Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Koning Van Die Eeue

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Die Uitnodiging

    KOM na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.”KE 331.1

    Hierdie woorde van vertroosting is gespreek tot die skare wat Jesus gevolg het. Die Heiland het geleer dat mense alleen deur Hom tot 'n kennis van God kon geraak. Hy het van Sy dissipels gepraat as diegene aan wie die dinge van die hemel gegee is. Maar Hy het niemand laat voel dat hulle uitgesluit was van Sy sorg en liefde nie. Almal wat vermoeid en swaar belas is, mag na Hom toe kom.KE 331.2

    Die skrifgeleerdes en rabbi's, met hulle nougesette nakoming van godsdienstige vorms, het 'n behoefte gevoel wat rites van boetvaardigheid nie kon bevredig nie. Tollenaars en sondaars mag die skyn gee dat hulle tevrede is met die sinlike en die aardse, maar diep in hulle harte is daar wantroue en vrees. Jesus het die ellendiges en vermoeides van hart gesien, diegene wie se hoop verydel was, en wat deur singenot gesoek het om die verlangens van die siel te stil, en Hy het hulle almal uitgenooi om rus in Hom te vind.KE 331.3

    Met ontferming het Hy aan diegene wat geswoeg het, gesê, “Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart; en julle sal rus vind vir julle siele.”KE 331.4

    Met hierdie woorde spreek Christus tot elke mens. Of hulle dit weet of nie, is almal vermoeid en swaar belas. Almal gaan gebuk. onder laste wat Christus alleen kan wegneem. Die swaarste las wat ons dra, is die las van die sonde. As ons alleen gelaat moes gewees het om hierdie las te dra, sou ons daaronder beswyk. Maar die sondelose Een het ons plek geneem. “Die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” Jes. 53: 6. Hy het die las van ons skuld gedra. Hy sal die drag van ons matte skouers afneem. Hy sal ons rus gee. Die las van sorge en verdriet sal Hy ook dra. Hy nooi ons om al ons sorge op Hom te werp, want Hy sal dit dra.KE 331.5

    Die oudste broer van ons geslag is op die ewige troon. Hy sien elke siel aan wat na Hom toe kom as die Verlosser. Uit ondervinding ken Hy die swakhede van die mensdom; Hy ken ons behoeftes en Hy weet waar ons die maklikste sal versoek word, want Hy is in alle opsigte versoek net soos ons, maar sonder sonde. Hy waak oor jou, sidderende kind van God. Is u versoek? Hy sal u verlos. Is u swak? Hy sal krag gee. Is u onkundig? Hy sal u verlig. Is u verwond? Hy sal genees. Die Here “bepaal die getal van die sterre;” maar nogtans “genees Hy die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde.” Ps. 147: 4, 3. “Kom na My toe” is Sy uitnodiging. Wat ook u angste en beproewings mag wees, stel jou saak voor die Here. Hy sal u gees versterk. Die weg sal vir u oopgaan sodat u u kan loswikkel uit die moeilikheid. Hoe meer u u hulpeloosheid voel, hoe sterker sal u word in Sy krag. Hoe swaarder u laste, hoe saliger sal die rus wees as u dit op die Lasdraer werp. Die rus wat Christus aanbied, is voorwaardelik, en die voorwaardes word duidelik gestel. Hulle is so dat almal aan hulle kan voldoen. Hy vertel ons presies hoe ons Sy rus kan vind.KE 332.1

    “Neem My juk op julle,” sê Jesus. Die juk is 'n werktuig vir diens. Osse word ingespan vir diens, en die juk is nodig sodat hulle doeltreffend kan werk. Deur hierdie illustrasie leer Christus ons dat ons tot diens geroep is solank as wat ons lewe. Ons moet Sy juk opneem, sodat ons medewerkers saam met Hom kan wees.KE 332.2

    Die juk wat ons tot diens bind, is die wet van God. Die groot wet van liefde geopenbaar in Eden, afgekondig op Sinai, en in die nuwe verbond in die hart geskryf, is die wet wat die menslike werker bind tot die wil van God. As ons alleen gelaat sou word om ons eie neigings te volg, om te gaan waar ons eie wil ons sou lei, sou ons in die geledere van die Satan beland en sy eienskappe aanneem. Daarom beperk God ons tot Sy wil wat hoog, en edel, en verheffend is. Hy wil hê dat ons geduldig en verstandig die pligte van diens moet opneem. In Sy mensheid het Christus self hierdie juk van diens gedra. Hy het gesê: “Ek het lus, o My God, om U welbehae te doen, en U wet is binne-in My ingewande.” Ps. 40: 9. “Ek het uit die hemel neergedaal, nie om My wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.” Joh. 6: 38. Liefde vir God, ywer vir Sy heerlikheid, liefde vir sondige mense, het Jesus na die aarde gebring om te ly en te sterf. Dit was die beheersende krag van Sy lewe. Hy gebied ons om ook hierdie beginsel te aanvaar.KE 332.3

    Daar is vele wat gebuk gaan onder 'n las van sorge omdat hulle aan die maatstaf van die wêreld wil voldoen. Hulle het die diens van die wêreld gekies, die probleme daarvan aangeneem, asook die gewoontes. So is hulle karakter bederf en hulle lewe is 'n las. In hulle strewe en wêreldse begeertes kwes hulle die gewete en bring hulle op hulleself die bykomende las van selfverwyt. Die gedurige kwelling put hulle lewenskragte uit. Die Here wil hê dat hulle hierdie juk van slawerny moet afgooi; Hy sê, “My juk is sag en My las is lig.” Hy sê hulle moet eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid soek, en Hy belowe dat alles wat hulle in hierdie lewe nodig het, vir hulle bygevoeg sal word. Kwelling is blind en kan nie in die toekoms sien nie; maar Jesus sien die einde van die begin af. In elke moeilikheid sal Hy die uitweg aanwys. Ons hemelse Vader het 'n duisend maniere waarvan ons niks weet nie om in ons behoeftes te voorsien. Diegene wat daardie een beginsel aanneem om die diens en eer van God eerste te stel, sal vind dat hulle moeilikhede verdwyn en dat daar 'n effe pad voor hulle voete is.KE 333.1

    “Leer van My,” sê Jesus, “want Ek is sagmoedig en nederig van hart; en julle sal rus vind vir julle siele.” Ons moet in die skool van Christus gaan om van Hom sagmoedigheid en nederigheid te leer. Die verlossing is die proses waardeur die siel opgelei word vir die hemel. Hierdie opleiding beteken 'n kennis van Christus. Dit beteken bevryding van idees, gewoontes, en gebruike wat geleer is in die skool van die vors van die duisternis. Die siel moet verlos word van alles wat in stryd is met lojaliteit aan God.KE 333.2

    In die hart van Christus waar daar volkome harmonie met God heers, is daar ook volkome vrede. Hy was nooit baie bly oor applous, of baie neerslagtig oor bestraffing of teleurstelling nie. In die grootste teenstand en in die wreedste mishandeling was Hy nog moedig. Maar vele wat bely dat hulle Sy navolgers is, is gekwel en onrustig omdat hulle bang is om hulleself aan God toe te vertrou. Hulle gee hulleself nie volkome aan Hom oor nie; hulle deins terug vir die gevolge wat sulke oorgawe mag meebring. Tensy hulle hulle oorgee, sal hulle nie vrede hê nie.KE 333.3

    Dit is eie-liefde wat onrus veroorsaak. Wanneer ons van omhoog gebore is, sal dieselfde gesindheid in ons wees as in Jesus — die gesindheid wat Hom beweeg het om Homself te verneder sodat ons gered kan word. Dan sal ons nie die hoogste plek soek nie. Ons sal graag aan die voete van Jesus wil sit om van Hom te leer. Ons sal verstaan dat die waarde van ons werk nie geleë is in 'n vertoon en geraas in die wêreld, of in groot bedrywigheid in ons eie krag nie. Die waarde van ons werk sal wees in verhouding tot die mate waarmee ons met die Heilige Gees vervul is. Vertroue in God bring heilige eienskappe in die gemoed, sodat ons in lydsaamheid ons siele sal bewaar.KE 334.1

    Die osse word in die juk gespan om hulle te help om die vrag te trek — om die las te verlig. So is dit ook met die juk van Christus. Wanneer ons wil opgeneem is in die wil van God, en ons Sy gawes gebruik om ander te seën, sal ons die las van die lewe lig vind. Die persoon wat wandel in die weg van Gods gebooie, wandel met Christus, en in Sy liefde vind die hart rus. Toe Moses gebid het, “Maak my dan tog U weë bekend, dat ek U kan ken,” het die Here hom geantwoord, “Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf?” En deur die profete is die boodskap gegee, “So spreek die Here: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel.” Exod. 33: 13, 14; Jer. 6: 16. Verder sê die Here, “Ag, as jy maar na My gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos 'n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see.” Jes. 48: 18.KE 334.2

    Diegene wat Christus op Sy woord neem en hulle siele in Sy be-waring oorgee, en hulle lewens om deur Hom gereël te word, sal vrede en stilte vind. Niks van die wêreld kan hulle droefgeestig maak wanneer Jesus hulle met Sy teenwoordigheid blymaak nie. In volkome oorgawe is daar volkome rus. Die Here sê, “U sal 'n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want dit vertrou op U.” Jes. 26: 3. Ons lewe mag deurmekaar lyk, maar waar ons onsself oorgee aan die alwyse Meesterwerker, sal Hy die patroon van lewe en karakter uit- werk wat tot Sy eie heerlikheid sal strek. En die karakter wat 'n uitdrukking is van die heerlikheid — die karakter van Christus — sal in die Paradys van God toegelaat word. 'n Herskape geslag sal met Hom in wit klere wandel, want hülle is waardig.KE 334.3

    Namate ons deur Jesus die rus ingaan, sal die hemel vir ons hier begin. Ons gee gehoor aan Sy uitnodiging: Kom en leer van My, en deur te kom, begin ons die ewige lewe. Die hemel is 'n onophoudelike nadering tot God deur Christus. Hoe langer ons in die hemel van heerlikheid is, hoe meer en meer van die heerlikheid sal ons sien; en hoe meer ons van God ken, hoe groter sal ons geluk wees. Waar ons met Jesus wandel in hierdie lewe, mag ons met Sy liefde vervul en met Sy teenwoordigheid versadig word. Alles wat die menslike natuur kan neem, mag ons reeds in hierdie lewe hê. Maar wat is dit tog vergeleke met die hiernamaals? Daar is hulle “voor die troon van God en dien Hom dag en nag in Sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal Sy tent oor hulle oopspan. Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle lei na lewende waterfonteine, en God sal alle trane van hulle oë afvee.” Openb. 7:15-17.KE 335.1

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents