Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Getuienisse aan Suider-Afrika

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Raad Aan Sendelinge In Afrika (9 Maart 1890)

    Battle Creek, Michigan

    9 Maart 1890

    Geagte broeders wat nou as sendelinge in die Afrika veld arbei:

    Julle het nie almal dieselfde karaktertrekke nie, en elkeen sal geneig wees om te dink dat die werk op die lees van sy eie idees en sienswyses geskoei moet word. Sonder dat julle dit besef, sal hierdie gees gekoester word en sal julle probeer om jul eie metodes in te voer. Die werkers moet eers die genade van Christus verkry, sodat hulle in staat sal wees om van die eie ek ontslae te raak; dan sal daar eenheid wees, selfs tussen ‘n veelvuldigheid van geaardhede. Voordat enige van julle as sendelinge na Afrika vertrek het, is aan my getoon dat julle moeilikhede in julle arbeid sal teëkom, nie noodwendig omdat die werkers so anders van aard is nie, maar omdat elkeen homself belangriker as sy broeders ag. Die broeders verskil so duidelik in organisasie en in hul siening van die werk dat elkeen, pleks van sy eie sterk karaktertrekke te wysig, in gevaar verkeer om van mekaar weg te beur, en deur so dwars te trek, sal julle ‘n invloed onder die nuwe bekeerlinge nalaat wat die werk sal vertraag en God oneer sal aandoen.GSA 15.1

    Julle is waarlik medewerkers van God; sal julle in alle erns trag om Christus se gebed te verwesenlik dat julle een mag wees soos Hy een is met die Vader? Laat daar geen tweedrag onder julle wees nie. As elkeen op sy eie weg aandring en fout soek met die metodes van ander, het dit die neiging om groot verwarring in die saak te bring. Elkeen word ontmoedig en dit lei tot moedeloosheid by ander wat so ‘n tweedrag baie gou raaksien. Dit stel ‘n slegte voorbeeld, veral in ‘n nuwe sendingveld, waar alles moet verloop soos goed ingestelde masjinerie waarin die werk van die een inpas by die werk van die ander en julle sodoende toon dat julle werktuie van God is. As julle behoorlik besef hoe belangrik die werk van God is, sal julle nie met mekaar wedywer nie.GSA 15.2

    Wees versigtig hoe julle bou, want dit is vir tyd en ewigheid. Raadpleeg mekaar, bid saam; doen geen stap op jul eie of in wedywering teen mekaar nie. Christus is ons lewende hoof en ons is lede van Sy liggaam, en almal is afhanklik van die hoof. Dit is nie die doel van onse Here dat enige lid van Sy liggaam mank sal gaan aan behoorlike oefening nie; want as die een lid ly, ly al die lede saam; as een deur God verlig en vereer word, verheug almal hulle. Elke lid kry sy lewe en werksvermoë van dieselfde bron af, “naamlik Christus, uit wie die hele liggaam - goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate - die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.” “En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie. Maar veel eerder is die lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk.” “Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.” Elke werker moet sy Godgegewe vermoë tot die uiterste inspan vir die opbou van die koninkryk van Christus op aarde. Ons besit elkeen sy eie individuele manier en gedrag, en dit is hoe dit behoort te wees; maar dit hoef ons nie te belet om volkome eensgesind saam te werk nie.GSA 15.3

    Die Here Jesus Christus is die lewende wingerdstok, en almal wat kinders van God is, word op die wingerdstok, ingeënt en put sy sap en voeding uit die een wortel. Die takke smelt nie saam tot een nie, maar is uiteenlopende, afsonderlike takke; tog leef hulle almal van dieselfde wortel. In die woorde van Christus vind ons ‘n belangrike les wat meer regstreeks op die lewe, die motiewe en die ondervinding moet inwerk van diegene wat hulle kinders van God noem. “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” Hoe noodsaaklik is dit nie dat elkeen wat hom ‘n kind van God noem, in harmonie met Christus moet saamwerk, deur Sy Goddelike Gees verlig word, sy arbeidsmetode bestudeer, en werk soos Hy gewerk het, die eie ek opsysit en Christus altyd voorop stel nie. Ons moet ons eie weë in harmonie met die weë van Christus bring, die gees van die Meesterwerker aan die dag lê, sodat Jesus in ons werk en in ons karakter kan verskyn.GSA 16.1

    Daar moet geen stryd, geen naywer, geen strewe na vernaamheid wees nie. Die werk is heilig en God verhoede dat julle aan diegene vir wie julle arbei ‘n voorbeeld van kilheid, selfsug en hebsug sou stel. As julle werk in menslike wysheid verrig word, sal dit daardie stempel dra, dit word in julle hande geskend. Julle werk is van ‘n verhewe aard en moet in geen opsig so geskend word dat dit onaanneemlik en onaantreklik word nie. Jul gesprekke moet deur ‘n heilige lewe vergesel word. Kosbare lesse in liefde, vertroue, respek vir mekaar moet sowel op die kansel as daarbuite geleer word. Julle moet uitleef wat julle verkondig. As medewerkers van God moet julle eers in noue voeling met mekaar kom, want die werktuie van God moet nie teen mekaar wedywer nie. Beywer julle gedurig om een te wees soos Christus een is met die Vader, en laat elkeen die talente wat aan hom toevertrou is, verbeter.GSA 16.2

    Broeders, laat almal sien dat julle die lesse van Christus uitleef. As enige van die werkers dink dat sy weg volmaak is en dat die broeders nie sy wysheid en ondervinding waardeer nie, is dit ‘n positiewe bewys dat hy nie sagmoedigheid en nederigheid van hart in die skool van Christus aanleer nie. Die vernuwende genade van Christus lei altyd tot sagmoedigheid en nederigheid. Die Here is nie van ons afhanklik om Sy werk te doen nie; Hy het ons die groot voorreg gegee om met Hom saam te werk. Julle het moontlik verskillende temperamente, maar kan tog medewerkers van God wees wat almal eendragtig saamwerk, en as julle hele vermoë in die werk gesteek word, sal julle die beste resultate verkry. In die doen van die Here se werk kan ons nie ons eie oordeel en besondere idees volg nie. Ons moet werk met die oog enkel op die heerlikheid van Christus gemik. Moenie praat oor wat nie gedaan kan word nie, maar van wat gedaan kan word deur die krag wat God julle gee. “Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die Here van die leërskare” en “die vee op die berge by duisende.”GSA 17.1

    Die Here se hulpbronne is onbeperk; ons is maar net werktuie in Sy hande, en groot dinge kan deur Sy naam tot stand gebring word. “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry. Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrugte dra.” Ons is so bekend met ons eie besondere karaktertrekke dat ons te veel van onsself dink, ons word tevrede en trag nie om ons te verbeter soos ons moet nie. Heiligmaking deur die waarheid vereis daaglikse verbetering in gedrag, benadering, gesindheid en gees. As ons lote van die ware wynstok is, sal ons geurige bloesems en begeerlike vrugte dra. In ons swakheid en onkunde kan ons nie op onsself vertrou nie; ons moet nie dink dat daar geen verbeterings te maak is nie, want ons moet daagliks in die skool van Christus leer, nie hoe om die hoogste posisie te bereik nie, maar om sagmoedig en nederig van hart te word, rein en onbevlek, waarin ons opstyg bo die goedkope en gemeneplase. Ons het toegang tot die ewige wêreld, en ons moet al die lig wat ons van die hemel af ontvang, open-baar. Ons gedagtes moet nie in ‘n vlak, enge kanaal loop nie, maar ons moet leerlinge wees wat gedurig helderder begrippe ontvang, en hoër en heiliger strewe. Moenie versuim om saam te bid en mekaar te raadpleeg voordat julle tot besluite geraak en jul planne beraam nie, en dan, in die gees van Christus, voer die taak eendragtig uit. As een van julle besluit dat hy nie met sy broeders kan saamwerk nie en nie lus het om te werk weens meningsverskille nie, is daar geen twyfel aan die weg wat ingeslaan moet word nie. Verootmoedig julle voor God, en neem die toevlug tot gebed, want julle kan nie en moet nie probeer om strydig met mekaar te werk nie.GSA 17.2

    God sal Sy Gees wegneem van enigeen wat volhard in koppigheid en dwarstrekkery, en ‘n ander sal die kroon dra wat vir hom bedoel was. God neem net diegene aan wat bereid is om van Christus te leer, diegene wat Sy Woord bestudeer, wat lesse in sagmoedigheid en nederigheid van hart leer, lesse van gehoorsaamheid, bereidwilligheid om sy werk volgens God se metode te doen, nie hul eie menslike metode nie. Die werk wat in die Here verrig word, sal die geloofsbriewe van die hemel dra, en sal onmiskenbare resultate lewer. Persoonlike menings moet onderhewig gemaak word aan die werk van God; julle moet Christus in alle dinge eerste stel. Om die waarheid te onderrig soos dit in Jesus is, is ‘n werk wat so ewigdurend soos die ewigheid is. Die werk wat as ‘n volmaakte geheel uit die hande van verskillende werkers kom, waarin elkeen sy deeltjie bydra, sal die goedkeuring van die Bewerker van ons verlossing wegdra. Julle het ‘n taak te verrig, en dit is nie ‘n goeie ding om die moeilikhede en onmoontlikhede gedurig voor oë te hou nie. Sê gedurig: “Deur Christus wat my krag gee, kan ek hierdie werk verrig.”GSA 18.1

    Die Leërowerste van die Here het die mure van Jerigo om-vergewerp, en hemelse engele staan immer gereed om die nederiges en sagmoediges te bedien, om struikelblokke uit die weg te ruim en om siele te red. Met ware moed kan julle magtige werk vir die Meester verrig - werk wat, as dit in die hemelse skale geweeg sou word, goed en getrou verklaar sal word. Moenie strooi, hout en stoppels op die fondament kom lê nie, maar bring die kosbaarste boustowwe, goud, silwer en kosbare stene wat nie verteer kan word nie. ‘n Onafhanklike oordeel wat geen eerbied vir die oordeel van ander het nie, moet nie in die harte van enige van God se arbeiders gekoester word nie; niemand moet voel dat hy die maatstaf is nie; niemand moet hom aan eiewaan skuldig maak nie, want God het ons in Sy Woord vertel dat ons ander beter as onsself moet ag.GSA 18.2

    Eieliefde, hoogmoed en selfgenoegsaamheid vorm die grondslag van die grootste beproewinge en onenigheid wat nog ooit in die godsdienstige wêreld bestaan het. Oor en oor het die engele aan my gesê: “Staan saam, staan saam, wees eensgesind, een van oordeel” Christus is die leier, en julle is broeders; volg Hom. Wandel in die lig soos Hy in die lig is. Diegene wat in die spore van Christus volg, sal nie in duisternis wandel nie, maar diegene wat dwarstrek in ‘n ongeheiligde onafhanklikheid, kan nie God se teenwoordigheid en seen in die werk hê nie. Skoon hande, ‘n rein hart, en ‘n regte gesindheid is die gawes van God; streef hulle in alle erns na. Christus sê: “Sonder My kan julle niks doen nie.”GSA 19.1

    God het ‘n groot taak wat in Afrika verrig moet word en geen planne moet gemaak word sonder die hulp van Sy oneindige wysheid nie. Nadat julle werksplanne bespreek is, gepaard met ernstige gebed, werk, werk vir Christus. Moenie julle van stryk laat bring deur oënskynlike struikelblokke wat dreig om jul pad te versper nie. Daar is ‘n regte manier om te werk te gaan, en God sal julle daarin lei. As julle in volkome eensgesindheid arbei, met onselfsugtige belangstelling en broederliefde, sal engele van God met julle wees. Dit is God se saak, en Hy sal die ongelyk plekke gelyk maak, Hy sal die weg voor ons berei. Die werk wat in vreemde lande gedoen moet word, sal nooit deur sterflinge verrig kan word sonder wysheid van Bo nie. Julle moet op julle Hoofman wag op bevele, en dan onvoorwaardelik gehoorsaam. As julle voorwaarts tree in die krag van die God van Israel, in eenvoud en geloof, sal die moeilikhede wat die Satan tot berge sal opblaas, soos molshope word. Werkers kan hulle maklik in ‘n posisie plaas waar die liefde, krag en wysheid van Bo hulle nie kan bereik nie, waar hulle nie hulp kan kry in voorligting, in moeilikhede en beproewinge nie, omdat hulle die hemel se rykste skatte nie sal verstaan en na reg sal waardeer nie. Hulle sal hulleself verheerlik en dink dat hul eie weë volmaak is en in eiegeregtigheid verval. Die mens se wysheid word as dwaasheid gereken. Wanneer geheel en al van die eie ek ontslae geraak word, kan julle'n nuwe en ryke belewenis ontvang, sal julle jul eie gebreke raaksien waar julle laag aan die voet van die kruis neerbuk, en wanneer julle die uit-nemendheid van Christus beskou, sal die eie ek iets nietigs word.GSA 19.2

    Vir die waarnemende oog sal Christus dan die vervolmaking van lieflikheid word; dan sal Sy stempel op die hart en gees wees en in die karakter geopenbaar word. Die seël van die Goddelike Gees moet op die hart gedruk word en in die lewe geopenbaar word. Kom na Jesus in jul behoefte, bid in lewende geloof, hou die hand van die Goddelike almag vas, glo, glo net, en julle sal die heil van God sien. As julle bereid is om te leer, sal God julle leer; as julle bereid is om gelei te word, sal Hy julle lei na fonteine van lewende water. Die Heiland nooi julle uit:“leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele.” Sommige vir wie julle arbei, sal wil hê dat die werk op hulle manier gedoen moet word en dink dat dit die beste weg is; maar as julle die gesindheid, die sagmoedigheid van Christus het, as julle respek en liefde vir mekaar betoon, sal God julle in staat stel om die werk te vervolmaak op ‘n wyse wat Hom welbehaaglik sal wees. Toon dat julle self gewillig is om te leer.GSA 19.3

    Die indrukwekkendste les wat julle kan gee vir diegene wat julle onderrig, sal dié van ‘n karakter soos Christus s'n wees. Laat daar volkome eensgesindheid wees; dit is die grootste bewys wat julle kan lewer van die krag van die waarheid op die hart. Werk vir jul eie siele totdat die eie ek onderdruk is, totdat Christus Sy beeltenis in julle herken. Dit is die plig van elke werker in die wingerd van die Here. Diegene wat nou die waarheid van God verkondig, plaas hulleself aan die kant van Christus, verenig in hart, gees en stem, en spreek dieselfde dinge ter verdediging van die waarheid. Die Here weeg ons dade en ons motiewe, en Hy sal groot krag verleen aan diegene wat aan Hom behoort. Christus is nie verdeeld nie; Christus in een werker sal Christus in’ n broederwerker erken. Mense wat veeleisend is, wat foutsoek, wat kwaad dink van ander, bevorder die werk van die vyand en breek af wat God opgebou wil hê. Al hierdie strydende elemente stel die magte van die duisternis voor en toon dat Christus, die hoop van die heerlikheid, nie binne is nie.GSA 20.1

    Almal wat in Christus is, sal die werk van Christus doen en immer van Hom leer. My broeders, julle is sendelinge, mag julle so vernuwe word dat julle sterk karaktertrekke die saak van God geen skade sal aandoen nie. Die Here het baie dinge aan my geopenbaar aangaande die wyse waarop die werk in nuwe sendingvelde aangepak moet word, en het aan my getoon dat as ‘n sekere rigting gevolg word, dit die werk sal beperk en die saak sal skaad. Volkome eensgesindheid kan net bestaan deur die oorvloedige genade van Christus. Selfgenoegsaamheid is’n belemmering vir die werk. Wees’n voorbeeld vir hulle wat die waarheid sal aanneem. Mag die Here julle lig en wysheid en Sy geregtigheid gee, is my gebed. - Brief d, 1890.GSA 20.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents