Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Koning Van Die Eeue

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Tussen Strikke

    AL die tyd wat Jesus in Jerusalem by die fees was, is Hy deur spioene agtervolg. Dag na dag is nuwe planne gemaak om Hom die swye op te lê. Die priesters en owerstes was op die loer om Hom in 'n strik te lei. Hulle het planne gemaak om Hom deur geweld stil te maak. Maar dit was nie al nie. Hulle wou hierdie Galilese Rabbi voor die mense verneder.KE 463.1

    Op Sy eerste dag van die fees het die owerstes na Hom toe gekom en gevra op wie se gesag Hy geleer het. Hulle wou die aandag van Hom aftrek, en dit vestig op die vraag van Sy reg om te leer, en sodoende ook op hulle eie belangrikheid en gesag. “My leer is nie Myne nie,” het Jesus gesê, “maar van Hom wat My gestuur het. As iemand gewillig is om Sy wil te doen, sal hy omtrent die leer weet of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek.” Joh. 7: 16, 17. Jesus het hierdie vitters geantwoord, nie deur hulle besware te beantwoord nie, maar deur waarhede aan te raak wat lewensbelangrik is vir die saligheid van die siel. Die besef en waardering van waarheid, het Hy gesê, hang nie soseer van die verstand af as van die hart nie. Waarheid moet in die siel ontvang word; dit maak aanspraak op die hulde van die wil. As die waarheid deur die rede alleen getoets kon word, sou hoogmoed geen struikelblok in die weg van die aanname daarvan wees nie. Maar dit word aangeneem deur die werk van genade in die hart; en die aanname daarvan hang af van die versaking van elke sonde wat deur die Gees van God geopenbaar word. Die mens se geleenthede om 'n kennis van die waarheid te verkry, hoe groot hulle ook al mag wees, sal hom niks baat tensy sy hart oop is om die waarheid te ontvang, en daar 'n doelbewuste versaking is van elke gewoonte en praktyk wat indruis teen die beginsels daarvan. Aan diegene wat hulle so oorgee aan God, en wat 'n opregte begeerte het om Sy wil te ken en te doen, word die waarheid geopenbaar as die krag van God tot hulle saligheid. Hulle sal in staat wees om te onderskei tussen dié wat vir God spreek en dié wat net uit hulleself spreek. Die Fariseërs het nie hulle wil aan die kant van Gods wil gestel nie. Hulle het nie gesoek om die waarheid te ken nie, maar na 'n verskoning om dit te vermy; Christus het daarop gewys dat dit die rede was waarom hulle nie Sy leer verstaan het nie.KE 463.2

    Nou het Hy 'n toets gegee waardeur die ware leraar onderskei kon word van die bedrieër: “Hy wat uit homself spreek, soek sy eie eer; maar Hy wat die eer soek van Hom wat Hom gestuur het, Hy is waaragtig en daar is geen ongeregtigheid in Hom nie.” Joh. 7: 18. Die een wat sy eie eer soek, spreek net uit homself. Die gees van self- verheerliking verraai sy bron. Maar Christus het die eer van God gesoek. Hy het die woorde van God gespreek. Dit was die bewys van Sy gesag as leraar van die waarheid.KE 464.1

    Jesus het aan die rabbi's bewys gegee van Sy godheid deur te toon dat Hy hulle harte kon lees. Sedert daardie genesing by Betesda was hulle besig met planne vir Sy dood. So het hulle self die wet oortree wat hulle kastig verdedig het. “Het Moses nie vir julle die wet gegee nie?” het Hy gevra, “en niemand van julle hou die wet nie. Waarom wil julle My doodmaak?”KE 464.2

    Soos 'n flits het hierdie woorde aan die rabbi's die put van verwoesting geopenbaar waarin hulle op die punt gestaan het om in te val. Vir 'n oomblik was hulle vreesbevange. Hulle het besef dat hulle in stryd was met die Almagtige. Maar hulle wou nie gewaarsku wees nie. Ten einde hulle invloed by die volk te handhaaf, moes hulle hulle moorddadige planne bedek. Hulle het die vraag van Jesus ontduik en uitgeroep, “U is van die duiwel besete; wie wil U doodmaak?” Hulle het geïnsinueer dat die wonderwerke van Jesus deur 'n bose gees ingegee is.KE 464.3

    Christus het Hom nie aan hierdie insinuasie gesteur nie. Hy het aangetoon dat Sy werk van genesing by Betesda nie 'n oortreding van die Sabbatsgebod was nie, en dat dit volgens hulle eie uitleg van die wet, geoorloof was. Hy het gesê: “Daarom het Moses julle die besnydenis gegee . . . en op die Sabbat besny julle 'n mens.” Volgens daardie wet moes elke manlike kind op die agtste dag besny word. As daardie dag op 'n Sabbat geval het, is die besnydenis tog gedoen. Hoeveel te meer is dit nie in harmonie met die gees van die wet, het Jesus gevra, om 'n “mens op die Sabbat heeltemal gesond” te maak nie? En Hy het hulle gewaarsku, “Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel 'n regverdige oordeel.”KE 465.1

    Die owerstes is die swye opgelê; en baie van die mense het uitgeroep, “Is dit nie Hy wat hulle soek om dood te maak nie? En kyk, Hy spreek openlik en hulle sê vir Hom niks nie! Sou die owerstes dan waarlik weet dat Hy werklik die Christus is?”KE 465.2

    Baie van Christus se toehoorders wat in Jerusalem gewoon het, en wat geweet het van die planne van die owerstes teen Hom, het hulle deur 'n onweerstaanbare krag tot Hom aangetrokke gevoel. Die oortuiging het steeds sterker by hulle geword dat Hy die Seun van God was. Maar die Satan was klaar om twyfel aan te blaas; en die weg daarvoor is geopen deur hulle eie verkeerde idees aangaande die Messias en Sy koms. Daar is algemeen geglo dat Christus in Betlehem sou gebore word, maar dat Hy na 'n tyd sou verdwyn, en daarna weer sou kom, en niemand sou weet waarvandaan nie. Daar was baie wat geglo het dat die Messias geen natuurlike verwantskap met die mens sou hê nie. En omdat Jesus van Nasaret nie voldoen het aan die algemene opvatting van die heerlikheid van die Messias nie, het vele hulle laat verlei deur die gedagte, “Hierdie man — ons weet waarvandaan Hy is. Maar die Christus, wanneer Hy kom, weet niemand waar Hy vandaan is nie.”KE 465.3

    Terwyl hulle so gewankel het tussen twyfel en geloof, het Jesus, wat hulle gedagtes gelees het, gesê: “Julie ken My en julle weet ook waar Ek vandaan is; tog het Ek nie uit Myself gekom nie; maar Hy wat My gestuur het, is waaragtig, vir wie julle nie ken nie.” Hulle het aanspraak daarop gemaak dat hulle geweet het vanwaar Christus sou kom, maar hulle het glad nie geweet nie. As hulle ooreenkomstig die wil van God geleef het, sou hulle Sy Seun geken het toe Hy aan hulle geopenbaar is.KE 465.4

    Sy toehoorders kon nie anders as om Sy woorde te verstaan nie. Dit was 'n herhaling van wat Hy maande gelede voor die Sanhedrin gesê het, toe Hy verklaar het dat Hy die Seun van God is. Soos die owerstes toe geprobeer het om Sy lewe te neem, so het hulle nou ook probeer om die hande aan Hom te slaan, maar hulle is deur 'n onsigbare mag belet, wat hulle woede aan perke gestel en aan hulle gesê het: Tot sover sal julle gaan, maar nie verder nie.KE 466.1

    Onder die mense was daar baie wat in Hom geglo het, en hulle het gevra: “Wanneer die Christus kom, sal Hy meer tekens doen as wat hierdie man gedoen het?” Die leiers van die Fariseërs wat met besorgdheid die beloop van sake gadegeslaan het, het die uitdrukking van medelyde onder die skare gesien. Hulle is inderhaas weg na die owerpriesters om planne te maak vir Sy gevangeneming. Hulle het egter besluit om Hom te neem wanneer Hy alleen is, want hulle kon dit nie waag om Hom in die teenwoordigheid van die mense te arresteer nie. Weer het Jesus geopenbaar dat Hy hulle planne geken het. “Nog 'n klein tydjie is Ek by julle,” het Hy gesê, “en Ek gaan na Hom wat My gestuur het. Julle sal My soek en nie kry nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie.” Eerlank sou Hy 'n skuilplek vind waar hulle hoon en haat Hom nie sal kan raak nie. Hy sou na Sy Vader opvaar, waar Hy weer die Geliefde van die engele sal wees; en daarheen sou Sy moordenaars nooit kan gaan nie.KE 466.2

    Smalend het die rabbi's gevra, “Waar wil Hy heengaan, dat ons Hom nie sal kry nie? Hy wil tog nie na die verstrooides onder die Grieke gaan en die Grieke leer nie?” Min het daardie vitters gedroom dat hulle in hulle spottery juis die sending van Christus geskilder het! Die hele dag lank het Hy Sy hande uitgestrek na 'n ongehoorsame, teësprekende volk; maar Hy sou gevind word deur diegene wat Hom nie gesoek het nie; en Hy sou verskyn aan die wat nie na Hom gevra het nie. (Rom. 10: 20, 21.)KE 466.3

    Baie wat oortuig was dat Jesus die Seun van God was, is verlei deur die valse redenasies van die priesters en rabbi's. Hierdie leraars het met krag die profesieë aangaande die Messias beklemtoon dat Hy “sal regeer op die berg Sion en in Jerusalem,” en dat Hy “sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.” Jes. 24: 23; Ps. 72: 8. Toe het hulle smadelike vergelykings gemaak tussen die heerlikheid daar beskryf en die nederige voorkoms van Jesus. Hulle het die woorde van die profesieë verdraai om hulle dwaalleer te steun. As die mense in opregtheid die Skrifte vir hulleself ondersoek het, sou hulle nie mislei gewees het nie. Die een-en-sestigste hoofstuk van Jesaja getuig dat Christus juis die werk sou doen wat Hy wel gedoen het. Die drie-en-vyftigste hoofstuk beskryf Sy verwerping en lyde in hierdie wêreld, en hoofstuk nege-en-vyftig beskryf die karakter van die priesters en rabbi's.KE 466.4

    God dwing mense nie om hulle ongeloof te versaak nie. Voor hulle is lig en duisternis, waarheid en dwaalleer; dit is vir hulle om te kies watter hulle wil aanneem. Die menslike verstand is geseën met die vermoë om te onderskei tussen goed en kwaad. God wil hê dat die mens volgens die gewig van die getuienis moet besluit, en nie volgens gevoelens nie; hy moet skriftuur sorgvuldig met skriftuur vergelyk. As die Jode maar hulle vooroordeel wou prysgee en die geskrewe profesieë wou vergelyk met die feite wat Jesus se lewe gekenmerk het, sou hulle gesien het hoe die profesieë ooreenstem met die lewe en werk van die nederige Galileër.KE 467.1

    Baie word vandag bedrieg net soos die Jode. Geestelike leiers lees die Bybel in die lig van hulle eie verstand en tradisies; en die mense ondersoek nie die Skrifte vir hulleself nie, en hulle oordeel nie self wat waarheid is nie, maar hulle laat hulle oordeel en hulle siele aan hulle leiers oor. Die leer en verkondiging van Sy Woord is een van die middels wat God daargestel het vir die verspreiding van lig; maar elke man se leer moet aan die Skrifte getoets word. Wie ook al die Bybel biddend studeer en graag die waarheid wil weet om dit te gehoorsaam, sal goddelike lig ontvang. Hy sal die Skrifte verstaan. “As iemand gewillig is om Sy wil te doen, sal hy omtrent die leer weet of dit uit God is.” Joh. 7: 17.KE 467.2

    Op die laaste dag van die fees het die dienaars wat deur die priesters gestuur is om Jesus te arresteer, sonder Hom teruggekom. Die Fariseërs het woedend gevra: “Waarom het julle Hom nie gebring nie?” Met 'n ernstige gelaat het hulle geantwoord, “Nooit het 'n mens so gespreek soos hierdie man nie.”KE 467.3

    Hard soos hulle harte was, is hulle getref deur Sy woorde. Terwyl Hy in die voorhof van die tempel gespreek het, het hulle naby gestaan om moontlik iets te hoor wat hulle teen Hom kon gebruik. Maar onderwyl hulle geluister het, het hulle die doel waarvoor hulle gestuur was, skoon vergeet. Hulle het betowerd gestaan. Christus het Hom- self aan hulle siele geopenbaar. Hulle het gesien wat die priesters en owerstes nie wou sien nie, naamlik die mensheid, bestraal deur die heerlikheid van die godheid. Hulle het teruggekom, so onder die invloed van daardie gedagte, so onder die indruk van Sy woorde, dat hulle op die vraag: Waarom het julle Hom nie gebring nie? geantwoord het: Nooit het 'n mens so gespreek soos hierdie Man nie.KE 467.4

    Die priesters en owerstes, toe hulle die eerste maal in die teenwoordigheid van Christus gekom het, het dieselfde oortuiging gevoel. Hulle harte is diep getref, en die gedagte het ook by hulle opgekom, “Nooit het 'n mens gespreek soos hierdie Man nie.” Maar hulle het hierdie oortuiging van die Heilige Gees gesmoor. Nou, woedend dat ook die geregsdienaars beïnvloed is deur die gehate Galileër, het hulle uitgeroep: “Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs ? Maar hierdie skare wat die wet nie ken nie, is vervloek!”KE 468.1

    Diegene aan wie die waarheid verkondig word, vra selde, “Is dit waar?” maar eerder, “Deur wie word dit voorgestaan?” Menigtes skat dit volgens die getalle wat dit aanneem; en die vraag word nog gestel: “Het enige van die geleerde mense of geestelike leiers dit aangeneem?” Die mense is vandag nog net so min goedgesind teenoor ware godsaligheid as hulle was in die tyd van Christus. Hulle soek nog net so druk na aardsgewin, en verwaarloos die ewige rykdom; en dit is nie 'n argument teen die waarheid dat groot getalle nie gereed is om dit aan te neem nie, of dat dit nie deur die wêreld se grotes, of selfs die geestelike leiers aangeneem word nie.KE 468.2

    Weer het die priesters en owerstes planne gemaak om Jesus te arresteer. Daar is aangevoer dat as Hy langer op vrye voet gelaat word, Hy die mense sal weglok van die gevestigde leiers; die enigste veilige weg sou wees om Hom dadelik stil te maak. Toe die bespreking op sy hoogste was, het hulle 'n skielike terugslag gekry. Nikodemus het gevra: “Oordeel ons wet die mens sonder om Hom eers te hoor en te weet wat hy doen?” Daar het stilte geheers in die vergadering. Die woorde van Nikodemus het hulle gewete begin kwel. Hulle kon 'n man nie sonder verhoor veroordeel nie. Maar dit was nie om hierdie rede alleen dat die trotse owerstes stilgebly en die een aangestaar wat dit gewaag het om vir die handhawing van die wet te spreek nie. Hulle was verontwaardig en verontrus dat iemand van hulle eie kring so onder die indruk van die karakter van Jesus gekom het as om Hom te verdedig. Nadat hulle tot verhaal gekom het, het hulle Nikodemus snydend aangespreek, “Jy is tog nie ook uit Galilea nie? Ondersoek en sien dat daar geen profeet uit Galilea opgestaan het nie.”KE 468.3

    Hierdie protes het tog die optrede van die raad uitgestel. Die owerstes kon nie met hulle plan voortgaan en Jesus veroordeel sonder 'n verhoor nie. Vir 'n tyd verslaan, het elkeen “huis toe gegaan. Maar Jesus het na die Olyfberg gegaan.”KE 469.1

    Weg van die verwarring en opwinding in die stad, en van die gretige skare, en die verraderlike rabbi's, het Jesus Hom begeef na die stilte van die olyfboorde waar Hy alleen met God kon wees. Maar in die vroeë more is Hy terug na die tempel, en toe die mense om Hom vergader het, het Hy gaan sit en hulle geleer.KE 469.2

    Hy is gou versteur, 'n Groep Fariseërs en skrifgeleerdes het Hom genader met 'n vreesbevange vrou wat hulle saamgesleep het; hard- vogtig het hulle haar beskuldig van die oortreding van die sewende gebod. Nadat hulle haar in die teenwoordigheid van Jesus gestoot het, het hulle aan Hom gesê, met 'n huigelagtige vertoon van respek, “Moses het ons in die wet bevel gegee om sulke vroue te stenig; maar U, wat sê U?”KE 469.3

    In hulle geveinsde eerbied het daar 'n listige plan geskuil om Sy ondergang te bewerkstellig. Hulle het van hierdie geleentheid gebruik gemaak om Sy veroordeling te verkry, en gemeen dat watter uitspraak Hy ook gee, hulle dit sou gebruik as beskuldiging teen Hom. As Hy die vrou sou vryspreek, sou hulle Hom beskuldig dat Hy die wet van Moses verag; as Hy sê dat sy moet sterf, sou hulle Hom by die Romeine gaan verkla dat Hy vir Homself gesag toeëien wat aan hulle behoort.KE 469.4

    Jesus het die toneel vir 'n oomblik aanskou — die bewende slag- offer in haar skande, die harde waardigheidsbekleërs, sonder enige menslike ontferming. Sy gees van absolute reinheid het teruggedeins vir die skouspel. Goed het Hy geweet waarom hierdie geval na Hom toe gebring is. Hy het die hart gelees en die karakter en lewens- geskiedenis van elkeen daar in Sy teenwoordigheid geken. Hierdie sogenaamde yweraars vir die geregtigheid het self hierdie slagoffer. tot die sonde verlei, sodat hulle 'n strik vir Jesus kon stel. Hy het geen teken gegee dat Hy hulle vraag gehoor het nie, maar neergebuk en met Sy oë op die grond gerig, het Hy in die stof begin skryf.KE 469.5

    Ongeduldig oor Sy versuim en skynbare onverskilligheid, het die beskuldigers nadergekom en die saak onder Sy aandag gedwing. Maar toe hulle afkyk na die plaveisel aan Sy voete, het die uitdrukking op hulle gelaat verander. Daar, geskryf voor hulle, was die skuldige geheime van hulle eie lewens. Die toeskouers het die skielike gelaats- verandering gesien, en vorentoe gebeur om te sien wat dit was wat hulle met sulke ontsteltenis en skaamte betrag het.KE 470.1

    Met al hulle kastige eerbied vir die wet, het hierdie rabbi s, in die beskuldiging wat hulle teen die vrou ingebring het, die voorskrifte van die wet veronagsaam. Dit was die man se plig om teen haar op te tree, en die skuldige persone moes saam gestraf word. Die handelwyse van die aanklaers was heeltemal ongeoorloof. Jesus het hulle egter op hulle eie grond ontmoet. Die wet het bepaal dat in die uitvoering van die straf deur steniging, moes die getuie in die saak die eerste klip gooi. Toe het Jesus orent gekom, Sy oë op die huigelaars gevestig, en gesê: “Laat die een van julle wat sonder sonde is, die eerste klip op haar gooi.” En toe het Hy weer neergebuk en op die grond geskryf.KE 470.2

    Hy het nie die wet deur Moses gegee ter syde gestel, of inbreuk gemaak op die gesag van Rome nie. Die aanklaers is verslaan. Nou het hulle, met die kleed van geveinsde heiligheid van hulle afgeskeur, skuldig en veroordeel gestaan in die teenwoordigheid van Volstrekte Reinheid. Hulle het gesidder by die gedagte dat die bedekte sondes van hulle lewe voor die skare geopenbaar sou word; en een vir een, met hangende hoof, het hulle weggesluip, en die slagoffer by die ontfermende Heiland agtergelaat.KE 470.3

    Jesus het opgestaan, die vrou aangekyk, en gevra, “Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.”KE 470.4

    Die vrou het voor Jesus gestaan, bewende van vrees. Sy woorde, “Laat die een van julle wat sonder sonde is, die eerste klip op haar gooi,” het op haar ore geval soos die doodvonnis. Sy wou dit nie waag om haar hoof op te lig en die Heiland in die gesig te kyk nie, maar stil het sy gewag op die vonnis. Met verbasing het sy gesien hoedat haar aanklaers sprakeloos en verward wegsluip; toe het sy daardie woorde van hoop gehoor, “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.” Haar hart is versmelt, en sy het haarself aan Jesus se voete neergevly, geween van dankbaarheid, en met bitter trane haar sondes bely.KE 470.5

    Dit was vir haar die begin van 'n nuwe lewe, 'n lewe van reinheid en vrede, gewy aan die diens van God. By die opheffing van hierdie gevalle siel, het Jesus 'n groter wonderwerk verrig as om die vreeslikste liggaamlike siekte te genees; Hy het 'n geestelike siekte genees wat die ewige dood ten gevolge sou gehad het. Hierdie boetvaardige vrou het een van Sy getrouste volgelinge geword. In selfopofferende liefde en toewyding het sy Sy vergewende genade beloon.KE 471.1

    In die vergifnis van die sonde van hierdie vrou, en die aanmoediging om 'n beter lewe te lei, sien ons die karakter van Jesus skyn met die skoonheid van volmaakte geregtigheid. Hoewel Hy nie die sonde deur die vingers sien nie, of die skuldgevoel wil verminder nie, wil Hy graag red en nie veroordeel nie. Vir hierdie sondige vrou het die wêreld niks anders as veragting gehad nie, maar Jesus spreek tot haar woorde van vertroosting en hoop. Die Sondelose Een ontferm Hom oor die swakheid van die sondaar, en reik die helpende hand tot haar. Terwyl die skynheilige Fariseërs haar veroordeel het, het Jesus aan haar gesê, “Gaan heen en sondig nie meer nie.”KE 471.2

    Hulle is nie volgelinge van Christus wat hulle oë afwend en wegdraai van die sondaars en hulle alleen laat om op hulle verderflike weg voort te gaan nie. Diegene wat op die voorpunt staan om ander te beskuldig en hulleself beywer om hulle te laat boet, is dikwels in hulle eie lewens baie skuldiger. Mense haat die sondaar terwyl hulle die sonde liefhet. Christus haat die sonde, maar het die sondaar lief. Dit sal ook die gees wees van almal wat navolgers van Hom is. Christelike liefde is traag om te veroordeel, gou om berou te sien, gereed om te vergewe, om te bemoedig, om die afgedwaalde in die pad van heiligheid te bring en sy voete daarop te hou.KE 471.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents