Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Meester se Onsterflike Rede

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First

    “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Mattheüs 6:11.

    Die eerste helfte van die gebed wat Jesus ons geleer het, gaan oor die Naam en die koninkryk en die wil van God - dat Sy Naam geëer mag word. Sy koninkryk gevestig word en Sy wil geskied. As u so die diens van God u grootste belangstelling gemaak het, kan u met vertroue vra dat in u eie behoeftes voorsien moet word. As u die eie-ek verloën en u aan Christus oorgegee het, is u 'n lid van die gesin van God en is alles wat in die Vaderhuis is vir u. Al die skatte van God is vir u toeganklik - die huidige wêreld en die een wat kom. Die bediening van die engele, die gawe van Sy Heilige Gees, die werk van Sy dienaars - alles is vir u. Die wêreld met alles daarin behoort aan u sover dit u kan goed doen. Selfs die vyandskap van die goddeloses sal 'n seën vir u wees omdat dit u vir die hemel sal dissiplineer. “Alles behoort aan julle” as julle aan Christus behoort (1 Korinthiërs 3:21, 23).MOR 121.3

    Maar u is soos 'n kind wat nog nie beheer oor sy erfporsie gegee is nie. Die Here gee nie u kosbare besitting in u hande oor nie, anders kan die Satan u met sy arglis bedrieg soos hy die eerste paar in Eden bedrieg het. Christus bewaar dit vir u, veilig buite die bereik van die bederwer. Soos 'n kind sal u dag vir dag ontvang volgens die dag se behoefte. U moet elke dag bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Moenie mismoedig word as daar nie genoeg vir móre is nie. U het die versekering van Sy belofte: “Dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.” David sê: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” Psalm 37:4, 25. Die God wat die rawe gestuur het om Elia by die spruit Krit te voed, sal nie een van Sy getroue, selfverloënende kinders verbygaan nie. Oor hom wat opreg wandel, staan daar geskryf: “Sy brood word hom gegee, sy water is gewis.” “Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in die dae van hongersnood sal hulle versadig word.” “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie.” Jesaja 33:16; Psalm 37:19; Romeine 8:32. Hy wat die sorge en angs van Sy weduweemoeder verlig het en haar gehelp het om vir die huishouding in Nasaret te sorg, het meegevoel vir elke moeder wat worstel om vir haar kindertjies kos te vind. Hy wat Hom oor die skare ontferm het omdat hulle “moeg en uitgeput was,” (Mattheüs 9:36), ontferm Hom nog oor die wat ly. Hy strek Sy hand met seëning na hulle uit; en selfs in die gebed wat Hy aan Sy dissipels gegee het, leer Hy ons om aan die armes te dink.MOR 122.1

    Wanneer ons bid: “Gee ons ons vandag ons daaglikse brood,” vra ons vir sowel andere as vir onsself. En ons erken dat wat God vir ons gee, nie net vir ons is nie. God gee dit in ons hande, sodat ons die hongeriges kan voed. Hy het dit in Sy goedheid berei vir die ellendige (Psalm 68:11). En Hy sê: “Wanneer jy 'n móre of middagete gee, moenie jou vriende nooi, of jou broers of bloedverwante of ryk bure nie.... Maar wanneer jy 'n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes, en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges.” Lukas 14:12-14.MOR 123.1

    Die gebed om daaglikse brood behels nie net voedsel om die liggaam te onderhou nie, maar ook die geestelike brood wat die siel tot die ewige lewe sal voed. Jesus beveel ons: “Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe.” Johannes 6:27. Hy sê: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal Hy lewe tot in ewigheid.” Vers 51. Ons Heiland is die brood van die lewe, en deur Sy liefde te aanskou, deur dit in die siel te ontvang, eet ons die brood wat uit die hemel neergedaal het.MOR 123.2

    Ons ontvang Christus deur Sy woord, en die Heilige Gees word gegee om die woord van God vir ons verstaanbaar te maak en om sy waarhede by ons op die hart te druk. Ons moet dag vir dag bid dat, wanneer ons Sy woord lees, God Sy Gees sal stuur om die waarheid aan ons te openbaar wat ons siele vir die dag se behoefte sal versterk.MOR 124.1

    Deur ons te leer om elke dag te vra wat ons nodig het - sowel tydelike en geestelike seëninge - het God 'n doel wat tot ons beswil dien. Hy wil hê ons moet bewus wees van Sy voort-durende sorg, want Hy wil met ons gemeenskap hê. In hierdie gemeenskap met Christus, deur gebed en die bestudering van die groot en kosbare waarhede van Sy woord, sal ons as hongerige siele gevoed word; as dorstiges sal ons by die fontein van die lewe verkwik word.MOR 124.2