou daar 'n honderd werkers vir Christus wees waar daar nou een is.KE 246.3

    God neem mense soos hulle is, en Hy leer hulle vir Sy diens as hulle hulle maar aan Hom wil oorgee. Die Gees van God, ontvang in die siel, sal alle vermoëns verkwik. Onder die leiding van die Heilige Gees sal die hart wat volkome aan God oorgegee is, eweredig ontwikkel en dit sal versterk word om al Gods vereistes te verstaan en te vervul Die swak, weifelende karakter word verander in een van sterkte en standvastigheid. Gedurige toewyding verwek so 'n noue gemeenskap tussen Jesus en Sy dissipel, dat die Christen soos Hy word in hart en karakter. Deur verbinding met Christus sal hy n helder en wyer uitsig hê. Hy sal beter kan oordeel en sy oordeel sal meer gebalanseerd wees. Die een wat verlang om vir Christus te werk, sal so verkwik word deur die lewegewende krag van die Son van Gereg- tigheid dat hy baie vrugte sal dra tot heerlikheid van God.KE 246.4

    Mense wat die hoogste prestasies behaal het in die kunste en die wetenskap, het kosbare lesse geleer van Christene in die nederige beroepe van die lewe—hulle wat deur die wêreld as ongeleerd bestempel word. Maar daardie onbekende dissipels het 'n opvoeding gekry in die grootste van alle skole. Hulle het aan die voete gesit van Hom wat gespreek het soos geen mens ooit gespreek het me.KE 247.1

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents