Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Meester se Onsterflike Rede

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.” Mattheüs 5:6.

    Geregtigheid is heiligheid, 'n beeltenis van God, en “God is liefde” (1 Johannes 4:16). Dit is gelykvormigheid aan die wet van God, “want al u gebooie is geregtigheid” (Psalm 119:172), en “die liefde [is] die vervulling van die wet” (Romeine 13:10). Die geregtigheid van God is in Christus beliggaam. Ons ontvang die geregtigheid deur Hom te ontvang.MOR 23.4

    Nie deur pynlike worsteling of moeisame arbeid, nie deur offergawes kan geregtigheid verkry word nie; maar dit word vrylik aan elke siel gegee wat daarna honger en dors. “o Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet;... sonder geld en sonder prys.” “Hulle geregtigheid [is] uit My... spreek die Here” en “dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.” Jesaja 55:1; 54:17; Jeremia 23:6.MOR 24.1

    Geen menslike middel kan dit voorsien wat die siel se honger en dors sal bevredig nie. Maar Jesus sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.” “Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” Openbaring 3:20; Johannes 6:35.MOR 24.2

    Net soos ons voedsel nodig het om ons liggaamskragte op te bou, so het ons Christus, die Brood van die hemel, nodig om ons geestelike lewe te onderhou en ons krag te gee om die werke van God te verrig. Net soos die liggaam gedurig gevoed moet word om lewe en lewenskrag te gee, so moet die siel gedurig in gemeenskap met Christus verkeer, aan Hom onderwerp word en geheel en al van Hom afhanklik wees.MOR 25.1

    Soos die moeë swerwer soek na die waterbron in die woestyn en sy brandende dors les as hy dit kry, so sal die Christen dors na die suiwer water van die lewe, waarvan Christus die fontein is, en dit verkry.MOR 25.2

    Namate ons die volmaaktheid van die Heiland se karakter bepeins, sal ons verlang om geheel en al verander en vernuwe te word na die beeld van Sy reinheid. Hoe meer ons van God weet, hoe hoër sal ons karakterideaal wees en hoe opregter sal ons begeer om Sy ewebeeld te weerspieël. 'n Goddelike element verbind met die menslike as die siel na God reik en die verlangende hart kan sê; “Wees maar net stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!” Psalm 62:6.MOR 26.1

    As u bewus is van 'n behoefte in u siel, as u honger en dors na die geregtigheid, is dit 'n bewys dat Christus u hart aangeraak het, sodat u Hom kan vra om vir u deur die gawe van die Heilige Gees dié dinge te doen wat u self onmoontlik nie kan doen nie. Ons het nie nodig om ons dors in vlak stroompies te probeer les nie; want die groot bron is net hierbo ons van wie se oorvloedige waters ons vrylik kan drink as ons net 'n bietjie hoër wil reik op die pad van die geloof.MOR 26.2

    Die woorde van God is die heilfontein van die lewe. As u na hierdie lewende fonteine soek, sal u, deur die Heilige Gees, in gemeenskap met Christus gebring word. Ou bekende waarhede sal in 'n nuwe lig voor u opdoem, skrifgedeeltes sal soos 'n ligvloed oor u breek met nuwe betekenis, u sal die verband van ander waarhede met die verlossingswerk sien, en u sal weet dat Christus u lei, dat 'n Goddelike Leraar aan u sy is.MOR 26.3

    Jesus het gesê: “Die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe” (Johannes 4:14). Die Heilige Gees sal u die waarheid helder laat sien, en u sal die kosbaarste ondervindinge deurmaak en verlang om andere te vertel van die vertroostende dinge wat aan u geopenbaar is. Wanneer u met hulle in aanraking kom, sal u hulle iets nuuts oor die karakter of werk van Christus kan vertel. U sal 'n nuwe openbaring van Sy ontfermende liefde kan gee aan hulle wat Hom liefhet en aan hulle wat Hom nie liefhet nie.MOR 27.1

    “Gee, en aan julle sal gegee word” (Lukas 6:38); want die woord van God “is 'n fontein van die tuine, 'n put met lewende water wat van die Libanon afvloei” (Hooglied 4:15). Die hart wat eers eenmaal die liefde van Christus gesmaak het, roep gedurig om meer te drink, en namate u meedeel, sal u in ryker en oorvloediger mate ontvang. Elke openbaring van God aan die siel stel hom beter in staat om te ken en om lief te hê. Die hart roep gedurig uit: “Meer van U,” en die Gees antwoord ons: “Veel meer” (Romeine 5:9, 10). Want onse God verlustig Hom daarin om “te doen ver bo alles wat ons bid of dink” (Efesiërs 3:20). Aan Jesus, wat Homself ontledig het vir die redding van die verlore gaande mensdom, is die Heilige Gees sonder mate gegee. So sal dit aan elke volgeling van Christus gegee word wanneer die hele hart vir inwoning aan Hom onderwerp word. Onse Here het self die bevel gegee: “Word met die Gees vervul” (Efesiërs 5:18), en hierdie bevel is ook 'n belofte van sy vervulling. Dit het die Vader behaag dat in Christus “die ganse volheid sou woon,” en “julle het die volheid in Hom” (Kolossense 1:19; 2:10).MOR 27.2

    Die Here het Sy liefde sonder mate uitgestort, soos die reën wat die aarde ver-kwik. Hy sê: “Laat dit drup, o hemele, van bo af, en laat die wolke vloei van geregtigheid; laat die aarde oopgaan, en laat heil voortkom en geregtigheid; laat hulle saam uitspruit.” “Die ellendiges en behoeftiges soek water, maar daar is nie; hulle tong verdroog van dors; Ek, die Here, sal hulle verhoor; Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie. Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal die woestyn 'n waterplas maak en die dor land waterbronne.” Jesaja 45:8; 41:17, 18.MOR 28.1

    “Uit sy volheid het ons almal ontvang, ja genade op genade.” Johannes 1:16.MOR 28.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents