Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Groot Stryd

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "undefined".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 33—Die Eerste Groot Bedrog

    AAN die begin van die geskiedenis van die mens het Satan sy pogings aangewend om hulle te bedrieg. Hy wat opstand in die hemel verwek het, was begerig om die aardbewoners te beweeg om ook met horn saam te staan in sy stryd teen die regering van God. Adam en Eva was heeltemal gelukkig in hulle gehoorsaamheid aan Gods wet, en hierdie feit was steeds aangevoer teen die bewering wat Satan in die hemel gemaak het, naamlik dat Gods wet verdrukking bring en teen die skepsels van God was. En wat meer is, Satan was jaloers toe hy die pragtige tuiste sien wat vir die sondelose mensepaar berei was. Hy het besluit om hulle tot val te bring, sodat hy, nadat hy hulle van God afgeskei het en hulle onder sy mag gebring het, besit van die aarde kon verkry om daar sy koninkryk op te rig in stryd met die Allerhoogste.GS 603.1

    As Satan hom in sy ware kleure voorgedoen het, sou hy dadelik moes terugval, want Adam en Eva was gewaarsku teen hierdie gevaarlike vyand; maar hy het in die donker gewerk, sy ware doel bedek, sodat hy beter daarin kon slaag om dit te bereik. Deur die slang as medium te gebruik, wat destyds ‘n baie aantreklike voorkomste gehad het, het hy Eva toegespreek, “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” Gen. 3:3. As Eva geweier het om ‘n gesprek met die versoeker aan te knoop, sou sy veilig gewees het; maar sy het met hom gepraat en sy het die slagoffer geword van sy liste. So word baie vandag nog oorwin. Hulle twyfel en stry oor die vereistes van God; en in stede van die goddelike bevele te gehoorsaam, neem hulle menslike teorieë aan wat maar net die bedekte planne van Satan is.GS 603.2

    “En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daar van nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” Gen. 3: 2-5. Hy het verklaar dat hulle soos God sou word, met groter wysheid as wat hulle nou gehad het, en dat hulle ‘n hoër lewe sou ingaan. Eva het toegegee aan die versoeking; en deur haar is Adam tot die sonde verlei. Hulle het die woorde van die slang aangeneem, naamlik dat God nie bedoel het wat Hy gesê het nie. Hulle het hulle Skepper gewantrou, en hulle verbeel dat Hy hulle vryheid beperk, en dat hulle groot wysheid en verheffmg sou verkry deur Sy wet te oortree.GS 604.1

    Maar wat het Adam, na sy sonde, gevind dat die woorde beteken, “Want die dag as jy daarvan eet, sal jy die dood sterwe?” Het hy gevind dat hulle beteken, soos Satan hom wysgemaak het, dat hy tot ‘n hoër lewe verhef is? As dit die geval was, sou oortreding ‘n groot seën gewees het, en Satan sou dan ‘n groot weldoener van die mens gewees het. Maar Adam het ontdek dat dit nie die betekenis van die goddelike woorde was nie. God het verklaar dat die mens, as straf op sy sonde na die stof sou terugkeer waaruit hy geneem is: “Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” Gen. 3: 19. Die woorde van Satan, “Julle oë sal oopgaan,” het in die volgende sin alleen waar geblyk: Nadat Adam en Eva ongehoorsaam was aan God, is hulle oë geopen om hulle dwaasheid in te sien; hulle het die kwaad geken, en die bitter vrug van oortreding gesmaak.GS 604.2

    In die middel van die tuin het die boom van die lewe gestaan, die vrugte waarvan die eienskap gehad het om die lewe tt verleng. As Adam aan God gehoorsaam gebly het, sou hy gedurig toegang tot hierdie boom gehad het, en hy sou vir ewig geleef het. Maar toe hy gesondig het, het hy nie meer toegang tot die boom van die lewe gehad nie en het hy onderhewig geword aan die dood. Die goddelike vonnis, “Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer,” beteken die totale uitdowing van die lewe.GS 605.1

    Die onsterflikheid wat aan die mens belowe is op voorwaarde van gehoorsaamheid, is deur oortreding verbeur. Adam kon nie aan sy nageslag oordra wat hy self nie besit het nie; en daar sou geen hoop vir die gevalle mens gewees het as God nie deur die opoffering van Sy Seun die onsterflikheid binne hulle bereik gebring het nie. Terwyl “die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het,” het Christus “die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring deur die evangelie.” Rom. 5: 12; 2 Tim. 1: 10. Alleen deur Christus kan die onsterflikheid verkry word. Jesus het gesê, “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie.” Joh. 3: 36. Elke mens mag hierdie onskatbare seen verkry as hy die voorwaardes wil nakom. Almal, “wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer en onverganklikheid, soek,” sal die ewige lewe ontvang. Rom. 2: 7.GS 605.2

    Die enigste een wat aan Adam lewe belowe het in ongehoorsaamheid was die groot bedrieër. Die woorde van die slang aan Eva in Eden—“Julle sal gewis nie sterwe nie”—was die eerste preek wat ooit oor die onsterflikheid van die siel gelewer is. En nogtans word hierdie verklaring wat uitsluitlik berus op die gesag van Satan, in die kansels van die Christendom gehoor. En dit word deur die meerderheid van die mense aangeneem net so geredelik as dit deur ons eerste voorouers aangeneem is. Die goddelike vonnis, “Die siel wat sondig, die moet sterwe” (Eseg. 18: 20), word uitgelê, “Die siel wat sondig, sal nie sterwe nie, maar sal vir ewig lewe.” Ons verwonder ons oor die sonderlinge liggelowigheid waarmee die mense die woorde van Satan aanneem, en wat hulle so ongelowig maak wat die woorde van God betref.GS 605.3

    As die mens, na sy val, vrye toegang tot die boom van die lewe kon gehad het, sou hy vir ewig geleef het, en die sonde sou verewig gewees het. Maar gerubs het met die swaard wat vlam en flikker die “toegang tot die boom van die lewe bewaak” (Gen. 3: 24), en nie een van die nakomelinge van Adam is toegelaat om die lewegewende vrugte te bereik nie. Daarom is daar nie ‘n onsterflike sondaar nie.GS 606.1

    Na die sondeval het Satan sy engele gebied om ‘n spesiale poging te maak om geloof in die natuurlike onsterflikheid van die mens te versprei; en nadat hy mense beweeg het om hierdie dwaling aan te neem, sou hulle tot die oortuiging gebring word dat sondaars vir ewig in ewige rampsaligheid voortlewe. En nou stel die vors van duisternis, werkende deur sy handlangers, God voor as ‘n wraaksugtige tiran, en hy verklaar dat God almal wat Hom mishaag in die hel stort waar Hy hulle Sy wraak laat voel; en terwyl hulle daar die vreeslike foltering verduur, en krul in die ewige vlamme, sien hulle Skepper hulle aan met die grootste voldoening.GS 606.2

    Op hierdie manier skrywe die duiwel sy eie eienskappe toe aan die Skepper en Weldoener van die mensheid. Wreedheid is satanies. God is liefde; en alles wat Hy geskape het, was rein, heilig, en lieflik totdat die sonde deur die eerste groot rebel ingebring is. Satan self is die vyand wat die mens tot die sonde verlei en hom daarna vernietig as hy kan; en wanneer hy seker is van sy slagoffer, verheug hy hom in die verwoesting wat hy veroorsaak het. As hy toegelaat sou wees, sou hy die ganse mensdom in sy net vang. As dit nie vir die tussenkoms van goddelike krag was nie, sou nie een seun of dogter van Adam vryspring nie.GS 606.3

    Satan trag vandag om mense te oorwin net soos hy ons eerste voorouers oorwin het, naamlik deur hulle vertroue in hulle Skepper te skok en hulle daartoe te bring om die wysheid van Sy regering en die regverdigheid van Sy wette te betwyfel. Satan en sy gesante stel God voor erger as hulleself ten einde hulle eie rebellie en kwaadwilligheid te regverdig. Die groot bedrieër probeer om sy eie ontsettende wreedheid op die skouers van ons hemelse Vader te skuif, sodat hy homself kan voorstel as iemand wat vreeslik veronreg is deur sy uitwerping uit die hemel omdat hy hom kamma nie wou onderwerp aan so ‘n onregverdige regeerder nie. In teenstelling met die slawerny en harde wette wat Jehova sou afdwing op die mense, stel hy aan die wêreld voor die vryheid wat hulle sou geniet onder sy goeie regering. Op hierdie manier slag hy daarin om siele af te lok van hulle getrouheid aan God.GS 606.4

    Hoe afskuwelik vir alle gevoel van liefde en genade en geregtigheid, is die leerstelling dat die goddelose dode met vuur en swael gemartel word in ‘n ewigbrandende hel; en dat hulle vir die sondes van ‘n kortstondige aardse lewe gepynig moet word solank as God leef. En nogtans word hierdie leerstelling algemeen verkondig, en dit kom nog voor in die geloofbelydenisse van Christelike kerke. ‘n Geleerde doktor in die godgeleerdheid het gesê: “Die gesig van die pyniging in die hel sal die geluk van die heiliges vir ewig verhoog. Wanneer hulle sien hoedat ander van dieselfde natuur en gebore onder dieselfde omstandighede as hulle, sulke ellende ly, terwyl hulle self so bevoorreg is, sal dit hulle ‘n besef gee van hulle groot geluksaligheid.” ‘n Ander een het hierdie woorde gebesig: “Terwyl die vonnis van straf vir ewig uitgevoer word op die vate van wraak, sal die rook van hulle pyniging vir ewig opstyg, sigbaar vir die vate van genade, wat, in stede om deel te hê met hierdie ellendige voorwerpe, sal uitroep, Amen, Halleluja, Loof die Here!”GS 607.1

    Waar kan so ‘n leerstelling in die woord van God gevind word? Sal die verlostes in die hemel alle gevoel van jammerte en ontferming verloor het, ja selfs die gevoelens van menslikheid? Moet hierdie eienskappe verruil word vir die onverskilligheid, gevoelloosheid en wreedheid van die barbare? Nee, glad nie; dit is nie die leer van die Boek van God nie. Diegene wat die sienswyses toegedaan is wat voortkom in die aanhalings hierbo, mag geleerde en selfs eerlike manne wees; maar hulle is verblind deur die drogredes van Satan. Hy bring hulle daartoe om die sterke taal van die Skrifte verkeerd te verklaar, en die taal te kleur met die bitterheid en die kwaadwilligheid wat aan hom self eie is, maar wat nie by ons Skepper tuishoort nie. “So waar as Ek leef! spreek die Here HERE: Gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie. maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van julle verkeerde weë! Waarom tog will julle sterwe?” Eseg. 33: 11.GS 607.2

    Watter voordeel sou God daaruit trek as ons sou erken dat Hy behae skep in die oneindige marteling van Sy skepsels; dat Hy dit geniet om die kreune en krete en vervloekings aan te hoor van die gefolterde skepsels wat Hy in die vlamme van die hel hou? Kan hierdie afskuwelike geluide soos musiek wees in die oor van Ewige Liefde? Daar word aangevoer dat die ewige pyniging van die goddelose Gods haat vir die sonde openbaar as ‘n euwel wat die vrede en die orde van die heelal verwoes. O, die vreeslike godslastering! Asof Gods haat vir die sonde die rede is waarom die sonde verewig moet word. Want, volgens die leer van hierdie teoloë, maak die onophoudelike marteling, sonder hoop op genade, die rampsalige slagoffers mal, en namate hulle uiting gee aan hulle woede met vloeke en godslastering, vermeerder hulle vir ewig hulle skuldelas. Gods heerlikheid word nie bevorder deur die sonde deur die ewigheid heen te bestendig en te vermeerder nie.GS 608.1

    Dit is byna onmoontlik vir die menslike verstand om die skade te bereken wat veroorsaak is deur die dwaalleer van ewige pyniging! Die godsdiens van die Bybel, vol liefde en goedheid en ontferming word verduister deur bygeloof en vreesaanjaging. As ons daaraan dink hoe vals Satan die karakter van God voorstel, kan dit dan nog vir ons vreemd wees dat ons genadige Skepper gevrees en selfs gehaat word? Hierdie ontstellende leer aangaande God, wat oor die hele wêreld versprei is uit die kansels, het duisende, ja miljoene ongelowig gemaak.GS 608.2

    Die teorie aangaande ewige pyniging is een van die valse leerstellings wat deel uitmaak van die wyn van die hoerery van Babilon waarmee die bewoners van die aarde dronkgemaak word. (Openb. 14: 8; 17: 2.) Waarom dienaars van Christus hierdie dwaalleer aanneem en verkondig uit die kansel is vir ons ‘n raaisel. Hulle het dit van Rome gekry waar hulle ook die valse Sabbat gekry het. Dit is waar, hierdie leerstelling is deur vooraanstaande en vrome manne verkondig; maar hulle het nie die lig oor die onderwerp gehad soos ons nie. Hulle is verantwoordelik net vir die lig wat in hulle tyd geskyn het; ons word verantwoordelik gehou vir die lig wat in ons tyd skyn. As ons die getuienis van Gods woord verwerp, en valse leerstellings aanneem omdat ons voorvaders hulle geleer het, dan kom ons onder die veroordeling wat teen Babilon uitgespreek is; ons is besig om die wyn van haar hoerery te drink.GS 608.3

    ‘n Groot aantal van diegene wat die leerstellings aangaande ewige pyniging nie kan sluk nie, word tot die ander uiterste gedryf. Hulle sien dat die Skrifte God voorstel as ‘n God van liefde en ontferming, en hulle kan nie glo dat Hy Sy skepsels na die vure van ‘n ewigbrandende hel sal stuur nie. Maar omdat hulle glo dat die siel van nature onsterflik is, meen hulle dat hulle nie anders kan as om te besluit dat die hele mensdom uiteindelik gered sal word nie. Vele beskou die dreigemente van die Bybel slegs as middels om mense bang te maak om te gehoorsaam, en nie as iets wat letterlik vervul sal word nie. Volgens hierdie leer kan die sondaar maar ‘n lewe van selfsugtige genot voer, die vereistes van God veronagsaam, en nog verwag om eindelik deur Hom aangeneem te word. So ‘n leerstelling, wat staat maak op Gods genade terwyl dit Sy regverdigheid oor die hoof sien, is aanneemlik vir die vleeslike hart en dit moedig die goddelose aan in hulle goddeloosheid. Om aan te toon hoedat die voorstanders van die leer dat alle mense gered sal word, die Skrifte uit hulle verband ruk om hulle sielvernietigende leerstellings te bewys, sal ons hulle eie woorde aanhaal. Tydens die begrafnis van ‘n goddelose jongman wat onmiddellik in ‘n ongeluk gedood is, het ‘n predikant wat die leer van universalisme toegedaan was die volgende teks geneem waarin van Dawid gesê is, “Want hy het homself getroos oor Amnon, dat hy dood was.” 2 Sam. 13: 39.GS 609.1

    “Dikwels word daar aan my gevra,” het die spreker gesê, “Wat sal word van diegene wat hierdie wêreld in sonde verlaat, wat sterf, miskien in dronkenskap, of met ongewaste klere besoedel met die vlekke van misdaad, of wat gesterf het soos hierdie jongman wat nooit ‘n belydenis van godsdiens gemaak het nie. Ons sal berus by die uitspraak van die Skrifte; daar sal hierdie vreeslike vraag beantwoord word. Amnon was baie sondig; hy was onboetvaardig, hy was dronkgemaak, en terwyl hy dronk was, is hy gedood. Dawid was ‘n profeet van God; hy het tog seker geweet aangaande die wel of wee van Amnon in die hiernamaals. Watter uitdrukkings het hy gebruik? ,Die siel van Koning Dawid het baie verlang om na Absalom uit te gaan. want hy het homself getroos oor Amnon, dat hy dood was.’GS 609.2

    “Wat kan ons aflei uit hierdie taal? Is dit nie dat ewige pyniging nie deel uitgemaak het van sy godsdienstige opvatting nie? So meen ons; en hier het ons ‘n afdoende argument vir die aanneemliker, meer verligte, en beter veronderstelling van uiteindelike universele reinheid en vrede. Hy was getroos, siende dat sy seun dood was. En waarom? Omdat hy met profetiese blik vooruit kon sien in die heerlike toekoms, en daardie seun kon sien, ver verwyderd van alle versoekings, verlos van slawerny en gereinig van die besoedeling van sonde, en nadat hy voldoende geheilig en verlig is, is hy toegelaat tot die gemeente van lowende geeste wat opgevaar het. Sy enigste vertroosting was dat sy geliefde seun, verwyderd van sonde en lyding, gegaan het na die plek waar die Heilige Gees sy donker siel sou verlig, en waar aan sy verstand die wysheid van die hemel. asook die soet vreugde van ewige liefde geopenbaar sou word; en so sou hy berei word met ‘n geheiligde natuur om die rus en die geselskap van daardie hemelse erfenis te geniet.GS 610.1

    “Volgens hierdie gedagtes word ons gelei om te glo dat die saligheid van die hemel nie afhanklik is van enigiets wat ons in hierdie lewe kan doen nie; en nie afhanklik is van ‘n teenwoordige hartsverandering of teenwoordige geloof of ‘n teenwoordige belydenis van godsdiens nie.”GS 610.2

    So het hierdie sogenaamde dienskneg van Christus die valsheid herhaal wat deur die slang in Eden gespreek is, “Julle sal gewis nie sterwe nie.” “Julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees.” Hy verklaar dat die vuilste sondaars — moordenaars, diewe, en diegene wat owerspel pleeg — ná die dood berei sal word om die ewige geluksaligheid in te gaan.GS 610.3

    En op watter grond kom hierdie verdraaier van die Skrifte tot sy gevolgtrekkings? Uit een enkele sinnetjie waardeur Dawid uitdrukking gee aan sy onderwerping aan die handelwyse van die Almagtige. Die siel van Dawid “het baie verlang om na Absalom uit te gaan want hy het homself getroos oor Amnon, dat hy dood was.” Die angel van sy droefheid is deur die tyd versag, en sy gedagtes is afgewend van sy gestorwe tot sy lewende seun, wat gevlug het uit vrees van straf op sy misdaad. En dit is die beweerde bewys dat die besope Amnon, skuldig aan bloedskande, onmiddellik ná sy dood gevoer is na die oord van geluksaligheid, om daar gereinig en berei te word vir die gemeenskap van sondelose engele! ‘n Strelende fabel voorwaar, bestem om die vleeslike hart te bevredig! Dit is Satan se eie leerstelling, en dit werk baie goed. Hoef ons dan verbaas te wees, dat goddeloosheid weens sulke leerstellings toeneem?GS 610.4

    Die handelwyse van hierdie een valse leraar kan as voorbeeld geneem word van baie ander. ‘n Paar Skrifwoorde word uit hulle verband geruk om ‘n stelling te bewys — woorde, wat as hulle in hulle verband geneem is, dikwels net die teenoorgestelde bewys; sulke onsamehangende Skrifgedeeltes word verdraai om leerstellings te bewys wat absoluut geen fondament in die woord van God het nie. Die bewys wat aangevoer is dat die besope Amnon in die hemel is, is glad geen bewys nie, maar blote veronderstelling, wat regstreeks geloënstraf word deur die duidelike en positiewe verklarings van die Skrifte dat geen dronkaard die koninkryk van God sal beërwe nie. (1 Kor. 6: 10.) Dit is op hierdie manier dat twyfelaars, en ongelowiges die waarheid in ‘n leuen verdraai. Menigtes is verlei deur hulle drogredes, en aan die slaap gesus in die wieg van vleeslike veiligheid.GS 611.1

    As dit waar is dat die siele van alle mense onmiddellik ná die dood na die hemel gaan, behoort ons die dood te begeer liewer as die lewe. Vele is deur hierdie leerstelling beweeg om die hand aan hulle eie lewe te slaan. Wanneer hulle oorweldig word deur ‘n moeilikheid of teleurstelling, is dit vir hulle glad nie so swaar om die draadjie van die lewe te knip en weg te sweef na die geluksaligheid van die ewige wêreld nie.GS 611.2

    In Sy woord het God onweerlegbare bewys gegee dat Hy die oortreders van Sy wet sal straf. Diegene wat hulle daarmee gerusstel dat Hy te genadig is om die sondaar te straf, hoef maar net na die kruis van Golgota te kyk. Die dood van die vlekkelose Seun van God getuig dat die “loon van die sonde die dood is,” en dat elke oortreding van Gods wet gestraf sal word. Christus, die sondelose, het sonde geword vir die mens. Hy moes die straf op oortreding dra, die verberging van Sy Vader se aangesig verduur, totdat Sy hart gebreek en Sy lewe uitgepers is. Hierdie opoffering is gemaak sodat sondaars verlos kon word. Op geen ander manier kon die mens verlos word van die straf op die sonde nie. En elke siel wat weier om ‘n deelgenoot te word van die versoening wat teen sulke ontsettende koste verkry is, sal self in eie persoon die straf moet betaal op sy oortreding.GS 611.3

    Laat ons nou nagaan wat die Bybel leer aangaande die goddelose en die onboetvaardiges wat die Universaliste wil hemel-toe stuur as heilige, gelukkige engele. “Aan die dorstiges sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.” Openb. 21: 6, 7. Hierdie belofte is gegee alleen aan die dorstiges — alleen aan diegene wat behoefte voel aan die water van die lewe, en wat gewillig is om alles daarvoor op te gee, sal dit gegee word. “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir My ‘n seun wees.” Hier ook, word die voorwaardes duidelik gestel. Om alle dinge te kan beërwe, moet ons die sonde weerstaan en oorwin.GS 612.1

    Deur die profeet Jesaja sê die Here, “Sê van die regverdige dat dit met hom goed sal gaan.” “Wee die goddelose; met hom gaan dit sleg. Want wat sy hande gewerk het, sal hom aangedoen word.” Jes. 3: 10, 11. Die wyse man sê, “Aangesien ‘n sondaar honderdmaal kwaaddoen en hy lank lewe — alhoewel ek weet dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, wat vrees voor Sy aangesig, en dit nie goed sal gaan met die goddelose,” nie. Pred. 8: 12, 13. En Paulus sê dat die sondaar vir hom toorn vergader teen die “dag van toorn en openbaring van die regverdige oordeel van God wat elkeen sal vergeld na sy werke; . . . verdrukking en benoudheid oor die siel van elke mens wat kwaaddoen.” Rom. 2:5, 6, 9.GS 612.2

    “Dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ‘n afgodedienaar is, ‘n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.” Efe. 5: 5. “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie.” Heb. 12: 14. “Salig is die wat Sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad. Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.” Openb. 22: 14, 15.GS 612.3

    God het aan die mens ‘n uiteensetting van Sy karakter gegee, asook hoe Hy met die sonde sal handel. “HERE, HERE, ‘n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid hou vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie.” Exod. 34: 6, 7. “Hy verdelg al die goddelose.” “Maar die oortreders word tesame verdelg; die goddelose word eindelik uitgeroei.” Ps. 145: 20; 37: 38. Die mag en gesag van die goddelike regering sal in werking gebring word om die opstand te onderdruk; maar al die openbarings van vergeldende regverdigheid sal in volkome ooreenstemming wees met die karakter van God as ‘n genadige, lankmoedige, en goeie wese.GS 613.1

    God dwing die wil of die oordeel van niemand nie. Hy skep geen behae in slaafse gehoorsaamheid nie. Hy begeer dat sy skepsels Hom sal liefhê omdat Hy hulle liefde waardig is. Hy wil hê dat hulle Hom moet gehoorsaam omdat hulle ‘n intelligente besef het van Sy wysheid, regverdigheid, en goedertierenheid. En almal wat ‘n behoorlike begrip het van hierdie eienskappe sal Hom liefhê omdat hulle tot Hom getrek word deur hulle bewondering van Sy hoedanighede.GS 613.2

    Die beginsels van goedheid, genade, en liefde, soos geleer en geopenbaar deur ons Heiland, is ‘n afskrif van die wil en die karakter van God. Christus het geleer dat Hy niks geleer het behalwe wat Hy van Sy Vader ontvang het nie. Die beginsels van die goddelike regering is in volkome ooreenstemming met die Heiland se gebod, ,Julle moet julle vyande liefhê.” God oefen ‘n regverdige straf uit op die goddelose vir die welsyn van die heelal, en ook vir die beswil van diegene wat die straf moet ondergaan. Hy sou hulle gelukkig maak as Hy dit kon doen ooreenkomstig die wette van Sy regering en Sy karakter van geregtigheid. Hulle word omring deur die bewyse van Sy liefde, Hy gee aan hulle ‘n kennis van Sy wet, en Hy agtervolg hulle met Sy aangebode genade; maar hulle versmaai Sy liefde, maak Sy wet tot niet, en verwerp Sy genade. Terwyl hulle steeds Sy gawes aanneem, onteer hulle die Gewer; hulle haat God omdat hulle weet dat Hy ‘n afsku het aan hulle sondes. Die Here is lankmoedig met hulle hardnekkigheid, maar eindelik sal die beslissende uur aanbreek wanneer hulle lot beslis sal word. Sal Hy dan hierdie rebelle aan Sy sy vaskoppel? Sal Hy hulle dwing om Sy wil te doen?GS 613.3

    Diegene wat Satan verkies het as hulle leier, en wat deur sy mag beheers word, is nie bereid om in die teenwoordigheid van God te kom nie. Hoogmoed, bedrog, losbandigheid, en wreedheid, het ‘n deel geword van hulle karakters. Kan hulle die hemel binnegaan en daar vir ewig saamwoon met diegene wat hulle op die aarde verag en gehaat het? Die waarheid sal nooit aanneemlik wees vir die leuenaar nie; sagmoedigheid sal eiewaan en hoogmoed nooit tevrede stel nie; reinheid is nie aanneemlik vir besoedeldes nie; onselfsugtige liefde is nie aantreklik vir die selfsugtiges nie. Watter soort genot kan die hemel aanbied aan diegene wat heeltemal in beslag geneem is deur aardse genot en eiebelang?GS 614.1

    As diegene wat hulle hele lewe lank in opstand teen God was, skielik na die hemel geneem sou kon word, en as hulle daardie hoë en heilige staat van volmaaktheid kon sien, waar elke siel met liefde vervul is en elke gelaat straal van vreugde en waar betowerende musiek gemaak word ter eer van God en die Lam, en waar oneindige strome van lig gedurig op die verlostes straal van die aangesig van Hom wat op die troon sit — sal diegene wie se harte vervul is met haat teenoor God en teenoor die waarheid en heiligheid, kan saamsing met die hemelse skare in hulle lofliedere? Sou hulle die heerlikheid van God en die Lam kan verduur? Nee, en nogmaals nee; daar is ‘n genadetyd van jare aan hulle toegestaan sodat hulle karakters kon vorm geskik vir die hemel; maar hulle het hulleself nooit daarin beoefen om reinheid lief te hê nie; hulle het nooit die taal van die hemel geleer nie, en nou is dit te laat. ‘n Lewe van opstand teen God het hulle ongeskik gemaak vir die hemel. Die reinheid, die heiligheid en vrede wat daar heers, sou vir hulle ‘n marteling wees; die heerlikheid van God sou vir hulle soos ‘n verterende vuur wees. Hulle sou smag om weg te vlug van daardie heilige plek. Hulle sou vernietiging verwelkom sodat hulle verberg kan wees van die aangesig van Hom wat gesterf het om hulle te verlos. Die lot van die goddelose word beslis deur hulle eie keuse. Hulle uitsluiting uit die hemel is vrywillig aan hulle kant, en regverdig en genadig aan die kant van God.GS 614.2

    Soos die waters van die sondvloed sal die vure van die groot dag Gods uitspraak aankondig dat die goddelose onverbeterlik is. Daar is by hulle geen neiging om hulle aan die goddelike gesag te onderwerp nie. Hulle het hulle wil in opstand gebruik; en wanneer die lewe beëindig word, is dit te laat om hulle gedagtegang in die teenoorgestelde rigting te stuur, te laat om oor-treding te versaak vir gehoorsaamheid, en haat vir liefde.GS 615.1

    Toe God die lewe van Kain, die moordenaar, gespaar het, het Hy aan die wêreld ‘n voorbeeld gegee van wat die gevolge is wanneer ‘n sondaar toegelaat word om voort te lewe en steeds voort te gaan op die weg van bandelose goddeloosheid. Deur die invloed van Kain se leer en voorbeeld is menigtes van sy afstammelinge tot die sonde verlei, totdat “die boosheid van die mens op die aarde groot was,” en “al die versinsels wat hy bedink in sy hart altyddeur net sleg was.” “Die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld.” Gen. 6: 5, 11.GS 615.2

    In genade aan die wêreld het God die bose bewoners daarvan in Noag se tyd uitgedelg. In genade het Hy die verdorwe inwoners van Sodom vernietig. Deur die verleidende krag van Satan, wek die bewerkers van die sonde medelyde en bewondering. en op daardie manier lei hulle steeds ander tot rebellie. Dit was so in Kain se tyd, in Noag se tyd, en in die tyd van Abraham en Lot, en ook in ons tyd. Dit sal ‘n daad van genade aan die heelal wees wanneer God uiteindelik die verwerpers van Sy genade vernietig.GS 615.3

    “Die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” Rom. 6: 23. Terwyl die lewe die erfdeel is van die regverdiges, is die dood die deel van die goddelose. Aan Israel het Moses gesê, “Kyk, ek het jou vandag voorgehou die lewe en die geluk, en die dood en die ongeluk.” Deut. 30: 15. Die dood waarna verwys word in hierdie skrifture is nie die dood wat oor Adam uitgespreek is nie, want die hele mensdom deel in die straf om sy oortreding. Dit is die “tweede dood” wat hier in teenstelling met die ewige lewe genoem word.GS 615.4

    As gevolg van Adam se sonde het die dood deurgedring tot die ganse mensdom. Almal tesame gaan na die graf. En deur die voorsiening van die verlossingsplan sal almal weer uit hulle grafte voortkom. “Daar sal ‘n opstanding wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges”; “want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewendig gemaak word.” Hand. 24: 15; 1 Kor. 15: 22. Maar daar is ‘n verskil tussen die twee klasse wat sal opstaan. “Daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, Sy stem sal hoor en sal uitgaan — die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.” Joh. 5: 28, 29. Diegene wat “waardig geag is” tot die opstanding van die lewe, word genoem “salig en heilig.” “Oor hulle het die tweede dood geen mag nie.” Openb. 20: 6. Maar diegene wat nie deur bekering en geloof sulke vergifnis ontvang het nie, sal die straf op hulle oortreding ontvang—“die loon van die sonde.” Wat tyd en heftigheid betref, sal die straf verskil — dit sal wees “volgens hulle werke,” maar uiteindelik sal dit eindig in die tweede dood. Aangesien dit onmoontlik is vir God om die sondaar in sy sondes te red sonder om in botsing met Sy genade en regverdigheid te kom, ontneem Hy aan die sondaar daardie lewe wat hy deur sy oortredings verbeur het, en wat hy nie waardig is nie. ‘n Geïnspireerde skrywer sê, “Nog ‘n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie.” ‘n Ander een sê, hulle sal word “asof hulle nooit bestaan het nie.” Ps. 37: 10; Obad. 16. Besoedel met hulle sonde, sink hulle weg in die ewige vergetelheid.GS 616.1

    So sal daar ‘n einde gemaak word aan die sonde en aan al die ellende en verwoesting wat dit veroorsaak het. Die psalmis sê “U het die heidene gedreig, die goddelose laat omkom, hulle naam uitgedelg vir ewig en altyd. Die vyande het omgekom — puinhope vir ewig.” Ps. 9:6, 7. In die Openbaring skryf Johannes, waar hy vooruit gesien het na die ewigheid, van ‘n algemene lofsang sonder een enkele wanklank. Hy het gehoor hoedat elke skepsel in hemel en op aarde heerlikheid aan God toegebring het. (Openb. 5: 13.) Dan sal daar nie verlore siele wees om God te laster terwyl hulle in nimmereindigende pyniging gefolter word; daar sal nie ellendige wesens in die hel wees om hulle angskrete te vermeng met die liedere van die verlostes nie.GS 616.2

    Die leerstelling dat mense hulle bewussyn in die dood behou, berus op die gronddwaling van natuurlike onsterflikheid —‘n leerstelling wat soos die van ewige pyniging regstreeks bots met die Skrifte, met alle rede, en met ons gevoelens van menslikheid. Volgens die algemene geloof, is die verlostes in die hemel bewus van die dinge wat op die aarde plaasvind, veral met wat gebeur met hulle vriende wat hulle agtergelaat het. Maar watter bron van geluk kan dit vir die dode wees om te weet van die moeilikhede van die lewendes, om die sondes te aanskou wat hulle dierbares pleeg, en om te sien hoedat hulle ly, teleurgestel en deur die lewe gekwel word? Hoeveel van die geluk van die hemel kan geniet word deur diegene wat oor hulle vriende op aarde rondswewe? Hoe weersinwekkend is die geloof dat die siel van die onboetvaardiges onmiddellik na die dood in die vlamme van die hel beland! Watter onuitspreeklike verdriet moet diegene verduur waar hulle ‘n dierbare na die graf sien gaan, wat onvoorbereid gesterf het om ‘n ewigheid te begin van ellende en sonde! Vele het kranksinnig geword as gevolg van hierdie vreeslike gedagte.GS 617.1

    Wat sê die Skrifte aangaande hierdie dinge. Dawid verklaar dat die mens nie sy bewussyn in die dood behou nie. “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.” Ps. 146: 4. Salomo sê dieselfde: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie.” “Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle ywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie. . . . Daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.” Pred. 9: 5, 6, 10.GS 617.2

    Toe Hiskia se lewe met vyftien jaar verleng is in antwoord op sy gebed, het die dankbare koning God geloof vir Sy groot genade. In sy loflied gee hy die rede vir sy vreugde: “Want die doderyk sal U nie loof nie, en die dood U nie prys nie; die wat in die kuil neerdaal sal op U trou nie hoop nie. Die lewen de, die lewende, die sal U loof, soos ek vandag.” Jes. 38: 18, 19. Die teologie oor die algemeen, stel die regverdige dode voor as in die hemel, in geluksaligheid waar hulle God met onsterflike tonge loof; maar Hiskia het nie so ‘n heerlike vooruitsig gehad nie. Die getuienis van die Psalmis stem ooreen met syne: “Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk?” “Die dode loof die Here nie, ook nie die almal wat na die stilte neerdaal nie.” Ps. 6: 6; 115: 17.GS 617.3

    Op Pinksterdag het Petrus verklaar van die patriarg Dawid “dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is onder ons tot vandag toe.” “Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie.” Hand. 2: 29, 34. Die feit dat Dawid in sy graf sal bly tot die opstanding, bewys dat die regverdiges nie by die dood hemel-toe gaan nie. Dit is alleen deur die opstanding, en omdat Christus opgestaan het, dat Dawid eendag aan die regterhand van God sal sit.GS 618.1

    Paulus sê: “Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.” 1 Kor. 15: 16-18. As die regverdiges vir vierduisend jaar reeds onmiddellik na die dood hemel-toe gegaan het, hoe kon Paulus dan sê dat as daar geen opstanding is nie, “die wat in Christus ontslaap het, verlore is”? Geen opstanding sou dan nodig wees nie.GS 618.2

    In ‘n verwysing na die staat van die dode, het die martelaar Tyndale gesê: “Ek erken openlik dat ek nie oortuig is dat hulle alreeds die voile heerlikheid geniet wat Christus geniet nie, of dié waarin die uitverkorene engele van God verkeer nie. Dit is ook nie een van my geloofsartikels nie; want as dit so was, dan is die prediking van die opstanding van die vlees tevergeefs — ek sien geen ander verklaring nie.”—Tyndale, Wm., Voorwoord tot “New Testament” (ed. 1534.), Herdruk in “British Reformers— Tindal, Firth, Barnes,” bl. 349 (ed. 1830).GS 618.3

    Dit is ‘n onweerlegbare feit dat die hoop op ewige geluksaligheid by die dood ‘n algemene verwaarlosing van die Bybelse leerstelling van die opstanding as gevolg gehad het. In verband met hierdie neiging het Dr. Adam Clarke gesê: “Die leerstelling van die opstanding het skynbaar groter betekenis gehad vir die vroeë Christene as vandag! Hoekom? Die apostels het dit gedurig beklemtoon en hulle het die navolgers van God vermaan tot ywer, gehoorsaamheid, en moedigheid, op grond daarvan. Maar hulle opvolgers vandag praat byna nooit daarvan nie! So het die apostels gepreek, en so het die vroeëre Christene geglo; so preek ons ook, en so glo ons hoorders ook. Daar is nie ‘n leerstelling in die evangelie wat meer beklemtoon word nie; en daar is nie ‘n leerstelling in die prediking van vandag wat meer verwaarloos word nie!”—Commentary on the New Testament, Deel II, algemene opmerkings oor 1 Kor. 15, para. 3.GS 618.4

    En so het dit toegegaan totdat die heerlike waarheid van die opstanding byna heeltemal bedek en uit die oog verloor is in die Christelike wêreld. Daarom sé ‘n vooraanstaande godsdienstige skrywer, in ‘n kommentaar oor die woorde van Paulus in 1 Thess. 4: 13-18: “Vir alle praktiese doeleindes word die vertroosting van die leerstelling van die onsterflikheid van die regverdiges vervang deur enige twyfelagtige leerstelling van die Here se tweede koms. By ons dood kom die Here ons haal. Dit is daarvoor dat ons moet wag en waak. Die dode het alreeds die heerlikheid ingegaan. Hulle wag nie op die geklank van die basuin vir hulle oordeel en geluksaligheid nie.”GS 619.1

    Maar toe Jesus op die punt gestaan het om Sy dissipels te verlaat, het Hy nie aan hulle gesê dat hulle gou na Hom toe sou kom nie. “Ek gaan om vir julle plek te berei,” het Hy gesê. “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem.” Joh. 14:2, 3. Verder sê Paulus: “Die Here Self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” En dan laat hy volg, “Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.” 1 Thess. 4: 16-18. Hoe groot is die teenstelling tussen hierdie trooswoorde en die van die Universalispredikant wat ons hierbo aangehaal het! Laasgenoemde het sy bedroefde vriende getroos met die versekering, dat die dode, hoe sondig hulle ook was, onder die engele sou ontvang word wanneer hulle hulle asem hier uitblaas. Paulus verwys sy broeders na die aanstaande koms van die Here, wanneer die bande van die graf verbreek sal word, “en die wat in Christus gesterf het,” opgewek sal word tot die ewige lewe.GS 619.2

    Voordat mense die woonplaas van die saliges kan binnegaan, moet hulle lewens ondersoek word en hulle karakters en dade moet voor God in oënskou kom. Almal moet geoordeel word volgens wat in die boeke geskryf staan, en hulle moet beloon word volgens hulle werke. Hierdie oordeel vind nie by die dood plaas nie. Let op Paulus se woorde: God het “‘n dag bepaal waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.” Hand. 17: 31. Hier verklaar die apostel duidelik dat daar ‘n bepaalde tyd vasgestel is, toe nog in die toekoms, vir die oordeel van hierdie wêreld.GS 620.1

    Judas verwys na dieselfde tydperk: “Die engele wat hulle eie beginsel nie bewaar het nie, maar hulle eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar.” En dan haal hy die woorde van Henog aan: “Kyk, die Here het gekom met Sy heilige tienduisendtalle, om gerig te hou oor almal.” Judas 6, 14, 15. Johannes sê, “Ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen, . . . En die dode is geoordeel na wat geskrywe is in die boeke.” Openb. 20: 12.GS 620.2

    Maar as die dode alreeds in hemelse geluksaligheid is of in die vlamme van die hel gefolter word, watter nodigheid is daar dan vir ‘n toekomstige oordeel? Die leer van Gods woord op hierdie belangrike punte is nie onduidelik of teenstrydig nie; hulle kan deur die gewone verstand verstaan word. Maar watter eerlike mens kan die wysheid of regverdigheid van die teorie wat vandag bestaan, insien? Sal die regverdiges, na hulle sake in die oordeel ondersoek is, die woorde hoor, “Mooi so, goeie en getroue slaaf, . . . gaan in die vreugde van jou Heer;” as hulle reeds in Sy teenwoordigheid verkeer miskien vir eeue al? Sal die goddelose uit die plek van pyniging ontbied word om hulle vonnis te hoor van die Regter van die hele aarde, “Gaan weg van My af, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele?” Matt. 25: 21, 41. O die bespotting, die skandelike wanvoorstelling van die wysheid en regverdigheid van God!GS 620.3

    Die teorie van die onsterflikheid van die siel is een van die valse leerstellings wat Rome oorgeneem het van Paganisme en by die Christelike godsdiens ingelyf het. Martin Luther het hierdie leerstelling geplaas onder die “afkuwelike fabels wat deel uit maak van die Roomse mishoop van dekrete.”—Petavel, E., “The Problem of Immortality,” bl. 255 (ed. 1892). In ‘n kommentaar oor Salomo se woorde in die boek Prediker, naamlik dat die dode niks weet nie, sê hierdie Hervormer: “Dit is nog ‘n plek wat bewys dat die dode niks voel nie. Daar is, sê hy, geen plig, geen wetenskap. geen kennis, geen wysheid daar nie. Salomo sê dat die dode slaap, en glad niks voel nie. Want die dode lê daar, sonder besef van dae of jare, maar wanneer hulle wakkergemaak word, sal dit vir hulle skyn of hulle skaars ‘n minuut geslaap het.”—Luther se “Exposition of Solomon’s Booke Called Ecclesiastes,” bl 152 (ed. 1573, Londen).GS 621.1

    Nêrens in die Heilige Skrifte lees ons dat die regverdiges hulle loon, of die goddelose hulle straf by die dood ontvang nie. Die patriarge en profete het nie so ‘n versekering gehad nie. Christus en Sy apostels het niks daarvan gerep nie. Die Bybel leer duidelik dat die dode nie onmiddellik hemel-toe gaan nie. Hulle word voorgestel as slapende tot die opstanding. (1 Thess. 4: 14; Job. 14: 10-12.) In die dag wanneer die silwerdraad afgesny word, en die goue olie-kan stukkend val — in daardie dag is dit met die gedagtes gedaan. (Pred. 12: 6.) Salige rus vir die afgematte regverdiges! Tyd, of dit lank of kort is, is vir hulle soos ‘n oomblik. Hulle slaap; hulle word opgewek deur die basuin van God tot ‘n heerlike onsterflikheid. “Want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word. . . . En wanneer hierdie verganklike met onvergankliklikheid beklee is, en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.” 1 Kor. 15: 52-55. Wanneer hulle opgewek is uit hulle diepe slaap, hervat hulle hulle gedagtes op die punt waar hulle opgehou het.GS 621.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents