2 Die Saligsprekingeie Saligsprekinge
“Hy het sy mond geopen en hulle geleer en gesê: Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.”Mattheüs 5:2,3.
Hierdie woorde klink vreemd en nuut in die ore van die verwonderde menigte. So 'n leer is strydig met alles wat hulle nog ooit van priester of rabbi gehoor het. Hulle vind daar niks in wat hul hoogmoed kan streel of hul ambisies kan bevredig nie. Maar uit hierdie nuwe Leraar straal 'n krag wat hulle in verrukking het. Die Goddelike liefde vloei so aangenaam soos die geur van 'n blom uit Sy wese. Sy woorde val “soos reën op die grasveld, soos buie - 'n swaar reën op die aarde” (Psalm 72:6). Almal voel instinkmatig dat hier iemand is wat die geheimenisse van die siel kan deurvors, maar wat hulle tog teer en simpatiek gesind is. Hulle raak ontvanklik, en terwyl hulle luister, ontvou die Heilige Gees vir hulle iets van die betekenis van die les waaraan die mensdom so 'n dringende behoefte het.MOR 11.1
In Christus se dae het die volk se godsdienstige leiers geglo dat hulle ryk aan geestelike skatte is. Die gebed van die Fariseër:MOR 11.2
“o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie” (Lukas 18:11) het die gesindheid van sy klas weerspieël, en in 'n groot mate ook dié van die hele volk. Maar in die skare om Jesus was daar mense wat vaagweg bewus was van hul geestelike ar-moede. Toe die Goddelike mag van Jesus hom in die wonder-baarlike visvangs geopenbaar het, het Petrus voor die Heiland se voete neergeval en uitgeroep: “Gaan weg van my, Here, want ek is 'n sondige man!” (Lukas 5:8); so was daar ook onder die menigte teen die berghang siele wat voor Sy reinheid gevoel het dat hulle “ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is” (Openbaring 3:17); en hulle het verlang na “die reddende genade van God” (Titus 2:11). In hierdie siele het die woorde van Christus hoop opgewek; hulle het besef dat die welwillendheid van God op hul lewens rus.MOR 12.1
Jesus het die beker vol seëninge vir diegene voorgehou wat gevoel het dat hulle “ryk en verryk geword het” (Openbaring 3:17), en dat hulle aan niks gebrek het nie; en hulle het die genadegawe met minagting verwerp. Hy wat voel dat hy redelik goed is en tevrede is met sy toestand, verlang nie om deel te hê aan die genade en geregtigheid van Christus nie. Die hoogmoed voel geen behoefte nie en sluit die hart vir Christus en vir die oneindige seëninge wat Hy kom gee het. So 'n mens het geen plek in sy hart vir Jesus nie. Hulle wat hulself ryk en eerbaar ag, vra nie in die geloof nie en ontvang nie die seën van God nie. Hulle voel hulle is vol, en stap leeg weg. Hulle wat weet dat hulle hulself onmoontlik nie kan red nie en op eie houtjie tot geen geregtigheid in staat is nie, waardeer die hulp wat Christus kan gee. Hulle is die armes van gees wat Hy salig genoem het.MOR 12.2
Wie Christus vergewe, maak Hy eers berouvol, en dit is die werk van die Heilige Gees om van sonde te oortuig. Hulle wie se harte oortuig geword het deur die Gees van God, besef dat hulle tot niks goeds in staat is nie. Hulle besef dat alles wat hulle ooit verrig het, met sonde en selfsug bevlek is. Soos die arme tollenaar, staan hulle eenkant en durf hulle nie eers die oë hemelwaarts rig nie, en roep hulle: “o God, wees my, sondaar, genadig!” (Lukas 18:13.) En hulle ontvang die seën. Daar is vergifnis vir die boetvaardige; want Christus is “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Johannes 1:29). God belowe: “Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” “En Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee... En Ek sal my Gees in jul binneste gee.” Jesaja 1:18; Esegiël 36:26, 27.MOR 12.3
Van die arme van gees sê Jesus: “aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” Hierdie koninkryk is nie, soos Christus se gehoor gehoop het, 'n tydelike, wêreldse heerskappy nie. Christus was besig om die geestelike koninkryk van Sy liefde, Sy genade, Sy geregtigheid aan hulle te openbaar. Die onderskei-dingsteken van die Messias se heerskappy is die beeltenis van die Seun van die mens. Sy onderdane is die armes van gees, die sagmoediges, die vervolgdes ter wille van die geregtigheid. Aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Hoewel dit nog nie in hulle voleindig is nie, het die proses in hulle begin wat hulle “bekwaam” maak “om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig” (Kolossense 1:12).MOR 14.1
Almal wat besef hoe armoedig hul siel is, wat voel dat hulle vanself tot niks goeds in staat is nie, kan geregtigheid en krag ontvang deur na Jesus op te sien. Hy sê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is.” Mattheüs 11:28. Hy nooi u om u armoed te verruil vir die rykdom van Sy genade. Ons is die liefde van God nie waardig nie, maar Christus, ons borg, is waardig en is oorvloediglik in staat om almal te red wat na Hom toe kom. Maak nie saak wat u verlede was, of hoe ontmoedigend u huidige omstandighede is nie, as u na Jesus kom soos u is, swak, hulpeloos en moedeloos, sal ons medelydende Heiland u van ver af al tegemoetgaan, u in die arms van Sy liefde omhels en u toemaak met Sy kleed van geregtigheid. Hy stel ons aan die Vader voor, geklee in die wit kleed van Sy eie karakter. Hy pleit om ons ontwil by God en sê: Ek het die sondaar se plek ingeneem. Moenie hierdie afgedwaalde kind aansien nie, maar kyk na My. As die Satan luidkeels teen ons siele betoog en ons van sonde beskuldig en ons opeis as sy prooi, pleit die bloed van Christus met nog groter krag.MOR 14.2
“Hulle sal van My sê: Alleen in die Here is volle geregtigheid en sterkte;... In die Here sal geregverdig word en hulle beroem die hele geslag van Israel.” Jesaja 45:24, 25.MOR 15.1