“Is dit 'n man geoorloof om oor allerhande redes van sy vrou te skei?” Mattheüs 19:3.
Onder die Jode was dit 'n man geoorloof om sy vrou oor die nietigste oortredinkie te skei, en die vrou het dan die reg gehad om weer te trou. Hierdie gebruik het tot groot ellende en sonde gelei. In die Bergpredikasie het Jesus duidelik gesê dat die egbande nie verbreek kan word behalwe oor ontrouheid aan die huweliksgelofte nie. “Elkeen,” het Hy gesê, “wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en 'n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreek.”MOR 69.1
Toe die Fariseërs Hom later uitgevra het oor die wettigheid van egskeiding, het Jesus Sy toehoorders terugverwys na die huweliksinstelling met die skepping. “Weens die hardheid van julle harte,” het Hy gesê, het Moses “julle toegelaat om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie” (Mattheüs 19:8). Hy het hulle verwys na die gelukkige dae in Eden toe God alle dinge “baie goed” genoem het. Daar het die huwelik en die Sabbat hul oorsprong gehad - tweelinginstellings ter verheerliking van God in die geluk van die mens. Daar, toe die Skepper die hande van die heilige paar in die eg saamgevou het en gesê het: 'n Man sal “sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees” (Genesis 2:24), het Hy die huwelikswet afgekondig vir al die kinders van Adam af tot aan die einde van dae. Wat die Ewige Vader self goed genoem het, was die wet wat die hoogste seën ingehou het vir die ontwikkeling van die mens.MOR 69.2
Soos al die ander goeie gawes wat God aan die sorg van die mens toevertrou het, is die huwelik ook deur die sonde bederf; maar dit is die doel van die evangelie om dit in sy reinheid en skoonheid te herstel. In sowel die Ou as die Nuwe Testament word die huweliksverhouding as simbool gebruik vir die tedere en heilige eenheid wat tussen Christus en Sy volk bestaan - die verlostes wat Hy met die prys van Golgota gekoop het. “Wees nie bevrees nie,” sê Hy, “jou Maker is jou Man; Here van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser.” “Keer terug, o afkerige kinders, spreek die Here, want Ek is heer oor julle” (Jesaja 54:4, 5; Jeremia 3:14). In die Hooglied hoor ons die bruid se stem roep: “My beminde is myne, en ek is syne.” En Hy, wat vir haar “uitnemender as tienduisend” is, spreek tot Sy uitverkorene: “Alles is mooi aan u, my vriendin, en daar is geen gebrek aan u nie” (Hooglied 2:16; 5:10; 4:7).MOR 70.1
Later verklaar die apostel Paulus in 'n brief aan die Christene te Efese dat die Here die man die hoof van die vrou gemaak het om haar beskermer te wees en die lede van die gesin saam te bind, net soos Christus die hoof van die kerk en die Verlosser van die mistieke liggaam is. Daarom sê hy: “Soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Chris-tus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. So behoort die manne hulle eie vroue lief te hê.” Efesiërs 5:24-28.MOR 70.2
Die genade van Christus, en dit alleen, kan van hierdie instelling maak wat God bedoel het dat dit moet wees - 'n middel tot seën en verheffing van die mens. En so kan die aardse gesinne, in hul eenheid en vrede en liefde, die hemelse gesin verteenwoordig.MOR 72.1
Nou, soos in die tyd van Christus, is die toestand van die samelewing maar 'n droewige weergawe van die hemelse ideaal vir hierdie gewyde verhouding. Tog, selfs vir diegene wat bitter-heid en teleurstelling ondervind het pleks van die kameraadskap en geluk waarop hulle gehoop het, bied die evangelie van Chris-tus nog troos. Die geduld en sagmoedigheid wat Sy Gees kan skenk, sal die bittere lot versoet. Die hart waarin die Here woon, sal so gevul wees, so bevredig met Sy liefde, dat dit nie verteer sal word deur 'n drang om simpatie en aandag te soek nie. In die siel wat hom aan God oorgee, kan Sy wysheid tot stand bring wat die menslike wysheid nie kan doen nie. Deur die openbaring van Sy genade kan harte wat eens onverskillig of vervreemd was, verenig word met bande wat sterker en duursamer is as aardse bande - die goue bande van 'n liefde wat die toets van beproewing sal deurstaan.MOR 72.2