Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Getuienisse aan Suider-Afrika

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Wandel In Alle Nederigheid

    My Dierbare Broeders en Susters:

    Ek wil my graag rig tot julle wat tot'n kennis van die waarheid gekom het in Afrika. Julle is jonk in die geloof, en dit is baie noodsaaklik dat julle nederig met God wandel en daagliks leer in die skool van Christus deur veral te peins en te praat oor die lesse wat Hy aan Sy dissipels gegee het. Wandel in alle nederigheid van gees, wantrou julleself, soek die wysheid van die God van wysheid, sodat al julle weë en metodes in ‘n hegte en noue verband met die weë en wil van God kan wees, sodat daar geen verwarring sal heers nie.GSA 21.1

    ’n Weg is deur Jesus Christus geopen waardeur wysheid en genade en krag ontvang kan word. Hy is’n voorbeeld in alle dinge. Die heel eerste les wat diegene moet leer wat die boodskap van die waarheid aanneem, is om een met Christus te word en om die krag van Sy genade in die siel te hê, wat alle onsuiwerhede uit die karakter verwyder en selfs die gedagtes onderwerp. Dit moet geskied deur die hart te onderwerp, sodat Christus Sy wet daarop kan afdruk. Dit is die werk wat vir elke siel verrig moet word, dan sal almal wat die waarheid liefhet, sy heiligmakende, louterende, veredelende krag op die karakter, in die gees, in die woorde en in die dade sien. Elkeen sal ‘n ligbaan wees waardeur Christus Hom bekend sal maak. Dit is wat die apostel bedoel het toe hy gesê het: “Ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.”GSA 21.2

    Ons moet nooit vergeet hoe swaar dit is om langgekoesterde dwalinge uit die harte van mense te verwyder wat hulle van kindsbeen af aangeleer het nie. Ons moet onthou dat die aarde nie die hemel is nie, en dat daar teleurstellings sal wees om te oorwin, maar verdraagsaamheid en tederheid en simpatie moet betoon word aan almal wat in duisternis wandel. As ons hulle die lig laat sien, sal dit nie bloot deur argumente wees nie; dit moet deur die werk van die genade van Christus op jul harte geskied wat in jul eie karakters geopenbaar word met vasberadenheid, maar tog met die sagmoedigheid en eenvoud van Christus. Deur veel gebed moet julle vir siele arbei, want dit is al metode waardeur julle harte kan bereik. Dit is nie julle werk nie, maar die werk van Christus wat aan julle sy staan, wat harte beïndruk. Terwyl julle trag om ‘n kennis van die waarheid te verkry, moet julle streef na ‘n proefondervindelike kennis van Christus, sodat julle volgens Sy metodes kan werk. Julle moet soos Moses bid: Here, toon my U heerlikheid.'n Openbaring van die goedheid, die tederheid en die liefde van Jesus teenoor sondige mense sal maak dat die eie ek in die niet verdwyn, en Jesus sal verhoog word. Verhoog die Man van Gollgota; praat van Jesus en Sy weergalose liefde. Dit is waar baie wat die waarheid verkondig, faal. Hulle praat leerstellings, maar praat nie van die weergalose, lankmoedige liefde van Jesus nie.GSA 21.3

    Neem julle vas voor om nie in tweedrag met mekaar te leef nie, maar dat julle die vrede van Christus in julle harte sal hê, en dan sal dit maklik wees om dit in julle gesinne in te voer. Maar wanneer die tuin van die hart verwaarloos word, sal giftige onkruid opkom - hoogmoed, eiewaan, selfgenoegsaamheid en welig tier. Ons moet almal waak met gebed.GSA 22.1

    Die karakters wat ons ontwikkel, sal in die huislike lewe spreek. As daar ‘n soete eensgesindheid in die huiskring is, kan die engele van God in die huis hul diens verrig. As die huis verstandig bestuur word met vriendellikheid, sagmoedigheid. verdraagsaamheid, saam met vaste beginsels, wees dan verseker dat die eggenoot soos’n band in die huis is wat die gesin met koorde saamsnoer en hulle aan God voordra en hulle saam met homself bind op die altaar van die Here. Watter lig skyn nie uit so ‘n gesin nie!GSA 22.2

    Daardie gesin, wat behoorlik geregeer word, is ‘n gunstige argument vir die waarheid, en die hoof van so'n gesin sal dieselfde soort werk in die kerk verrig as wat in die gesin geopenbaar word. Waar daar ook al kras, hard en liefdeloos in die heilige huiskring opgetree word, daar sal gewis ‘n gebrek in die planne en bestuur van die kerk heers. Eenheid in die huis, eenheid in die kerk, openbaar Christus se optrede en genade treffender as preke en argumente. Die dienaars van God moet nie wedywer nie, maar moet diegene wat hulle teen die waarheid skaar in ootmoed reghelp sodat hulle hulle dwalinge kan insien en tot bekering kan kom. Maar laat julle lig in goeie werke skyn; spreek versigtige, geduldige, broederlike woorde tot diegene met wie julle in goeie werke omgaan.GSA 22.3

    Alle onenigheid, alle foutsoekery moet verwyder word deur die genade van Christus wat julle deur die geloof ontvang. Alle jaloesie, alle naywer, alle bose verdenking is van die vyand. Alle kwaadpratery, alle bitterheid, alle ongeduld, alle kwaadwilligheid moet uit die sieletempel gesuiwer word, en vriendelikheid, jammerhartigheid, verdraagsaamheid, sagmoedigheid, lank-moedigheid, vriendelikheid, goedheid, hoop, liefde, moet elke dag gekoester word sodat julle die gebed van Christus tot Sy Vader kan vervul dat Sy dissipels een kan word net soos Hy een is met die Vader. Die harmonie en die eenheid van die kerk is die geloofsbriewe wat aan die wêreld getoon moet word om te bewys dat God Sy Seun na die wêreld gestuur het om genade en lig en waarheid te bring.GSA 22.4

    Opregte bekering is ‘n vernuwing van karakter. Nuwe strewes, nuwe sedelike voorliefdes word geskep. Karaktergebreke word oorwin. Die waarheid, met sy heiligmakende krag, bring die hele mens tot gehoorsaamheid aan Christus.GSA 23.1

    Die dag van plegtige vertroue en heilige verantwoordelikhede behoort aan ons. Ons het'n taak om vir God te verrig. Groot lig skyn op ons, wat ons moet uitstraal na almal met wie ons in aanraking kom, nie deur dadelik argumente oor leerstelling aan te knoop nie, maar deur te leer om te praat van die lesse van Christus. Wees seker en wees verstandig in jul benadering van die siele vir wie Christus met die prys van Sy eie kosbare bloed betaal het. Bring die waarheid, die gevorderde waarheid wat ons ontvang het, in ons eie harte die vrugte van geduld, geloof, hoop en liefde voort om sodoende sy reddende invloed op die menslike gemoed af te druk en te toon dat ons lote van die ware Wynstok is omdat ons ryk trosse vrugte dra?GSA 23.2

    Is onkreukbaarheid en lieftalligheid, die vaste karaktertekens van Christelike opwassing, sigbaar in die lewe? Moet nooit moedeloos word in jul pogings om siele te red nie, want diegene wat in dwaling en duisternis grootgeword het, reageer nie dadelik op jul pogings nie. Julle moet toon dat julle die werkers van God is wat nooit moeg of moedeloos word nie. Die simpatie en Christelike geduld wat geopenbaar word, sal aan diegene met wie julle omgaan, toon dat julle'n lewende verbintenis met God het, dat julle rein van hart is, teder in woord, ernstig en ywerig van gees.GSA 23.3

    Hierdie gees van Christus sal sy pad vind deur die verregaande onkunde wat julle sal teëkom. Maar onthou die woorde van Christus: “Sonder My kan julle niks doen nie.” Dit is nie genoeg om geredelik oor omstrede onderwerpe te praat nie; God verlang manne wie se harte na die Goddelike beeltenis gevorm is. Deur die heiligmakende waarheid kan ons die beker van verlossing na ander uithou. Deur opreg aan God vas te hou, deur'n biddende lewe, verenig met'n volhardende geloof, sal die waarheid sy weg deur skynbare onmoontlikhede baan.GSA 23.4

    Ons sal nie praat van wat nie gedoen kan word nie, maar van wat gedoen kan word. “Voorwaarts,” is die bevel van ons Leier. Ons word duidelik deur die Here Jesus Christus deur Sy apostel vertel dat Hy “het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die voile grootte van Christus.” Hier sien ons ‘n voorstelling van gedurige opwassing in kennis in Christus Jesus, en dit is ‘n saak wat sorgvuldige aandag vereis.GSA 24.1

    Persoonlike godsdiens daal tot ‘n lae peil omdat daar meer gepreek word as wat daar ‘n persoonlike poging is om die mense se siele deur noukeurige voorligting te lei. Christus het lesse in gesprekke voor die kampvuur gegee wat van praktiese belang is. Hy het Hom nie met leerstellings besig gehou wanneer'n siel nie geweet het hoe om Hom te vind en kennis te maak met Sy dwingende liefde nie, wat alleen die siel in staat kan stel om die ongewilde waarheid in te sien. Hou in gedagte dat hart in noue voeling met hart moet kom in opregte, vriendelike oorreding en smeking, sodat hulle kan leer hoe hulle die beloftes van God moet glo en ontvang. Die metode hoe om meer en meer gelykvormig aan die wil van Christus te word, moet duidelik gemaak word.GSA 24.2

    Groot manne, geleerde manne, kan beter bereik word deur die eenvoud van ‘n godvrugtige lewe as deur al die skerpsinnige argumente wat hulle toegeslinger kan word. Goeie indrukke sal gemaak word wanneer die godsdiens vol lewenskrag is wat lewe en vooruitgang bring. Waar die kosbare saad van die waarheid toegang vind tot die hart deur die werking van die Gees van Christus, sal die ontvanger ontdek hoe sondig menslike drifte, ydelheid en onkunde is. Al hierdie dinge moet uit die sieletempel gesuiwer word en die genade van God as beginsel posvat. Dan blom al die beginsels van die waarheid in die tuin van God nederigheid, sagmoedigheid, geduld en liefde.GSA 24.3

    Die blyke van die genade van Christus in die mensehart lei altyd tot eendrag. Maar omdat daar foute en inkonsekwenthede bespeur word by diegene wat na ons mening volmaak behoort te wees, sal ons hulle verwerp? Nee, Christus verwerp ons nie vanweë hierdie dinge nie, hoewel dit Sy Gees bedroef. Dit is nie wys om in kleinlike neerslagtigheid te verval omdat ons gebreke in die karakter van ander sien nie. As ons hulle foute en tekortkominge raaksien, dan moet ons ook die sondigheid van soortgelyke dinge in ons eie karakters raaksien, en uit hierdie dinge moet ons leer om nie die onchristelike gedrag van enige mens self te beoefen nie. Ons moet onthou dat Jesus bewus is van al hierdie tekortkominge en dat dit Hom dieper seermaak en bedroef as wat dit ons moontlik kan, omdat Sy kinders nie Sy eie karakter aan die wêreld bied nie, maar dat hulle in sommige opsigte die ongeduld, die ontevredenheid, die kwaadwilligheid en die beskuldigende gees van die groot bedrieër aan die dag lê. Wat kan die hart van Christus dieper bedroef as om so seergemaak en tot openlike skande gebring te word in die persoon van diegene wat beweer dat hulle Sy kinders is? Wanneer julle dus foute by ander bespeur, bejammer hulle en sê: Ek sal nooit hulle werke naboots en Christus skaam vir my maak nie.GSA 24.4

    Alle eiegeregtigheid moet versaak word, want ons het self geen geregtigheid nie. Dit is die gawe van God; daarom moet ons ons nie verhef of in enige opsig ‘n skyn wek nie, want dit is ‘n belediging vir God. Wat het ons wat ons nie ontvang het nie? Die mens kan nie op homself staatmaak vir enigiets wat goed of reg is nie. Christus, net Christus en Sy geregtigheid, sal vir ons ‘n paspoort na die hemel verkry.GSA 25.1

    Struikelblokke sal in die weg van die vooruitgang van die waarheid in Afrika gelê word soos oral in die wêreld gebeur het, en dit is moontlik dat die Here toelaat dat obstruksies en struikelblokke opdoem omdat Hy weet dat as Hy julle weg voor julle gelyk maak in die aanbieding van die waarheid, dit julle kwaad sal doen; julle sal julleself die glorie toe-eien en selfgenoegsaam word.GSA 25.2

    Nadat Israel Egipte verlaat het, het hulle op die seekus gestaan en gesien hoe hul vyande vernietig word, en nou was hul sege volkome. Maar nou moes hulle in die woestyn opruk. Die eerste botsing was met Amalek, wie se leërs hulle voorgekeer het. Hulle is diep beproef in hierdie botsing, “om jou te verootmoedig en jou te beproef,” “om te weet wat in jou hart is,” “om uiteindelik aan jou goed te doen.” Die Here sien dat die eie ek in alles deurskemer en Hy verlang dat Sy kinders na Hom moet opsien. Die Here lei Sy kinders langs’n weg wat hulle nie vir hulself sou kies nie. Toetse word getrou toegepas.GSA 25.3

    “En Hy het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer'n mens die saad in die grond gooi; en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot - hoe, weet hy nie. Want vanself bring die aarde vrug voort, eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die voile koring in die aar. En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is.” So is die werking van die waarheid op die mensehart, voortdurend en sag, en vooruitgang moet gemaak word totdat die mensekarakter vervolmaak is. Hierdie taak word voortgesit deur'n ferme, Goddelike, bonatuurlike mag. Groei julle godsdiens, of oorheers die eie ek in ‘n groot mate, sodat die Here nie met julle pogings kan saamwerk nie?GSA 25.4

    Die Here sal julle nie seen om siele tot die waarheid te bring, die weg vir julle oopmaak en julle toegang tot baie harte gee tensy julle duidelik laat blyk dat julle die standaard van karakter bereik wat in die evangelie vir julle uiteengesit word nie. Julle kan moontlik tevrede met jul lewens en godsdienstige groei wees, maar is daar groei in die gees en in die beeltenis van Christus? Julle moet julself afvra: Groei ek?GSA 26.1

    Soms sal julle moontlik tot onbesonnenheid verlei word; verootmoedig julle dan voor God en gee julle harte aan Hom in nederige berou en sê: Lei my, rig my, o God, sodat ek U nie met'n ongeheiligde hart mag aanstoot gee nie. Dit is moontlik dat julle nie die wysheid het om die siele te rig wat die waarheid sal aanneem nie; dit is moontlik dat julle nog baie te leer het hoe om die waarheid soos dit in Jesus is, aan te bied. En as die struikelblokke dan verwyder moet word en die waarheid snel vorder, soos julle so naarstiglik begeer, sal julle nie voorbereid wees om verstandig en geduldig volgens die metodes van Christus te arbei om hulle tot ‘n gesonde, opregte belewenis te lei nie omdat julle self nie oor die kennis van baie geestelike dinge beskik me.GSA 26.2

    Namate julle wysheid deur getrouheid in die huislike lewe openbaar, as toonbeelde van vroomheid, sal julle getrouheid in die kerk openbaar as geduldige, vriendelike, verdraagsame onderwysers. Die Here sal toesien dat siele aan julle toevertrou word. Julle het die lesse in Sy skool geleer hoe julle met mense moet werk en hulle voorwaarts en opwaarts moet rig na die heilige standaard van God, sodat hulle kan groei in genade en in die kennis van ons Here en Verlosser Jesus Christus.GSA 26.3

    Wanneer hierdie mense ywerige vroomheid, onselfsugtige geesdrif en die liefde van Jesus in die lewe bespeur, sal hulle besef wat dit beteken om die teenwoordige waarheid te glo. Wanneer julle hierdie siele na groter lig en kennis voer, wanneer julle orde het, en wanneer die werkers gedurig na eendrag strewe, soos Christus een is met die Vader, sal God magtig deur middel van mense werk, omdat Hy vertroue kan he in diegene wat dieGSA 26.4

    waarheid aangegryp het om sowel deur woord en voorbeeld behoorlik te onderrig. Dan sal julle nie jul eie gestalte aan mense gee nie, maar Christus se gestalte.GSA 27.1

    Probeer dit, broeders in Afrika. ‘n Mens groei nie deur na'n lae standaard te mik nie, maar volharding, onvermoeide inspanning is noodsaaklik as julle daarin wil slaag om siele vir Christus te wen. Die Satan en al sy hordes, in samewerking met bose manne, sal die werk teenstaan, en julle kan hierdie teenstand nie in eie krag weerstaan nie. Alleen die Leërowerste van die Here kan die oorwinning vir julle behaal. Julle kan nie onderlinge vrede en eensgesindheid verwag as julle julle nie deeglik daarop toespits om die oorwinnings van die kruis verder te voer nie.GSA 27.2

    As ons ons met struwelinge en foutsoekery besig hou wanneer ons ons beste vir die Meester behoort te lewer, hoe kan ons verwag dat God siele na die waarheid moet bring en hulle aan ontroue, onchristelike leiding moet toevertrou? Soek die Here met die hele hart; kruisig die eie ek. Die volk van God moet ‘n eenheid wees, en die werk moet in ons harte begin. Die werk moet in ons eie gesinne begin. Die Waaragtige Getuie sê: “Ek ken jou werke.” Julle kan die Gees van Christus gedurig indrink.GSA 27.3

    As julle nie die krag van die genade van Christus in julle huise kan openbaar nie, sal julle nie wysheid in die kerk aan die dag kan lê nie en kan die sorg van siele wat die geloof pas aangeneem het, wat babas in Christus is, wat met melk gevoed moet word en nie met vaste spyse nie, nie aan julle toevertrou word nie.GSA 27.4

    Julle sal moontlik geneig wees om aan die ontwaakte siele die kragtige argumente voor te hou wat ons geloof bevestig, maar wat vir hulle swaar is om te verstaan. Maar dit sal nie die regte benadering wees nie. Gee hulle net die eenvoudigste lesse in geloof, want selfs geleerde mense het ‘n honger om die ABC te ken van wat dit beteken om ‘n Christen te wees en hoe hulle Christus kan vind, hoe hulle Christus kan verkry. Dit is die voedsel waaraan die kerke deur al die eeue honger ly.GSA 27.5

    Hou asseblief in gedagte dat as die gelowiges hulle nie die beloftes van God toe-eien en deur die geloof die hoër invloede ontvang wat uit die hemel afkomstig is nie, hulle hul die laer invloede toe-eien. Elke sedelike daad laat sy spore op die sedelike karakter. Die gesprek aan tafel, die gesprek voor die vuurherd, die gees wat die huiskring deurtrek, getuig of ons getrou in ons daaglikse pligte is. Deur voortdurend die regte gewoontes aan te kweek, word ons bevoeg gemaak vir die opbou van die kerk, toegerus om die skape en die lammers te laat wei, en voorberei, deur ‘n getroue nakoming van elke plig, om die hemelse seënwoorde aan te hoor: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg ... Gaan in in die vreugde van jou heer.”GSA 27.6

    Selfs wat vir ons nietig voorkom, hou ‘n plegtige verant-woordelikheid in. Ons kan nie daardeur gaan sonder dat ons ten goede of ten kwade verander nie.GSA 28.1

    Ek dra julle, my broeders in ‘n ver land, op aan die Here en aan Sy ryke genade; want Hy sal ‘n hulp wees vir almal wat Hom wil aanroep. Hy is magtig in Sy raadsbesluite. Soek Hom met die hele hart en Hy sal Hom deur julle laat vind. Brief 6b, 1890.GSA 28.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents