Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Groot Stryd

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "undefined".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 12—Die Franse Hervorming

    DIE Protes van Spiers en die Belydenis van Augsburg, wat die oorwinning van die Hervorming in Duitsland gekenmerk het, is gevolg deur jare van stryd en duisternis. Verswak deur verdeeldheid onder sy ondersteuners en aangeval deur magtige vyande, het dit geskyn of Protestantisme heeltemal vernietig sou word. Duisende het hulle belydenis verseël met hulle bloed. Burgeroorlog het uitgebreek; die Protestantse saak is verraai deur een van sy vooraanstaande aanhangers; die edelste onder die hervormde prinse het in die hande van die keiser geval, en hulle is as gevangenes van dorp tot dorp gesleep. Maar op die oomblik van sy skynbare oorwinning, het die keiser die neerlaag gelei. Hy het gesien hoedat sy slagoffers bevry word, en eindelik is hy geforseer om verdraagsaamheid te beveel teenoor die leerstellings wat hy so graag wou vernietig. Sy koninkryk, sy skatte, en selfs sy lewe het hy in die skaal gewerp om die ketterse leer uit te roei. Nou het hy gesien hoedat sy leers uitgeroei, sy skatkis leeggemaak, en sy baie koninkryke met opstand bedreig word, terwyl die geloof wat hy so tevergeefs probeer het om te onderdruk orals uitgebrei het. Karel V, was besig om te veg teen die Almagtige. God het gesê, “Laat daar lig wees,” maar die keiser wou die duisternis laat voortduur. Hy het nie daarin geslaag nie; en, oud voor sy tyd, en uitgeput deur die lang stryd, het hy afstand gedoen van sy troon en homself in ‘n klooster teruggetrek.GS 243.1

    In Switserland, sowel as in Duitsland, het daar donker dae vir die Hervorming aangebreek. Terwyl baie van die provinsies die Hervormde geloof aangeneem het, het ander met blinde volharding vasgeklem aan die geloof van Rome. Hulle vervolging van diegene wat die waarheid voorgestaan het, het eindelik aanleiding gegee tot burgeroorlog. Zwingli, en baie wat met hom saamgestaan het in sy Hervorming, het op die bloedige slagveld van Kappel geval. (Ecolampadius, oorweldig deur die vreeslike rampe, is kort daarna dood. Rome het gejuig, en op baie plekke het dit geskyn of hy alles sou terugwin wat hy verloor het. Maar Hy wie se raadsbesluite ewig is, het nie Sy saak of Sy volk verlaat nie. Sy hand sou hulle verlos. Hy het in ander lande werkers opgerig om die Hervorming voort te sit.GS 244.1

    In Frankryk, nog voor die naam van Luther as Hervormer gehoor is, het die dag alreeds begin breek. Een van die eerstes wat die lig gesien het, was die bejaarde Lefevre, ‘n geleerde man, ‘n hoogleraar aan die Universiteit van Parys, en ‘n opregte en ywerige Katoliek. In sy navorsings in die ou geskrifte is sy aandag op die Bybel gevestig, en hy het die studie daarvan ingevoer onder sy studente.GS 244.2

    Lefevre was ‘n geesdriftige aanbidder van die heiliges, en hy het onderneem om ‘n geskiedenis te skryf van die heiliges en die martelare, soos opgeneem is in die legendes van die kerk. Dit was ‘n veeleisende taak; hy het alreeds ver daarmee gevorder, toe hy, menende dat hy goeie hulp uit die Bybel sou verkry, begin het om daardie boek te ondersoek met hierdie doel voor oë. Hier het hy inderwaarheid heiliges aangetref, maar nie soos die wat in die Roomse Kalender voorgekom het nie. ‘n Vloed van goddelike lig het op hom geskyn. Met verbasing en veragting het hy sy selfopgelegde taak versaak, en hom gewy aan die woord van God. Die kosbare waarhede wat hy daar ontdek het, het hy eerlank begin verkondig.GS 244.3

    In die jaar 1512, nog voor Luther of Zwingli met die Hervorming begin het, het Lefevre geskryf: “Dit is God wat aan ons, deur geloof, daardie geregtigheid gee wat ons alleen regverdig kan maak tot die ewige lewe.”— Wylie, boek XIII, hoojstuk 1. Peinsende oor die verborgenhede van die verlossing, het hy uitgeroep, “o, die onuitspreeklike grootheid van daardie ruiling -— die sondelose Een is veroordeel, en hy wat skuldig is, gaan vry; die Geseënde dra die vloek, en die vervloekte kry die seen; die Lewe sterf en die dode lewe; die Heerlikheid is deur die duisternis oorweldig, en diegene wat niks as beskaamdheid ken nie, word met heerlikheid beklee.”— D’Aubigne, boek XII, hoojstuk 2. Londense ed.GS 244.4

    Terwyl hy geleer het dat die heerlikheid van die verlossing alleen aan God behoort, het hy ook geleer dat die plig van gehoorsaamheid aan die mens behoort. “As u ‘n lid van Christus se kerk is,” het hy gesê, “is u lid van Sy liggaam; as u van Sy liggaam is, dan is u vol van die goddelike natuur. ... O, as mense hierdie voorreg maar kon verstaan, hoe rein, kuis, en heilig sou hulle lewe, en hoe veragtelik sou hulle al die heerlikheid van hierdie wêreld beskou, vergeleke met die heerlikheid binne-in hulle — die heerlikheid wat die vleeslike oog nie kan sien nie.”—Idem.GS 245.1

    Onder die studente van Lefevre was daar sommige wat gretig na sy woorde geluister het, en wat, lank na die leraar se stem stil was, sou voortgaan om die waarheid te verkondig. Een van hulle was Willem Farel. Die seun van vrome ouers, en geleer om die leerstellings van die kerk met onvoorwaardelike geloof aan te neem, kon hy, saam met die apostel Paulus van homself sê dat hy, “volgens die strengste party van ons godsdiens as Fariseër geleef het.” Hand. 26: 5. ‘n Toegewyde Katoliek, het hy gebrand met ‘n ywer om almal te vernietig wat dit sou durf om die kerk te weerstaan. “Ek het my tande gekners soos ‘n wrede wolf,” het hy later gesê, sprekende van hierdie tydperk van sy lewe, “as ek enigeen hoor praat teen die Pous.”— Wylie, boek XIII, hoojstuk 2.Hy was onvermoeid in sy ywer om die heiliges te aanbid, en saam met Lefevre het hy die ronde gedoen van Parys se kerke, by hulle altare aanbid, en die beelde van die heiliges versier met gifte. Maar hierdie gebruike kon nie vrede aan sy siel bring nie. ‘n Oortuiging van sonde het hom beetgepak, en al sy boetedoening was nie in staat om dit te verban nie. Soos na ‘n stem uit die hemel het hy geluister na die Hervormer se woorde: “Die saligheid is uit genade.” “Die Onskuldige is veroordeel, en die misdadiger vrygespreek.” “Dit is die kruis van Christus alleen wat die poorte van die hemel oopmaak en die poorte van die hel sluit.”— Wylie, boek XIII, hoojstuk 2.GS 245.2

    Farel het die waarheid met blydskap aangeneem. Deur ‘n bekering soos die van Paulus, is hy verlos uit die slawerny van tradisie, tot die vryheid van die seuns van God. “In stede van die moordlustige hart van ‘n verskeurende wolf het hy teruggekom,” sê hy, “tot die stilheid van ‘n sagmoedige en onskadelike lam, met ‘n hart heeltemal afgewend van die Pous, en oorgegee aan Jesus Christus.”— D’Aubigne, boek XII, hoojstuk 3.GS 246.1

    Terwyl Lefevre voortgegaan het om die waarheid te versprei onder sy studente, het Farel, nou net so ywerig vir die saak van Christus as hy was in die van die Pous, voortgegaan om die waarheid in die openbaar te verkondig. ‘n Waardigheidsbekleër van die kerk, die biskop van Meaux, het kort daarna by hulle aangesluit. Ander leraars wat hoog gestaan het vir hulle bekwaamheid en geleerdheid, het aangesluit in die verkondiging van die evangelie, en onder alle klasse is daar bekeerlinge gemaak — uil die huise van ambagsmanne en arbeiders en selfs in die paleis van die koning. Die suster van Frans I, die regerende vors, het die hervormde waarheid aangeneem. Die koning self, en die koninginmoeder, het die geloof vir ‘n tyd met guns bejeën, en met groot hoop het die Hervormers uitgesien na die tyd wanneer Frankryk tot die evangelie gewin sou word.GS 246.2

    Maar hulle hoop sou nie verwesenlik word nie. Beproewing en vervolging het die dissipels van Christus gewag. Dit, egter, was genadiglik vir hulle verberg. Daar het ‘n tyd van vrede aangebreek waarin hulle kragte sou versterk word om die storm te trotseer; en die Hervorming het spoediger vooruitgang gemaak. Die biskop van Meaux het ywerig in sy eie bisdom gewerk om geestelikes sowel as leke te onderrig. Onkundige en onsedelike priesters is verwyder, en, sover moontlik, vervang deur vrome en geleerde manne. Die biskop was baie begerig dat sy mense vir hulleself toegang sou hê tot die woord van God, en dit is eerlank bewerkstellig. Lefevre het onderneem om die Nuwe Testament te vertaal. En op dieselfde tyd toe Luther se Duitse Bybel verskyn het in Wittenberg, is die Franse Nuwe Testament op Meaux uitgegee. Die biskop het geen arbeid of koste gespaar om die Bybel onder sy gemeente te versprei nie, en die boerebevolking van Meaux was gou in besit van die Heilige Skrifte.GS 246.3

    Soos reisigers wat op die punt staan om van dors om te kom ‘n waterfontein verwelkom, so het hierdie siele die hemelse boodskap aangeneem. Die arbeiders op die lande, die ambagsmanne in die werkswinkels, het hulle daelikse arbeid ligter gemaak deur te gesels oor die heerlike waarhede van die Bybel. Saans, in stede om na die drinkplekke te gaan, het hulle in mekaar se huise vergader om Gods woord te lees, en saam te bid en lofsange te sing. In hierdie gemeenskappe het daar eerlank ‘n groot verandering gekom. Hoewel hulle aan die eenvoudigste klas behoort het, ‘n ongeleerde en hardwerkende boerestand, is die hervormende, opheffende krag van goddelike genade in hulle lewens gesien. Xederig, liefdevol, en heilig, het hulle getuig vir wat die evangelie kan uitrig vir diegene wat dit in opregtheid aanneem.GS 247.1

    Die lig wat op Meaux aangesteek is, het sy strale ver uitgeskiet. Die getal bekeerlinge het daeliks vermeerder. Die woede van die hiërargie is vir ‘n tyd in bedwang gehou deur die koning, wat die enge dwepery van die monnike verag het; maar die pouslike leiers het eindelik die (.orhand gekry. Daar is brandstapels opgerig. Die biskop van Meaux, gedwing om te kies tussen die brandstapel en herroeping, het die makliker weg gekies; maar nieteenstaande die leier se val nie, het sy skape onwrikbaar gestaan. Baie het vir die waarheid getuig in die vlamme. Deur hulle moed en getrouheid op die brandstapel, het hierdie nederige Christene tot duisende gespreek wat in die dae van vrede nooit hulle getuienis gehoor het nie.GS 247.2

    Dit was nie alleen die nederiges en armes wat te midde van die lyding en veragting vir Christus getuig het nie. In die pragtige sale van kasteel en paleis was daar koninklike siele wat die waarheid waardeer het bokant rykdom of stand of selfs die lewe. Koninklike wapenrusting het ‘n edeler en getrouer hart bedek as die biskopskleed. Lodewyk de Berquin was van edele afkoms, ‘n dapper en hoflike ridder, toegewy aan studie, beskaafd, en van onbesproke karakter. Van hom het ‘n skrywer gesê, “hy was ‘n. ywerige handhawer van die pouslike instellings, en ‘n getroue bywoner van die mis en die preekdienste; . . . en hy het al sy ander deugde gekroon met ‘n besondere afsku van Lutheranisme.” Maar soos soveel ander wat deur die Voorsienigheid tot die Bybel gelei is, was hy verbaas om daar te vind, “nie die leerstellings van Rome nie, maar die leerstellings van Luther.” Wylie, boek XIII, hoojstuk 9. Voortaan het hy homself heeltemal gewy aan die saak van die evangelie.GS 247.3

    “As een van die geleerdste edelliede van Frankryk,” het sy genie en welsprekendheid, en onwrikbare moed en ywer, en sy invloed aan die hof — want hy was ‘n gunsteling van die koning— baie beweeg om hom te beskou as die aangewese Hervormer van sy land. Van hom het Beza gesê, “as Frans I, vir hom ‘n tweede keurvors kon gewees het, sou Berquin ‘n tweede Luther gewees het.” “Hy is erger as Luther,” het die pousgesindes uitgeroep.Ibid. Inderwaarheid is hy meer as Luther deur die pousgesindes van Frankryk gevrees. Hulle het hom in die gevangenis gewerp as ‘n ketter, maar die koning het hom weer vrygelaat. Vir jare het die stryd voortgeduur. Frans, wat gehink het tussen Rome en die Hervorming, het om die beurt die vurige ywer van die monnike geduld en teruggehou. Berquin is driemaal deur die pouslike owerhede in die gevangenis gewerp, om elke maal weer deur die koning vrygelaat te word, wat, uit bewondering vir sy genie en edelheid van karakter, geweier het om hom op te offer aan die kwaadaardigheid van die hiërargie.GS 248.1

    Berquin is herhaaldelik gewaarsku van die gevaar wat hom in Frankryk bedreig het, en daar is by hom aangedring om diegene te volg wat veiligheid gaan soek het in vrywillige ballingskap. Die bange en mensvresende Erasmus, wat met al die glans van sy geleerdheid die sedelike grootheid gemis het wat waarheid hoër ag as eer en die lewe, het aan Berquin geskryf: “Vra om as gesant na ‘n vreemde land gestuur te word; gaan reis in Duitsland. Jy ken mos vir Beda en ander soos hy—hy is ‘n duisendhoofdige monster wat gif in alle rigtings spuug. Jou vyande is legio. Al sou jy ook ‘n beter saak gehad het as Jesus Christus, sou hulle nie rus totdat hulle jou op ellendige wyse om die lewe gebring het nie. Moenie te veel vertrou op die beskerming van die koning nie. Wat jy ookal doen, moet my nie in gevaar bring by die fakulteit van teologie nie.”— Wylie, boek XIII, hoojstuk 9.GS 248.2

    Namate die gevare vermeerder het, het Berquin se ywer groter, geword. Verre daarvandaan om die verstandige en selfsugtige raad van Erasmus aan te neem, het hy besluit op nog stoutmoediger maatreëls. Nie alleen sou hy die waarheid verdedig nie, maar hy sou dwaalleer aanval. Die beskuldiging van kettery wat die Roomsgesindes getrag het om teen hom te bewys, sou hy op hulle terugwerp. Sy bedrywigste en bitterste vyande was die geleerde doktore en monnike van die teologiese afdeling van die groot Universiteit van Parys, een van die hoogste gesagvoerende liggame in daardie stad sowel as onder die volk. Uit die geskrifte van hierdie doktore, het Berquin twaalf stellings ontleen wat hy in die openbaar verklaar het as “teenstrydig met die Bybel, en ketters;” en hy het ‘n beroep op die koning gedoen om die saak te besleg. GS 248.3

    Die koning, wat nie ongeneig was om die krag en skranderheid van die strydende partye teenoor mekaar gestel te sien nie, en ook bly oor die kans om die trots en hoogmoed van die monnike te verneder, het die Roomsgesindes beveel om hulle saak met die Bybel te verdedig. Hulle het goed geweet dat hierdie wapen hulle weinig sou baat; gevangenisstraf, marteling, en die brandstapel was wapens wat hulle baie beter kon hanteer. Nou was die bordjies verhang, en hulle het besef dat hulle op die punt gestaan het om in die put te val waarin hulle gehoop het om Berquin te stoot. Met ontsteltenis het hulle na ‘n uitweg begin soek.GS 249.1

    , Juis in daardie tyd is ‘n beeld van die Maagd op een van die straathoeke beskadig.” Daar was groot opgewondenheid in die stad. Menigtes het na die plek gestroom, waar hulle hulle rou betoon en verontwaardiging uitgedruk het. Die koning was ook baie ontsteld. Hier was iets waaruit die monnike goeie munt kon slaan, en hulle het ook nie op hulle laat wag nie. “Dit is die vrugte van die leerstellings van Berquin,” het die monnike uitgeroep. “Alles sal omver gewerp word — godsdiens, wette, en selfs die troon — deur hierdie Lutherse sameswering.”— Wylie, boek XIII, hoojstuk 9.GS 249.2

    Weer is Berquin in hegtenis geneem. Die koning het Parys verlaat, en die monnike is dus vrygelaat om te handel soos hulle wou. Die Hervormer is verhoor en tot die dood veroordeel; en om te verhoed dat Frans tussenbei tree om hom te red, het hulle die vonnis sommer daardie selfde dag voltrek. Berquin is op die middag na die brandstapel gelei. ‘n Groot skare het saamgekom om die toneel te aanskou, en daar is baie wat met ontsteltenis gesien het dat die slagoffer geneem was uit een van die beste en dapperste adelfamilies van Frankryk. Ontsteltenis, verontwaardiging, afsku, en bittere haat het die harte vervul van daardie golwende menigte; maar daar was een gesig waarop geen skaduwee geval het nie. Die martelaar se gedagtes was ver verwyderd van hierdie oproerige toneel; hy was alleen bewus van die teenwoordigheid van sy Here.GS 249.3

    Die ellendige kar waarop hy gery het, die fronsende gesigte van sy vervolgers, die verskriklike dood wat hy tegemoetgegaan het — op hierdie dinge het hy nie aggeslaan nie; Hy wat dood was en lewe, en wat in ewigheid sal lewe, en wat die sleutels van die dood en die hel het, was aan sy sy. Berquin se gelaat het gestraal van die lig en vrede van die hemel. Hy het homself goed aangetrek, met “‘n fluweel mantel, ‘n wambuis van satyn en damas, en met goudgeel kouse.”— D’Aubigne, “History oj the Reformation in the Time oj Calvin,” boek II, hoojstuk 16. Hy sou vir sy geloof getuig voor die Koning van die konings en die toeskouwende heelal, en geen teken van rou moes sy blydskap bederf nie.GS 250.1

    Terwyl die stoet stadig deur die vol strate beweeg het, het die volk die groot vrede, en blye triomf van sy uitdrukking en gedrag met bewondering aanskou. “Hy is soos een wat in ‘n tempel sit en peins oor heilige dinge,” het hulle gesê.(Wylie, boek XIII, hoojstuk 9.)GS 250.2

    Op die brandstapel het Berquin probeer om die mense toe te spreek; maar die monnike, bang vir die gevolge, het begin skree, en die soldate het met hulle wapens gekletter sodat die martelaar se stem nie gehoor kon word nie. In die jaar 1529 het die hoogste letterkundige en geestelike gesag van die geleerde Parys, aan die volk van 1793 die lae voorbeeld gegee om selfs op die skavot die heilige woorde van sterwendes stil te maak.!’— Wylie, boek XIII, hoojstuk 9.GS 250.3

    Berquin is verwurg, en sy liggaam is deur die vlamme verteer. Die tyding van sy dood het deur die hele Frankryk groot verdriet veroorsaak onder die vriende van die Hervorming. Maar sy voorbeeld was nie tevergeefs nie. “Ons ook is gereed,” het die getuies van die waarheid gesê, “om die dood blymoedig tegemoet te gaan, met ons oë gevestig op die lewe hiernamaals.”— D’Aubigne, “History oj the Reformation in the Time of Calvin,” boek II, hoofstuk 16.GS 250.4

    Tydens die vervolging op Meaux is die predikersliksense van die leraars van die hervormde geloof weggeneem, en hulle het na ander arbeidsvelde vertrek. Na ‘n tyd het Lefevre na Duitsland gegaan. Farel is na sy geboortedorp in oostelike Frankryk om die lig van die waarheid te versprei. Die mense daar het alreeds gerugte gehoor van wat op Meaux plaasgevind het, en die waarheid wat hy met sulke stoutmoedige ywer verkondig het, het baie hoorders getrek. Die owerheid het hom gou stilgemaak, en hy is uit die stad verban. Hoewel hy nie meer in die openbaar kon werk nie, het hy op die platteland in private wonings en in die dorpies geleer; en hy het skuiling gevind in die bosse en spelonke van die plekke wat hy in sy kinderjare besoek het. God was besig om hom te berei vir nog groter beproewings. “Die kruise, vervolgings, en knoeiery van Satan — dinge waarteen ek gewaarsku is — het nie uitgebly nie,” het hy gesê; “hulle is selfs swaarder as wat ek uit die krag kan dra; maar God is my Vader; Hy voorsien die krag wat ek nodig het, en sal dit altyd voorsien.” — D’Aubigne, boek XII, hoofstuk 9.GS 251.1

    Net soos in die tyd van die apostels, het vervolging “eerder op ‘n bevordering van die evangelie uitgeloop.” Filip. 1: 12. Verdryf van Parys en Meaux, “het die wat verstrooi was die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig.” Hand. 8: 4. Op hierdie manier het die lig deurgedring tot baie van die afgeleë provinsies van Frankryk.GS 251.2

    God het nog meer werkers berei om sy saak uit te brei. In een van die skole van Parys was daar ‘n stil, ernstige jongeling wat reeds blyke gegee het van ‘n sterk ondersoekende gees, en wat ook gekenmerk is sowel vir sy onbesproke lewe as vir sy studieywer en godsdienstige toewyding. Sy genie en leergierigheid het hom spoedig die trots van die kollege gemaak, en met vertroue is daar verwag dat Johannes Calvyn een van die bekwaamste en geëerdste verdedigers van die kerk sou word. Maar selfs binne die mure van die skolastiek en bygeloof het daar ‘n goddelike ligstraal deurgedring wat om Calvyn geskyn het. Met ‘n rilling het hy van die nuwe leerstellings gehoor, en hy het nie daaraan getwyfel nie dat die ketters die vuur verdien het waarvan hulle die slagoffers geword het. Maar tog is hy onwetend in aanraking gebring met die kettery, en hy is gedwing om die krag van die Roomse godsdiens te toets in die bestryding van die Protestantse leer.GS 251.3

    ‘n Neef van Calvyn, wat by die hervormers aangesluit het, was in Parys. Hierdie twee bloedverwante het mekaar dikwels ontmoet en die dinge bespreek wat die Christelike geloof in beroering gebring het. “Daar is net twee godsdienste in die wêreld” het Olivetanus, die Protestant, gesê. “Die een is die godsdiens wat deur mense uitgedink is, en in almal waarvan die mens homself red deur seremonies en goeie werke; die ander is die een godsdiens wat in die Bybel geopenbaar is, en wat die mens leer om homself uitsluitlik op die vrye genade van God te werp vir saligheid.”GS 252.1

    “Ek wil niks van jou nuwe leerstellings hoor nie,” het Calvyn uitgeroep; “dink jy dat ek al hierdie jare gedwaal het?”— Wylie, boek XIII, hoojstuk 7.GS 252.2

    Maar daar is gedagtes in hom opgewek wat hy nie so maklik kon afskud nie. Alleen in sy kamer het hy gepeins oor sy neef se woorde. Hy is oortuig van sonde; hy het homself gesien, sonder ‘n voorspraak, voor die heilige en regverdige Regter. Die middelaarskap van heiliges, goeie werke, die seremonies van die kerk, al hierdie dinge was magteloos om versoening te doen vir sy sonde. Voor hom kon hy niks sien as duisternis en ewige wanhoop nie. Tevergeefs het die doktore van die kerk probeer om sy smart te verlig. Belydenis, boetedoening, al hierdie dinge is tevergeefs probeer; hulle kon nie die siel met God versoen nie.GS 252.3

    Terwyl hy nog besig was met hierdie vrugtelose stryd, het Calvyn eendag toevallig een van die openbare pleine besoek, waar hy gesien het hoedat ‘n ketter verbrand is. Hy is met bewondering vervul oor die uitdrukking van vrede op die martelaar se gesig. Te midde van die foltering van daardie vreeslike dood, en onder die vreeslike veroordeling van die kerk, het hy ‘n geloof en moed aan die dag gelê wat die jong student met smart vergelyk het met sy eie wanhoop en duisternis, terwyl hy tog in nougesette gehoorsaamheid aan die kerk geleef het. Hy het geweet dat die ketters hulle geloof op die Bybel gegrond het. Hy het besluit om dit te ondersoek, en indien moontlik die geheim van hulle vreugde te ontdek.GS 252.4

    In die Bybel het hy Christus gevind. “0 Vader,” het hy uitgeroep, “Sy offer het U toorn bevredig; Sy bloed het my onreinheid afgewas; Sy kruis het my vloek gedra; Sy dood het vir my versoening gedoen. Ons het vir onsself baie nuttelose dwaashede uitgedink, maar U het U woord voor my soos ‘n fakkel geplaas, en U het my hart aangeraak, sodat ek alle verdienstes behalwe die van Jesus kan verafsku.”— Martyn, Deel III, hoojstuk 13.GS 253.1

    Calvyn is opgelei as priester. Toe hy slegs twaalf jaar oud was, het hy die kapelaan geword van ‘n klein gemeentetjie, en sy hoof is kaalgeskeer deur die biskop ooreenkomstig die wet van die kerk. Hy is nie georden nie, en het ook nie die pligte van ‘n priester vervul nie, maar hy het ‘n lid geword van die geestelikes, die titel van sy amp gedra, en uit hoofde daarvan het hy ‘n toelae gekry.GS 253.2

    Daar hy nou gevoel het dat hy nooit ‘n priester kon word nie, het hy wet begin studeer; maar eindelik het hy dit ook opgegee, en hy het besluit om sy lewe aan die evangelie te wy. Maar hy het geaarsel om in die openbaar op te tree as leraar. Van nature was hy skaam, en die gewig van sy verantwoordelikheid het swaar op hom gedruk; en daarby was hy begerig om nog verder te studeer. Eindelik, egter, het hy gehoor gegee aan die ernstige aandrang van sy vriende. “Wonderlik is dit,” het hy gesê, “dat iemand van so ‘n nederige afkoms tot sulke groot waardigheid verhef sou word.”— Wylie, boek XIII, hoojstuk 9.GS 253.3

    Stil het Calvyn sy werk aanvaar, en sy woorde was soos die verfrissende dou. Hy het Parys verlaat, en was nou in een van die provinsiale dorpe onder beskerming van prinses Margaretha, wat, daar sy die evangelie liefgehad het, die volgelinge daarvan beskerm het. Calvyn was maar nog ‘n jongeling met ‘n sagmoedige, stil voorkomste. Hy het onder die mense by hulle huise begin werk. Omring deur die lede van die huisgesin, het hy die Bybel gelees, en die waarhede van die saligheid verduidelik. Diegene wat die boodskap gehoor het, het die goeie tyding aan ander gebring, en gou het die leraar verder gegaan na die afgeleë dorpies. Hy het toegang gevind tot kasteel en hut, en hy het voortgegaan en die fondament van gemeentes gelê wat onverskrokke getuies vir die waarheid sou word.GS 253.4

    Na enige maande was hy weer terug in Parys. Daar was ‘n ongewone opskudding onder die geleerdes. Die studie van ou tale het mense tot die Bybel gebring, en baie wie se harte nie deur die waarhede daarvan aangeraak is nie, het hulle nogtans gretig bespreek en selfs die stryd aanvaar teen die voorvegters van die Roomse geloof. Calvyn, hoewel, ‘n bekwame vegter in teologiese geskille, het ‘n hoër roeping gehad as die van die luidrugtige geleerdes. Die gees van die mense is wakker geskud, en nou was dit die tyd om die waarheid aan hulle te verkondig. Terwyl die sale van die universiteite weerklink het van die geraas van teologiese twiste, het Calvyn van huis tot huis gegaan, die Bybel aan die mense geopen, en met hulle van Christus, die gekruisigde, gepraat.GS 254.1

    In die voorsienigheid van God, sou Parys weer ‘n uitnodiging kry om die evangelie aan te neem. Die oproep van Lefevre en Farel is verwerp, maar weer sou die boodskap gehoor word deur alle klasse in daardie hoofstad. Die koning, om politieke beweegredes, het tot dusver nog nie die kant van Rome gekies teen die Hervorming nie. Margaretha het nog gehoop dat Protestantisme in Frankryk sou seëvier. Sy het besluit dat die hervormde geloof in Parys moes verkondig word. In die afwesigheid van die koning het sy bevel gegee dat ‘n Protestantse predikant in die kerke van die stad moes preek. Maar aangesien die pouslike waardigheidsbekleërs dit verbied het, het die prinses die paleis oopgestel vir die doel. Een van die afdelings is ingerig as kapel, en daar is aangekondig dat daar op ‘n sekere tyd elke dag ‘n preek gelewer sou word; en die mense van alle range en stande is uitgenooi om die dienste by te woon. Skares het na die dienste gekom. Nie alleen die kapel nie, maar die voorkamers en sale was vol. Elke dag het daar duisende saamgekom — edelliede, staatsmanne, wetgeleerdes, koopmanne, en ambagsmanne. Die koning, pleks om die byeenkomste te verbied, het bevel gegee dat twee van die kerke in Parys geopen moes word. Nog nooit tevore is die stad so deur die woord van God geaffekteer nie. Dit het geskyn of die gees van die lewe uit die hemel op die mense neergedaal het. Matigheid, reinheid, ordelikheid, en arbeid het die plek ingeneem van dronkenskap, ontug, oproer, en ledigheid.GS 254.2

    Maar die hiërargie het nie stil gesit nie. Nog steeds het die koning geweier om die prediking te belet, en hulle het hulle toe beroep op die volk. Alle middels is gebruik om die vrees, die vooroordeel, en die fanatisme van die onkundige en bygelowige menigtes op te wek. Deur ‘n blindelingse oorgawe aan sy valse leraars, het Parys, net soos Jerusalem vanouds, nie die tyd van sy besoeking of die dinge wat tot sy vrede gedien het, geken nie. Vir twee jaar is die woord van God in die hoofstad verkondig; maar terwyl daar baie was wat die evangelie aangeneem het, het die meerderheid van die volk dit verwerp. By Frans was daar maar net ‘n skyn van verdraagsaamheid om sy eie belange te dien, en die pousgesindes het gou weer die oorhand gekry. Weer is die kerke gesluit, en brandstapels opgerig.GS 255.1

    Calvyn was nog in Parys besig om hom deur studie, oorpeinsing, en gebed te berei vir sy toekomstige werk; en hy het steeds die lig versprei. Eindelik, egter, het hy onder verdinking gekom. Die owerhede het besluit om hom aan die vlamme oor te gee. Daar hy gemeen het dat hy veilig was in sy afsondering, het hy nie die minste gevaar vermoed nie totdat vriende na sy kamer gehaas het met die berig dat dienaars op weg was om hom te arresteer. Op daardie oomblik is daar hard geklop aan die buitedeur. Daar was nie ‘n oomblik om te verkwis nie. Sommige van sy vriende het die dienaars by die deur besig gehou, terwyl ander die Hervormer gehelp het om deur ‘n venster af te sak; daarna het hy gehaas na die buitestad. Hy het skuiling gevind in die woning van ‘n arbeider wat die Hervorming goedgesind was; hy het die klere van sy gasheer aangetrek, en met ‘n skoffelpik op sy skouer het hy sy reis voortgesit. Hy het suidwaarts gereis, en skuiling gevind in die gebied van Margaretha.(Sien D’Aubigne, “History of the Reformation in the Time of Calvin,” boek II, hoofstuk 30.)GS 255.2

    Hier het hy vir ‘n paar maande gebly, onder beskerming van magtige vriende, en hy het sy studies voortgesit. Maar sy hart was op die evangelisasie van Frankryk, en hy kon nie lank stil sit nie. Sodra die storm enigsins bedaar het, het hy ‘n nuwe arbeidsveld gesoek in Poitiers, waar daar ‘n universiteit was, en waar sy nuwe leer reeds met guns bejeën is. Persone van alle klasse het blymoedig na die evangelie geluister. Daar was nie openbare dienste gehou nie, maar in die huis van die hoofmagistraat, in sy eie herberg, en soms in ‘n openbare tuin, het Calvyn die woorde van die ewige lewe verkondig aan diegene wat dit graag wou hoor. Later, namate die getal hoorders uitgebrei het, is dit veiliger geag om buitekant die stad bymekaar te kom. In ‘n spelonk in die kant van ‘n nou kloof, waar bome en oorhangende rotse die plek bedek het, is byeenkomste gehou. Klein groepies, wat die stad met verskillende paaie verlaat het, het daar vergader. In hierdie afgeleë plek is die Bybel gelees en verdui-delik. Hier, vir die eerste keer, is die Here se Avondmaal gevier deur die Protestanie van Frankryk. Van hierdie gemeentetjie is verskeie getroue evangeliste uitgestuur.GS 255.3

    Weereens het Calvyn na Parys teruggegaan. Selfs toe nog kon hy nie die hoop opgee dat Frankryk as volk die Reformasie sou aanvaar nie. Maar hy het gevind dat byna alle deure teen hom gesluit was. Om die evangelie te verkondig sou hom reguit na die brandstapel gestuur het, en hy het eindelik besluit om na Duitsland te gaan. Hy was nog skaars van Frankryk weg toe daar ‘n storm oor die Protestante losgebars het, wat, as hy daar gebly het, gewis sy ondergang sou beteken het.GS 256.1

    Die Franse Hervormers, begerig dat hulle land tred sou hou met Duitsland en Switserland, het besluit om die bygeloof van Rome ‘n slag toe te dien wat die hele volk sou opwek. Gevolglik is daar een nag oor die hele Frankryk aanplakbiljette aangebring waarin die mis aangeval is. In stede dat dit die Hervorming aangehelp het, het hierdie stoutmoedige dog onverstandige daad die ondergang beteken nie alleen van die leiers nie, maar ook van al die vriende van die hervormde geloof in Frankryk. Dit het aan die Roomsgesindes juis die kans gegee waarop hulle so lank gewag het — naamlik ‘n voorwendsel om die totale uitroeiing van alle ketters te eis as oproermakers wat gevaarlik is vir die bestendigheid van die troon en die vrede van die volk.GS 256.2

    Deur ‘n geheime hand—of dit van ‘n listige vyand was of van ‘n onverstandige vriend, dit is nooit vasgestel nie—is een van die biljette aan die deur van die koning se private kamer geplak. Dit het die koning met afsku vervul. In hierdie dokument is bygelowe wat vir eeue lank geëer was, ongenadig aangeval. Die ongeëwenaarde stoutmoedigheid om hierdie duidelike en onsettende dinge aan die aandag van die koning op te dring, het sy toorn opgewek. In verbasing het hy vir ‘n tyd bewende en sprakeloos gestaan. Toe het sy woede uiting gevind in die volgende vreeslike woorde: “Laat almal wat verdink word van Luther se kettery sonder onderskeid in hegtenis geneem word. Ek sal hulle almal uitroei.” —D’Aubigne, “History oj the Reformation in the Time oj Calvin,” boek IV, hoofstuk 10.Die slag het geval. Die koning het besluit om hom geheelenal aan die kant van Rome te stel.GS 257.1

    Daar is dadelik stappe gedoen om alle Lutherane in Parys te arresteer. ‘n Arm ambagsman, ‘n belyer van die hervormde geloof, wat gewoonlik die gelowiges aangesê het wanneer daar ‘n geheime diens gehou sou word, is gegryp, en onder dreigement van die onmiddellike dood op die brandstapel, is hy beveel om die pouslike afgesant na die woning van elke Protestant in die stad te neem. Hy het met afsku teruggedeins vir hierdie lae werk, maar eindelik het die vrees vir die vlamme hom beweeg, en hy het ingestem om die verraaier van sy broeders te word. Voorafgegaan deur die hostie, en omring deur ‘n stoet van priesters, wierookdraers, monnike, en soldate, het Morin, die koninklike speurder, saam met die verraaier, langsaam en swygend deur die strate van die stad gestap. Die demonstrasie was skynbaar ter ere van die “heilige sakrament,” en ‘n boetedoening vir die belediging wat die mis aangedoen is deur die aanplakbiljette. Maar onder die praal van hierdie optog was daar ‘n dodelike doel verberg. Waar hulle voor die huis van ‘n Lutheraan gekom het, het die verraaier ‘n teken gegee, sonder om ‘n woord te uiter. Die optog het tot stilstand gekom, die huis is binnegegaan, en die gesin is gebind uitgesleep; daarna het die vreeslike prosessie voortgegaan op ‘n soek na verdere slagoffers. “Geen huis, groot of klein, selfs nie die kolleges van die Universiteit van Parys is oorgeslaan nie. . . . Morin het die stad laat bewe. . . . Dit was ‘n skrikbewind.” —Idem.GS 257.2

    Die slagoffers is deur wrede marteling om die lewe gebring. Daar is bevel gegee dat hulle stadig moes verbrand word om hulle lyding te verleng. Maar hulle het soos oorwinnaars gesterf. Hulle getrouheid was onwrikbaar en hulle vrede onbewolk. Hulle vervolgers, magteloos om hulle onwrikbare standvastigheid te laat wankel, het gevoel dat hulle die neerlaag gely het. “In alle dele van Parys is die skavotte opgerig, en die verbrandings het op agtereenvolgende dae geskied; die doel hiermee was om die verskrikking van die kettery te versprei deur dit oor ‘n lang tydperk uit te rek. Die uiteindelike voordeel, egter, was aan die kant van die evangelie. Die hele Parys is in staat gestel om te sien watter soort manne die nuwe geloof kon oplewer. Daar was geen preekstoel soos die brandstapel nie. Die kalme vrede wat die aangesigte van hierdie mense verlig het op weg . . . na die plek van teregstelling, hulle dapperheid in die vlamme, hulle sagmoedige vergifnis van die leed, het in baie gevalle die toorn in jammerte, en die haat in liefde verander, en dit het met ‘n onweerstaanbare welsprekendheid vir die evangelie gepleit.”— Wylie, boek XIII, hoojstuk 20. GS 258.1

    Die priesters, daarop uit om die woede van die volk op die hoogte punt te hou, het die verskriklikste beskuldigings teen die Protestante versprei. Hulle is beskuldig van sameswering om die Katolieke te vermoor, die regering omver te vverp, en om die koning te vermoor. Nie die geringste bewys kon aangevoer word om hierdie bewerings te staat nie. Maar hierdie bose voorstellings sou tog in vervulling tree, dog onder omstandighede heeltemal anders en ook om teenoorgestelde redes. Die wreedhede teenoor onskuldige Protestante gepleeg dear die Katolieke, het ‘n verskriklike weerwraak as gevolg gehad; en in later eeue moes die koning, sy regering, en sy onderdane, inderwaarheid die lot delf wat hulle voorspel het; maar dit is teweeggebring deur ongelowiges en deur die pousgesindes self. Dit was nie die bevestiging, maar die onderdrukking van Protestantisme wat ‘n driehonderd jaar later hierdie vreeslike onheile oor Frankryk sou bring.GS 259.1

    Agterdog, wantroue, en vrees het nou onder alle klasse geheers. Te midde van die algemene oproer is daar gesien hoe ‘n sterk houvas die Lutherse leer op die gemoed van manne gekry het wat vooraan gestaan het vir hulle opvoeding, hulle invloed, en hulle voortreflike karakter. Betrekkings van verantwoordelikheid en eer was skielik vakant. Ambagsmanne, drukkers, geleerdes, professore aan Universiteite, skrywers, en selfs howelinge het verdwyn, Honderde het uit Parys gevlug, selfgemaakte bannelinge, uit hulle geboorteland; en in baie gevalle was dit die eerste aanduiding dat hulle ten gunste van die hervormde geloof was. Die pousgesindes het verbaas gestaan by die gedagte aan die onverdagte ketters wat hulle in hulle midde gedoog het. Hulle woede is afgekoel op die menigte eenvoudige slagoffers wat binne hulle bereik was. Die tronke was vol, en selfs die lug was verduister deur die rook van die brandstapels w’aarop die belyers van die evangelie verbrand is.GS 259.2

    Frans I, het baie trots gevoel daarop dat hy ‘n leier was in die groot beweging vir die herlewing van die wetenskap wat die begin van die sestiende eeu gekenmerk het. Dit het hom groot genot verskaf om manne van geleerdheid uit alle lande na sy hof te nooi. Die verdraagsaamheid wat teenoor die Hervorming toegestaan is, kan ten dele toegeskryf word aan sy liefde vir geleerdheid en sy veragting van die onkunde en bygeloof van die monnike. Maar, besiel met ‘n ywer om kettery te verdelg, het hierdie beskermer van die wetenskap ‘n edik uitgevaardig wat die drukkuns oor die hele Frankryk afgeskaf het! Frans I, gee ons een van baie voorbeelde wat aantoon dat intellektuele kultuur geen vrywaring is teen godsdienstige onverdraagsaamheid en vervolging nie.GS 259.3

    Deur ‘n plegtige openbare seremonie sou Frankryk homself heeltemal oorgee aan die vernietiging van Protestantisme. Die priesters het daarop aangedring dat die belediging wat die Hemel aangedaan is, deur die veroordeling van die Mis, deur bloed moes uitgewis word, en die koning, namens sy volk, het sy openbare toestemming gegee tot hierdie vreeslike werk.GS 260.1

    Die 21ste Januarie 1535, is vasgestel vir hierdie gruwelike plegtigheid. Die bygelowige vrees en die dweepsieke haat van die hele volk is opgewek. Parys het gewemel van die menigtes wat uit alle dele van die omliggende streke gekom het. Die dag sou begin met ‘n groot en indrukwekkende optog. “Die huise in die strate waarlangs die optog sou gaan is in floers gehul, en op sekere afstande is daar altare opgerig.” Voor elke deur was daar ‘n brandende fakel ter ere van die “heilige sakrament.” Die optog het voor dagbreek by die paleis van die koning begin. “Vooraan was die baniere en kruise van die verskillende bisdomme; daarna het die burgers gekom, wat twee-twee geloop het met brandende fakkels.” Die vier monnike-ordes het gevolg, uitgedos in hulle spesiale drag. Toe het ‘n groot versameling van beroemde relikwieë gevolg. Dit weer is gevolg deur die hoë geestelikes in hulle purper en skarlaken klere versier met hulle juwele —‘n grootse en skitterende vertoning.GS 260.2

    “Die hostie is gedra deur die biskop van Parys onder ‘n pragtige kanopie, . . . bygestaan deur vier van die koningseuns . . . agter die hostie het die koning . . . Frans I, geloop wat op daardie dag geen kroon of koninklike kleed gedra het nie.” Met “ontblote hoof, sy oë op die grond gerig, en met ‘n brandende kers in sy hand,” het die koning van Frankryk verskyn “in die hoedanigheid van ‘n boeteling.”—Wylie, boek XIII, hoojstuk 21.By elke altaar het hy in verootmoediging neergebuig, nie vir die sondes wat sy siel besoedel het nie, ook nie vir die onskuldige bloed wat sy hande bevlek het nie, maar vir die dodelike sonde van sy onderdane wat dit gewaag het om die mis te veroordeel. Hy is gevolg deur die koningin en die waardigheidsbekleërs van die staat, wat twee-twee geloop het, elkeen met ‘n brandende fakkel.GS 261.1

    As deel van die verrigtings van die dag, het die koning self die hoë beamptes van die ryk in die groot saal van die biskop se paleis toegespreek. Met ‘n droewige gelaat het hy voor hulle verskyn, en in treffende woorde het hy “die misdaad, die godslastering, en die dag van droefheid en skande,” betreur wat oor die volk gekom het. Hy het ‘n beroep op elke getroue onderdaan gedoen om te help met die uitroeiing van die verpestelike kettery wat Frankryk met ondergang bedreig het. “Sowaar, here, as wat ek julle koning is,” het hy gesê, “as ek weet dat een van my eie ledemate besmet of aangesteek is met hierdie veragtelike bederf, sou ek dit aan julle gee om af te sny . . . en wat meer is, as ek sien dat een van my kinders daarmee besoedel is, sou ek hom nie spaar nie . . . ek sou hom self uitlewer en aan God offer.” Trane het hom verstik, die hele vergadering het geween, en soos met een stem het hulle uitgeroep, “ons sal lewe en ons sal sterf vir die Katolieke godsdiens!”—D’Aubigne, “History of the Reformation in the Time oj Calvin,” boek IV, hoojstuk 12.GS 261.2

    Vreeslik was die duisternis van die volk wat die lig van die waarheid verwerp het. “Die saligmakende genade” is geopenbaar; maar Frankryk, nadat hy die krag en heiligheid daarvan gesien het, nadat duisende aangetrek is deur die goddelike skoonheid daarvan, nadat stede en dorps daardeur verlig is, het hom daarvan afgewend, en die duisternis verkies liewer as die lig. Hulle het die hemelse gawe verwerp toe dit hulle aangebied is. Hulle het kwaad goed, en goed kwaad genoem, totdat hulle die slagoffers geword het van hulle eie moedswillige selfbedrog. En nou, al het hulle ook inderwaarheid geglo dat hulle aan God ‘n diens bewys het deur Sy volk te vervolg, sou hulle opregtheid hulle nie onskuldig maak nie. Die lig wat hulle sou beskerm het teen bedrog en die bevlekking van hulle siel met bloed, het hulle moedswillig verwerp.GS 262.1

    In die groot katedraal, waar die “Godin van Rede” byna drie eeue later gekroon is deur ‘n volk wat die lewende God vergeet het, is daar ‘n plegtige eed gesweer om kettery uit te roei. Weer het die optog begin, en die verteenwoordigers van Frankryk het begin met die werk wat hulle gesweer het om te doen. “Op kort afstande is daar skavotte opgerig waarop sekere Protestantse Christene lewendig sou verbrand word; en daar is reelings getref om die hout aan die brand te steek sodra die koning die plek genader het, en dat die optog daar sou stilhou om die verbranding te sien.”— Wylie, boek XIII, hoofstuk 21.Die besonderhede van die marteling wat verduur is deur hierdie getuies vir Christus is te vreeslik om te beskryf; maar daar was geen wankeling aan die kant van die slagoffers nie. Toe by hom aangedring is om te herroep, het een geantwoord: “Ek glo slegs wat die profete en die apostels voorheen verkondig het en wat al die heiliges geglo het. My geloof het ‘n vertroue in God wat al die magte van die hel sal weerstaan.”— D’Aubigne, “History of the Reformation in the Time of Calvin,” boek IV, hoofstuk 12.GS 262.2

    Keer op keer het die optog tot stilstand gekom by die plekke van marteling. Toe hulle weer die plek bereik het vanwaar die optog begin het, naamlik die koninklike paleis, het die skare uitmekaar gegaan, en die koning en die prelate het hulle onttrek, heeltemal tevrede met die verrigtings van die dag, en hulleself gelukwensende dat die werk wat nou begin is sou voortgaan om die vernietiging van die kettery te voltooi.GS 262.3

    Die evangelie van vrede wat Frankryk verwerp het, sou ekerlik uitgeroei word, en vreeslik sou die gevolge wees. Op 21 Januarie 1793, presies tweehonderd-agt-en-vyftig jaar van die dag af waarop Frankryk hom ten voile oorgegee het aan die vervolging van die Hervormers, het ‘n ander optog, met ‘n heeltemal ander doel, deur die strate van Parys gestap. “Weer was die koning die hooffiguur; weer was daar oproer en geskree; weer is die roepstem gehoor om meer slagoffers; weer was daar swart skavotte; en weer is die tonele van die dag afgesluit met vreeslike teregstellings. Lodewyk XVI, in ‘n handgemene stryd gewikkel met sy tronkbewaarders en laksmanne, is na die blok gesleep, en daar is hy vasgedruk totdat die valbyl sy kop van die skavot laat rol het.”—Wylie, boek XIII, hoojstuk 21.Die koning was nie die enigste slagoffer nie. Naby dieselfde plek is tweeduisend agthonderd mense om die lewe gebring deur die guillotine gedurende die bloedige dae van die Skrikbewind.GS 263.1

    Die Hervorming het aan die wêreld ‘n ope Bybel gegee, wat die wet van God geopenbaar het, en die aansprake daarvan op die gewetens van die mense, voorgehou. Ewige Liefde het aan die mense die verordeninge en beginsels van die hemel geopenbaar. God het gesê: “Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insetteninge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ‘n wyse en verstandige volk.” Deut. 4: 6. Toe Frankryk die gawe van die hemel verwerp het, het hy die saad van anargie en ondergang gesaai; en die onvermydelike uitwerking van die wet van oorsaak en gevolg het geëindig in die Rewolusie en die Skrikbewind.GS 263.2

    Lank voor die vervolging wat deur die biljette ontstaan het, is die stoutmoedige en ywerige Farel gedwing om uit sy geboorteland te vlug. Hy het na Switserland gegaan, en deur sy arbeid en bystand van die werk van Zwingli, het hy gehelp om die skaal ten gunste van die Hervorming te laat swaai. Hy sou sy later jare daar deurbring, maar nog het hy ‘n bepaalde invloed uitgeoefen op die Hervorming in Frankryk. Gedurende die eerste jare van sy ballingskap, was sy pogings veral gerig op die verspreiding van die evangelie in sy geboorteland. Hy het baie van sy tyd bestee aan prediking onder sy landgenote naby die grens, vanwaar hy met onvermoeide waaksaamheid die stryd gadegeslaan het en dit aangehelp het deur woorde van bemoediging en raadgewing. Met behulp van ander bannelinge, is die geskrifte van die Duitse Hervormers in Frans vertaal, en saam met die Franse Bybel is hulle in groot hoeveelhede gedruk. Deur middel van kolporteurs is hierdie drukwerk orals in Frankryk versprei. Die leesstof is aan die kolporteurs teen ‘n geringe prys verkoop, en daardeur kon hulle die werk voortsit met die profyt wat hulle gemaak het.GS 263.3

    In Switserland het Farel as nederige onderwyser gewerk. In ‘n afgeleë bisdom het hy hom gewy aan die onderrig van die kinders. Behalwe die gewone onderwerpe, het hy ook Bybelse waarhede versigtig geleer, hopende om die ouers deur die kinders te bereik. Daar was sommige wat geglo het, maar die priesters het die werk gestop, en die bygelowige plattelandse bevolking het die werk teengestaan. “Dit kan nie die evangelie van Christus wees nie,” het die priesters gesê, “aangesien die verkondiging daarvan nie vrede bring nie, maar oorlog.”—Wylie, boek XIV, hoojstuk 3. Net soos die eerste dissipels, het hy, as hy in een stad vervolg is, na ‘n ander gevlug. Van stad tot stad en van dorp tot dorp het hy gegaan; hy het te voet gereis, honger gely, en koud gekry, en orals was sy lewe in gevaar. Hy het op die markplase gepreek, in die kerke, en soms van die kansels van die katedrale. Soms het hy ‘n leë kerk gevind; soms is sy prediking onderbreek deur ‘n geskree en gespot; weer is hy met geweld uit die preekstoel geruk. Meer as eenmaal het die gepeupel hom toegetakel en byna doodgeslaan. Maar hy het voortgegaan. Hoewel hy dikwels teruggedryf is, het hy met onvermoeide volharding teruggekom om aan te val. En hy het gesien hoedat die dorpe en stede wat eentyd vestings van die pousdom was die een na die ander hulle poorte vir die evangelie oopmaak. In die bisdom waar hy eerste begin werk het, is die hervormde geloof spoedig aangeneem. Die stede van Morat en Neufchatel het ook die Roomse rites versaak en die afgodiese beelde uit hulle kerke verwyder.GS 264.1

    Farel het lank reeds ‘n begeerte gehad om die Protestantse vaandel in Geneve te plant. As hierdie stad gewin kan word, sou dit ‘n sentrum vir die Hervorming in Frankryk, Switserland, en Italië word. Met hierdie doel voor oë, het hy sy werk voortgesit tot baie van die omliggende dorpe en nedersittings gewin is. Daarna is hy, met net een metgesel, na Geneve; hy is daar toegelaat om net twee preke te lewer. Die priesters wat tevergeefs probeer het om sy veroordeling deur die burgerlike owerhede te bewerkstellig, het hom voor ‘n geestelike vergadering gedaag, waarheen hulle gekom het met wapens onder hulle klere verberg, vasbeslote om hom om die lewe te bring. Buitekant die saal het ‘n verwoede volksmenigte saamgedrom, met stokke en swaarde om sy dood te verseker as hy miskien uit die vergadering sou ontsnap. Die teenwoordigheid van magistrate en ‘n gewapende mag het egter sy lewe gered. Vroeg die volgende more is hy en sy maat oor die meer geneem na ‘n plek van veiligheid. En so het sy eerste poging geëindig om die evangelie in Geneve te verkondig.GS 265.1

    Vir die volgende poging is ‘n nederige werktuig gekies—‘n jongman, so nederig in voorkomste dat hy selfs deur die vriende van die Hervorming koel ontvang is. Maar wat sou so ‘n persoon kan doen op die plek waar Farel verwerp is? Hoe kan iemand met min moed en ondervinding die storm trotseer waarvoor die sterkstes en die dapperstes moes vlug? “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur My gees, sê die Here van die leërskare.” Sag. 4, 6. “Wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is te beskaam.” “Want wat dwaas is by God is wyser as die mense; en wat swak is by God is sterker as die mense.” 1 Kor. 1: 27, 25.GS 265.2

    Froment het sy werk begin as skoolmeester. Die waarhede wat hy aan die kinders op skool geleer het, het hulle in hulle huise herhaal. Baie gou het die ouers kom luister na die verduideliking van die Bybel, totdat die skoolkamer vol aandagtige hoorders was. Nuwe Testamente en traktate is vryelik uitgedeel, en hulle het baie bereik wat dit nie gewaag het om openlik na die nuwe leerstellings te kom luister nie. Na ‘n tyd is hierdie werker gedwing om te vlug; maar die waarhede wat hy geleer het, het ‘n indruk op die mense gemaak. Die Hervorming het wortelgeskiet en dit het gegroei en verbrei. Die predikers het teruggekom, en as gevolg van hulle werk is die Protestantse gods-diens eindelik in Geneve bevestig.GS 265.3

    Toe Calvyn, na baie omswerwings en wederwaardighede, die poorte binnekom, het die stad hom alreeds uitgespreek vir die Hervorming. Toe hy eentyd teruggekeer het van ‘n besoek aan sy geboorteplek, was hy op weg na Basel, máar toe hy vind dat die pad beset was deur die leers van Karel V, is hy gedwing om met ‘n omweg na Genëve te gaan.GS 266.1

    In hierdie besoek het Farel die hand van God gesien. Hoewel Geneve die Hervormde geloof aangeneem het, was daar nog ‘n groot werk om te doen. Dit is as indiwidue dat mense tot bekering moet kom en nie as gemeenskappe nie; die wedergeboorte is iets wat in die hart en in die gewete deur die krag van die Heilige Gees bewerk word, en nie deur dekrete of konsilies nie. Hoewel die mense van Geneve die gesag van Rome verwerp het, was hulle nie so gereed om die euwels te versaak wat daar geheers het nie. Om die rein beginsels van die evangelie hier te bevestig, en om hierdie mense te berei om op waardige wyse die plek in te neem waartoe die Voorsienigheid hulle geroep het, was nie ‘n maklike taak nie.GS 266.2

    Farel was oortuig dat hy in Calvyn iemand gevind het wat hom kon help in hierdie werk. In die naam van God het hy die jong evangelis ernstig versoek om daar te bly en te werk. Hiervoor het Calvyn teruggedeins. Bedees en vredeliewend, het hy teruggedeins vir die aanraking met die stoutmoedige, onafhanklike, en selfs heftige gees van die inwoners van Geneve. Sy swak ge-sondheid, en sy liefde vir studie het hom beweeg om afsondering te soek. Gelowende dat hy deur sy pen die saak van die Hervorming beste kon dien, het hy ‘n stil plekkie begeer vir studie, om daarvandaan, deur die pers, die gemeentes te onderrig en op te bou. Maar Farel se plegtige vermaning het tot hom gekom soos ‘n roepstem uit die hemel, en hy het nie gedurf om dit van die hand te wys nie. Dit het vir hom geskyn, het hy gesê, “asof die hand van God van die hemel gereik en my beetgepak het, en my daar vasgehou het op die plek wat ek so graag wou verlaat.” D’Aubigne, “History oj the Reformation in the Time oj Calvin,” boek IX, hoofstuk 17.GS 266.3

    In hierdie tyd het groot gevare die Protestantse saak bedreig. Die vervloekings van die Pous het soos donderslae op Geneve geval, en magtige volke het gedreig om die stad te vernietig. Hoe kon hierdie klein stadjie die magtige hiërargie weerstaan wat al so dikwels konings en keisers tot onderwerping gedwing het? Hoe kon dit staan teen die leers van die wêreld se magtige oorwinnaars.GS 267.1

    Dwarsdeur die Christendom was Protestantisme deur magtige vyande bedreig. Die eerste oorwinnings van die Hervorming was verby; Rome het nuwe kragte versamel in die hoop om dit te vernietig. Dit was in hierdie tyd dat die Jesuïete-orde gestig is, naamlik die wreedste, die geweteloosste, en die magtigste van alle pouslike kampvegters. Met alle aardse bande verbroke, sonder natuurlike liefde, en met die gewete heeltemal stilgemaak, het hulle geen regering en geen band behalwe die van hulle eie orde, en geen plig behalwe die uitbreiding van die mag van hulle orde geken nie. (Sien Aanhangsel.) Die evangelie van Christus het sy aanhangers in staat gestel om gevaar en lyding, koue, honger, arbeid, en armoede te verduur, en om die banier van die waarheid omhoog te hou ten spyte van die pynbank, die kerker, en die brandstapel. Om hierdie magte te bestry, het Jesuïtisme sy navolgers besiel met ‘n fanatisme wat hulle in staat gestel het om dergelike gevare te verduur, en om die krag van die waarheid te bestry met wapens van bedrog. Geen misdaad was te groot, geen bedrog te laag, en geen vermommings te moeilik vir hulle nie. Hulle het die gelofte tot voortdurende armoede, en nederigheid afgelê, dit was hulle vaste doel om rykdom en mag te verkry om te bestee aan die vernietiging van Protestantisme, en die herstel van die pouslike oppergesag.GS 267.2

    As lede van hulle orde, het hulle die gewaad van heiligheid gedra, en gevangenisse en hospitale besoek; hulle het die siekes en armes versorg, voorgewende dat hulle die wêreld versaak het en dat hulle die heilige naam van Jesus aangeneem het wat die land deurgegaan en goedgedoen het. Maar onder hierdie dekmantel van ‘n onbesproke uiterlike was die dodelikste en sondigste planne dikwels verberg. Een van die grondbeginsels van die orde was dat die doel die middel geheilig het. Volgens hierdie wet was leuens, diefstal, meineed, en moord, nie alleen vergeeflik nie, maar prysenswaardig waar dit in belang van die kerk gepleeg is. Onder verskillende vermommings het die Jesuïete staatsampte bekom, raadslede van konings geword, en die staatsbeleid van volke gereël. Hulle het as diensknegte gewerk ten einde op hulle meesters te spioeneer. Hulle het kolleges gestig vir die seuns van prinse en edelliede, en skole vir gewone kinders; en die kinders van Protestantse ouers is beweeg om Roomse rites te onderhou. Al die uiterlike prag en praal van die Roomse geloof is gebruik om die verstand in verwarring te bring en om die verbeelding te verblind en te verstrik; op hierdie manier is die vryheid waarvoor die vaders gestry en gesterf het, deur die seuns verraai. Die Jesuïete het vinnig oor Europa versprei, en orals waar hulle gegaan het, het daar ‘n herlewing van die pousdom gevolg.GS 267.3

    Om groter mag aan hulle te verleen, is daar ‘n bul uitgevaardig wat die Inkwisisie weer opgerig het. (Sien Aanhangsel.) Nieteenstaande die algemene afsku waarmee dit bejeën is, selfs in Katolieke lande, is hierdie skrikwekkende hof weer opgerig deur die pouslike regeerders, en gruweldade te vreeslik vir die daglig, is in die geheime kerkers gepleeg. In baie lande is duisende en duisende van die fleur van die volk, waaronder die reinstes en edelstes, die geleerdstes, die voorste en toegewydste leraars, die vlytigste burgers, talentvolste kunstenaars, bekwaamste handwerkers, om die lewe gebring, of gedwing om na ander lande te vlug.GS 268.1

    Dit was die middels wat Rome gebruik het om die lig van die Hervorming uit te doof, die Bybel aan die volk te ontneem. en om die onkunde en bygeloof van die Donker Eeue weer te herstel. Maar met die seën van God en die arbeid van daardie edele manne wat hy geroep het om Luther op te volg, is Protes-tantisme nie omver gewerp nie. Die krag daarvan sou nie afhanklik wees van die guns en wapens van prinse nie. Die kleinste lande, die nederigste en swakste volke, het sterk vestings daarvan geword. Dit was klein Geneve, omring van magtige vyande wat saamgesweer het tot sy vernietiging; dit was Holland langs sy sandstrande van die noordelike see, worstelende teen die tirannie van Spanje, destyds die sterkste en die rykste van alle koninkryke; dit was die dorre, onvrugbare Swede, wat die oorwinnings vir die Hervorming behaal het.GS 268.2

    Vir byna dertig jaar het Calvyn in Geneve gearbei; eers vir die stigting van ‘n gemeente wat vasgehou het aan die sedeleer van die Bybel, en toe vir die uitbreiding van die Hervorming oor Europa. As openbare leier was hy nie sonder foute nie, en sy leer was nie vry van dwaling nie. Maar deur sy medewerking is waarhede verkondig wat van spesiale belang vir sy tyd was in die handhawing van die beginsels van Protestantisme teen die vinnig terugkerende vloedgolf van die pousdom, en om die eenvoud en reinheid in die hervormde kerke te bevorder in die plek van die hoogmoed en bederf wat onder die Roomse leer aangekweek is.GS 269.1

    Van Geneve het daar leraars uitgegaan en is daar leesstof uitgestuur om die hervormde leerstellings te versprei. Dit is na Geneve wat die vervolgdes van alle lande opgesien het vir onderrig, raadgewing, en bemoediging. Die stad van Calvyn het die toevlugsoord geword vir die verjaagde Hervormers van die hele westelike Europa. Vlugtende van die vreeslike storms wat vir eeue gewoed het, het die vlugtelinge na die poorte van Geneve gekom. Byna dood van honger, verwond, ontroof van huis en bloedverwante, is hulle hartlik verwelkom en teer versorg; daar het hulle ‘n tuiste gevind, en hulle het die stad van hulle aanneming geseën deur hulle bekwaamheid, geleerdheid, en hulle vroomheid. Baie wat hier skuiling kom soek het, is later na hulle eie land terug om die tirannie van Rome te bestry. John Knox, die dappere Skotse Hervormer, ‘n aantal van die Engelse Puriteine, die Protestante van Holland en Spanje en die Hugenote van Frankryk, het van Geneve die fakkel van waarheid geneem om die duisternis in hulle eie geboorteland te verdryf.GS 269.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents