Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Meester se Onsterflike Rede

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First

    “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” Mattheüs 5:8.

    Die Jode was so nougeset oor seremoniële reinheid, dat hulle reëls 'n las geword het. Hulle was so besig om reëls en beperkinge uit te dink, en so bang vir uiterlike verontreiniging, dat hulle nie besef het watter vlek die selfsug en kwaadwilligheid op die siel laat nie.MOR 30.3

    Jesus noem hierdie seremoniële reinheid nie as een van die voorwaardes vir toegang tot Sy koninkryk nie, maar Hy vestig die aandag op die noodsaaklikheid van 'n rein hart. “Die wysheid van bo is ten eerste rein.” Jakobus 3:17. Niks wat verontreinig sal in die Godstad toegelaat word nie. Almal wat daar saf woon, sal hier rein van hart geword het. Die mens wat van Jesus leer, sal 'n toenemende afkeer hê van onverskillige gedrag, onwelvoeglike taal en onbehoorlike gedagtes. As Christus in die hart woon, sal die gedagtes en gedrag rein en verfynd word.MOR 31.1

    Maar die woorde van Jesus: “Salig is die wat rein van hart is,” het 'n dieper betekenis - nie net vry van sinlike begeertes en wellus nie, maar opreg in die innerlike begeertes en motiewe van die siel, vry van hoogmoed en selfverheerliking; nederig, onselfsugtig en kinderlik. 'n Mens kan net jou eie soort waardeer. Tensy jy die beginsel van selfopofferende liefde, wat die beginsel van Sy karakter is, deel van jou eie lewe maak, kan jy God nie ken nie. Die hart wat deur die Satan mislei word, sien God as 'n tirannieke, meedoënlose wese; die selfsugtige karaktertrekke van die mens, selfs dié van die Satan self, word aan die liefdevolle Skepper toegedig. “Jy dink Ek is net soos jy,” sê Hy (Psalm 50:21). Sy voorsienigheid word gesien as die uitdrukking van 'n eiemagtige, wraaksugtige natuur. So ook met die Bybel, die skathuis van die rykdom van Sy genade. Die heerlikheid van sy waarhede, wat so hoog soos die hemele is en die ewigheid omvat, bly onopgemerk. Vir die groot mensemassa is Christus self “soos 'n wortel uit droë grond,” en hulle sien in Hom “geen voorkoms,” dat hulle “Hom sou begeer nie” (Jesaja 53:2). Toe Jesus onder die mense gewandel het as die openbaring van God in die mens, het die skrifgeleerdes en Fariseërs van Hom gesê: “U [is] 'n Samaritaan... en [is] van die duiwel besete” (Johannes 8:48). Selfs die dissipels is so verblind deur hul selfsug dat hulle traag was om Hom te verstaan wat gekom het om die liefde van die Vader aan hulle te openbaar. Dit is daarom dat Jesus as 'n eensame onder die mense beweeg het. Net in die hemel is Hy werklik verstaan.MOR 31.2

    Wanneer Christus in Sy heerlikheid kom, kan die goddeloses dit nie verduur om na Hom te kyk nie. Die lig van Sy teenwoor-digheid wat lewe is vir dié wat Hom liefhet, is die dood vir die goddeloses. Die verwagting van Sy koms is vir hulle “'n verskrik-like verwagting van oordeel en 'n vuurgloed wat die teenstanders sal verteer” (Hebreërs 10:27). Wanneer Hy verskyn, sal hulle bid om verberg te Word vir Hom wat gesterf het om hulle te verlos.MOR 32.1

    Maar alles is anders vir die harte wat gereinig is deur die inwoning van die Heilige Gees. Hulle kan God ken. Moses is in die skeur van die rots verberg toe die heerlikheid van die Here aan hom geopenbaar is; en dit is wanneer ons lewe saam met Christus in God verborge is dat ons die liefde van God aanskou.MOR 32.2

    “Hy wat reinheid van hart liefhet, wie se lippe aangenaam is -die koning is sy vriend.” Spreuke 22:11. Nou sien ons Hom deur die geloof. In ons daaglikse lewe sien ons Sy goedheid en medelye in Sy voorsienigheid. Ons sien Hom in die karakter van Sy Seun. Die Heilige Gees openbaar aan die hart die waarheid oor God en Hom wat Hy gestuur het. Dié wat rein van hart is, sien God in 'n nuwe, innige verhouding as hul Verlosser, en as hulle die reinheid en lieflikheid van Sy karakter sien, verlang hulle om Sy beeld te weerspieël. Hulle sien in Hom 'n vader wat verlang om sy berouvolle seun te omhels; en hul harte word met 'n onuitspreeklike, heerlike vreugde vervul.MOR 32.3

    Dié wat rein van hart is, sien God in die werke van Sy almagtige hand, in die skoonheid van die heelal. In die geskrewe Woord sien hulle 'n duideliker openbaring van Sy genade, Sy goedheid en Sy guns. Die waarheid wat vir die wyses verberg is, word aan kindertjies geopenbaar. Die skoonheid en kosbaarheid van die waarheid, wat die wêreld-wyse nie kan sien nie, word gedurig geopenbaar aan diegene wat 'n vertrouende, kinderlike begeerte het om die wil van God te ken en te doen. Deur self die Goddelike natuur deelagtig te word, kan ons die waarheid onderskei.MOR 33.1

    Dié wat rein van hart is, leef in die tydjie wat hulle op aarde gegun word asof hulle in die sigbare teenwoordigheid van God is. En in die toekomstige, onsterflike lewe sal hulle Hom van aangesig tot aangesig sien. “Want nou sien ons deur 'n spieël in 'n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig.” 1 Korinthiërs 13:12.MOR 34.1