Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Meester se Onsterflike Rede

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First

    “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.” Mattheüs 5:48.

    Die woord “dan” dui op 'n gevolgtrekking, 'n afleiding van die voorafgaande. Jesus het die onfeilbare genade en liefde van God aan Sy gehoor verduidelik, en daarom, sê Hy, moet hulle volmaak wees. Omdat julle hemelse Vader self “goedertieren oor die ondankbares en slegtes” is (Lukas 6:35), omdat Hy Hom neergebuig het om jou op te hef, daarom, sê Jesus, moet jy in karakter soos Hy word en foutloos in die teenwoordigheid van die mense en engele staan.MOR 82.1

    Die voorwaardes vir die ewige lewe, onder die genade, is pre-sies wat hulle in Eden was - volkome geregtigheid, een wees met God, volkome ooreenstemming met die beginsels van Sy wet. Die karakterstandaard wat in die Ou Testament aangegee word, is dieselfde as in die Nuwe Testament. Dit is nie 'n standaard wat ons nie kan bereik nie. In elke bevel of opdrag wat God ons gee, is daar 'n belofte, die mees positiewe, om krag aan die bevel te gee. Die Here het voorsiening daarvoor gemaak dat ons soos Hy kan word, en dit sal Hy bewerkstellig vir almal wie se wil nie dwars in Sy pad staan om Sy genade te dwarsboom nie.MOR 82.2

    God het ons liefgehad met 'n onuitspreeklike liefde, en ons liefde teenoor Hom ontwaak namate ons iets van die lengte en breedte en diepte en hoogte van hierdie liefde wat alle kennis te bowe gaan, begin besef. Deur die openbaring van die boeiende lieflikheid van Christus, deur die kennis van Sy liefde wat aan ons betoon is terwyl ons nog sondaars was, word die weerbarstige hart versag en onderwerp, en word die sondaar verander en 'n kind van die hemel gemaak. Die Here gebruik nie dwang nie; liefde is die middel wat Hy gebruik om die sonde uit die hart te verdryf. Daardeur verander hy hoogmoed in ootmoed, en vyandskap en ongeloof in liefde, en geloof.MOR 83.1

    Die Jode het hulle vermoei in hul poging om volmaaktheid met hul eie pogings te bereik, en het misluk. Christus het hulle alreeds meegedeel dat hul geregtigheid nooit die koninkryk van die hemele sou sien nie. Nou wys Hy hulle op die aard van die geregtigheid wat almal sal hê wat die hemel sal binnegaan. Deur die hele Berg-predikasie beskryf Hy die vrugte daarvan, en nou, in een sin, dui Hy sy bron en sy aard aan: Wees volmaak soos God volmaak is. Die wet is maar 'n weergawe van die karakter van God. Sien in jou hemelse Vader 'n volmaakte openbaring van die beginsels wat die grondslag van Sy heerskappy vorm.MOR 83.2

    God is liefde. Soos ligstrale van die son af, vloei liefde en lig en blydskap uit Hom na al Sy skepsele. Dit is in Sy aard om te gee. Sy lewe self is die uitvloeisel van onbaatsugtige liefde.MOR 84.1

    “Sy heerlikheid is Sy kind se deug;
    Sy tere Vaderskap Sy vreug.”
    MOR 84.2

    Hy sê ons moet volmaak wees soos Hy is, op dieselfde wyse. Ons moet bronne van lig en seën vir ons kringetjie wees, net soos Hy vir die heelal is. Ons besit niks wat ons eie is nie, maar die lig van Sy liefde skyn oor ons, en ons moet Sy helderheid weerkaats. “Goed in Sy geleende goedheid,” kan ons volmaak in ons sfeer wees, net soos God in Syne volmaak is.MOR 84.3