Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents

Die Groot Stryd

 - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 18—‘n Lang Tyd-Profesie

    ‘n OPREGTE, eerlike landbouer, wat daartoe gebring is om die goddelike gesag van die Skrifte te betwyfel, maar wat nogtans ernstig begeer het om die waarheid te ken, was die man wat spesiaal deur God gekies is om die voortou te neem in die verkondiging van die wederkoms van Christus. Soos baie van die vroeër hervormers, het William Miller in sy jong dae met armoede te kampe gehad, en hy het dus die groot lesse van werksaamheid en selfverloëning geleer. Die lede van die gesin waaruit hy voortgespruit het, is gekenmerk deur ‘n onafhanklike, vryheidsliewende gees, volharding, en ‘n vurige vaderlandsliefde — eienskappe wat ook sterk op die voorgrond getree het in sy karakter. Sy vader was ‘n kaptein in die leër van die Amerikaanse Rewolusie, en die armoedige toestand van Miller se jongdae moet toegeskryf word aan die opofferings, die stryd, en lyding van daardie tydperk.GS 363.1

    Hy het ‘n gesonde liggaam gehad, en selfs in sy kinderjare was daar blyke dat hy meer as gewone intelligensie besit het. Namate hy ouer geword het, het hierdie eienskappe sterker geword. Sy verstand was aktief en goed ontwikkel, en hy het ‘n groot dors na kennis gehad. Hoewel hy nie die voorreg van ‘n kollegeopvoeding gehad het nie, het sy liefde vir studie, en die gewoonte om helder te dink en deeglik te oordeel hom ‘n man van gesonde oordeel en ruime blik gemaak. Hy het ‘n onbesproke sedelike karakter en ‘n benydenswaardige reputasie gehad, en hy is algemeen geag vir sy opregtheid, sy vooruitstrewendheid en sy goedhartigheid. Deur werksaamheid en inspanning het hy vroeg bekwaamheid verwerf, maar hy het nog sy studies voortgesit. Hy het verskillende burgerlike en militêre betrekkings met lof beklee, en die pad na rykdom en eer het, soos dit geskyn het, oopgelê voor hom.GS 363.2

    Sy moeder was ‘n baie vrome vrou, en in sy kinderjare is daar godsdienstige indrukke op hom gemaak. In sy manlike jare egter, het hy in die geselskap van deïste geraak wie se invloed baie sterk was weens die feit dat hulle vir die grootste gedeelte goeie burgers was, en manne van ‘n menslike en goedhartige geaardheid. Te midde van Christelike instellings lewende, is hulle karakters in ‘n sekere mate gevorm deur hulle omgewing. Die goeie hoedanighede waardeur hulle respek en vertroue gewin het, het hulle te danke gehad aan die Bybel. En nogtans was hierdie goeie gawes so verdraai dat hulle invloed teen die woord van God was. Deur omgang met hierdie manne, is Miller daartoe gebring om in hulle gevoelens te deel. Die destydse verklaring van die skrifte het moeilikhede opgelewer wat vir hom onoorkomelik geskyn het; nogtans het sy nuwe geloof, hoewel dit die Bybel tersyde gestel het, niks beter in die plek daarvan gegee nie, en hy was nog lank nie tevrede nie. Hy het egter aangehou om hierdie sienswyses vir nog sowat twaalf jaar te huldig. Op sowat vier-en-dertigjarige leeftyd, het die Heilige Gees hom onder ‘n indruk gebring van sy toestand as sondaar. In sy vorige geloof het hy geen versekering gehad van saligheid anderkant die graf nie. Die toekoms was donker en somber. Later het hy van sy gevoelens in hierdie tyd gesê:GS 364.1

    “Vernietiging was ‘n koue en kille gedagte, en die feit dat almal verantwoording sou moes doen, het die gewisse vernietiging van almal beteken. Die hemel was soos koper bokant my hoof, en die aarde soos yster onder my voete. Die Ewigheid — wat was dit? En die dood — waarom was dit? Hoe meer ek geredeneer het, hoe verder was ek van ‘n oplossing. Hoe meer ek gedink het, hoe verwarder was my gevolgtrekkings. Ek het probeer om op te hou dink, maar my gedagtes wou hulle nie aan bande laat lê nie. Ek het waarlik ellendig gevoel, maar die oorsaak daarvan het ek nie verstaan nie. Ek het gemurmureer en gekla, maar nie geweet waaroor nie. Ek het begryp dat daar so iets was as verkeerdheid, maar het nie geweet waar om die reg te vind nie. Ek het getreur, maar sonder hoop.”GS 364.2

    Hierdie toestand het vir etlike maande aangehou. “Skielik, sê hy, is die karakter van ‘n Heiland helder aan my voorgestel. Dit het geskyn dat daar wel ‘n wese mag wees, so goed en barmhartig as om self versoening te doen vir ons oortredings, en ons daardeur sou red van lyding en die straf op die sonde. Dadelik het ek gevoel hoe lieflik so ‘n wese moet wees, en ek het my voorgestel dat ek myself in die arms van so ‘n wese kon werp, en op Sy genade kon vertrou. Maar die vraag het ontstaan, Hoe kan dit bewys word dat so ‘n wese wel bestaan? Behalwe in die Bybel, het ek gevind dat ek geen bewys kon kry van die bestaan van so ‘n Verlosser, of selfs van ‘n toekomstige staat nie. . . .GS 365.1

    “Ek het gesien dat die Bybel juis so ‘n Verlosser as waaraan ek behoefte gehad het, voorstel; en ek kon nie die vraag beantwoord hoedat ‘n ongeïnspireerde boek beginsels kon bevat wat so volkome aangepas kon word by die behoeftes van ‘n gevalle wêreld nie. Ek is gedwing om te erken dat die Skrifte wel ‘n openbaring van God moet wees. Hulle het my verlustiging geword; en in Jesus het ek ‘n vriend gevind. Die Heiland het vir my die uitnemendste onder tienduisend geword; en die Skrifte, wat voorheen so duister en teenstrydig geskyn het, het nou ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad geword. My gemoed het tot bedaring en bevrediging gekom. Ek het gevind dat die Here God ‘n Rots in die lewensoseaan was. Die Bybel het nou my vernaamste studie geword, en ek kan waarlik sê dat ek dit met groot vreugde ondersoek het. Ek het gevind dat die helfte nooit aan my vertel was nie. En ek het myself afgevra waarom ek nooit die skoonheid en die heerlikheid daarvan tevore gesien het nie, en ek kon nie verstaan waarom ek dit ooit verwerp het nie. Alles wat my hart kon begeer het ek daarin geopenbaar gevind, asook ‘n raat vir elke sielekwaal. Ek het alle smaak vir ander leesstof verloor en ek het my daarop toegelê om wysheid van God te verkry.”— Bliss, S., “Memoirs of Wm. Miller,” bis. 65-67.GS 365.2

    Miller het sy geloof in die godsdiens wat hy eers verag het, in die openbaar bely. Maar sy ongelowige vriende het nie geaarsel om al daardie argumente wat hy self so dikwels teen die gesag van die Skrifte opgewerp het, weer aan te haal nie. Hy was toe nie bereid om hulle te beantwoord nie; maar hy het geredeneer dat as die Bybel ‘n openbaring van God was, dit nie in stryd met homself sou wees nie; en daar dit gegee is vir die onderrig van die mens moes dit moontlik wees dat hy dit kon verstaan. Hy het besluit om die Skrifte vir homself te ondersoek, ten einde vas te stel of al die skynbare teenstrydighede nie met mekaar in ooreenstemming kon gebring word nie.GS 366.1

    Tragtende om al sy vooropgestelde opinies tersyde te stel, en sonder die hulp van kommentare, het hy skriftuur met skriftuur vergelyk met die hulp van kanttekenings en ‘n konkordansie. Hy het sy studies op ‘n stelselmatige wyse voortgesit; hy het met Genesis begin, en vers vir vers lesende, het hy nie verder gegaan voordat die gelese gedeeltes vir hom so duidelik geword het dat daar geen twyfel meer bestaan het nie. Wanneer hy iets teëgekom het wat nie vir hom duidelik was nie, het hy dit met alle ander tekste vergelyk wat enigsins in verband daarmee gestaan het. Hy het elke woord toegelaat om sy regte verhouding in die teks in te neem, en as sy beskouing daaroor ooreengestem het met alle gelykstaande tekste, het dit vir hom geen moeilikheid meer opgelewer nie. Wanneer hy dus ‘n skrifgedeelte teëgekom het wat moeilik was om te verstaan, het hy ‘n verklaring daarvan in ‘n ander deel van die Skrifte gevind. Namate hy gestudeer het met ernstige gebed om goddelike verligting, is wat vir hom voorheen duister was, opgeklaar. Hy het die waarheid ondervind van die woord van die psalmis, “die opening van die woorde gee lig, dit maak die eenvoudiges verstandig.” Ps. 119: 130.GS 366.2

    Met die grootste belangstelling het hy die boeke van Daniel en Openbaring ondersoek volgens dieselfde beginsels wat hy gebruik het om die ander Skrifte te verklaar, en tot sy groot vreugde het hy gevind dat die profetiese sinnebeelde kon verstaan word. Hy het gesien dat die profesieë, sover as hulle reeds vervul was, letterlik vervul is; dat die verskeie beelde, die beeldspraak, die gelykenisse, en die sinnebeelde of verklaar is in hulle onmiddellike verband of dat die terme wat gebruik is in ander skriftuurplase verklaar is, en op daardie manier verklaar, kon hulle letterlik verstaan word. “Ek was derhalwe tevredegestel,” het hy gesê, “dat die Bybel ‘n stelsel van geopenbaarde waarhede is, so duidelik en eenvoudig gegee, dat selfs die dwase nie daarin sal dwaal nie.”—Bliss, “Memoirs of Wm. Miller,“bl. 70. Skakel vir skakel in die ketting van waarheid het sy pogings beloon, namate hy stap vir stap die groot reekse profesieë ondersoek het. Engele van die hemel het sy gees gelei en die Skrifte aan hom verduidelik.GS 367.1

    Die wyse waarop die profesieë in die verlede vervul is as voorbeeld nemende om die onvervulde te verklaar, is hy oortuig dat die algemene idee van ‘n geestelike regering van Christus —‘n tydelike millennium voor die einde van die wêreld — nie deur die woord van God gestaaf is nie. Hierdie leerstelling, wat vooruitgewys het op ‘n duisend jaar van geregtigheid en vrede voor die persoonlike koms van die Here, het die verskrikkinge van die dag van God baie ver in die verskiet gestel. Maar, aangenaam soos dit mag wees, is dit in stryd met die leer van Christus en Sy apostels wat verklaar het dat die koring en die onkruid saam moes opgroei tot die oestyd — die end van die wêreld (Matt. 13: 30, 38-41); dat ..goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger”; dat “daar sware tye in die laaste dae sal ontstaan” (2 Tim. 3: 13, 1); en dat die koninkryk van duisternis sal voortduur tot die wederkoms van die Here, en deur die gees van Sy mond sal verteer en deur die heerlikheid van Sy koms sal vernietig word. (2 Thess. 2: 8.)GS 367.2

    Die leerstelling van die bekering van die wêreld en ‘n geestelike regering van Christus is nie deur die apostoliese kerk gehuldig nie. Dit was nie algemeen deur Christene aangeneem tot eers omtrent die begin van die agtiende eeu nie. Soos alle dwaalleer, is die gevolge hiervan sleg. Dit het die mense geleer om die koms van die Here ver in die toekoms te stel, en hulle belet om ag te slaan op die tekens wat Sy naderende koms voorspel. Dit het ‘n gevoel van vertroue en veiligheid geskep wat ongegrond was, en dit het baie daartoe gebring om die nodige voorbereiding om die Here te ontmoet te verwaarloos.GS 367.3

    Miller het gevind dat die letterlike, persoonlike wederkoms van Christus duidelik in die Skrifte geleer is. Paulus sê “Die Here Self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met die geklank van die basuin van God.” 1 Thess. 4: 16, 17. En die Heiland het gesê dat hulle die Seun van die mens sou sien kom “op die wolke van die hemel met grote krag en heerlikheid,” “Soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook wees die koms van die Seun van die mens.” Matt. 24: 30, 27, 31. Hy sal vergesel wees van die leërskare van die hemel. “Die Seun van die mens sal kom in Sy heerlikheid en al die heilige engele saam met Hom.” Matt. 25: 31. “Hy sal Sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal Sy uitverkorenes bymekaar maak.” Matt. 24: 31.GS 368.1

    By Sy koms sal die regverdige dode opgewek word, en die regverdige lewendes sal verander word. “Ons sal wel nie almal ontslaap nie,” sê Paulus, “maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.” 1 Kor. 15: 51-53. En in sy brief aan die Thessalonicense, ná hy die koms van die Here beskryf het, sê hy: “Die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in die wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug.” 1 Thess. 4: 16, 17.GS 368.2

    Na Sy wederkoms eers kan Christus Sy volk en Sy koninkryk ontvang. Die Heiland het gesê: “En wanneer die Seun van die mens kom in Sy heerlikheid en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op Sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies bymekaargebring word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die skaapwagter die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan Sy regterhand en die bokke aan Sy linkerhand sit. Dan sal die Koning vir die wat aan Sy regterhand is, sê. Kom, julle geseendes van My Vader, beëerf die koninkryk wat vir julle toeberei is van die grondlegging van die wêreld af.” Matt. 25: 31-34. Uit die aangehaalde skrifture het ons reeds gesien dat wanneer die Seun van die mens kom, die dode onverganklik opgewek en die lewendes verander word. Deur hierdie groot verandering word hulle toeberei om die koninkryk te ontvang. “Dit verklaar ek,” sê Paulus, “Dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie.” 1 Kor. 15: 50. In sy huidige staat is die mens sterflik en verganklik; maar die koninkryk van God sal onverganklik wees en vir ewig duur. Daarom kan die mens in sy huidige staat nie die koninkryk van God binnegaan nie. Maar wanneer Jesus kom, gee Hy die ontsterflikheid aan Sy volk; en dan roep Hy hulle om die koninkryk te beërf waarvan hulle totnogtoe maar net die erfgename was.GS 368.3

    Hierdie skrifture, en nog ander, het Miller oortuig dat die gebeurtenisse wat algemeen verwag was om plaas te vind vóór die wederkoms van Christus, soos byvoorbeeld die algemene heerskappy van vrede en die oprigting van die koninkryk van God op aarde, eers ná die wederkoms sou plaasvind. En wat meer is, het al die tekens van die tye en die toestand van die wêreld ooreengestem met die profetiese beskrywing van die laaste dae. Uit ‘n ondersoek van die Skrifte alleen, is hy tot die gevolgtrekking gedwing dat die tydjie wat die aarde nog in sy huidige toestand sal voortbestaan nie meer lank sou duur nie.GS 369.1

    “‘n Ander soort bewys wat ‘n diep indruk op my gemaak het,” sê hy, “was die tydrekening van die Skrifte. . . . Ek het gevind dat die voorspelde gebeurtenisse wat in die verlede vervul is, dikwels binne ‘n gegewe tyd plaasgevind het. Die honderd-en-twintig dae tot die sondvloed (Gen. 6: 3); die sewe dae wat dit sou voorafgaan, met die veertig dae van voorspelde reën (Gen. 7: 4); die vierhonderd jaar van die verblyf in Egipte van Abraham se saad (Gen. 15: 13); die drie dae van die skinker en bakker se drome (Gen. 40: 12-20); die sewe jaar van Farao se drome (Gen. 41: 28-54); die veertig jaar se omwandeling in die woestyn (Num. 14:34); die drie en ‘n half jaar se hongersnood (1 Kon. 17: 1; sien Lukas 4:25); . . . die sewentigjarige ballingskap (Jer. 25: 11); Nebukadnesar se sewe tydperke (Dan. 4: 13-16); en die sewe weke, die twee-en-sestig weke, en die een week, wat altesaam sewentig weke maak en oor die Jode bestem is (Dan. 9:24-27)—al hierdie gebeurtenisse wat deur hierdie tye bepaal is, was eenmaal die onderwerp van profesie, en is vervul volgens die voorspellings.”— Bliss, “Memoirs of Wm. Miller ” bls. 74, 75.GS 369.2

    Toe hy dus, in sy ondersoek van die Bybel, gevind het dat verskillende kronologiese tydperke, wat soos hy dit verstaan het, gestrek het tot by die wederkoms van Christus, kon hy nie anders nie as om hulle te beskou as die “tye wat vooraf bepaal is,” wat God aan Sy diensknegte geopenbaar het. “Die verborge dinge,” sê Moses, “is vir die Here onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid” (Deut. 29: 29); en deur Sy profeet Amos sê die Here, “Want die Here Here doen niks tensy dat Hy eers Sy geheimenis aan Sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.” Amos 3: 7. Die ondersoekers van Gods woord mag dus met alle vertroue verwag dat die grootste van alle gebeurtenisse wat op die aarde sal plaasvind duidelik in die Skrifte van waarheid aangewys is.GS 370.1

    “Daar ek ten voile oortuig was,” sê Miller, dat ,die hele Skrif deur God ingegee en nuttig is’ (2 Tim. 3:16); dat ,geen profesie ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring is nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het heilige mense van God gespreek’ (2 Pet. 1: 21), en geskrywe vir ons lering ,sodat ons deur geduld en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê’ (Rom. 15: 4), kon ek die kronologiese dele van die Bybel nie anders beskou as deel van die woord van God wat ook ons ondersoek verdien net soos enige ander deel van die Skrifte. Ek het toe gevoel dat as ek wou verstaan wat God in Sy genade aan ons geopenbaar het, ek nie die reg gehad het om die profetiese tydperke te veronagsaam nie.”—Bliss, “Memoirs of Wm. Miller,” bl. 75.GS 370.2

    Die profesie wat die tyd van die wederkoms die duidelikste bepaal het, soos dit geskyn het, was Dan. 8: 14: “Twee duisend drie honderd aande en mores, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel [gereinig] word.” Sy reël navolgende om die Skrifte hulle self te laat uitlê, het Miller ontdek dat ‘n dag in simboliese profesie ‘n jaar voorgestel het (Num. 14: 34: Eseg. 4: 6); hy het gesien dat die tydperk van 2,300 profetiese dae, of letterlike jare, sou strek tot ver anderkant die afsluiting van die Joodse bedeling. Daarom kon dit nie betrekking gehad het op die heiligdom van daardie bedeling nie. Miller het die algemene beskouing aangeneem, dat die heiligdom in die Christelike bedeling die aarde was, en hy het dus verstaan dat die reiniging van die heiligdom soos in Dan. 8: 14 voorspel, die reiniging van die aarde was wat deur vuur sou geskied by die wederkoms van Christus. As hy die aanvangspunt kon ontdek van die 2,300 dae, het hy gemeen dat die tyd van die tweedekoms maklik vasgestel kon word. Op hierdie manier sou die tyd van die einde van alle dinge geopenbaar word, die tyd wanneer die huidige wêreld met “al sy hoogmoed en mag, prag en praal, boosheid en verdrukking, tot ‘n einde sou kom”; wanneer die vloek “van die aarde weggeneem sou word, die dood vernietig, en die loon gegee sou word aan die diensknegte van God, die profete en die heiliges, en aan hulle wat Sy naam vrees, en wanneer diegene vemietig sou word wat die aarde verwoes.”— Bliss, “Memoirs of Wm. Miller,” bl. 76.GS 370.3

    Met nuwe en groter erns het Miller die profesieë ondersoek: hy het dae en nagte bestee aan die ondersoek van wat vir hom nou van sulke groot belang geskyn het. In die agste hoofstuk van Daniel kon hy geen leidraad vind vir die begin van die 2,300 dae nie; hoewel die engel Gabriel beveel is om die gesig aan Daniël te verduidelik, het hy hom maar net ‘n gedeeltelike verklaring gegee. Toe die vreeslike vervolging wat oor die kerk sou kom aan die profeet getoon is, het sy liggaamlike krag beswyk. Hy kon nie meer verduur nie en die engel het hom vir ‘n tyd verlaat. “Daniel was gedaan en was dae lank siek. . . . en hy was “verstom oor die gesig, maar niemand het dit gemerk nie.”GS 371.1

    Maar nogtans het God Sy boodskapper beveel, , laat hierdie man die gesig verstaan.” Daardie opdrag moes vervul word. In gehoorsaamheid daaraan, het die engel, ‘n tyd later na Daniel teruggekom, en gesê “Daniël, nou het ek uitgegaan om jou insig te gee. . . . gee dan ag op die woord en verstaan die gesig.” Dan. 9: 22, 23, 25-27. Daar was een belangrike punt in die gesig van hoofstuk agt wat nie verklaar is nie, naamlik die tydgedeelte — die tydperk van 2,300 dae; daarom het die engel, in sy hervatting van die verklaring, hom veral by die tydgedeelte bepaal: “sewentig weke is oor jou volk en jou heilige stad bepaal. . . . Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n gesalfde, ‘n vors, is sewe weke; en twee-en-sestig weke . . . dit [sal] herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. En na die twee-en-sestig weke sal ‘n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; . . . En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal Hy slagoffer en spysoffer laat ophou.” Dan. 9: 24-27.GS 371.2

    Die engel is na Daniël gestuur met die uitdruklike doel om die punt uit te lê wat hy in die gesig van die agste hoofstuk nie verstaan het nie — die verklaring in verband met tyd — “twee duisend drie honderd aande en mores, dan sal die heiligdom in sy regte staat herstel word.” En nadat hy aan Daniel gesê het “gee ag op die woord en verstaan die gesig,” was die eerste woorde van die engel, “sewentig weke is oor jou volk en jou heilige stad bepaal.” Die woord wat hier as “bepaal,” vertaal is, beteken letterlik “afgesny.” Sewentig weke, wat 490 jaar voorstel, is volgens die engel afgesny as spesiaal betrekking hebbende op die Jode. Maar waarvan is hulle afgesny? Daar die 2,300 dae die enigste tydperk is wat in hoofstuk agt genoem is, moet dit die tydperk wees waarvan die sewentig weke afgesny moet word; die sewentig weke moet dus ‘n deel wees van die 2,300 dae, en die twee tydperke moet op dieselfde tyd begin. Die sewentig weke sou volgens die engel begin met die bevel om Jerusalem te herstel en op te bou. As ons die datum van hierdie bevel kon vasstel, sou ons ook die aanvangspunt van die lang tydperk van die 2,300 dae kan vasstel.GS 372.1

    Ons vind die bevel in die sewende hoofstuk van Esra (Esra 7: 12-26). In sy volledigste vorm is die bevel deur Artasasta, koning van Persië, in die jaar 457 v.C. gegee. Maar in Esra 6: 14 lees ons dat die huis van die Here gebou is “op bevel van Kores en Darius en Artasasta, koning van Persië.” Hierdie drie konings het die bevel, deur dit uit te vaardig, te bevestig, en volledig te maak, tot die volmaaktheid gebring om die aanvangspunt te bepaal van die 2,300 jaar, soos deur die profesie vereis is. As ons die jaar 457 v.C. neem [die tyd toe die bevel voltooi is] as die datum van die bevel, sien ons dat al die bepalings aangaande die profesie van die sewentig weke vervul is.GS 372.2

    “Van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n gesalfde, ‘n vors, is sewe weke; en tweeen-sestig weke,” naamlik nege-en-sestig weke, of 483 jaar. Die bevel van Artasasta het in werking getree in die herfs van die jaar 457 v.C. Yan daardie datum af sou 483 jaar reik tot die herfs van die jaar 27 n.C. (Sien Aanhangsel; ook die tekening op bl. 374.) Op daardie tyd is die profesie vervul. Die woord “Messias” beteken “die Gesalfde.” In die herfs van die jaar 27 n.C., is Christus deur Johannes gedoop en Hy is met die Gees gesalf. Die apostel Petrus getuig: “Met betrekking tot Jesus van Nasaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag.” Hand. 10: 38. En die Heiland Self het verklaar, “die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring.” Lukas 4: 18. Na Sy doop “het Jesus in Galilea gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul.” Markus 1: 14, 15.GS 373.1

    “En Hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit.” Die “week” waarvan hier gepraat word is die laaste van die sewentig; en dit is die laaste sewe jaar van die tydperk wat spesiaal oor die Jode bepaal is. Gedurende hierdie tyd, wat gestrek het van 27 n.C. tot 34 n.C., het Christus, eers in eie persoon en later deur Sy dissipels, die evangelie-uitnodiging spesiaal aan die Jode gegee. Toe die apostels gestuur is met die blye tyding van die koninkryk, was die Heiland se opdrag, “Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie; maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel.” Matt. 10: 5, 6.GS 373.2

    “En gedurende die helfte van die week sal Hy slagoffer en spysoffer laat ophou.” In die jaar 31 n.C., drie en ‘n half jaar na Sy doop, is die Here gekruisig. Met die groot soenoffer op Golgota is die stelsel van offerandes wat vir vier duisend jaar vooruitgewys het op die Lam van God, beëindig. Beeld het teenbeeld ontmoet, en al die slagoffers en spysoffers van die seremoniële stelsel sou op daardie datum ophou.GS 373.3

    Die sewentig weke, of 490 jaar, wat veral oor die Jode bepaal is, het soos ons gesien het, in die jaar 34 n.C. ten einde geloop. Op daardie tyd het die volk, deur die handelwyse van die Joodse Sanhedrin, sy verwerping van die evangelie verseël met die marteldood van Stefanus, en die vervolging van die navolgers van Christus. Toe is die evangelieboodskap nie langer tot die uitverkore volk beperk nie, maar is aan die hele wêreld verkondig. Die dissipels, wat weens vervolging uit Jerusalem moes vlug, het “die hele land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig. En Filippus het afgekom in ‘n stad van Samaria en Christus vir hulle gespreek.” Hand. 8:4, 5. Petrus het, onder goddelike leiding, die evangelie aan die kaptein van Cesarea verkondig, naamlik die godvresende Kornelius; en die vurige Paulus, wat tot die geloof gewin is deur Christus, “is ver weggestuur na die Heidene,” om die blye tyding te verkondig.GS 375.1

    Tot dusver is elke besonderheid van die profesieë op treffende wyse vervul, en die begin van die sewentig weke is sonder enige twyfel vasgestel op 457 v.C., en hulle einde op 34 n.C. Met hierdie gegewens is daar nou geen moeilikheid om die einde van die 2,300 dae vas te stel nie. Die sewentig weke — 490 dae — afgetrek van die 2,300 laat nog 1810 dae oorbly. Na die einde van die 490 dae was die 1810 dae nog nie vervul nie. Van die jaar 34 n.C. sou 1810 jaar strek tot 1844. Gevolglik het die 2,300 dae van Daniel 8: 14 in die jaar 1844 geëindig. Aan die einde van hierdie lang profetiese tydperk sou, volgens die engel van God, “die heiligdom in Sy regte staat herstel word.’‘ Dus is die tyd van die reiniging van die heiligdom — wat algemeen aangeneem is as die datum van die wederkoms — beslis vasgestel.GS 375.2

    Miller en sy medegeloofsgenote het eers geglo dat die 2,300 dae in die lente van die jaar 1844 sou eindig, terwyl die profesie die herfs van daardie jaar aangewys het. (Sien tekening bl. 362; asook Aanhangsel. In die noordelike halfrond val die lente in die eerste helfte van die jaar, en herfs in die laaste helfte.) Die misverstand op hierdie punt het teleurstelling en verbystering gebring aan diegene wat die eerste datum aangeneem het as die tyd van die wederkoms van die Here. Maar dit het nie in die minste die krag van die argument geaffekteer nie dat die 2,300 dae in die jaar 1844 ten einde geloop het en dat die belangrike gebeurtenis wat voorgestel is deur die reiniging van die heiligdom dan sou plaasvind nie.GS 375.3

    Toe hy met die ondersoek van die Skrifte begin het om te bewys dat hulle ‘n openbaring van God was, het Miller nie in die minste verwag dat hy tot die gevolgtrekking sou kom waartoe hy nou geraak het nie. Hy self kon byna nie die gevolge van sy eie ondersoek aanneem nie. Maar die skriftuurlike bewys was te duidelik en te kragtig om veronagsaam te word.GS 376.1

    Hy het sowat twee jaar aan die ondersoek van die Bybel gewy, toe hy in die jaar 1818, tot die plegtige oortuiging gekom het dat Christus oor omtrent 25 jaar sou kom om Sy volk te verlos. “Ek hoef nie te praat,” sê Miller, “van die blydskap wat my hart vervul het met die oog op hierdie heerlike vooruitsig, of van die vurige verlange van my hart om te deel in die vreugde van die verlostes nie. Vir my was die Bybel nou ‘n nuwe boek. Dit was inderwaarheid ‘n feesmaal van rede; alles wat donker, misties, of vir my onduidelik was, is uit my hart verdryf deur die heldere lig wat nou opgegaan het oor sy heilige bladsye; en o, hoe helder en heerlik het die waarheid nie geskyn nie! Al die weersprekings en ongerymdhede wat ek voorheen in die woord gevind het, was nou weg; en hoewel daar nog baie dele was waarvan ek nog nie seker was dat ek hulle ten voile verstaan het, het daar nogtans soveel lig geskyn om my eertydse duistere verstand te verlig, dat dit vir my ‘n vreugde was om die Skrifte te ondersoek wat ek voorheen as onverstaanbaar beskou het.”—Bliss, “Memoirs of Wm. Miller,” bis. 76, 77.GS 376.2

    “Met die plegtige oortuiging dat sulke allerbelangrikse gebeurtenisse in die Skrifte voorspel is om vervul te word binne so ‘n kort tyd, het die vraag met krag by my opgedring wat my plig was teenoor die wêreld betreffende die getuienis wat my eie gemoed so getref het.”— Bliss, “Memoirs of W m. Miller,” bl. 81.Hy kon nie anders as voel nie dat dit sy plig was om aan ander die lig mee te deel wat hy ontvang het. Hy het teenstand verwag van die goddelose, maar hy was oortuig dat alle Christene hulle sou verbly in die hoop om die Heiland te ontmoet wat hulle voorgegee het om lief te hê. Sy enigste vrees was dat vele, in hulle groot blydskap oor die vooruitsig van heerlike verlossing wat so gou sou kom, die leerstelling sou aanneem sonder ‘n deeglike ondersoek van die Skrifte om die waarheid daarvan te bewys. Hy was dus huiwerig om dit te verkondig, ingeval hy miskien ‘n fout gemaak het, en dus ander sou verlei. Hy is toe genoop om die bewyse ter stawing van die gevolgtrekkings waartoe hy gekom het, weer te hersien en om deeglik elke vraag te ondersoek wat daar sou ontstaan. Hy het gevind dat besware verdwyn het voor die lig van Gods woord net soos mis voor die son. Nadat hy vyf jaar op hierdie manier deurgebring het, is hy ten voile oortuig van die juistheid van sy stellings.GS 377.1

    En nou het die plig om aan ander te verkondig wat volgens sy mening so duidelik in die Skrifte geleer is, baie duidelik geword. “Terwyl ek gewerk het,” het hy gesê, “het dit gedurig in my ore geklink, ,Gaan vertel die wêreld van sy gevaar.’ Hierdie teks het gedurig voor my opgekom: ,As ek vir die goddelose sé: o Goddelose, jy sal sekerlik sterwe, en jy spreek nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die goddelose waarsku vir sy weg dat hy hom daarvan moet bekeer, en hy hom nie bekeer van sy weg nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered.’ Eseg. 33: 8, 9. Ek het gevoel dat as die goddelose goed gewaarsku kon word, daar menigtes van hulle tot bekering sou kom; en as hulle nie gewaarsku is nie, sou hulle bloed van my hand geëis word.”—Bliss, “Memoirs of Wm. Miller,” bl. 92.GS 379.1

    Hy het sy sienswyses in die privaat verkondig namate hy geleentheid gehad het, biddende dat die een of ander predikant onder die indruk daarvan mag kom om dit self te verkondig. Maar hy kon hom nie bevry van die oortuiging dat dit sy persoonlike plig was om die waarskuwing te gee nie. Steeds het die woorde in sy ore geklink, “Gaan verkondig dit aan die wêreld; Ek sal hulle bloed van jou hand eis.” Vir nege jaar het hy gewag, met die las nog steeds op sy hart, tot hy in die jaar 1831 vir die eerste maal in die openbaar die redes vir sy geloof begin verkondig het.GS 379.2

    Net soos Elisa van die ploeg op die lande weggeroep is om die profeetsamp te aanvaar, so is William Miller ook geroep om sy ploeg te verlaat en die verborgenhede van die koninkryk van God te verklaar. Met bewing het hy sy werk aanvaar en sy hoorders stap vir stap deur die profetiese tydperke gelei tot by die wederkoms van Christus. Met elke poging het hy krag en moed ontvang namate hy die groot belangstelling gesien het wat deur sy woorde opgewek is.GS 380.1

    Dit was slegs op aandrang van sy broeders, in wie se woorde hy die roepstem van God gehoor het, dat Miller ingestem het om sy sienswyses in die openbaar te verkondig. Hy was nou vyftig jaar oud, nie gewoond aan openbare toesprake nie, en hy het gebukgegaan onder ‘n besef van sy onbekwaamheid vir die werk. Maar uit die staanspoor uit is sy werk op merkwaardige wyse geseën tot redding van siele. Sy eerste lesing is gevolg deur ‘n godsdienstige opwekking waarin dertien gesinne, met uitsondering van twee persone, tot bekering gekom het. Daar is dadelik by hom aangedring om ook op ander plekke te praat, en op byna elke plek waar hy gewerk het, het daar ‘n opwekking in die werk van God gekom. Sondaars het tot bekering gekom, Christene is opgewek tot groter toewyding, en deïste en ongelowiges is daartoe gebring om die waarheid van die Bybel en die Christelike godsdiens te erken. Die getuienis van diegene onder wie hy gearbei het, lui as volg: “‘n Klas van mense is deur hom bereik wat nie deur ander kon bereik word nie.”— Bliss, “Memoirs of Wm. Miller,” bl. 138.Sy prediking was bereken om die gemoed van die publiek wakker te skud vir die godsdiens en om die toenemende wêreldsgesindheid en singenot van die tyd te stuit.GS 380.2

    In byna elke dorp was daar talle, en in sommige gevalle honderde, wat onder sy prediking tot bekering gekom het. Op baie plekke is Protestantse kerke van byna alle genootskappe tot sy beskikking gestel; en versoeke om sy dienste het gewoonlik gekom van die predikante van verskeie gemeentes. Dit was sy vaste gewoonte om nie op enige plek te arbei waarheen hy nie uitgenooi is nie, maar eerlank het hy gevind dat hy nie in staat was om te voldoen aan helfte van die versoeke wat ingestroom het nie.GS 381.1

    Vele wat nie sy sienswyse aangeneem het ten opsigte van die juiste tyd van die wederkoms nie, was oortuig van die nabyheid van die koms van Christus en hulle behoefte aan voorbereiding. In sommige van die groot stede het sy werk ‘n baie diep indruk gemaak. Drankhandelaars het hulle besigheid opgegee en hulle winkels in byeenkomsplekke omgeskep; dobbelaarsholle is vernietig: ongelowiges, deïste, universaliste, en selfs die gruwelikste booswigte het tot bekering gekom, sommige wat vir jare nooit in die kerk gekom het nie. Bidure is gereël deur die verskillende genootskappe, in verskillende dele, op byna alle ure; sakemanne het op die middag vergader vir gebed. Daar was nie buitensporige opwinding nie, maar ‘n ernstige stem-ming het oor die mense gekom. Sy werk, soos die van die vroeër Hervormers. het die verstand oortuig en die gewete wakkergeskud liewer as om net die gevoelens op te wek.GS 381.2

    In die jaar 1833 is Miller toegelaat om te preek, deur die Baptiste Genootskap, waarvan hy ‘n lidmaat was. ‘n Hele aantal van die predikante van daardie genootskap het sy werk goedgekeur, en dit was met hulle formele toestemming dat hy sy werk voortgesit het. Hy het onafgebroke gereis en gespreek, hoewel sy persoonlike arbeid grotendeels verrig is in die New England en Middel State. Vir etlike jare het hy sy onkoste uit sy eie sak betaal, maar hy het nooit genoeg middele ontvang om sy reisonkoste te dek nie. Sy openbare werk het hom dus geen geldelike voordeel gebring nie, maar steeds uitgawe, en sy besittings het stadigaan verminder. Hy was die vader van ‘n groot gesin, maar daar hulle almal spaarsaam en werksaam was, het sy plaas genoeg voortgebring om hulle en hom te onderhou.GS 381.3

    In 1833, twee jaar na Miller in die openbaar die bewyse van Christus se spoedige koms verkondig het, is die laaste tekens gesien wat deur die Heiland belowe is as tekens van Sy wederkoms. Jesus het gesê: ,.Die sterre sal van die hemel val.” Matt. 24: 29. En in Openbaring verklaar Johannes, toe hy in ‘n gesig die tonele gesien het wat die dag van God sou inlui, “En die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ‘n vyeboom, wat deur ‘n groot wind geskud word, sy navye laat afval.” Openb. 6: 13. Hierdie profesie is op treffende wyse vervul deur die groot sterrereent van 13 November 1833. Toe is die grootste vertoning van verskietende sterre gesien waarvan die geskiedenis tot dusver weet: “Die hele uitspansel oor die Verenigde State was destyds in vuur en vlam! Van dat die land bewoon is, is daar nog nooit ‘n hemelse verskynsel gesien wat deur een deel van die bevolking met sulke verrukking aanskou is en wat die ander deel met sulke vrees en angs vervul het nie.” “Die verhewenheid en onsaglike skoonheid daarvan word nog deur baie mense onthou. . . . Nog nooit het reent vinniger geval as wat die sterre aardwaarts geskiet het nie; oos, wes, noord, en suid — orals was dit dieselfde. Met een woord, cit het geskyn of die ganse hemele in beweging was. . . . Die skouspel, soos in Professor Silliman se journaal beskryf is, is oor die hele Noord Amerika gesien. . . . Van twee-uur in die more tot helder daglig — die lig was heeltemal wolkeloos — is daar ‘n onafgebroke vertoning gesien van verblindende skitterende vuurbolle.”— Devens, R. M., “American Progress; or, The Great Events oj the Greatest Century,” hoofstuk 28, para. 1-5.GS 382.1

    ,.Die grootse skoupel kan nie in woorde beskryf word nie; . . . geeneen wat dit nie gesien het nie kan ‘n behoorlike denkbeeld van die heerlikheid daarvan vorm. Dit het geskyn asof die hele sterrehemel op een plek op die hoogtepunt van die lug saamgetrek het, en dat die sterre gelyktydig verskiet het so vinnig soos weerlig, na elke deel van die horison; en nogtans het hulle nie opgeraak nie —• duisende het gevolg in die bane van die duisende voor hulle, nes of hulle vir daardie doel gemaak was.” — Reed, F., in “The Christian Advocate and Journal,” 13 Des. 1833.“Daar kon nie ‘n beter voorstelling gewees het van ‘n vyeboom waarvan die vye deur ‘n sterk wind afgeskud word nie.” —“ The Old Countryman,” in die “Portland evening Advertiser,” 26 Nov. 1833. GS 383.1

    In die New YorkJournal of Commercevan 14 November 1833, het daar ‘n lang artikel verskyn oor hierdie merkwaardige verskynsel, waarin die volgende voorgekom het: “Volgens my mening, het geen filosoof of geleerde nog ooit so ‘n gebeurtenis beskryf of vertel, soos die van gistermore nie. Agtienhonderd jaar gelede het ‘n profeet dit presies voorspel, as ons ten minste wil toegee dat sterre wat val vallende sterre is, . . . in die enigste sin waarin dit moontlik is om letterlik waar te wees.”GS 383.2

    Op hierdie wyse dus, is die laaste teken van Sy wederkoms geopenbaar, in verband waarmee Jesus aan Sy dissipels gesê het, “So weet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.” Matt. 24: 33. Na hierdie tekens, het Johannes, as die volgende groot gebeurtenis, die hemel sien wegwyk soos ‘n boek wat toegerol word, terwyl die aarde gebewe het, en die berge en eilande uit hulle plekke versit het en die goddelose in vrees gevlug het voor die aangesig van die Seun van die mens. (Openb. 6:GS 383.3

    Baie wat die verskietende sterre gesien het, het dit beskou as ‘n voorloper van die aanstaande oordeel —“‘n verskriklike beeld, ‘n gewisse voorloper, ‘n genadige teken, van daardie groot en verskriklike dag.”—“ The Old Countryman,” in “Portland Evening Advertiser,” 26 Nov. 1833.Op hierdie manier is die aandag van die mense gevestig op die vervulling van profesie, en baie is daartoe gebring om ag te slaan op die waarskuwing van die wederkoms.GS 384.1

    In die jaar 1840 het ‘n ander merkwaardige vervulling van profesie algemene belangstelling verwek. Twee jaar voor hierdie gebeurtenis het Josiah Litch, een van die vooraanstaande predikante, oor die wederkoms gepreek en hy het ‘n verklaring van Openbaring 9 gegee waarin hy die ondergang van die Ottomaanse Ryk voorspel het. Volgens sy berekening sou hierdie mag “in 1840 n.C. in Augustusmaand” omvergewerp word; en slegs ‘n paar dae voor dit gebeur het, het hy geskryf: “As ons aanneem dat die eerste tydperk, 150 jaar, presies vervul is voor die troonbestyging van Deacozes met die toestemming van die Turke, en dat die 391 jaar, vyftien dae, ‘n aanvang geneem het aan die einde van daardie tydperk, dan sal dit op 11 Augustus 1840 eindig, wanneer die Ottomaanse mag vermoedelik in Konstantinopel verbreek sal word. En dit, glo ek, sal die geval wees.” — Litch, Josiah, article in “Signs of the Times, and Expositor of Prophecy,” 1 Aug. 1840.GS 384.2

    Op die juiste tyd wat voorspel is, het Turkye, deur sy gesante, die beskerming aanvaar van die geallieerde magte van Europa, en dus het hy homself onder beskerming geplaas van Christenvolke. Hierdie gebeurtenis het die voorspelling presies vervul. (Sien Aanhangsel.) Toe dit bekend geword het, is menigtes oortuig van die beginsel van profetiese uitlegging soos toegepas deur Miller en sy medewerkers, en die Adventbeweging het ‘n groot stoot vorentoe gekry. Manne van geleerdheid en aansien het by Miller aangesluit, beide in die prediking en die publikasie van sy sienswyse, en van 1840 tot 1844 het die werk vinnig uitgebrei.GS 384.3

    William Miller het ‘n sterk verstand gehad, wat gedissiplineer is deur oorpeinsing en studie; daarby het hy nog die wysheid van die hemel gehad deur homself te verbind met die Bron van alle wysheid. Hy was ‘n man van edele karakter wat nie anders kon as om respek en eerbied af te dwing orals waar opregtheid en ‘n goeie karakter gewaardeer is nie. Ware vriendelikheid met Christelike nederigheid en selfbeheersing verbindende, was hy gedienstig en minlik teenoor almal, gereid om na die mening van ander te luister, en hulle argumente te oorweeg. Sonder drif of opwinding het hy alle teorieë en leerstellings aan die woord van God getoets; en sy heldere dinkvermoë en deeglike kennis van die Skrifte het hom in staat gestel om dwaalleer te weerlê en valsheid aan die kaak te stel.GS 384.4

    Sy werk is egter nie voortgesit sonder bitter teenstand nie. Net soos die geval was met die vroeëre Hervormers, is die waarhede wat hy verkondig het nie gunstig ontvang deur die predikante oor die algemeen nie. Daar laasgenoemdes nie hulle stellings volgens die Skrifte kon verdedig nie, is hulle daartoe gebring om hulle toevlug te neem tot die leringe van mense en die oorlewerings van die Vaders. Maar alleen getuienis van die woord van God is aanvaar deur die predikers van die Adventwaarheid. “Die Bybel, en die Bybel alleen,” was hulle wagwoord. Hulle teenstanders het die gemis aan skriftuurlike bewys aangevul met spot en hoon. Tyd, middele, en talente, is gebruik om diegene te beklad wie se enigste sonde was dat hulle met vreugde uitgesien het na die wederkoms van die Here, getrag het om heilige lewens te lei, en ander vermaan het om klaar te maak vir Sy koms.GS 385.1

    Daar is ernstige pogings aangewend om die aandag van die mense af te trek van die onderwerp van die wederkoms. Om die profesiee te ondersoek wat betrekking gehad het op Christus en die einde van die wêreld, is voorgestel as sonde en iets waaroor mens jou behoort te skaam. Op hierdie manier het die predikante oor die algemeen geloof in die woord van God ondermvn. Hulle leer het van die mense ongelowiges gemaak en baie het gebruik gemaak van die geleentheid om hulle goddelose begeertes die vrye teuels te gee. Die bewerkers van hierdie sonde het dan die skuld op die Adventiste geplaas.GS 385.2

    Hoewel Miller groot gehore getrek het van intelligente en aandagtige luisteraars, is sy naam maar selde in die godsdienstige pers genoem, behalwe in gevalle waar hy bespot en gesmaad is. Die goddelose en onverskilliges, aangemoedig deur die houding van die godsdienstige leiers, het oorgegaan tot ergerlike skelname, en tot lae en godslasterende grappe in hulle pogings om sy werk in veragting te bring. Hierdie grysaard, wat ‘n gerieflike huis opgegee het om op eie koste van stad tot stad en van dorp tot dorp te reis, en wat onafgebroke gewerk het om die plegtige waarskuwing aan die wêreld te verkondig dat die oordeelsdag naby was, is uitgemaak as ‘n dweper, ‘n leuenaar, en ‘n bedrieglike skurk.GS 385.3

    Die bespotting, valse beskuldigings, en geskel wat hy moes verduur, het verontwaardiging uitgelok selfs van die wêreldlike pers. “0m ‘n onderwerp van sulke groot majesteit en sulke vreeslike gevolge,” met ligsinnigheid en bespotting te begroet, is deur wêreldlinge veroordeel as “nie alleen gekskeerdery met die gevoelens van die verkondigers en voorstanders daarvan nie,” maar dit was ook “spottery met die oordeelsdag en met die Godheid self, en minagting van die verskrikkinge van die oordeel.”—Bliss, “Memoirs of Wm. Miller,” bl. 183.GS 386.1

    Die bewerker van alle boosheid het nie alleen getrag om die uitwerking van die Adventboodskap teen te werk nie, maar ook om die boodskapper self te vernietig. Miller het ‘n praktiese toepassing van die Skrifte gemaak op die harte van sy toehoorders, hulle sondes bestraf, wat hulle selfvoldaanheid verstoor het, en sy eenvoudige en treffende woorde het hulle vyandigheid opgewek. Die teenstand wat kerklede teenoor sy boodskap geopenbaar het, het die laer klasse aangemoedig om nog verder te gaan; en vyande het saamgesweer om hom om die lewe te bring as hy die byeenkomsplek sou verlaat. Maar daar was heilige engele onder die skare en een van hulle, in die gedaante van ‘n man, het hierdie dienskneg aan sy arm geneem en hom in veiligheid weggeneem van die verwoede gepeupel. Sy werk was nog nie afgedaan nie, en Satan en sy afgesante het nie hulle doel bereik nie.GS 386.2

    Ten spyte van alle teenstand, het belangstelling in die Adventbeweging toegeneem. Van honderde het die gemeentes uitgebrei tot baie duisende. Die verskillende kerke het toegeneem in ledetal, maar later het die gees van teenstand ook teen hierdie bekeerlinge ontbrand, en die kerke het dissiplinêre stappe gedoen teen diegene wat Miller se prediking aangeneem het. Hierdie handelwyse het ‘n antwoord van sy pen uitgelok; en hy het ‘n beroep gedoen op die Christene van alle genootskappe waarin hy aangevoer het dat as sy leer verkeerd was, hulle hom sy dwaling uit die Skrifte moes bewys.GS 386.3

    “Wat het ons geglo,” het hy gesê, “wat ons nie beveel is om le glo deur die woord van God nie, wat julle ook self aanvaar as die maatstaf. die enigste maatstaf van ons geloof en praktyk? Wat het ons gedoen wat sulke bitsige veroordeling teen ons uitlok van die preekstoel en die pers, en wat julle die reg gee om ons (Adventiste) lidmaatskap in julle kerke te ontsê?” “As ons verkeerd is, wys ons asseblief waar ons verkeerd is. Wys ons uit die woord van God dat ons dwaal; ons is al genoeg bespot; dit kan ons nooit oortuig dat ons verkeerd is nie; die woord van God alleen kan ons van sienswyse laat verander. Ons het versigtig en biddend tot ons gevolgtrekkings gekom, namate ons die bewyse in die Skrifte gesien het.”—Bliss, “Memoirs of Wm. Miller,” bis. 250, 252.GS 387.1

    Die waarskuwings wat God van eeu tot eeu deur Sy diensknegte aan die wêreld gestuur het, is maar altyd met dieselfde verdinking en ongeloof begroet. Toe die sonde van die mense voor die sondvloed Hom beweeg het om ‘n watervloed op die aarde te bring, het Hy eers aan hulle Sy doel bekendgemaak sodat hulle geleentheid kon hê om hulle te bekeer van hulle bose weë. Vir ‘n honderd en twintig jaar het die waarskuwing in hulle ore geklink om hulle te bekeer sodat die toorn van God nie geopenbaar sou word om hulle te vernietig nie. Maar die boodskap was vir hulle soos ydele taal en hulle het dit nie geglo nie. Aangemoedig deur hulle goddeloosheid, het hulle die boodskapper van God bespot, sy smekinge veronagsaam, en hulle het hom selfs van vermetelheid beskuldig. Hoe kon een man opstaan teen al die grootes van die aarde? As Xoag se boodskap waar was, waarom het die hele wêreld dit nie ingesien en aangeneem nie? Een man se bewerings teen die wysheid van duisende! Hulle sou die waarskuwing nie aanneem nie, en nog minder sou hulle skuiling in die ark gaan soek.GS 387.2

    Spotters het na dinge in die natuur gewys — na die onveranderlike opvolging van die jaargetye, na die bloue lug waaruit nog nooit reent geval het nie, na die groen veld wat snags deur dou bevogtig is — en hulle het uitgeroep, “Spreek hy nie deur gelykenisse nie?” Met veragting het hulle die prediker van geregtigheid bestempel as ‘n onbesonne dweper; en hulle het voortgegaan, nog yweriger in hulle najaging van plesier en meer verslaaf aan hulle bose weë as ooit tevore. Maar hulle ongeloof het nie die voorspelde gebeurtenis belet nie. God was lank geduldig met hulle boosheid, en het hulle baie geleentheid gegee tot bekering; maar op die vasgestelde tyd het sy oordele gekom op die verwerpers van Sy genade.GS 388.1

    Christus het gesê dat daar aangaande Sy wederkoms net sulke ongeloof sou bestaan. Net soos die mense van Noag se dae, “Nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie,” net so het die Heiland gesê, “Sal ook wees die koms van die Seun van die mens.” Matt. 24: 39. Wanneer die belydende volk van God hulle met die wêreld verbind, lewe soos die wêreld lewe, en saam met hulle deelneem aan verbode plesier; wanneer die weelde van die wêreld in die kerk ingebring word; wanneer die huweliksklokke lui, en almal vooruitsien na baie jare van wêreldse voorspoed — dan, skielik soos ‘n weerligstraal uit die lug, sal die einde kom van hulle heerlike verwagtings en bedrieglike hoop.GS 388.2

    Net soos God Sy dienskneg gestuur het om die wêreld te waarsku van die aanstaande sondvloed, so stuur Hy ook Sy boodskappers om die nabyheid van die eindelike oordeel aan te kondig. En net soos Noag se tydgenote die voorspellings van die prediker van geregtigheid bespot het, so het baie ook in Miller se dae, selfs onder die belyers van God, die spot gedryf met die woorde van waarskuwing.GS 388.3

    En hoekom was die leer van Christus se wederkoms so onwelkom vir die kerke? Hoewel die wederkoms van die Here ellende en verwoesting bring oor die goddelose, is dit ‘n gebeurtenis van vreugde en hoop vir die regverdiges. Hierdie groot waarheid was deur die eeue heen die vertroosting van Gods getroue kinders; waarom het dit dan, net soos die Bron daarvan, “‘n steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling” geword vir sy volk? Dit is die Here Self wat die belofte aan Sy dissipels gemaak het, “As Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem.” Joh. 14: 3. Dit was die onfermende Heiland, wat, die eensaamheid en verdriet van Sy navolgers vooruitgesien het, en engele beveel het om hulle te vertroos met die versekering dat Hy in eie persoon weer sou kom, net soos Hy na die hemel weggevaar het. Terwyl die dissipels stip na die hemel gestaan en kyk het om ‘n laaste blik te kry op Hom wat hulle liefgehad het, het hulle die volgende woorde gehoor, “Galilese manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.” Hand. 1: 11. Die engel se boodskap het nuwe hoop in hulle laat ontbrand. Die dissipels “het na Jerusalem teruggegaan met groot blydskap. En hulle was gedurig in die tempel en het God geprys en gedank.” Lukas 24: 52, 53. Hulle het hulle nie verbly omdat Jesus van hulle geskei was en hulle alleen gelaat was om te stry teen die beproewings van die wêreld nie, maar omdat die engel hulle verseker het dat Hy weer sou kom.GS 388.4

    Die verkondiging van Christus se koms behoort nou, net soos die dag toe dit deur die engele aan die herders van Betlehem verkondig .is, ‘n goeie tyding van groot blydskap te wees. Diegene wat die Heiland regtig liefhet, kan nie anders as om die verkondiging, gegrond op Gods woord, met blydskap te begroet dat Hy in wie hulle hoop op die ewige lewe gevestig is, weer sal kom, nie om beledig, verag, en verwerp te word nie, soos tydens Sy eerste koms nie, maar in krag en heerlikheid om Sy volk te verlos. Dit is diegene wat die Heiland nie lief het nie wat begeer dat Hy moet wegbly; en daar kan nie sterker bewys wees dat die kerke God verlaat het nie as die verbittering en vyandskap wat deur Sy boodskap uit die hemel veroorsaak word nie.GS 389.1

    Diegene wat die Adventboodskap aangeneem het, het die nodigheid ingesien van bekering en verootmoediging voor God. Baie het reeds lank gehink tussen Christus en die wêreld; en nou het hulle gevoel dat die tyd aangebreek het om uit te staan. “Die ewige dinge het vir hulle buitengewoon werklik geword. Die hemel is naby hulle gebring, en hulle het gevoel dat hulle skuldig is voor God.”—Bliss, “Memoirs oj Wm. Miller,” bl. 146.Christene is opgewek tot ‘n nuwe geestelike lewe. Hulle is daartoe gebring om te voel dat die tyd kort is, en dat wat hulle vir hulle medemens moes doen gou gedoen moes word. Die wêreld het op die agtergrond getree, en dit het geskyn of die ewigheid voor hulle geopen het, en die belange van die siel, met alles wat betrekking het op die ewige welsyn of ellende, het die tydelike dinge ver oortref. Die Gees van God het op hulle gerus en krag gegee aan hulle ernstige smekinge aan hulle broeders, sowel as aan sondaars, om klaar te maak vir die dag van God. Die stille getuienis van hulle daelikse lewe was ‘n gedurige bestraffing van die vormlike en ontoegewyde kerklede. Hierdie mense wou nie graag gehinder word in die najaging van plesier, in hulle geldmakery, en in hulle strewe om wêreldlike eer nie. Vandaar die vyandigheid en teenstand teen die Adventboodskap en diegene wat dit verkondig het.GS 389.2

    Toe die argumente gebaseer op die profetiese tydperke nie weerlê kon word nie, het die teenstanders getrag om die ondersoek van die onderwerp teen te gaan deur te leer dat die profesieë verseël is. Op hierdie manier het Protestante in die voetstappe van die Katolieke gevolg. Terwyl die pouslike kerk die Bybel aan die mense onthou het, het die Protestantse kerke aangevoer dat ‘n belangrike deel van die Heilige Woord — die gedeeltes wat juis die waarhede geopenbaar het wat betrekking het op ons tyd — nie verstaan kon word nie. (Sien Aanhangsel.)GS 390.1

    Predikante sowel as die volk het verklaar dat die profesieë van Daniël en Openbaring onverstaanbare verborgenhede was. Maar Christus het die aandag van Sy dissipels op die woorde van die profeet Daniël gevestig aangaande gebeurtenisse wat in hulle tyd sou plaasvind, en Hy het gesê, “Laat hy wat lees, oplet.” Matt. 24: 15. En die bewering dat die Openbaring ‘n verborgenheid is wat nie verstaan kan word nie, is weerspreek deur die titel van die boek self: “Die Openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan Sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur. . . . Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit ho or en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.” Openb. 1: 1-3.GS 390.2

    Die profeet sê: “Salig is hy wat lees”—daar is diegene wat nie wil lees nie; die seen is nie vir hulle nie. “En die wat dit hoor”— daar is ook sommige, wat weier om te luister na enigiets wat die proiesieë betref; die seën is ook nie vir hierdie klas nie. “En bewaar wat daarin geskrywe is”— baie weier om ag te slaan op die waarskuwings en bevele in die boek van Openbaring; nie een van hulle kan aanspraak maak op die beloofde seen nie. Almal wat die profesieë bespot en die spot dryf met die sinnebeelde wat daarin so plegtig beskryf word; almal wat weier om hulle lewens te hervorm, en om voorbereiding te maak vir die koms van die Seun van die mens, sal die seen mis.GS 390.3

    Met die oog op die getuienis van die Woord, hoe durf mense leer dat die Openbaring ‘n verborgenheid is, buite die bereik van menslike verstand? Dit is ‘n verborgenheid wat geopenbaar is, ‘n geopende boek. Die ondersoek van Openbaring vestig ons aandag op die profesieë van Daniel, en albei gee die belangrikste onderrig van God aan die mens aangaande die gebeurtenisse wat moet plaasvind aan die einde van die wêreld se geskiedenis.GS 391.1

    Aan Johannes is tonele getoon wat die grootste belangstelling opwek in die geskiedenis van die kerk. Hy het die posisie, gevare, stryd, en uiteindelike verlossing van Gods volk gesien. Hy beskryf die slotboodskappe wat die oes van die wêreld sal ryp maak, of as gerwe vir die hemelse skuur, of as bondels vir die vure van verwoesting. Onderwerpe van die allergrootste belang is aan hom geopenbaar, veral vir die laaste kerk, sodat diegene wat hulle van dwaalleer tot die waarheid wil bekeer, onderrig kan word aangaande die gevare en die stryd voor hulle. Niemand hoef in duisternis te verkeer aangaande die dinge wat op die aarde gebeur nie.GS 391.2

    Waarom dan hierdie algemene onkunde aangaande ‘n belangrike deel van die Heilige Skrifte? Waarom hierdie algemene onwilligheid om die leer van die Skrifte te ondersoek? Dit is die gevolg van die bestudeerde pogings van die vors van duisternis om die dinge wat sy bedrog sal openbaar, vir die mense te verberg. Om hierdie rede het Christus, die Openbaarder, waar Hy die stryd voorsien het wat sou gevoer word teen die ondersoek van Openbaring, ‘n seen uitgespreek op almal wat sal lees, hoor, en nakom, wat geskryf is in die profesie.GS 391.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents