4 Die Ware Motief vir Diens
“Pas op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie.” Mattheüs 6:1.
Christus se woorde op die berg was 'n uitdrukking van die ongesproke boodskap wat Sy lewe gegee het, maar wat die volk nie besef het nie. In Christus se dae het die Fariseërs gedurig geprobeer om die guns van die hemel te verwerf sodat hulle wêreldse eer en voorspoed kon bereik, wat hulle as die loon van verdienstelikheid beskou het. Terselfdertyd het hulle 'n groot vertoon van hul liefdadigheid voor die mense gemaak om hul aandag te trek en naam te verwerf vir hul vroomheid.MOR 85.1
Jesus het hul vertoon veroordeel en verklaar dat die Here hierdie soort diens nie erken nie, en dat die vleitaal en bewondering van die volk, wat hulle so naarstiglik begeer het, die enigste loon is wat hulle ooit sal ontvang.MOR 85.2
Ware godsvrug soek nooit na vertoon nie. Wie graag geprys en gevlei wil word, en hulle daarin verlustig, is Christene net in naam.MOR 85.3
Deur hul goeie werke moet die volgelinge van Christus nie aan hulself heerlikheid bring nie, maar aan Hom deur wie se genade en krag hulle gearbei het. Dit is deur die Heilige Gees dat elke goeie taak verrig word, en die Gees word nie gegee om die ont-vanger te verheerlik nie, maar die Gewer. As die lig van Christus die siel verlig, sal die mond oorloop van lof en danksegging teenoor God. U gebede, die uitvoering van u pligte, u wel-dadigheid, u selfverloëning, sal nie die tema van u gedagtes of gesprek wees nie. Jesus sal verhoog en die eie-ek verberg word, en Christus sal alles in alles word.MOR 86.1
Ons moet in opregtheid gee, nie om 'n vertoon van ons weldade te maak nie, maar uit deernis en liefde vir die lydendes. Opregtheid van doel, ware hartediens, is die motief wat die Hemel waardeer. Die siel wie se liefde opreg is, wie se toewyding heelhartig is, is vir die Here kosbaarder as die goud van Ofir.MOR 86.2
Ons moenie aan beloning dink nie, maar aan diens; tog sal goedhartigheid wat in hierdie gees betoon word, nie sy loon misloop nie. “Jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.” Hoewel dit waar is dat God self die groot Beloning is wat alle ander vergoeding insluit, ontvang en geniet die siel Hom alleenlik namate sy karakter aan Hom gelyk word. Net soort kan soort waardeer. Namate ons ons aan God oorgee om die mensdom te dien, gee Hy Hom aan ons.MOR 86.3
Niemand kan in sy eie hart en lewe plek maak sodat die stroom van God se seëninge na andere kan uitvloei, sonder dat hy self 'n ryke loon ontvang nie. Die berghange en vlaktes, wat 'n kanaal vir die bergstrome voorsien om die see te kan bereik, ly daardeur self geen verlies nie. Wat hulle gee, word honderdvoud aan hulle teruggegee. Want die stroom wat singende sy weg vind, laat agter hom 'n gordel van groenigheid en vrugbaarheid. Die gras aan sy oewers is groener, die bome is lowerryker, die blomme oorvloediger. Wanneer die aarde kaal en vaal onder die verskrompelende somerhitte bak, dui 'n groen soom die water-loop aan; en die vlakte wat sy boesem oopgemaak het om die bergstroom na die see te voer, word met varsheid en skoonheid beklee as 'n getuie van die loon wat die genade van God aan almal gee wat hulle as kanale beskikbaar stel sodat dit na die wêreld kan uitvloei.MOR 86.4
Dit is die seën van diegene wat genade aan die armes bewys. Die profeet Jesaja sê: “Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie? Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit.... En die Here sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke... en jy sal wees soos 'n tuin wat goed besproei is en soos 'n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie.” Jesaja 58:7-11.MOR 87.1
Weldadigheid dra 'n dubbele seën weg. Terwyl hy wat aan die behoeftiges gee andere seën, ontvang hy self nog 'n groter seën. Die genade van Christus in die siel ontwikkel karaktertrekke wat die teenoorgestelde van selfsug is - karaktertrekke wat die lewe sal louter, veredel en verryk. Vriendskapsdade wat in die geheim bewys word, bind harte saam en sal hulle nader trek aan die hart van Hom wat die oorsprong van elke milddadige ingewing is. Klein vriend-skapsdaadjies, klein liefdesblykies en selfopoffering vloei so opsigtelik uit die lewe soos die geur van 'n blom, en maak geen geringe deel uit van die seëninge en geluk van die lewe nie. En eindelik sal ontdek word dat selfverloëning ter wille van die welsyn en geluk van ander, hoe gering en ongeprese dit ook hier was, in die hemel erken word as die teken van ons eenheid met Hom, die Erekoning, wat ryk was maar ter wille van ons arm geword het.MOR 87.2
Hy wat groter talente toeken aan diegene wat verstandig gewoeker het met die gawes wat Hy aan hulle toevertrou het, erken met behae die diens van Sy gelowige kinders in die Geliefde, deur wie se genade en krag hulle opgetree het. Diegene wat die Christelike karakter probeer ontwikkel en vervolmaak het deur hul talente aan weldade te bestee, sal in die komende wêreld maai wat hulle gesaai het. Die werk wat op aarde begin is, sal sy voleinding in die hoër en heiliger lewe bereik wat tot in alle ewigheid sal duur.MOR 87.3