Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Getuienisse aan Suider-Afrika

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Brief Aan ‘N Leraar En Sy Eggenote Op Pad Na Afrika (25 Junie 1887)

    Stockholm, Swede

    25 Junie 1887

    Geagte Broeder:

    Daar is sekere dinge wat ek graag veral by jouself en jou vrou op die hart wil druk. Julle albei behoort op jul hoede te wees; julle het albei'n sterk wil en het nie gebrek aan selfvertroue nie...GSA 7.1

    In jul omgang met ander is daar gevaar dat julle albei baasspelerig en veeleisend sal wees. Dit sal ook julle gevaar wees in jul getroude lewe, tensy julle jul harte daagliks voor God verootmoedig en individueel bewus is van jul groot behoefte om in die skool van Chrisrus die lesse van sagmoedigheid en nederigheid van hart te leer.GSA 7.2

    Julle weë is vir julle reg in eie oë wanneer hulle dalk ver van reg kan wees. God sal verkies dat julle minder selfvertrouend, selfgenoegsaam sal wees...GSA 7.3

    Julle idees en planne moet noukeurig en krities ondersoek word, want julle loop gevaar om die werk te beperk, julle eie stempel daarop af te druk en om jul enge idees en goedkoop planne te gebruik wat gewoonlik op die ou end die duurste blyk te wees. Julle verkleineer die werk daardeur. Hoewel dit goed is om spaarsaam te wees, moet die werk van God immer in sy verhewe, edele waardigheid afgeteken staan.GSA 7.4

    Julle is gereed om in ‘n nuwe sending in te val, pas op dat julle tekortkominge nie as deugde verhef word en die werk van God daardeur vertraag word nie. Dit is toetsende waarhede wat ons aan die mense voorhou en in elke beweging moet hierdie waarhede verhef word om in sedelike skoonheid uit te troon voor diegene vir wie ons arbei. Moenie die waarheid met die eienaardighede van jul eie karakter of met jul eie arbeidsmetode beslaan nie. ...GSA 7.5

    Moenie die werk van God goedkoop maak nie. Hou dit voor asof van God. Laat dit geen menslike stempel dra nie, maar die Goddelike stempel. Die eie ek moet vergeet word in Jesus. Dit is nie veilig om toe te laat dat julle eie idees en oordele, julle gewoontes, julle besondere karaktertrekke, die beheersende mag moet wees nie. Julle het groot behoefte aan breedte in jul berekeninge sodat die werk in al jul planne hoog gestel kan word ooreenkomstig sy belangrikheid.GSA 8.1

    Veel skade is gely deur die misplaaste idees van sommige van ons goeie broeders te volg. Hul planne was eng, en hulle het die werk verlaag na die peil van hulle besondere weë en idees sodat die hoër klasse nie bereik is nie. Die werk het vir ongelowiges voorgekom as iets van weinig waarde - een of ander verdwaalde vertakking van godsdienstige teorie wat nie die moeite werd is om van kennis te neem nie. Baie skade is ook gely weens gebrek aan wyse arbeidsmetodes. Alles moontlik moet gedoen word om waardigheid en karakter aan die werk te verleen. Daar moet veral gepoog word om die welwillendheid van mense in verantwoordelike posisies te verkry, nie deur selfs een beginsel van die waarheid of geregtigheid in te boet nie, maar eenvoudig om af te sien van ons eie maniere om mense te nader.GSA 8.2

    Veel meer sal tot stand gebring word as meer takt en diskresie aan die dag gelê word met die aanbieding van die waarheid. Weens ‘n versuim in hierdie verband het baie'n wanbegrip van ons geloof en ons leer wat nie die geval sou gewees het as die heel eerste indruk wat op hulle gemaak is, gunstig was nie.GSA 8.3

    Dit is ons plig om so na aan die mense as moontlik te kom.GSA 8.4

    Sulke arbeid sal nie tot gevolg hê dat die armer en laer klasse uitgesluit word nie, maar hoog en laag sal ‘n geleentheid kry om die voordeel van die Bybelwaarheid te geniet; albei sal die geleentheid hê om met julle bekend te raak om te besef dat die Bybelgodsdiens die ontvanger nooit verlaag nie. Hulle sal besef watter pligte en verantwoordelikhede op hulle rus om verteenwoordigers van Jesus Christus op aarde te wees.GSA 8.5

    Die waarheid wat in die hart ontvang word, is gedurig besig om die ontvanger te verhef, te verfyn en te veredel. Dit is nie ‘n wysheid van die wéreld nie, maar'n Godgegewe wysheid, waarvan die gelowiges in die waarheid die weë moet bestudeer, sodat die waarheid dié klasse kan bereik wat ‘n invloed ten goede sal uitoefen en wat die saak met hul middele sal steun. Die plig wat ons aan ons medemens verskuldig is, bring ons onder morele verpligting om ons talente by die geldskieters te belê sodat ons hulle kan verdubbel deur siele vir Jesus Christus te wen - siele wat ‘n invloed het, aan wie God dit goed geag het om ‘n groot vermoë ten goede toe te vertrou.GSA 8.6

    Die werkers in hierdie saak moet nie voel dat hul enigste benadering moet wees om mense tromp-op met al die onderwerpe van die waarheid en leer van die Sewendedag-Adventiste te konfronteer nie, want dit sal hulle die ore uit die staanspoor laat toedruk. Julle sal geneig wees om dit te doen, want dit sal julle neiginge streel, en strook met julle karakter. God wil hê dat julle soos skape onder die wolwe sal wees, wys soos die slange en opreg soos die duiwe. Julle kan dit nie doen en nog julle eie idees en planne volg nie. Julle moet julle arbeidsmetode wysig. Julle hoef nie te voel dat die hele waarheid op enige of elke geleentheid aan ongelowiges meegedeel moet word nie. Julle moet baie omsigtig te werk gaan oor wat julle moet sê en wat julle moet verswyg. Dit is nie bedrog nie; dit is om te werk soos Paulus sê: “Omdat ek slim was, het ek julle met lis gevang.” Julle benadering in die werk sal nie daardie uitwerking hê nie.GSA 9.1

    Julle moet julle metodes afwissel en nie dink daar is maar net een metode wat te alle tye op alle plekke gevolg moet word nie. Dit kan moontlik vir julle voorkom dat julle metodes vrug afgewerp het, maar as julle meer takt aan die dag gelê het, meer van die hemelse wysheid, sou julle werk veel meer goeie vrugte gelewer het. Paulus het nie die gewoonte gehad om die Jode so te nader dat hy hul ergste vooroordeel opwek en gevaar loop om vyande van hulle te maak deur hulle uit die staanspoor te vertel dat hulle in Jesus van Nasaret moet glo nie. Pleks daarvan het hy die profesieë van die Ou Testament uiteengesit wat van Christus, van Sy sending en van Sy werk getuig het. So het hy hulle stap vir stap gelei en hulle getoon hoe noodsaaklik dit is om die wet van God te eerbiedig. Hy het die nodige eer aan die seremoniewette betoon en daarop gewys dat dit Christus is wat die hele Joodse offerstelsel ingestel het. Nadat hy hierdie dinge duidelik uiteengesit het, het hy hulle na die koms van Christus gevoer en hulle getoon dat elke spesifikasie in die gekruisigde Jesus vervul is.GSA 9.2

    Dit is die wysheid wat Paulus aan die dag gelê het. Hy het die heidene genader deur nie die wet omhoog te hou nie, maar Christus, en daarna het hy getoon hoe bindend die wet is. Hy het duidelik vir hulle uiteengesit hoe die lig wat van die kruis van Golgota weerkaats, heerlikheid en betekenis aan die hele Joodse godsdiensstelsel gegee het. Hy het sy benadering afgewissel en die boodskap altyd na die omstandighede geklee. Hy het in ‘n groot mate sukses behaal ná geduldige arbeid, en tog wou baie hulle nie laat oortuig nie. Daar is sommige wat hulle nie sal laat oortuig deur enige metode wat gevolg mag word om die waarheid aan te bied nie, maar die arbeider van die Here moet die beste metode sorgvuldig bestudeer, sodat hy nie vooroordeel verwek of vyandigheid uitlok nie.GSA 9.3

    Dit is in hierdie opsig dat julle in die verlede versuim het om siele te bereik. Wanneer julle jul natuurlike neiging gevolg het, het julle die deur toegemaak waardeur julle, met ‘n ander benadering, toegang tot harte sou gekry het, en deur hulle tot ander harte. Die invloed van ons werk deur een siel te wen, is verreikend; die talent wat by die geldskieters belê word, verdubbel aanhoudend.GSA 10.1

    Dit sal vir jou goed wees, my broeder, om hierdie dinge sorgvuldig te oorweeg; en wanneer jy in ‘n nuwe veld arbei, moenie voel dat jy as eerlike man uit die staanspoor alles wat jy glo moet vertel nie, want Christus het nie so te werk gegaan nie. Christus het vir Sy dissipels gesê: “Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie.” En daar is baie dinge wat Hy nie vir hulle gesê het nie, omdat hul opvoeding en idees van so'n aard was dat dit hulle sou verwar het en twyfel en ongeloof sou verwek het wat moeilik verwyder sou kon word.GSA 10.2

    God se arbeiders moet veelsydige mense wees; dit wil sê, hulle moet breedheid van karakter he, moet nie mense met net een idee wees of sterietiep in hul optrede nie, wat in ‘n groef beland en onkapabel is om te besef dat hul woorde en bepleiting van die waarheid moet wissel na gelang van die klas mense onder wie hulle arbei en die omstandighede waarmee hulle te doen het nie.GSA 10.3

    Almal moet gedurig trag om die gees egalig te ontwikkel en om onewewigtige karaktertrekke te bowe te kom. Dit moet jou gedurige studie wees as jy ‘n nuttige, suksesvolle arbeider wil wees. God wil hê dat jy, oud soos jy is, gedurig moet verbeter en moet leer hoe jy die mense doeltreffender kan bereik.GSA 10.4

    ’n Groot en plegtige taak wag op ons - om mense te bereik waar hulle is. Moet dit nie jou heilige plig beskou om uit die staanspoor te sê: “Ons is Sewendedag-Adventiste; ons glo die sewende dag is die Sabbat; ons glo dat die siel nie onsterflik is nie,” en sodoende die gedugste versperrings oprig tussen jou en diegene wat jy graag wil bereik nie. Maar praat met hulle, soos die geleentheid hom voordoen, oor punte in leerstelling waaroor julle dit eens kan wees, en beklemtoon praktiese godvrugtigheid. Laat hulle sien dat jy ‘n Christen is wat vrede verlang, en dat jy hul siele liefhet. Laat hulle sien dat jy konsensieus is. So sal jy hulle vertroue wen en dan sal daar tyd genoeg wees vir die leerstellings. Laat die harde, ysere hart versag word, die akker berei word, en lei hulle dan versigtig voort en bied die waarheid soos dit in Jesus Christus is, in liefde aan.GSA 10.5

    Dit vereis groot wysheid om predikante en edelmanne te bereik. Waarom moet hierdie manne verwaarloos of verbygegaan word, soos ons mense gewis gedoen het? Hierdie klasse dra'n verantwoordelikheid teenoor God in verhouding tot die talente-kapitaal wat aan hulle toevertrou is. Moet groter studie nie gewy word met veel meer ootmoedige gebede om wysheid ten einde hierdie klasse te bereik nie? Waar veel gegee is, sal veel vereis word. Moet daar dan nie wysheid en takt gebruik word om hierdie siele vir Christus te wen nie wat, as hulle tot bekering kom, gepoleerde instrumente in die hande van die Here sal wees om ander te bereik nie? Ons het die Here se hulp nodig om te weet hoe ons Sy werk met vernuf kan onderneem. Die eie ek moet nie na vore tree nie.GSA 11.1

    God het ‘n taak te verrig wat die werkers nog nie mooi verstaan nie. Hul boodskap moet na predikante en wêreldwyse manne gaan, want hulle moet getoets word met die lig van die waarheid. Dit moet aan hierdie geleerdes van die wêreld met oorleg en in sy inherente waardigheid gestel word. Daar moet in die grootste erns na God gesoek word, met die deeglikste studie; want die verstand sal tot die uiterste beproef word om planne volgens die orde van die Here te lê wat Sy werk op ‘n hoër en meer verhewe vlak sal bring waar dit altyd moes gewees het. Die kleinlike ideetjies en kortsigtige planne van die mens het die werk aan bande gelé.GSA 11.2

    Mag die Here hierdie dinge aan jou siel tuisbring. Nadat jy jou bes gedoen het om die waarheid voor te dra aan diegene aan wie God groot verantwoordelikhede toevertrou het, moenie moed verloor as hulle dit verwerp nie. Hulle het dieselfde gedoen in die tyd van Christus. Sorg dat jy die waardigheid van die werk handhaaf met deeglike planne en ‘n godvresende gedrag. Moenie dink jy het die standaard te hoog verhef nie. Laat gesinne wat aan hierdie sendingwerk deelneem, in noue voeling met harte kom. Laat die Gees van Jesus die siel van die werkers deurtrek. Laat daar geen selfbedrog in hierdie fase van die werk wees nie, want dit is die aangename, simpatieke woorde wat in liefde teenoor mekaar gebesig word, die betoning van belangelose liefde vir hul siele, wat die mure van hoogmoed en vooroordeel sal afbreek en aan ongelowiges sal toon dat ons die liefde van Christus het, en dan sal die waarheid sy weg na hul harte vind. Dit is in elk geval ons taak en die vervulling van die planne van God. Maar die werkers moet ontslae raak van selfsug en kritiek.GSA 11.3

    My broeder, jy sal op jou hoede moet wees dat die onervarenes wat met jou saamwerk nie op jou lees geskoei word en dink dat hulle presies soos jy te werk moet gaan nie. Alle grofheid en ruheid moet opsygesit word en van ons arbeid geskei word, en groot wysheid moet aan die dag gelê word wanneer diegene genader word wat nie van ons geloof is nie. Koester beleefdheid, verfyndheid, Christelike vriendelikheid. Jy sal daarteen moet waak om kortaf en stomp te wees. Moenie hierdie karaktertrekke as deugde beskou nie, want God beskou hulle nie in daardie lig nie. In alle dinge moet jy trag om nie aanstoot te gee aan diegene wat nie soos ons glo deur die aspekte van ons geloof wat hulle die meeste sal afstoot, te beklemtoon wanneer daar geen rede voor is nie, Daardeur sal jy net kwaad aanrig.GSA 12.1

    Ons het behoefte aan meer, veel meer van die Gees van Christus; en minder, veel minder, van die eie ek en die karaktereienaardighede wat'n muur oprig en jou afsonder van jou medearbeiders. Ons kan veel bydra om hierdie skeidsmure af te breek. Ons kan veel doen deur die grasieë van Christus in ons eie lewens te openbaar.GSA 12.2

    Christus het eeu na eeu Sy goedere aan Sy kerk toevertrou. Die een geslag na die ander vir meer as agttienhonderd jaar het die erfpand ingesamel, en hierdie verantwoordelikhede, wat toegeneem het na gelang van die lig, het deur al hierdie geslagte na ons tye neergedaal. Besef ons ons verantwoordelikhede? Voel ons dat ons rentmeesters is van die genade Gods? Voel ons dat die nederigste, geringste diens geheilig kan word as dit beoefen word met die hoë strewe om nie ons eie wil te doen nie maar die Meester s'n om Sy Naam te verheerlik? Ons wil die hele wapenrusting van geregtigheid dra, nie ons eie kleed nie.GSA 12.3

    Jy ken nie jouself nie, en jy het nodig dat jy daagliks besiel word met die Gees van Jesus, of anders sal jy in jou handeling met jou broeders en met ongelowiges kleinlik, bekrompe en inhalig word en siele gebelgd van die waarheid afkeer. As jy hierdie eie besondere karaktertrekke kweek, sal die werk daaronder ly. Jy moet hierdie bekrompenheid ontgroei; jy moet breedte hê; jy moet wegkom van hierdie kleinlike handelinge, want dit kleineer jou in elke opsig. ...GSA 12.4

    Waar jy nou ‘n nuwe veld betree, verhef die werk sommer uit die staans-poor. Plaas dit op ‘n hoë peil, en laat al jou pogings van so ‘n aard wees dat dit almal wat in die waarheid belangstel, op ‘n edele, verhewe vlak sal bring ooreenkomstig die omvang van die werk, sodat hulle behoorlik opgevoed kan word en in staat kan wees om ander te onderrig. Die waarheid het sy oorsprong in die hemel en dit is genadiglik as pand deur die Hemel aan ons toevertrou. Mag die Here julle albei seën met krag uit die hoogte, sodat julle die eie ek kan uitwerk en Jesus in al julle arbeid kan inweef; dan sal die seën van God op julle rus.GSA 13.1

    Ons voel, broeder en suster , die innigste simpatie vir julle albei en julle kindertjies waar julle'n nuwe veld betree. Ons voel inniglik vir julle waar julle geskei word van vriende en bekendes, julle broeders en susters wat julle liefhet. Ons weet hierdie boodskap is vir die hele wêreld bedoel, en ons is en moet steeds medewerkers van God wees. Ek weet die Here het julle lief en wil julle in'n hegter verhouding met Hom bring. Streef net dat julle die stempel van God ontvang, en julle sal in elke opsig gedurig vorder totdat julle arbeid die voile goedkeuring van die Hemel sal geniet. Maar moet vir geen oomblik dink dat julle nie hoef te verbeter nie; want julle het baie ... Jy is nie een wat gedurig leer, verbeter en oorleg pleeg hoe jy jou by omstandighede kan aanpas nie. Jy het jou nie aangepas by omstandighede nie, maar was geneig om'n onafhanklike koers in te slaan, om jou eie planne te volg, pleks van met ander werkers saam te werk.GSA 13.2

    God sal met julle wees as julle met Hom sal wees. Wees versigtig dat julle nie die verkeerde indruk in verband met julleself by ander wek nie. Ons het die wolkkolom nodig om ons gedurig te lei. Ons is verseker van die teenwoordigheid van God; julle het dit: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Matt. 28:20). Mag God julle seën.GSA 13.3

    Met liefde

    (geteken) Ellen G. White.

    Brief 12, 1887.

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents